Alles begin met Anna deur Annemari Coetser: ’n resensie

  • 0

 Alles begin met Anna
Annemari Coetser
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798176170

Na ’n aantal ligter boeke, hoewel met omstrede temas, verras Annemari Coetser met Alles begin met Anna. Hoe bly is ek dat hierdie nie 'n biblioteekboek was nie, want dan was daar dalk gevaar dat ek dit ná die eerste paar hoofstukke sou neergesit het. Aanvanklik het ek gesukkel om tred te hou met die uitleg van die familie in hierdie familiesage en dit was vir my verwarrend met drie karakters genaamd Anna. Toe ek eers in die ritme van die boek gekom het, was dit egter soos 'n golf waarop ek ry, soms met spoed en dan rustige deinings, maar altyd met respek vir die grootsheid van die see, want hierdie is ’n grootse verhaal wat met respek benader moet word.

Ek het my literêre tande geslyp op historiese romans soos Die reise van Isobelle deur Elsa Joubert en Kroniek van Perdepoort deur Anna M Louw. Sedertdien geniet ek altyd 'n boek wat weer daardie gewaarwordinge en emosies bevat wat die lees van vervloë dae in my wakker maak.

Alles begin met Anna is die verhaal van drie geslagte van ’n familie wat losweg gebaseer is op die skrywer se familiegeskiedenis. Feit en fiksie neem ons deur die Anglo-Boereoorlog en die Tweede Wêreldoorlog. Temas is verlies, lyding, die invloed van geestesiektes, vriendskap en familiegeheime wat bewaar word.

Historiese gegewe en sake van die dag word slim ingevleg, dwarsdeur die verhaal, soos die geskiedenis van Amelia Earhart en die ontploffing van die Hindenburg, om net twee van vele voorbeelde te noem. Geskiedkundige feite, soos oor die diamantbedryf, interessanthede soos waterpennies en vele ander word op so ’n manier in die verhaal verweef dat dit bloot die tydsgees uitbeeld. Verstommend baie kennis en historiese feite word dwarsdeur die verhaal op 'n baie natuurlike manier oorgedra en deur die karakters gebruik, en dit voel nooit soos stukke geskiedenis wat as deel van navorsing ingeskryf word nie. Die skrywer slaag uitmuntend daarin om dit ’n baie goeie geskiedkundige roman te maak.

Gerda Taljaard-Gilson skryf in ’n artikel op LitNet: “Historiese romans is nie net die herwinning van die verlede nie, maar ook ’n medium waardeur ’n historiese bewussyn by die eietydse leser geskep word om sodoende sin te maak van die hede.” Verskillende temas van die boek voldoen hieraan, soos die feit dat alles doodgeswyg is in die era waarin die verhaal afspeel, en die invloed daarvan op gesinslede. Ook die invloed en stigma van geestesiektes in daardie tyd, hoe dit die hele gesin, maar veral vir Poppie, in haar verhoudings raak.

Die geskiedkundige gegewe, veral die politieke klimaat en die verskillende oorloë, vorm ’n integrale deel van die verhaal, tog het dit nooit gevoel soos ’n geskiedenisles nie, al het ek verskeie nuwe dinge geleer, soos die semafooralfabet. Die manier waarop die skrywer dit integreer in die verhaal, is besonder knap. Dit is duidelik dat die navorsing deeglik gedoen is met begrip daarvoor. Die skrywer se eie politieke ingesteldheid skemer nooit deur nie; die karakters het botsende menings en dit word duidelik deur die karakters se optrede gewys dat elke saak twee kante het.

’n Sterk punt was die feit dat nie al die karakters helde was nie; rolle in veral die oorlogsituasies is nie verromantiseer nie. Soos die arme Laatste Steenkamp se onwaardige dood op die slagveld, waar hy aan ’n stuk vetterige biltong verstik.

Interessant was dat net soos in Mariël le Roux se Wilhelmina, kampkind van Java, vroue fisiek swaarder kry in oorlogsituasies en konsentrasiekampe as mans, hoewel hulle emosioneel geweldig sterk is. Die situasie wat uitgebeeld is van die krygsgevangenes in Ceylon in vergelyking met dié van hulle vroue tuis, het dit goed getoon.

Tog was daar ’n paar kleiner lastighede in die boek. Soms is die stem deur karakters een wat praat met die wysheid van nabetragting (of by nabaat soos sy dit stel) en dan weer die stem netjies terug neem na die tyd waarin dit afspeel. Dit was asof daar telkens aan die einde van paragrawe ’n sin bygelas is om ’n morele lessie tuis te bring. “Bokant hom is die lug baie blou. Sy tone steek net-net bokant die water uit, sy hande plas lui weerskante van hom. Wat ’n voorreg is dit nie om so naby die see te kan bly nie. Op die plaas waar hy grootgeword het, het hy nooit eens aan die oseaan gedink nie. ’n Mens weet nie wat jy mis as jy dit nie ken nie.”

Vir pedantiese lesers sal hedendaagse stemtoon plek-plek pla (sou boeremeisies in 1940 bv praat van “ougat” en “panties”?) hoewel die skrywer oorwegend uitstekend daarin slaag om met woorde en terme soos “in die ander tyd” en “die ouvrou” die tydsgees uit te beeld.

’n Bulsak is 'n verematras, nie 'n weermagman se sak nie. Verwar die skrywer dit met balsak?

Die verhaal was baie goed op dreef toe Frikkie sy verskyning maak, en dit het die ritme vir my verbreek. Mens moet hierdie boek met aandag lees om kop te hou, maar die boek verdien die aandag dubbeld en dwars.

Die boek het ’n pragtige voorblad wat presies uitbeeld waaroor dit gaan en dit behoort treffend op die rak te lyk.

Wie moet hierdie boek lees? Dit behoort aanklank te vind by ’n wye lesersmark. Dit is soos Fees van die ongenooides – bedrieglik eenvoudig geskryf, sodat aanhangers van ligter boeke dit ook sal geniet. Tog het dit veel meer om die lyf as net ’n familiesage. Lesers wat Helene de Kock se Dieper water geniet het en Irma Joubert en Mariël le Roux lees, sal ongetwyfeld hiervan hou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top