Adam Small (1936–2016)

  • 0

Gebore en getoë

Adam Small is op 21 Desember 1936 in Wellington in die Boland gebore. In 1937 trek die gesin na Goree, ’n buitewyk en sendingpos aan die Vinkrivier buite Robertson, waar sy pa, John Sylvester Small, meester was van ’n eenmanskool vir die kinders van die plaaswerkers. Hierdie wye, oop ruimte van sy vroeë kinderjare het ’n blywende indruk op Adam gelaat. Sy pa was ook Sondagskoolonderwyser en sy eerste skryfpogings was toneelstukkies vir die Sondagskool, wat die klassie dan opgevoer het. Adam het een suster, Mona.

“Ek was seker vyf, ses jaar oud. My pa het my altyd op sy huisbesoeke saamgeneem en Sondae het hy vir daardie stowwerige mense van die plaas kerk gehou. Daar is die woorde in Goree wat Daniel Hugo so prágtig vertaal het in Afrikaans. Daar sê ek: ‘En hy het hulle opgedra aan God en wanneer hy met God vir hulle ingestaan het, het ’n wonderlike ding gebeur ... en het hulle dit besef. Dit was nie nodig vir hulle om vir God báás te sê nie.’” (Aan Murray la Vita in Beeld van 13 September 2013)

Adam het tussen twee kulture grootgeword: in sy vormingsjare is hy in die huis van sy vader met sy Gereformeerde geloof en die Moslemhuis en Islamitiese geloof van sy moeder, ’n nooi Suleiman (hulle kon nog tot ’n mate Arabies hanteer). So is sy ouerhuis ’n huis van versoening, en dit is as gevolg van die invloed van beide sy ouers dat gemeenskapswerk ’n belangrike rol in die Small-huishouding speel, wat in Adam se latere lewe weerspieël word.

Einde 1944 verhuis die gesin na die Kaapse vlakte by Retreat, waar Adam se vader sy onderwysloopbaan voortsit in die NG Sendingskool en nou “meester” was vir die werkersklaskinders van daardie gebied. Sy vader was ook steeds betrokke by die kerk as diaken, later ouderling en ook as skriba, en Adam vergesel weer sy pa op sy rondes onder die armes en eenvoudiges. So leer Adam as kind ook die stedelike soort armoede van die Kaapse Vlakte ken, na sy vroeëre belewing van die plattelandse armoede van Goree.

Hulle het ’n gelukkige huislike lewe gehad. “Ek weet nou hoe my ouers ons teen die vernederings van ’n ongelyke maatskappy waar ons aan Klaas se kant was, al was Baas dan ook hoe ongekultiveerd, beskut het.” (Beeld, 4 November 2012)

Hy vertel aan Helize van Vuuren in Tydskrif vir Letterkunde, 2012: “Goree het my gemaak. Toe ek my sinne kom kry, was my pa die een enkele meester van daardie mense. Van Wellington, waar my ma ook vandaan gekom het – ’n Moslemvrou. Vakansies het ek daar in twee huise tuisgekom, die baie formele soort Calvinistiese NG Sendingkerk huis van my pa, en my oupa Adam. Ek was baie klein toe hy dood is. Hy was ’n tuinier, ’n baie indrukwekkende man, en my ouma Nellie.

“Die huis in Wellington was my geboortehuis, Terracestraat 12 (vandag 23). Die huis het eintlik behoort aan my oom Ernest – sy hele gesin het in die sestigerjare na Kanada geëmigreer. Hulle het die huis daar moes prysgee, het vir ’n ruk lank Kaapse Vlakte toe gekom, en is toe weg Kanada toe. Hulle Afrikaans het behoue gebly – twee of drie keer teruggekom vir vakansie – net buite Toronto gewoon, sneeu. Ek het hulle gaan ontmoet by die Niagaravalle. Hy kon nie oor die grens kom nie, en ek moes oor die grens. Hy was ’n NG dominee, maar hy het net oorsee gegaan, want hy het teen apartheid gepraat. Ek het in daardie jare daaraan gedink om weg te gaan.

“Ek het in daardie twee huise dan tuisgekom in die vakansie. My ma se van was Suliman … My oupa van ma se kant het ek nooit geken nie. Hy was ’n Indiër van Bombaai, eerste generasie hier … en met ’n wit, half-bruin vrou getroud – klomp Ierse bloed aan daardie kant. Die oupa was ’n denker. Hy’t hier ’n besigheid begin, en het op ’n tyd elke kafeetjie en winkeltjie in Wellington besit, maar hy’t agteruit geboer. Alles was later onder hulle uit. My ma was die geliefde dogter, want sy het boeke gelees. My suster is so twee jaar jonger as ek.

“Op Goree – dis vrek eensame wêreld, ons het nie vervoer gehad nie, die Kaap was destyds ver weg – het my ma vir ons boeke ingekry en vir ons stories gelees. Sy het vir ons gelees Die Arabiese nagte. Dit spook nog altyd by my. In my ma-hulle se huis was daar die reuk van miang, wierook en kerrie ook, die djirrah (die spesery-deel van kerrie, ’n byvoegsel, met ’n baie spesiale soort van geur en smaak). Die huis het altyd daardie geur gedra. Baie spesiaal.

