Ena Jansen gesels oor Soos familie: Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste

  • 0

Soos familie deur Ena Jansen is ’n verkenning van die rol en betekenis van ongeveer ’n honderd huisbediendekarakters in stadsboeke uit ’n groot deel van die twintigste eeu en daarná. Ena Jansen gesels met Naomi Meyer oor 'n onderwerp wat alle Suid-Afrikaners betrek.

 

Ena Jansen saam met Cecilia Magadlela in April 2014 by haar huis in Melville, Johannesburg, waar Cecilia byna 25 jaar lank elke Donderdag gewerk het. Fotograaf: Pamela Pattynama

Soos familie: Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste
Ena Jansen
Protea Boekhuis
EAN: 9781869199531
R200

Ena, waarom het jy Soos familie. Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste geskryf?

Daar is vir navorsing byna altyd ’n persoonlike aanleiding. Wat hierdie boek betref, is dit Nomahobe Cecilia Magadlela, wat 25 jaar lank op Donderdae in my huis in Melville gewerk het. Wat ek van haar lewe leer ken het, het my bewus gemaak van die geweldige spanning waaronder vroue leef wat in die stad woon, maar wat steeds noue bande behou met ’n landelike gebied. Ek het ook al hoe meer besef dat as dit nie vir haar was nie, sou ek niks persoonliks van hierdie ander wêreld geweet het nie. Steeds is ons betrokke by mekaar, selfs al woon ek die grootste deel van die afgelope jare in Amsterdam, en selfs al is sy laas jaar met pensioen “huis toe”. Eers toe sy aankondig dat sy wil aftree, het ek my huis verkoop. In Januarie het ek vir Cecilia in die Transkei gaan kuier: dit was ’n groot ervaring om haar by haar eie huis naby Cofimvaba mee te maak; om uiteindelik saam met haar rond te loop in die dorpie bestaande uit tipiese heldergekleurde rondawels maar ook moderner huise teen die groen heuwels; die plek wat al die jare die spil van haar bestaan is.

My akademiese belangstelling in swart huiswerkers as tussenfigure het by Eva-Krotoa begin toe ek in 2003 my intreerede in Amsterdam gehou het oor konstruksies van Krotoa in romans, toneelstukke en geskiedskrywing. Die titel, “Eva, wat sê hulle?”, was ’n sin uit Dan Sleigh se magistrale roman Eilande. Eva, wat sowel Nederlands as die plaaslike Khoitale gepraat het, was nie net ’n kinderoppasser nie; sy was ’n tolk, ’n skarnierfiguur. Sowel haar eie mense as Van Riebeeck was vir hulle kennis van mekaar van ’n tolk soos sy afhanklik. Huiswerkers, veral dié in stede, het nou nog daardie tussengangerrol. Ook hulle is tolke, skakelfigure. In JM Coetzee se Age of Iron staan Elizabeth Curren byvoorbeeld tydens die noodtoestand in die laat 1980’s op die stoep en tuur in die rigting van die brandende townships op die Kaapse Vlakte. Sy besef dat sy geen benul het van wat daar aan die gebeur is nie. Sy weet niks behalwe dít wat “haar” Florence vir haar vertel nie.

Swart huiswerkers is dus ongelooflik belangrik as boodskappers, as kontakfigure tussen wit en swart, tussen ryk en arm, stad en platteland. So was dit in die VOC-tyd en dis nog steeds so.

Wat nooit vergeet mag word nie, is dat hierdie vroue wel baie van wit mense se lewens weet, maar omgekeerd is dit veel en veel minder die geval.

