Die Sout

  • 2

Ek is op pad Velddrif toe. Van my familie se wortels lê aan die Weskus. My oupa en ouma se laaste rusplek is tussen die duwweltjies in die sandgrond van die ou begraafplaas en iewers op ‘n duin staan ‘n gedenkteken ter gedagtenis aan visserman-drenkelinge met my nooiensvan op.

Soos wat ek met die R27 al verder van Kaapstad af ry weet ek: die wêreld in hierdie rigting is nie eintlik mooi nie – in elk geval nie op ‘n romantiese, oordadige, golwende groen manier nie. Die plante, bome en groenigheid raak al minder soos wat die afstand na Velddrif op die bordjies langs die pad krimp. Terselfdertyd neem die skakerings van vaal, die dorheid en die soutigheid toe. Die son raak effens skerper - die lugspieëlings wyer.

Tog lyk dit nie of die gebrek aan eksotiese skoonheid enige binnelander pla nie. Dit is somervakansie en die pad is ‘n lang string Vrystaters met tamaai bote en moeë Gautengers met karavane en waterponies op sleeptou. Almal wil graag hier waar die son die laatste sak, behoorlik kom rus. Dit lyk of almal iets agter hulle aansleep waarmee hulle dié wêreld en sy water wil kom toets en tem.

By die afdraai na Langebaan swenk byna die helfte van die verkeer weg. Dié dorp met sy lagune, die heerlike eetplekke, die vissersgemeenskap, die casino en die pragtige strandmeer het ‘n onweerstaanbare trekpleister geword waar mense aan die einde van die jaar van enige probleme, oorwerktheid, swak politiek en slegte skuld wil kom vergeet.

As ‘n mens aan die vakansieverkeer wil ontsnap, moet jy by die Langebaan-afrit jou motor se neus regs, in die rigting van Langebaanweg draai. Al verraai die bordjie langs die pad dit nie, lei hierdie roete neffens die lugmagbasis verby uiteindelik ook tot in Velddrif, maar sonder al die binnelandse sleepwaens.

‘n Paar kilometer anderkant Langebaanweg is ‘n droë koppie en ‘n paar bloekombome aan die linkerkant van die pad. Die gewoonheid van die omgewing kan jou maklik die ongewone woorde op die bord hier langs die pad laat miskyk: Weskus Fossielpark. Niks indrukwekkend nie, bloot ‘n bruin kennisgewingbord langs ‘n effense grondpad wat tot voor ‘n ouerige gebou lei.

Sou die vakansiegangers wat hierdie wêreld met hulle duur speelgoed probeer tem, bewus wees van die 5 miljoen jaar oue fossiele wat skaars 10 km verder in ‘n ou fosfaatmyn oopgegrawe lê? Terwyl die waterponies oor die branders spring en bikini-lywe die son langs die strandmeer indrink, weet die mense dat hulle op die heilige grond van uitgestorwe Afrika-bere en die oerfamilie van kameelperde speel? Terwyl bonusse in seekospizza en lang biere langs die see belê word, is wetenskaplikes vanoor die hele wêreld opgewonde besig met nog opgrawings en nuwe toetse op die ou bene in die soutgrond net buite Velddrif.

Soos ek verder in Velddrif se rigting ry, voel ek nederig. Hierdie dor, sout aarde is vol geheimenisse en skatte.

Enige ekstatiese gedagtes oor die geheime skoonheid van hierdie wêreld verdwyn egter vinnig wanneer die sterk reuk van die soutfabriek en die opdrifsels van die sout rivierwater ‘n mens net voor die Bergrivierbrug oorweldig. Ek draai vinnig my motorvenster toe terwyl ek Velddrif binnery.

Velddrif. Beskrywend genoeg.

‘n Mens kan die ware hartklop van hierdie dorp spesifiek op een plek gaan voel: Bokkomlaan. Dit is ‘n grondstraatjie langs die Bergrivier waar al die ou vishuisies en jetties nog getuies is van ‘n visvangtradisie wat vir baie mense soos iets uit die Bybel sal lyk.

Dit is hier waar gesoute vissermanne in oorpakke en musse nog uit bakkies met hardernette visvang. Dit is hierdie mense wat nog in die posisie van die maan en sterre en die gesuis van die wind in die riete die fluistering van skole vis kan hoor. Hulle ken die sandbanke en strome, die kiele en gaatjies, die slootjies, kuile en plate. Wat onder die water aangaan, is deel van die heiligskennis van dié wat hul sout op die water en in die son verdien.

Langs Bokkomlaan bestel ek ‘n bier en ‘n bakkie roll mops op Clooney se winkelstoep. Die plek wemel van motorfietsryers en voëlkykers en binnelanders wat almal die saligheid van die soutrivier, die gesnoerde bokkom-verandas en die pragtige pelikane en flaminke wil kom bekyk. Die meeste van hulle weet nie van al die ander toweragtige geheimenisse wat hierdie rivier onder die oppervlak hou nie.

Ek het as dogtertjie die wonderwêreld van hierdie stertkant van die Bergrivier saam met my pa in ‘n visserskuit leer ken. Terwyl ek op Clooney se stoep sit, begin ek die name en plekke soos towerwoorde in my kop oproep.

Agter die eerste eiland begin die geheim. Broekverloor en Draaiplaat - twee sandbanke wat so te sê lepellê. In ‘n dun gang tussen die volgende twee eilande is Dirk Scholtz se verdrinking verewig by Dirk-se-hol. ‘n Lekker swemplek – die water is warmer daar. Slootjie het ‘n heerlike swemgat en by Dowwe Kieletjie moet jy versigtig wees vir die skielike diepte ná die lang, vlak sandbank. Man-se-vishuis is waar Daantjie Man destyds ‘n riet-vishuis gehad het.

Niemand weet waarom daar soveel klippe by Klipgaatjie is nie. Die bank by Rooisand is onverklaarbaar rooi en Dooirivier is ‘n wonderwerk, want daar is geen stroom nie.

Rivier-op is van die plase ook bekende bakens. Melkplaas met die koeie en Flaminkvlei met die flaminke. Varkvlei was vol wildevark en Seefontein het ‘n varswaterfontein. See se kant toe is Soverby: jy gaan “so-verby” Elandsbaai toe. By Paaltjies is daar paaltjies - niemand weet waar dit vandaan kom nie. En dan is daar Poephoek.

Pampoengat was die onderdorp met die rioolgate waar die kinders destyds Sondagmiddae cowboys-en-crooks gespeel het. Vandag is dit Port Owen.

Clooney dra ‘n pakkie geskilde bokkoms en ‘n glas witwyn aan voor die son verlaas hier sak. Anderkant Flaminkvlei in die verte sien ek in die laaste lig die buitelyne van bloekombome. Hulle hou wag oor die soutkoppie wat die ondergrondse fossielskatte bewaar.

As die soutreuk so op die noordwind inwaai, gaan die vis vannag loop.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top