“My pa het sy mense baie lief gehad, so ’n soort onderwyser-dokter wanneer hulle siek was. Vertrooster, raadgewer, en wanneer hulle doodgegaan het – meestal van die tering, omdat hulle baie gedrink het – het hy my saam gevat na die begrafnisse, en hulle teruggesit in die grond waaruit hulle gekom het. Dit was nog voor apartheid amptelik gekom het, maar apartheid was al ’n werklikheid. Miskien was ’n mens nog werklik te jonk, maar ek het altyd die vraag gevra, “Wat beteken die lewe vir mens wat uit daardie grond gekom het, en weer in daardie grond terug gesit word?” Die ou ballades is, soos Lewin Muir sê, beyond opinion – jy vra nie is dit ’n goeie gedig nie. Dit vertel jou van ’n lewe tragically accepted.

“My pa was daardie soort mens wat dit tragies aanvaar het, ek is nie die soort mens wat tragies aanvaar nie. My ma het dinge sinies aanvaar. Ons het baie vasgesit, maar ons was baie naby aanmekaar. ’n Paar minute voor sy sterf, het ek oor haar gebuig, en toe het sy drie keer vir my gefluister: “Ek is nog wakker, ek slaap nog nie.” Dit het my heeltemal gegooi. Ver oor die sewentig. Na aan tagtig.

“Ek het daardie soort half-landelike armoede daar leer ken: die meeste mense was plaasarbeiders en het in die kombuise gewerk. G’n beskerming nie – mense onder God se blou lug. In een klaskamer kon jy van sub A af kry tot by minstens standerd 4 ... het my pa klasgegee. Jare daarna het ek die skooltjie besoek, met ’n ou register in my pa se handskrif – en toe het hulle dit vir my gegee. Baie keer as ouens so kla oor gebrek aan fasiliteite, dink ek daaraan wat gedoen kon word. Daar was tye wat hy onder die ou doringboom moes klasgee. Dis nie die fasiliteite as sodanig wat die verskil maak nie, dis die mense wat die les gee. Dis belangrik vir my werk dat ek die
gevoel vir die underdog daar ontwikkel het.

“Ek was standerd 2 klaar toe ons daar weg is, nege jaar oud, My ma het nooit formeel gewerk nie, sy het ‘aan ons gewerk’ ... Toe is ons Kaap toe, hier in Retreat het my pa ’n groter skool kom behartig, en ook betrokke geraak by die dinge van die kerk. Huisbesoek was ’n groot ding oor naweke, en ek het die nuwe grond, die nuwe duinegrond leer ken, wat bly skuif en verskuif … Anders as daai vaste grond. Daar roer iets baie spesiaals in my wanneer ek die duinegrond hier van die Kaapse Vlakte, wat bly verskuif, ervaar. ...

“Toe het my pa my hier na ’n Katolieke skool gestuur. Van standerd 6 af. Eers by die Dominikanernonne, en van daar af standerd 7 by die Immaculata-skool. Toe is ons seuns na die Christian Brothers. My pa was ’n baie liberale soort mens. Ek het vrae gevra: sy motief was, vind maar uit vir jouself, gaan leef saam met die mense. Dit was ’n wonderlike opvoeding saam met die Katolieke. O’Farrell was my prinsipaal, een van die grootste onderwysers wat ek ooit gehad het: St Columba Christian Brothers in Athlone. Kleinerige skooltjie, maar hy was ’n wonderlike mens. Ek was in 1953 in matriek. Totale toegewyde onderwysers was daardie onderwysers. Dit was hulle taak – om as onderwysers op te tree, daardie orde. Die Katolieke Aartsbiskop van Kaapstad, Roberts Henry, was saam met my in matriek. Hy was altyd die ou wat die vensters met ’n stok oopgemaak het: hy maak vandag nog die vensters vir God oop. Daar het ek ook vir SV Petersen ontmoet: ek het altyd die grootste waardering vir hom gehad. Ons het later vriende geword (hy was toe ’n skoolhoof daar naby). Hy was baie verbitter. Sidney was ’n groot voorloper en baie onderskat. Ons letterkunde word nog maar altyd uit ’n wit hoek bedryf, veral ook die kritiek. Hy is ’n onderskatte, onderwaardeerde digter. Sy bydrae was eenvoudig enorm. Die impak wat dit behoort te gehad het, het dit nie gehad nie.”

Hoewel Adam in ’n gereformeerde huis grootgeword het, het die simbolisme en “atmosfeer” van die katolieke kerk hom sterk aangetrek. Sy suster, Mona, is ook na ‘n katolieke skool. Hulle albei het so goed presteer dat die inspekteur gesê het Adam se onderwyser kon Adam se vraestel gebruik vir sy memorandum.

Op skool was ’n hele paar mense wat ’n groot invloed op Adam se lewe gehad het: suster Pascal, wat hom Latyn probeer leer het, en broeder O’Farrell, wie se integriteit as mens en as onderwyser Adam altyd sal bybly. Adam se seun, Peter John, matrikuleer einde 1992 aan dieselfde St Columba-skool en einde 1990 matrikuleer Zaidee, sy dogter, aan die Dominikanerskool Immaculata, waar suster Pascal vir Adam probeer Latyn leer het.

Verdere studie en werk
In 1954 begin Adam sy universiteitsjare as mediese student aan die Universiteit van Kaapstad, omdat hy in die apartheidsjare nie aan ’n Afrikaanse universiteit mag studeer het nie. Dit is egter gou vir die jong Adam duidelik dat medies nie sy rigting is nie en na ’n frustrerende eerste jaar skakel hy oor na filosofie en taal, waar hy meer tuis voel. Sy dosente is onder andere DJ Opperman, Boerneef en Marthinus Versfeld. Saam met hom studeer ook sy latere vriend, Vernon February.