Baie het in Suid-Afrika verander, maar baie ook nie. Daar is steeds ’n groot en skrille kontras tussen huiswerkers en hulle werkgewers se sosio-ekonomiese omstandighede. Baie wit buurte is nog net so bevoorreg as jare gelede, terwyl swart huiswerkers se woonomstandighede soms net so erg, selfs erger en gevaarliker, is as twintig jaar gelede. Dis onvermydelik dat hierdie voortdurende ongelykheid bydra tot frustrasies wat op hierdie oomblik in die land aan die gang is. Omdat die verhouding tussen werkgewers en hulle huiswerkers steeds een van die belangrikste kontaksones in die land tussen wit en swart, ryk en arm is, sou kennis van mekaar op talle vlakke van intermenslikheid uitgebrei kon word, byvoorbeeld deur die taal van jou werknemer te probeer leer; deur regtig belang te stel in haar huislike omstandighede; deur die lewe op soveel moontlike maniere vir haar makliker te maak. Die doeltreffendste manier om dit te doen is deur jou voortdurend bewus te wees van die feit dat dit niks anders as ’n historiese toevalligheid is dat jý die werkgewer is nie.

Hierdie kunswerk van Sandra Kriel hang in die portaal van die Rupert Museum op Stellenbosch. Dit is deel van 'n triptiek met die titel: Why are you afraid (1991).
Borduurwerk, fotostate, krale op fluweel. 90x90 cm.

Familie is ’n komplekse aangeleentheid, maar bande van bloed impliseer ’n baie intieme soort verhouding. Dalk ook (soms teësinnige) liefde? Verduidelik asseblief die titel van hierdie boek.

Aan die een kant is daar ’n akademiese rede vir die titel. In ’n baie interessante boek oor die literêre rol van bediendes, Bruce Robbins se The Servant’s Hand, verduidelik hy dat die Latynse woord famulus oorspronklik “bediende” beteken, dat ’n gegoede Britse huishouding tot voor die industriële revolusie dikwels bestaan het uit die gesin plus, of liewer insluitende, die bediendes.

Hoe meer ek gevorder het met my leessoektog na huiswerkers in die Suid-Afrikaanse literatuur, ook in byvoorbeeld Koos Kombuis se “Kytie”-liedjie en Ronelda Kamfer se reaksie daarop, en in egodokumente soos outobiografieë en versamelings onderhoude, hoe meer het dit my getref hoe dikwels mense verwys na ’n spesifieke huiswerker as “soos ’n ma vir my”, of dat hulle haar beskryf as “soos ’n suster”. Op die omslag van my boek is byvoorbeeld ’n aanhaling uit die storie “Agterplaas” deur Elsa Joubert waar die verteller oor Flora sê: “Sy is nader aan my as ’n suster, ken my intieme lewe op ’n dieper vlak as wat ’n suster my sou ken. Maar ek ken haar nie.”

Presies hóé intens baie wit Suid-Afrikaners die verhouding met swart en bruin huiswerkers as ’n familieband ervaar, het nou laas week op 30 April ook weer vir my duidelik geword. Terwyl Martelize Brink van RSG met my oor die boek gesels, het luisteraars se sms’e ingestroom. Tientalle van die 100 mense wat ge-sms het, het die formulering “soos familie” gebruik. Ná die onderhoud, terwyl ek in Seepunt se SAUK-gebou aan die soek was na die hysbak, vra ek iemand om my te beduie waar dit is. Hy blyk toe ’n sekere Leon te wees, sanger in die band Hot Water. Toe hy hoor wat ek by Martelize kom doen het, vertel hy onmiddellik hy’t ’n liedjie “Thembi” gemaak; ek moet gaan google en luister. Daarin beskryf ook hy Thembi as familie, as sy “African mother”. “She took care of me like no other.” PJ Powers het ook ’n liedjie oor die moederband met haar “nanny”, Lilian, gemaak.

Dag vir dag word die toepaslikheid van Soos familie as titel dus vir my deur sulke treffende gevalle van “serendipity” bevestig. En soos jy sê: familie is inderdaad ’n komplekse aangeleentheid. Dit veronderstel ’n intieme verbintenis, maar dit kan ook ’n slagveld van emosies wees, van afstandelikheid en wantroue. Wat huiswerkers betref: die angel lê in die woordjie soos. Uiteindelik kan hulle uit jou lewe verdwyn op ’n manier wat regte familie nie maklik sou nie. Daar is meestal ’n skrynende kloof tussen die maklike manier waarop wit mense ’n bediende toe-eien as sogenaamde “familie” en die enorme verskil in hulle leefwêrelde. In een van die RSG-sms’e het ’n 78-jarige vrou byvoorbeeld met groot deernis vertel sy en haar huishulp is ewe oud en dat hulle alles saam doen en dat sy nie weet wie die meeste gehuil het toe sy en haar man ouetehuis toe trek en die diensverband beëindig is nie. Sy eindig die sms dan met die sin: “Gelukkig gaan sy nou vir my dogter werk en sal ek haar gereeld sien.” Kan jy nou meer! Sou sy dit normaal gevind het dat ’n 78-jarige wit familielid met ’n nuwe werk begin?

