Catching feelings: ’n filmresensie

  • 0

Catching feelings

Regie en draaiboek: Kagiso Lediga

Spelers: Kagiso Lediga, Pearl Thusi, Akin Omotoso, Andrew Buckland, Kate Liquorish, Loyiso Gola

Hierdie donker komedie met die veelsydige Kagiso Lediga as hoofakteur, skrywer én regisseur was omtrent ’n verrassing. Dis so eg hedendaags Suid-Afrikaans (dalk moet ek sê Johannesburgs) as kan kom.

Max Matsane (Lediga) is in die onbenydenswaardige posisie van die skrywer wat daardie een trefferboek op sy kerfstok het, maar dit nie kon opvolg met nog een nie. Nou is hy ’n universiteitsdosent in kreatiewe skryfkunde en ’n bitterbek van formaat. Hy is gelukkig getroud met Sam (Pearl Thusi), maar die blink motor en die lewe in die voorstede is veeleisend en duur. Hy ontmoet, erg teen sy sin, vir Heiner (Andrew Buckland), die Groot Wit Liberale Skrywer wat deur almal behalwe Max bewonder word. Heiner het teen die einde van apartheid uit die land padgegee, maar nou is hy terug om al sy ou weivelde weer op te soek – onder meer in Soweto, en Max word saamgesleep. Deur ’n sameloop van omstandighede trek Heiner tydelik by die Matsanes in, en gou is Max se grootste bekommernis dat die hedonistiese ouer skrywer sy vrou sal verlei.   

Die film is dalk ’n bietjie te woordryk, maar dit handel immers oor skrywers en die skryfkuns. Met ’n wrang grinnik en ’n spottery oor alles van drank en seks tot feminisme en rassisme (“I’m a South African, it’s my culture,” sê Max) word dit algaande ’n fyn ondersoek na liefdesverhoudings en veral huwelikstrou (of -ontrou). Maar ten diepste gaan Catching feelings oor identiteit: wie is elkeen van ons in die nuwe Nuwe Suid-Afrika, of wie probeer ons wees?

Hoog aanbeveel vir oopkop-kykers!

Sterre: 4

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top