Hy vertel verder (Tydskrif vir Letterkunde, 2012): “As ek moes prakties doen, het ek die filosofieë en briewe van Pous Pius die XIIde gelees en my kop daaroor gebreek. Voor ek universiteit toe is, het ek Barkley se Theory of Vision gelees, wat ’n ou onderwyser vir my gegee het. Toe het ek agtergekom dat ons sieninge ook maar twyfelagtig kan wees as ons nie ons oog of oor daarop het nie. Toe is ek filosofie toe: een van die groot onderwysers wat ek gehad het, was SIM du Plessis. Opperman en Boerneef in Afrikaans, Canis Scholtz was ook daar in Afrikaans. Einde van die eerste jaar het ek fisika geslaag – tot vandag toe hou ek daarvan om daardie goed te lees. Toe kom ek by ’n tafel uit, en dis toe die filosofiedosent wat daar sit: toe seg hy vir my: ‘Small jy’s ’n filosoof!’

“In die eerste jaar het ek al die boertjies geklop en die klasprys gekry vir Afrikaans. Ou mev Bax was ’n dosent, toe gebruik ek ’n doodgewone Afrikaanse woord, ‘tob’, wat haar verbaas het. Effens patroniserend. Filosofie en Afrikaans. Ek het die eerste jaar verloor, toe moes ek my filosofie-kursusse so kies, so stapel, dat ek die derdejaar saam met die ander klaarkry. Ek het honneurs en MA gedoen – oor Nietzsche: ‘Nicolai Hartmann’s appreciation for Nietzsche’s axiology’. Ek het destyds ook Duits gehad. En my tesis in Engels geskryf.”

Einde 1956 behaal Adam sy BA-graad in etiek en logika en metafisika met onderskeiding en in 1957 sy honneursgraad in filosofie, ook met onderskeiding. Dit is ook in 1957 dat sy eerste bundel, Verse vir die liefde, by Culemborg verskyn. Hy verwerf sy MA-graad, ook met onderskeiding, in 1962 onder SIM du Plessis oor die Duitse aksioloog Nicolai Hartmann se waardering vir Friedrich Nietzsche. Hy verwerf twee beurse en met een vertrek hy oorsee, waar hy aan die Universiteit van Londen se London School of Economics met die wetenskapsfilosoof Karl R Popper as dosent studeer. Die aanpassing daar was uiters moeilik.

Met sy terugkoms in Suid-Afrika is hy vir ’n baie kort tydjie onderwyser in Wellington, voordat hy in 1959 aangestel word as lektor in filosofie aan die Universiteit van Fort Hare. Begin 1960 is hy een van die eerste 13 personeellede van die nuutgestigte Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) toe hy aangestel word as dosent in en eerste hoof van die Departement Filosofie. In 1966 word hy as medeprofessor in filosofie aangestel.

In Desember 1959 trou Adam met Julia Anne Elizabeth Engelbrecht en uit die huwelik is twee seuns, Jannie en Leon, gebore. Adam en Julia is egter in 1968 geskei en in 1969 trou Adam met Rosalie Joan Daniels. Hulle het ook twee kinders, Zaidee en Peter John.

In 1963 vertrek Small na Oxford in Engeland met ’n British Council Scholarship vir gevorderde navorsing in die morele filosofie. En dit is hier waar die eerste idees vir Kanna hy kô hystoe hulle beslag kry. Intussen verskyn Klein simbool (1958), Kitaar my kruis (1961) en Sê sjibbolet (1963).

Met verwysing na Klein simbool, waarin Small volgens Johan Rademan “’n paar prosatekste en spreuke geskryf het wat dalk ’n nuwe gedaante met Small se biografiese aantekeninge kan aanneem”, het Adam die stelling teenoor Rademan gemaak: “Ja, jy weet ek onthou van die dinge in Klein simbool. Iewers sê ek, as ek reg onthou: Daar is twee soorte mense. Die gelowiges en die ongelowiges is die een soort en die ander [soort] het lief” (Beeld, 4 November 2012).

In sy omdigting van 1 Korinthiërs 13 in die Nuwe Testament in Klein simbool skryf hy: “Al sou hierdie land myne wees, en al sy rykdom, maar die liefde ontbreek my, dan is hierdie land myne net met sy armoede. / Al sou hierdie land myne wees, en al sy godsdiens, maar die liefde ontbreek my, dan is hierdie land myne sonder God. /.../ Toe ek ’n kind was , het ek gehaat soos ’n kind, maar noudat ek ’n man is het ek lief soos ’n kind. / As daar nou swart en bruin en wit bly, is die grootste hiervan vir my die liefde.”

In Adam Small se werk is daar baie Bybelse verwysings en kruisverwysings. Daaroor het hy aan Rademan (Beeld, 4 November 2012) gesê dat hy met die Bybel grootgeword het “en later begin ’n mens dink oor die dinge. Daar is baie dinge wat vir my so kontradiktories is wat die Bybel betref en tog bly dit ’n groot, groot boek met so baie stories. Die Bybel is vir my die heel belangrikste boek wat ook die sterkste invloed op my letterkundige werk gehad het en wat my die sterkste aangegryp het.