Achille Mbembe het onlangs tydens ’n belangrike lesing wat hy sowel by Wiser as UK en US gehou het, “Decolonizing knowledge and the question of the
archive”, gepraat van die negatiewe moment in die land en dit so verduidelik:

A negative moment is a moment when new antagonisms emerge while old ones remain unresolved. It is a moment when contradictory forces – inchoate, fractured, fragmented – are at work but what might come out of their interaction is anything but certain. It is also a moment when multiple old and recent unresolved crises seem to be on the path towards a collision.

Oënskynlik het huiswerkers niks met die debat oor xenofobie, die afbreek van monumente en nuwe ontwikkelinge op universiteite te maak nie. Maar dalk is die huiswerker as verbindingsfiguur in hierdie tyd belangriker as ooit: om ons deur hulle teenwoordigheid in ons huise te konfronteer met die enorme sosio-ekonomiese verskille wat steeds bestaan. Om werkgewers op ’n spesifieke persoonlike vlak te laat verstaan wat die griewe van een vrou en haar gesin is oor die stadige proses van hervorming.

Dis moeilik, maar dis belangrik dat wit mense wegbreek uit die vanselfsprekendheid, ook wat gedrag betref, van ons byna mitologiese status as meestersklas in hierdie land. Insig in die historiese toevalligheid van hierdie status is baie belangrik; en ’n soort les wat ek uit Mbembe se toespraak sou wou trek. Dit is nie “normaal” en “vanselfsprekend” dat wit mense altyd aan die werkgewerskant staan nie. Dis só toevallig dat wit mense van hulle geboorte voortbestem was om eerder ’n werkgewer as ’n huiswerker te wees. Mbembe sê heel letterlik: “We therefore have to shift away from the dreams of mastery”:

At stake are also, once again, the old questions of who is whom, who can
make what kinds of claims on whom and on what grounds, and who is to
own whom and what. In a contemporary neoliberal order that claims to
have gone beyond the racial, the struggle for racial justice must take new
forms. […] To tease out alternative possibilities for thinking life and human futures in this age of neoliberal individualism, we need to connect in entirely new ways the project of non-racialism to that of human mutuality.

 

"Ieder aan een hand van Meisie" was die naam van een van die eerste artikels deur Ena Jansen oor huiswerkers. Dit is oorspronklik afgedruk in Grundlingh en Huigen (reds., 2008) se versameling opstelle oor Afrikaanse herinneringsplekke, Van volksmoeder tot Fokofpolisiekar. In 2011/12 is dit gepubliseer in die Nederlandse tydskrif De Gids met 'n foto van Ena en haar sussie Christine saam met Meisie, die jong vrou wat hulle tydens vakansies by hulle oupa en ouma in Darling opgepas het.

Die tweede gedeelte van die titel interesseer my ook: Handel die boek dus eerder oor navorsing omtrent werkers soos wat hulle verhale in boeke opgeteken is, of oor ware huiswerkers wat elke dag die vervelige take gaan verrig wat hulle inderdaad verrig?

Die stories van talle “ware” huiswerkers kom wel in die eerste hoofstukke voor. Daar’s byvoorbeeld ware verhale oor slawevroue, ook oor wit vroue wat huiswerk om den brode doen – as sogenaamde “witmiesies” in die 1920’s, maar ook in postapartheid Suid-Afrika.