“Daar is die twee gedigte – ‘Second coming I’ wat ’n baie belangrike gedig is [verwysend na sy satiriese gedigte wat op die wederkoms van Christus dui] – miskien een van my grootste gedigte na my mening, en ook ‘Second coming II’. Die werke is (...) godslasterlik genoem. Dis allesbehalwe. En die begrip godslasterlik maak in elk geval vir my nie sin nie (...). Eenvoudig omdat hoe moet ons weet wie of wat God is en of Hy bestaan? Dis groot dinge daardie.”

Oor sy “heiligskennis” het Adam Small met Ronnie Belcher in Gesprekke met skrywers 2 gesels: “’n Klag teen my poësie uit sekere oorde is, of was, dat dit godslasterlik sou wees. Die waarheid is egter dat baie van my satiriese verse godslastering wil uitwys en ontmasker – dit wil die skynheilige vroomheid van die mense omdop sodat die waarheid daarvan, deur die spot wat ek daarmee dryf, in die lig kan staan, naak en onverdoesel. Ek wil godslastering aan die kaak stel, net soos ek die onregverdigheid aan die kaak wil stel.”

Hy het bygevoeg dat die kunstenaar nie in diens van die politiek of enige sosiale gelowe of gelofies is nie – selfs nie eens as satirikus nie. ’n Kunstenaar se trou lê by sy gewete.

Rademan het dit aan Small gestel dat Sê Sjibbolet (1963) “’n kruispad in die letterkunde in Suid-Afrika” verteenwoordig – “hierdie bundel wat die vorme van Afrikaans teenoor mekaar gestel het, maar ook sprekers van Afrikaans ” (Beeld, 4 November 2012), waarop Small geantwoord het: “Sê Sjibbolet is baie na aan my hart, net soos Kitaar my Kruis.

Die gedig “Sê Sjibbolet” is gebaseer op Rigters 12:5 in die Ou Testament: “Die manne van Gilead het die Jordaandriwwe na Efraim toe beset, en wanneer ’n Efraimitiese vlugteling sê ‘Ek wil deurgaan’, sê hulle vir hom: ‘Jy is ’n Efraimiet.’ As hy sê: ‘Nee, ek is nie’, sê hulle vir hom: ‘Sê bietjie Sjibbolet’, maar dan sê hy ‘Sibbolet’, want hy kan dit nie reg uitspreek nie. Dan gryp hulle hom en maak hom daar by die Jordaandrif dood.”

Sê Sjibbolet (Rigters 12)

Sê Sjibbolet
djulle ammal, djulle,
djulle wat sê djulle het
die Here,
djulle wat sê djulle is gared,
...
en glo djulle hoef is vet
moet olie vannie Here,
...
sê net!
want ons wil wiet
wie’s Gileadiet,
wié’s Efraimiet,
wie veg regdeur tot by Minniet
en wie is riet
en wie moet staan
en wie kan gaan
deurie driwwe vannie Dood
ennie Jordaan
...
nai?
ôrait,
ma sê net,
sê net Sjibbolet!

In 1961 verskyn ook Die eerste steen?, ’n bundel sosiopolitieke essays oor die bruin/wit Afrikaanse verhoudingskwessie. In ’n brief aan Small het Van Wyk Louw gesê dat hy dit “eers met belangstelling en later met ontroering” gelees het. Op die skutblaaie van Klawerjas (2013) is hierdie handgeskrewe brief wat NP Van Wyk Louw op 17 Julie 1961 aan Adam Small geskryf het nadat hy Die eerste steen? gelees het, afgedruk. Die gedig “Klawerjas” is ook aan Louw opgedra. Small vertel aan La Vita (Beeld, 13 September 2013): “Van Wyk Louw was ’n gróót, gróót denker. Indien hy in enige ander taal geskryf het, sou hy die Nobelprys gekry het. Ek dink hy is een van die grootste denkers ter wêreld. En die nederigheid van die man ... In daardie brief vra hy die vraag: ‘Wat kan mense soos ons in hierdie tye doen? Ons kan maar net praat, want ons is nie mense van geweld nie.’ Daar’s niks wat ons met geweld kán of wíl regkry nie.”

Met verwysing na Die eerste steen? het Small ook gesê: “[Dit is ’n] uit die hart geskrewe boekie oor my ervaring in die apartheid-opset ... Ek mag hoop dat die religieuse toon van die boek mense kan oortuig ... dat hierdie skrywer skaars tot godslastering in staat is!” (Beeld, 4 November 2012)

In 1965 keer Adam terug na Suid-Afrika en word Kanna hy kô hystoe gepubliseer.

Vir Small is Kanna ’n werk van formaat wat deur die jare oor en oor bevestig is. “Dit is ewige tematiek daardie. Ek het die woord ‘apartheid’ nie een keer in Kanna gebruik nie. Ek sien dit nie as protesliteratuur nie, maar as literatuur van waarneming en sosiale kritiek. Dit gaan ook oor verstedeliking en die gedwonge verskuiwing van mense en gee insig in die universele werklikheid van armoede by ons,” sê hy in sy onderhoud met Johan Rademan.

Temple Hauptfleisch was betrokke by die eerste professionele opvoering van Kanna hy kô hystoe in Bloemfontein. “In die hart van die Vrystaat, in diep apartheidsdae, toe die skrywer self ’n permit moes kry om vir meer as 24 uur in Bloemfontein te kan bly en alleen moes sit om na ’n repetisie van sy eie stuk te kyk. Dit was ongelooflik roerend en die teks is nog steeds vir my een van die grootste teaterwerke om uit ons bodem te ontstaan.” (Die Burger, 8 Mei 2012)

Die ander twee dramas in die drieluik, Joanie Galant-hulle (1978) en Krismis van Map Jacobs (1983) bekyk onderskeidelik gesins- en gemeenskapsgeweld.

Wilna Snyman vertel van die opvoering van Kanna hy kô hystoe met die inwyding van die Pretoriase Staatsteater in 1981. Vir die eerste keer is dié stuk met bruin akteurs opgevoer. Sy was die enigste wit speler.

“Die bruin spelers het my nie aanvaar nie, en ’n mens kan dit verstaan. Ek was verteenwoordigend van die wit apartheidsera, maar die regisseur, Louis van Niekerk, het vir my gesê hy’t my nodig om vir hulle as inspirasie te dien, want dis ’n moeilike stuk en hulle is nie professionele spelers nie.

“Met die openingsaand was ons almal verskrik, toe sê ek: ‘Kom na my kleed- kamer dat ons almal net kan saambid voor ons opgaan.’ Ek het hulle gelei in gebed, en toe sê die verhoogbestuurder: ‘Staan gereed’ en ek stap laaste die gang af. Toe ek deur daai verhoogdeur stap, staan daai groep spelers weerskante van my, en soos hulle deurstap, raak hulle met hul vingerpunte aan my en hulle fluister: ‘Makiet! Makiet!’

“Ek dra dit met my saam as ’n kleinood. Dit was wragtig een van daai spesiale oomblikke in die teater, want jy voel hier het iets baie groter gebeur as ek, en ek was deel daarvan.” (Die Burger, 21 Oktober 2011)

Met die opvoering in 2003 van Kanna by die destydse Technikon Skiereiland het Danie Botha na die geskiedenis van die stuk gekyk (Die Burger, 13 Februarie 2003): “Is dit wys om ’n toneelstuk as boek te laat verskyn voordat die teks ‘tot lewe’ gebring is op 'n verhoog – verkieslik deur professionele teaterlui en met resensente se toejuiging? Kanna hy kô hystoe deur Adam Small is ’n voorbeeld van uitgewers se beleid om wel onopgevoerde toneelwerk te publiseer. Dit was veral die gebruik voor die jare tagtig. Daar was één kritikus wat sou gesê het: Dis dwaas.

“Dit is 27 Desember 1964. JD Pretorius, hoofbestuurder van Tafelberg-Uitgewers, skryf met kenmerkende geesdrif aan Adam Small: ‘Ek was skoon opgewen van verwagting nadat ons vanoggend oor u drama gesels het. Baie dankie dat u dit na ons uitgewery bring vir uitgawe. Ek waardeer dit.’ Op Maandag 18 Januarie 1965 om drie-uur sal hulle verder gesels. ‘Ek lus al om te proe aan die ding.’

“‘Die ding’ word in 1965, voordat dit op die verhoog uitgetoets is, gepubliseer as Kanna hy kô hystoe. Volgens ’n brief van die redakteur Berta Smit het ’n regisseur van formaat wel insette met die teksversorging gelewer: Robert Mohr.

“Maar op Vrydag 18 Februarie 1966 moet Small en Pretorius dié woorde van WEG Louw in Die Burger lees: ‘Toe ek Kanna hy kô hystoe uit had, het ek gewonder wat dit nou eintlik is. ’n ‘Drama’, soos die ondertitel dit beskryf, myns insiens glad nie. ’n Stuk vir die toneel dan? Ja, sekerlik, maar myns insiens nog geen toneelstuk nie. Dan eerder ’n soort ‘somber musiekspel’ oftewel tragiese musikale skouspel.

“Hy gee toe dat ’n mens die werk nie behoort te beoordeel volgens ‘skoolboekies en handleidings nie’. Rekening moet tog gehou word met al die ‘vreemde’ ontwikkelings in die moderne toneelwerk.

“Maar al die ‘trucs’ ten spyt, ‘bly die gegewe, vir my altans, onbevredigend skraal. ’n Simptoom daarvan is myns insiens die uitvoerige, beskrywende en soms ook werklik mooi ‘toneelaanwysings’.

“Hy kla dat die ‘Kleurlingstraattaal’ met ‘klanke wat ons almal sou ken as ons hulle hóór’ met Small se ortografie vir die oog vreemd bly. Die dramaturg maak die leeswerk vir hom ‘en talle ander lesers’ nie maklik nie. En Small moet uiteindelik verneem: ‘Ná die lees is ek baie skepties of dit op die verhoog iets sal wees.’

“Dan stel Louw egter die dilemma van letterkundige kritiek op drama, die genre wat moet werk as lees- en as teaterervaring: ‘Maar ek is in laaste instansie geen regisseur nie. Wat iemand wat die vak en elke greep van daardie orrel ken, van Kanna hy kô hystoe gaan maak en kan maak, sal my besonderlik interesseer.’

“Eers in September 1971 sou uitgevind word of dit iets op die verhoog is. Sukovs voer dit veertien aande lank op voor ’n volgepakte Klein Teater. Wanneer Adam ’n jaar later met Ronnie Belcher in Gesprekke met skrywers (Tafelberg, 1972) gesels, rebelleer hy teen ‘die soort dom maar hovaardige verontagsaming van Kanna’ wat meegebring het dat dit ‘meer as vyf jaar op die rak moes bly voordat dit by iemand opgekom het dat dit op die planke gebring kán word’. Hy het veral troos gevind in Juanna Hibbert van The Friend wat die verwantskap met Arthur Miller se After the fall aangetoon het en besluit het dat Kanna ‘a better play’ is, ‘with greater impact and sincerity, convincingly performed ...’