Verder vleg ek byvoorbeeld Cecilia Magadlela se lewensverhaal deur die hoofstuk oor die migrasie van swart vroue uit die Oos-Kaap na Suid-Afrikaanse stede. Sosioloë soos Jacklyn Cock en Shireen Ally het in hulle belangrike boeke Maids and madams (1980) en From servants to workers (2009) fragmente van honderde “ware” lewensverhale opgeteken waarna ek verwys. Dié tipe navorsing het as agtergrond en basis gedien vir my eie ondersoek, wat veral gemik is op representasies van huiswerkers in die letterkunde. Ek ontleed gepubliseerde verhale om te probeer agterkom watter beelde van huiswerkers deur die jare heen in ons samelewing gevestig is en gesirkuleer het. Minnie Postma het byvoorbeeld in die jare vyftig in Sarie en in haar bundels Ek en my bediende en Alweer my bediendes boeiende sketse geskryf; ook Audrey Blignault; en later natuurlik ook Riana Scheepers met haar Katriena-boeke. Telkens word klem gelê op ’n gemoedelike band, maar min word gesê oor die enorme probleme en ingewikkeldheid van hierdie vroue se bestaan.

In jeugboeke soos die Maasdorp-reeks sê Kobie vir haar vriendinnetjes wat dink dis seker tyd dat hulle ná ’n naweek in die groot Oranjezicht-huis begin oppak: “Nee los maar, die meide sal inpak.” Op dié en baie dergelike maniere is die vanselfsprekendheid van swart hande wat onaangename werk doen, gevestig. Kobie was so mooi en oulik en mevrou Malan met haar blinkgepoetste swart kar so bewonderenswaardig dat geen jong leser destyds verontwaardig sou gewees het oor Kobie se opmerking nie. Veel eerder sou jy strewe na genoeg geld om óók eendag ’n groot huis te besit en ’n stoet bediendes aan te hou. Die manier waarop fiktiewe huiswerkers in die letterkunde uitgebeeld word, het onteenseglik ’n invloed op hoe mense in hulle persoonlike lewe omgaan met die “ware” huiswerkers in hulle eie omgewing. Die kultuurfilosoof Stuart Hall praat van die “cycle of representation”: die letterkunde beeld op ’n realistiese manier uit wat in die werklikheid gebeur en ’n storie beïnvloed dan op sy beurt hoe mense in die werklikheid optree. Ek praat in Soos familie van die “siklus van uitbeelding”.

Die laaste hoofstukke in die boek gaan oor postapartheid romans. Ingrid Winterbach se Durban-boeke (sien die insetsel oor die huiswerker in Benederyk wat deurentyd “mevrou Gloria Sekete” genoem word), Brink se Donkermaan, Jackie Nagtegaal se Daar’s vis in die punch, en romans deur Jo-Ann Richards en Damon Galgut word bespreek. En ook kyk ek na hoe swart skrywers huisbediendekarakters inspan – mense soos Zakes Mda, Zoë Wicomb, Kopano Matlwa in Coconut, Imraan Coovadia en Zukiswa Wanner. Hulle is belangrike seismograwe van veranderinge in die land en lewer op ’n dikwels onverwags humoristiese wyse deur middel van huiswerkerkarakters kommentaar op veranderinge in die land.

Wat was vir jou die belangrikste aspek van hierdie navorsing of boek? Wat wou jy onder mense se aandag bring? En, dalk ook belangrik: Terwyl jy die navorsing gedoen het, het jy ander bevindinge gemaak as waarvoor jou vooropgestelde idees aanvanklik voorsiening gemaak het?

Aanvanklik het ek gedink dat daar ’n groot stilte rondom bediendekarakters is, maar in stadsboek na stadsboek het ek ontsettend boeiende karakters teëgekom. Selfs al is hulle rolle dikwels klein, is die teenwoordigheid van huiswerkerkarakters dikwels belangrike merkers van vrese in verband met identiteit. Tog word bitter min aandag aan hulle gegee in die kritiek. Terwyl Sara die eerste gidskarakter in Etienne Leroux se oeuvre is, is skaars opgelet na wat sy in Die eerste lewe van Colet doen. So onlangs as met betrekking tot Coovadia se High, low, in-between is ook glad nie opgelet na die baie boeiende Estella nie.