“Maar Kanna moes nog Kaap toe kom, dié stuk wat volgens Small ‘die beste werk is wat (hy) gelewer het en, al sê (hy) dit nou self, die beste insig ooit gee in ’n deel van ons Suid-Afrikaanse werklikheid en, natuurlik, in ’n deel van die universele werklikheid van die armoede hier by ons’.

“Hy self pak dit in 1972 met studente van UWK in die Nico Malan-verplegingskollege in Athlone aan. Op 15 Augustus verseker hy lesers van Die Burger dat hy met ‘rou amateurs’ en met minimale teatermiddele kritici verkeerd gaan bewys ‘waar hulle die toneelmatigheid van die stuk in twyfel getrek het’.

“Besadig skryf Victor Holloway op 2 September oor die opvoering. Hy noem dat dit ‘boeiende vermaak’ en ’n ‘paar hoogtepunte’ bied. Die lesers ‘kan gerus gaan kyk’.

“In 1974 is Pieter Fourie die regisseur van die eerste professionele Kanna in die Kaap, ná ’n suksesvolle Truk-aanbieding. Sandra Kotzé is Makiet en Cobus Rossouw Kanna. Op Maandag 25 November 1974 kon Adam Small verneem dat dit ‘’n toneelervaring is wat baie jare lank onthou sal word’.

“Aan die woord is WEG Louw: ‘Dis ’n verhaal hierdie van die eenvoudiges, die eenvoudigstes, die armes wat altyd daar sal wees – altyd. Kanna hy kô hystoe het die groot gehoor asemloos in die ban van dié wêreld gesit – stemme, beelde, stukkies van ou en nuwe liedjies, die geheel nie slegs ’n wrange kommentaar op die lewe van dié eenvoudiges nie, maar ook met ’n duidelike strekking wat ’n mens by tye aan die keel gryp en jou dan weer trane in die oë laat kry.

“‘Wat is dit wat 'n mens so boei? Bowenal die woord ... Nie alleen is die poësie (daarin) ontroerend en is die stuk verbasend goed in mekaar gesit nie; dit is terselfdertyd ’n integrale werk vir die eietydse teater, so eie aan die Kaap – én aan ons land – as die taal wat dié mense praat. Daarom, glo ek, is die geldigheid daarvan dan ook nie slegs plaaslik en beperk nie.

“Dan kom Louw met die hoë woord uit: ‘Ek herroep hiermee onvoorwaardelik die nogal hooghartige voorlopige oordeel wat ek sewe jaar gelede ná die eerste lees daarvan gevel het. Inderdaad het ek my gedek deur te sê dat ek in laaste instansie nie ’n regisseur is nie en nie sonder meer sou kon oordeel oor die uitwerking daarvan as dit goed geregisseer en gespeel word nie. Nou weet ek.’

“Vir Pieter Fourie se regie het hy net lof. Ook oor die spelers oordeel hy gunstig. Hy beskryf Sandra Kotzé se Makiet: ‘Algaande het die ou vrou met die ouderwetse kopdoekie in die ou rystoel uitgegroei tot ’n tenger maar byna heroïese gestalte ... Sy was 'n lewende werklikheid ... Daarmee het sy haar plek onder ons voorste aktrises ingeneem.’

“Met die 2003-opvoering behoort daar geen twyfel meer te wees oor die toneelmatigheid van Kanna hy kô hystoe nie. Ook nie oor die letterkundige waarde daarvan nie. Daaroor het kritici hulle oor die jare hoofsaaklik gunstig uitgelaat: Rob Antonissen, JP Smuts, JC Kannemeyer en veral André P Brink in sy Aspekte van die nuwe drama.”

In Kanna self kom daar geen spesifieke verwysings na die apartheidsbestel voor nie en dit het beteken dat Truk in 1974 Kanna kon opvoer met wit akteurs voor wit gehore as ’n voorbeeld van die “oorbrugging van die ras- en kulturele grense” (Die Burger, 3 Maart 2008).

Marina Griebenow skryf in Kanna, hy kô hystoe word daar gekyk na ’n groep mense wat hoop op verlossing in die verwagting dat wanneer Kanna terugkom, uitkoms sal geskied. Kanna self is in twee geskeur tussen die feit dat hy nie die hele stand van sake kan verbeter nie en sy eie ondervinding van ’n beter bestaan wat hy elders ervaar het.

Adam Small se enigste roman, Heidesee (1979), is ’n storie van aftakeling as gevolg van die regeringsbeleid van 1948 en Johan Rademan het in sy onderhoud ’n parallel getrek met Richard Llewellyn se How green was my valley. Small se reaksie was: “Ja, hoewel die storie sy eie gang gegaan het, was die gedagte om Heidesee te skoei op How Green was my Valley, maar die storie het sy eie loop geneem. Ek dink nog altyd dis ’n goeie stuk werk en ek het nog altyd gehoop dat dit miskien verfilm kon word. Ek dink baie swakker stories as dit is al verfilm. As ek kyk wat uit Hollywood uit kom elke dag is dit heeltemal belaglik hoekom dit nie ’n goeie storie op die groot doek of die klein doek kon word nie.