In die laaste hoofstuk van Soos familie maak ek ’n vergelyking tussen Elsa Joubert se storie “Agterplaas” uit 1980 en Antjie Krog se “bediendepraatjies” in Mede-wete wat laas jaar verskyn het. Albei skrywers is, 35 jaar uit mekaar, ontsteld oor wat in die land gebeur en gebruik die verhouding met bediendes om op ’n persoonlike en uiters herkenbare manier op hierdie probleme te fokus. Terwyl Joubert veral skuldig voel oor die onregverdigheid van die apartheidswette wat destyds elke stap van swart mense bepaal en begrens het, word Krog gekwel deur die voortdurende afhanklikheid, deur eise wat Victoria stel, die ellendes op ekonomiese en onderwysgebied in die townships en die voormalige tuislande. As jy Joubert se storie met Antjie se gedigte vergelyk, sien jy hoe baie probleme van die verstrengelde ongelyke verhouding tussen maids en madams dieselfde gebly het, ondanks ’n swart regering, ondanks kontrakte en arbeidswette. Teen wil en dank word wit werkgewers in die 21ste eeu nog gedwing tot ’n paternalistiese/ maternalistiese rol teenoor huiswerkers wat hulle nie wíl hê nie, maar waaraan hulle vanuit die verstrengelde geskiedenis nie kan ontsnap nie. Sowel Elsa Joubert as Antjie Krog stel hulle persoonlike onmag tot kommunikasie aan die orde. Joubert doen dit deur dit in haar uitbeelding eksplisiet te benoem, Krog boonop deur die besondere vorm van haar gedigtereeks.

Het jy ’n ideale leser in gedagte gehad en in watter land(e) woon hierdie leser(s)?

My ideale lesers is mense wat belangstel in menseverhoudings: in geskiedenis, die letterkunde, sosiologie, migrante- en stadsgeskiedenis. Dit sluit swart, bruin én wit lesers in. Alle Suid-Afrikaners is trouens “ervaringsdeskundiges” met betrekking tot my onderwerp. Jy’t óf grootgeword aan die werkgewerskant en dalk óók ’n swart ma-figuur gehad, óf jou eie ma was selde tuis, omdat sy wit mense se kinders opgepas het. Baie van die “ideale” Suid-Afrikaanse lesers woon trouens oorsee – dis verstommend hoe baie verlangverhale van expats juis draai om ’n Kytie of ’n Sophie of ’n Liesbet.

In Soos familie bespreek ek tientalle verhale van sowel Afrikaanstalige as Engelstalige skrywers, van sowel wit as swart skrywers. Dis eintlik ’n storieboek óór stories. Huiswerkerfigure van Etienne Leroux, Eybers, Ingrid Winterbach, André Brink en Eben Venter word sy aan sy bespreek met boeke deur Nadine Gordimer, JM Coetzee, Zakes Mda en Zoë Wicomb. My boek is deur die taal waarin ek dit geskryf het, eerstens gerig op mense wat Afrikaans lees, mense wat dalk, soos ek, van kleins af so gehou het van Alba Bouwer (’n kleinniggie van my pa) se ou-Melitie in Stories van Rivierplaas. Tensy jy met ’n vergrootglas lees, soos wat ek die afgelope paar jaar gedoen het, kan jy soms dwars bo-oor die mees boeiende bediendefigure lees. My opvatting is dat die letterkunde ’n argief van opvattings oor sosiale geskiedenis is – jy moet net goed soek. Bowendien diep ek ook orale vertellinge op – outobiografiese verhale van vroue wat huiswerk gedoen het, en wie se stories veral in die 1980’s versamel is in bundels wat Ravan Press, die Black Sash en geletterdheidsorganisasies uitgegee het.

Ek sou dit natuurlik fantasties vind indien Soos familie in Engels vertaal kan word, sodat ook Engelse lesers kennis kan neem ook van al die Afrikaanse stories waaroor ek skryf. En sodat my argumente oor die verband tussen letterkunde en samelewing met betrekking tot diensverhoudings opgeneem kan word in ’n wyer akademiese diskoers. ’n Paar jaar gelede is een van my eerste artikels oor die onderwerp in die Routledge South African Review of Sociology opgeneem en in ’n boek Reshaping Remembrance gepubliseer – toe het ek besef daar is groot belangstelling vir ’n Afrikaanse perspektief.

Sindiwe Magona het aan my gesê sy hoop die boek kan ook eendag in Xhosa vertaal word – daaroor sou ek regtig bly wees! Riet de Jong-Goossens wil graag my boek in Nederlands vertaal. Ek hoop dus dat ons met die pragtige uitgawe van Protea Boekhuis in die hand uitgewers sal vind wat Engelse, Xhosa én Nederlandse vertalings wil uitgee.

In die Suid-Afrikaanse literatuur is arbeidsverhoudings op plase ook belangrik. Wat van plaasromans?

Ek het eers gedink dat ek definitief plaasboeke by my ondersoek sou betrek. Gou het ek egter besef dat daar groot verskille tussen bediendefigure op plase en in stede is, dat die verhouding op plase veel meer feodaal is en dat die huisbediende se gesin meestal darem nog deel vorm van haar lewe, dat sy minder geïsoleer is, dat plattelandse wit mense dikwels tog nog meer weet van hulle huiswerkers se gesinne.

In die stad word die bediende meestal veel meer as ’n individu gesien; is sy dikwels eensaam en vervreem van haar agtergrond. Sake soos paswette tydens die grootste deel van die 20ste eeu en behuising is in die stad ook baie dringender as op die platteland. Karakters in talle skrywers se werk, en veral vroue met wie onderhoude deur sosioloë gevoer word, sê ronduit dat stedelike werkgewers niks van hulle gesinne en woonomstandighede weet of eintlik wíl weet nie. Riana Scheepers se Katriena merk byvoorbeeld op: “Al die mevroue by wie ek al gewerk het, vra of jy kinners het. [...] Die beste vir hulle is as jy glad nie kinners het nie, ok nie ’n man of familie nie. Jy moet net vir hulle hê.” Die digter Loftus Marais herinner hom apartheid as “die skok van uitvind grieta het kinders en ’n man” – die huiswerker self en/of sy ouers het dit vir hom as kind stil gehou.

Veral omdat Jakes Gerwel, Vernie February en Ampie Coetzee, ook JM Coetzee met sy uitstekende White writing, reeds belangrike boeke oor plaasromans geskryf het, wou ek liewers ’n ander terrein bestryk. Bowendien het ek besef Agaat van Marlene van Niekerk is so ’n allemintige boek dat alleen daaroor al ’n dik boek te skryf is. Ek het toe besluit om plaasboeke maar heeltemal te systap! Dit is wel ’n fassinerende gebied wat steeds nuwe boeke oplewer, soos onlangs Valsrivier deur Dominique Botha. Trouens, toe ek laas Desember in Gent ’n lesing gehou het oor onder meer Antjie Krog se “bediendepraatjies” – dit was op die simposium ter ere van Breyten Breytenbach – het Dominique spesiaal gou na haar ma ge-sms om vir haar foto’s te stuur van die skilderye wat hulle van twee van hulle ou werkers op die plaas laat maak het. Ek kon die skildery van die huisbediende Feitjie Bouwer minute later in my PowerPoint gebruik! Sy en haar man is in die familiebegraafplaas van Wolwefontein/Rietpan begrawe.

Benewens jou eie werk en agtergrond, op wie se boeke en navorsing het jy meestal staatgemaak in die totstandbring van hierdie boek?

Deur die jare het sosioloë soos Jacklyn Cock, Jonathan Grossmann, Jennifer Fish, Alison King en Shireen Ally belangrike werk gedoen waarvan ek dankbaar gebruik kon maak. Ook Katherine Eales het by Wits in die jare sewentig al ’n boeiende skripsie oor swart vroue in Johannesburg geskryf. Omdat ek veral na die posisie van vroue in stadsboeke kyk, moes ek my dus verdiep in stadsteorie, wat ’n groot belangstelling van my is. Keith Beavon, Clive en Ivor Chipkin en natuurlik Charles van Onselen en Belinda Bozzoli, vroeër van Wits, is mense wat my geïnspireer het.