“En jy weet, dis wonderlik dat in Heidesee in daardie jare die mense van verskillende sogenaamde kleur by mekaar uitgekom het – wit, bruin – die mense wat Afrikaans was. En soms as ek sien [en] vandag hoor hoe die mense sukkel met hulle menseregte-fieterjasies, verstom ek my. Baie van dié dinge het lank reeds vorm gehad.”

Adam reis in 1971 na die VSA nadat hy deur Richard Nixon genooi is om die eerste White House Conference on Youth in sy persoonlike hoedanigheid by te woon.

In 1972 word hy benoem as lid van die senaat van die UWK en in dieselfde jaar bring hy Kanna self op die planke op die Kaapse Vlakte met ’n amateur-studentegroep, die dramavereniging van die UWK. Hierdie groep word later die Cape Flats Players en die opvoering staan vir Adam sentraal in die teatergeskiedenis van Kanna. In Junie 1974 word dit in die Alexanderteater in Johannesburg opgevoer en Truk moes ’n permit kry sodat Adam dit kon bywoon. In Oktober 1974 word Kanna ook in die Nico Malan-teater in Kaapstad opgevoer en besluit Adam om nie die openingsaand by te woon nie, omdat hy gekrenk is oor die kritiek dat die stuk, wat deur ’n bruin man oor bruin mense geskryf is, opgevoer word in ‘n teater waar bruin mense nie welkom is nie.

Adam voel hom in 1973 daartoe genoop om te bedank by die UWK in solidariteit met die studente wat gedwing word om van die kampus af pad te gee. Hy soek aanvanklik vrugteloos na werk. Hy word dan aangestel as direkteur van Witsco, die studente-gemeenskapsorganisasie van die Universiteit van die Witwatersrand.

Met die sloping van Distrik Ses sien Adam sy werk al meer as “’n gewete vir die land wat die verskynsel en praktyke van kolonialisme betref, apartheid inkluis, natuurlik, as vorm van kolonialisme. Ek maak die pers ’n belangrike medium vir my sosiaal-politieke kritiek.” So word Oos wes tuis bes: Distrik Ses in 1973 gepubliseer, met gedigte van Adam en foto’s van Chris Jansen. Later verskyn ook die Engelse teks met foto’s van Jansje Wissema.

In 1974 verskyn Black bronze beautiful: quatrains. Adam sê self: "Ek skryf nou meermale in Engels, nie omdat ek regtig wou nie, miskien nie eers omdat ek kon nie, maar weens die kulturele aardskudding wat my verhouding met my eie taal aldeur nog vir my was.”

Die gesin keer in 1974, ná slegs ’n jaar in Johannesburg, terug na Kaapstad. In hierdie tyd kry die drama Joanie Galant-hulle beslag, hoewel dit eers in 1978 gepubliseer word. Vanaf 1975 tot 1977 werk Adam vir Maskew Miller Uitgewery in Kaapstad en in hierdie tyd waag hy sy hand aan vertaling en verskyn die bundel Oh wide and sad land (1975), met gedigte van NP Van Wyk Louw. In 1975 word lidmaatskap van die English Academy of Southern Africa aan hom toegeken. In 1978 wys hy egter lidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns van die hand.

In 1978 word Small aangestel as hoof van die Wes-Kaaplandse Stigting vir Gemeenskapswerk / Western Cape Foundation for Community Work (FCW), waar hy tot 1983 werk. Hierdie stigting spits hom veral toe op kinderwelsynwerk – ’n saak wat Adam baie na aan die hart lê. Gedurende hierdie tyd bekwaam hy hom professioneel en akademies as maatskaplike werker by Unisa.

Hy was in die sewentigerjare betrokke by SASO (South African Students’ Organisation) en in 1976, met die belangwekkende SASO-“terroriste”-saak in die Pretoriase hooggeregshof, getuig hy vir drie dae vir die verdediging. Hy word toegelaat om van sy gedigte in die hof voor te lees ter illustrasie van die betekenis van apartheid, en "wanneer ek klaar getuig het, vra die staatsaanklaer my om sy eksemplaar van Kitaar my kruis te teken!”

Adam word in 1976 na Nederland genooi om ’n kongres, Art contra apartheid, oor die rol en funksie van skrywers in die Suid-Afrikaanse gemeenskap by te woon. Die skrywer James Matthews is ook genooi, maar sy paspoort is geweier. Die konferensie is gereël deur ’n Nederlandse kultuurgroep, De Populier, in Amsterdam. Behalwe Adam woon Suid-Afrikaanse skrywers van drie vastelande die kongres by: Alex la Guma, Dennis Brutus, Lewis Nkosi, Vernon February en James Ravell.

Adam is ook die eerste gekleurde wat genooi is om die NP Van Wyk Louw-gedenklesing aan die Universiteit Stellenbosch te lewer. Die titel van sy lesing, wat hy in 1977 lewer, is "Afrikaans en Afrika in die werk van NP Van Wyk Louw". Adam is baie bly oor die geleentheid om oor Louw te praat, aangesien hy Louw, saam met Marthinus Versfeld, sien as die opwindendste filosofiese denker wat Suid-Afrika opgelewer het.