Belangrike voorbeeldboeke is verder Karel Schoeman se Armosyn-studie waarin hy die geskiedenis van slawerny beskryf deur een vrou sentraal te stel. Hy het die boeke gebaseer op ’n magdom gepubliseerde bronne oor slawerny. My idee was om ’n soortgelyke soort geskiedenis oor huiswerkers te skryf aan die hand van veral letterkundige bronne, om te kyk na bogenoemde Stuart Hall se “cycle of representation”: die invloed op lesers wat uitgaan van voorstellings van huiswerkers; die sirkelgang van uitbeelding. Steeds meer het geskiedenis bygekom: oor die vroeë Kaap en migrasie na die stede. Ook sosiologie. Voortdurend vloei teks en konteks in mekaar oor.

O ja – baie belangrik vir my was ook Alison Light se Mrs Woolf & the servants wat ek in 2007 gelees het. Hierin beskryf Light op ’n fassinerende manier hoe afhanklik maar gekwel Woolf was deur die voortdurende aanwesigheid van bediendes in die huishoudings waarin sy geleef het. A Room of one’s own was veral ook noodsaaklik om haar fisiek van Nellie Boxall te verwyder!

Ek maak verder van honderde gepubliseerde “primêre” bronne gebruik: kortverhale, romans waarin huiswerkers as karakters voorkom. Sindiwe Magona se herinneringe aan die 1960’s toe sy as huishulp in Kaapstad gewerk het, is baie belangrik. Dit is daarom vir my ’n groot eer dat sy op 12 Mei as ondertussen gevierde skrywer by die presentasie van my boek in Kaapstad saam met Antjie Krog optree. Verder is daar ook baie interessante huiswerkers in Suid-Afrikaanse films – dink maar aan die onsigbare Evelina in 7de Laan, aan Mapantsula, aan Leon Schuster se Mama Jack. Hattie McDaniel, wat ’n Oscar vir haar rol as Mammy in Gone with the Wind gekry het, was seker die beroemdste huisbediende aller tye. Totdat Aibileen en Minny in 2009 in die boek The Help en in 2011 in die film op die toneel verskyn het. Alhoewel ek wel kortliks na films verwys, was daar nie plek in die boek om uitgebreid daaroor te skryf nie. Gelukkig kon ek ’n kleurkatern opneem in die boek waarin “portraits of servitude” voorkom. Dit sluit Marlene Dumas se Martha – die bediende in, die pragtige Abba-houtbeeld van Claudette Schreuders, Keith Dietrich se intrigerende werk, Mary Sibande se Sophie, ook strokiesprente van Anton Kannemeyer en natuurlik die Madam & Eve-span. Bowendien is daar treffende foto’s van David Goldblatt, Zanele Muholi en Huw Morris; ook ’n paar familiekiekies van my en my tweelingsussie met Thandi, Katrina en Meisie.

Jy beklee die leerstoel van Suid-Afrikaanse Letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam. Bowendien is jy verbonde aan die Vrije Universiteit se afdeling Literatuur en Samelewing. Waarom ook skryf? Of is hierdie boek eerder ’n projek wat as’t ware uit hierdie betrekking voortspruit?

In Nederland is dit vreeslik moeilik om ondersoektyd te kry; iets soos vanselfsprekende sabbatsverlof elke sewe jaar waaraan akademici in Suid-Afrika nog gewoond is, bestaan net eenvoudig nie. Jy moet op ’n uiters ingewikkelde en tydrowende manier ondersoeksvoorstelle indien wat in seker 95% van die gevalle nie gehonoreer word nie omdat die mededinging so ontsettend straf is vir die paar beurse. In die 16 jaar wat ek in Nederland aan die universiteit werk, het ek net een keer ’n sabbatical gehad, danksy ’n sogenaamde vervangingsubsidie van die NWO waardeur iemand anders vir ’n jaar in my plek aangestel kon word. In daardie jaar, 2009, het ek die projek “in de steigers gezet”.

Sien hierdie skakel en hierdie een.

Akademici aan Suid-Afrikaanse universiteite besef nie hoe gelukkig hulle is met die sabbatsjaarstelsel soos wat dit hier nog bestaan nie.

Hoe dan ook is navorsing altyd ook ’n onderdeel van jou werk as universiteitsdosent. Vandat ek 25 jaar gelede gepromoveer het met ’n proefskrif oor die Amsterdamse bundels van Elisabeth Eybers, is ek eintlik altyd besig met figure wat op die een of ander manier in ’n kontaksone, op ’n grensvlak, beweeg. Die titel van my boek oor Eybers, Afstand en verbintenis, sou trouens ook bruikbaar gewees het vir hierdie boek oor die huiswerkers. Die intimiteit, aanhanklikheid, verbintenis tussen werkgewer en werknemer word voortdurend gejukstaponeer met afstandelikheid.

Met verloop van tyd het die verband tussen letterkunde en samelewing, tussen teks en konteks, my steeds meer begin interesseer. So het ek byvoorbeeld oor die Boereoorlog, slawernyromans en stadstekste gepubliseer. Soos familie se onderwerp is ’n kruispunt van baie belangstellings: ras, klas en geslag, met die Suid-Afrikaanse stad as knooppunt van al hierdie entanglements, soos wat die historikus Cornelis de Kiewiet reeds in die jare twintig oor die verhouding tussen wit en swart in Suid-Afrika geskryf het.

Meisie op Darling saam met Ena Jansen en haar sussie Christine.

Soos familie is ’n omvangryke boek: as ek dit nie mis het nie, byna 500 bladsye teks, plus nog so vyftig met eindnotas. Dink jy jy’s nou klaar met die onderwerp?

Veral met die oog op moontlike Engelse en Nederlandse vertalings sal ek hoe dan ook voortdurend my ore oophou om die boek te kan aktualiseer. So sal ek ’n verwysing na Hot Water se liedjie “Thembi” toevoeg! Ook aan nuwe romans soos Fiona Sussman se Shifting colours meer aandag gee. So baie boeke waarin fassinerende huiswerkers voorkom, moes ek weglaat omdat dit eerder plaas- of dorpsromans is, of omdat ander boeke net meer geskik was om ’n aantal standpunte per hoofstuk te stel. Marita van der Vyver se Die blou van onthou het, as ek reg onthou, ook ’n interessante huisbediende. En ek het nou in Soos familie sowaar vergeet om te verwys na die destyds 50-jarige Steven Cohen se provokatiewe internasionale voorstellings in 2011 saam met die 92 jaar oue Nomsa Dhlamini wat sy “nanny” was. Telkens sien ek goed raak wat my uitdaag en boei. Byvoorbeeld: die onderwerp van die SA Akademie se aanstaande kongres is die verhouding tussen globale en lokale verskynsels. Dan kry ek dadelik lus om die Suid-Afrikaanse ondersoek wat ek so pas gedoen het, te vergelyk met die internasionale boek Towards a global history of domestic and caregiving workers (574 ble), wat ook vandeesmaand, in Mei 2015, gepubliseer word.

Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip, of met watter navorsing of leeswerk is jy ook besig?

My volgende plan is ’n heruitgawe van die jeugdige Anna Barry se intrigerende dagboek uit die Anglo-Boereoorlog. Ek het ’n paar jaar gelede al met Nicol Stassen hieroor gepraat nadat ek twee artikels oor haar Ons Japie geskryf het. Die meeste navorsing hieroor het ek dus gelukkig reeds gedoen: in die Ficksburg-distrik waar die Barry’s gewoon het en in die argief in Bloemfontein. Maar toe kom my plan vir Soos familie en het ek eers alle ander projekte op ’n lae pitjie gesit, soos die Hollanders sê. Anna Barry se dagboek is ’n baie meer beskeie projek as Soos familie, maar dis so ’n interessante teks dat ek baie daarna uitsien om daarvan ’n mooi boek te maak. Ek het dus wel al vir Amelia de Vaal, Kristèl de Weerd en Hanli Deyssel van Protea, met wie ek aan Soos familie uitstekend saamgewerk het, gerusgestel dat ons nie weer sulke harde bene gaan kou nie!

Foto's verskaf

Kyk ook na foto's van Soos familie se bekendstelling in Kaapstad.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top