Sy toneelstuk Hey, smile wit’ me open in 1979 in die Baxter-teater in Kaapstad met musiek wat gekomponeer is deur Randall Wicomb. Hierdie is ’n stuk “totale teater” met dialoog, musiek, prente, beweging en kleur (in meer as een opsig). Ook in 1979, op versoek van Sukovs en Sandra Kotzé, skryf Adam die toneelstuk Krismis van Map Jacobs. Met hierdie stuk sluit hy tesame met Kanna en Joanie Galant-hulle vir hom ’n drieluik af waarmee hy bepaalde sosiale probleme ondersoek het. Krismis van Map Jacobs is ’n maatskaplike stuk wat sterk put uit die ervaring wat hy as maatskaplike werker opgedoen het.

In 2012 is Krismis van Map Jacobs weer in die Kunstekaap op die planke gebring. Die storie van Map Jacobs is Kaaps, maar gehore uit alle dele van die land reageer entoesiasties en positief op hierdie opvoering van dié voorgeskrewe drama vir matriekleerders.

Vir Kobus Burger, uitvoerende regisseur: drama by RSG en voorheen dramaresensent by Beeld, was Krismis van Map Jacobs ’n “moet-sien-produksie wat oud en jonk sal bekoor, terwyl dit terselfdertyd Adam Small vereer en sy tydlose werk aan nuwe gehore bekend stel” (Die Burger, 27 Julie 2012).

Die stuk is gesitueer in die 1970’s toe die gedwonge verskuiwings aan die orde van die dag was. Map Jacobs is ’n bendeleier wat in die tronk sit en sy vrylating op parool is voor hande. Maar het hy verander? Die stuk bespieël ook die alledaagse lewe en hartseer van die gemeenskap en temas soos misdaad, armoede en die soektog na liefde en ’n eie identiteit.

David Johnson het die rol van Jacobs vertolk. Hy vertel aan Mariana Malan (Die Burger, 27 Julie 2012): “Dit is ’n uitdagende rol. Dis nogal moeilik om Adam Small te speel. Al is Map eintlik maar ’n klein karakter, moes ek verstaan hoe sy kop werk om hom reg te vertolk.

“Ek sien ook die rol as deel van my sosiale verantwoordelikheid. Dis nodig dat hierdie deel van ons geskiedenis onthou word en dat mense wat dit dalk nie ken nie, ingelig word. Jacobs is ’n produk van sy omgewing. Hy probeer ’n goeie mens wees. Maar hoe kom ’n mens uit ’n omgewing waar hy net so ver kan gaan en nie verder nie?

“Die taal in die stuk is ook vir my belangrik. Dis buigsaam sodat verskillende mense dit verskillend kan gebruik.”

Die regisseur was André Stolz en die ander akteurs Sindi Sampson, Leslie Fong, Huey Louw, Irvine van der Merwe, Chrystal-Donna Roberts, Merlin Balie, Revano Michael Singh en Bradley Olivier.

Einde 1983 word Small aangestel as hoof van die Departement Maatskaplike Werk aan die UWK. Hy beywer hom veral vir intellektualiteit in die professionele opleiding van maatskaplike werkers. Hy stel ‘n nuwe kursus vir opleiding in maatskaplike werk in onder die naam filosofie van maatskaplike werk. Hy het sy personeel aangemoedig om met nuwe idees vorendag te kom. Sy departement was die eerste wat ’n kursus in feminisme, “women and gender studies”, aangebied het. Saam het hy en sy personeel gemeenskapsgebaseerde advieskantore en vernuwende uitreikprogramme ontwikkel, waarvan party so goed gewerk het dat dit later in vaste dienste omgeskep is.

Small se groot intellektuele bydrae is sy “philosophy of care”, wat later ’n verpligte interdissiplinêre module was vir alle eerstejaarstudente wat in die die­nende beroepe opgelei is. In 2001 het hy ’n UWK-eredoktorsgraad vir sy versiende bydraes ontvang. 

“Die UWK se maatskaplike departement was die res van die land ver voor met kritiese, visioenêre denke en ’n relevante, interessante kurrikulum. En dis hoekom ek met alle mag onder Small wou werk,” onthou Vivienne Bozalek, Small se voormalige kollega en tans direkteur van die Teach­ing and Learning-eenheid aan die UWK. (Rapport, 15 September 2012)

“Ek het baie keer na hom gekyk en gedink: dis ’n groot gees dié. Hy was sy tyd ver vooruit en nie almal was gereed vir al sy idees nie. Sy studente was egter mal oor hom en internasionaal was sy werk hoog aangeskryf. 

“Ons gebruik nou nog die ‘vi­sion statement’ wat hy opgestel het. Toe ek dit eenkeer by die Universiteit van New York voorlees, was die mense in trane. Hy was ’n ware visioenêre denker.”

Gedurende hierdie tyd ontstaan daar belangstelling in sy dramawerk in Amerika by die teater Seven Stages in Atlanta, Georgia. Seven Stages is ’n kleinerige, niekommersiële opset, en Kanna sowel as Orange Earth word daar opgevoer. Orange Earth word ook in 1984 deur BBC Radio as ’n vollengte-drama uitgesaai en baie goed ontvang.

In 1993 word Small aangestel as senior professor aan die UWK. En ook in 1993 ontvang hy die Suid-Afrikaanse Orde vir Voortreflike Diens (goud) van president FW de Klerk. Dit is aan hom toegeken vir die rigtende rol in die Afrikaanse letterkunde en in die denke oor die problematiek van die Suid-Afrikaanse samelewing wat hy oor meer as dertig jaar vervul het. Hy besluit om die vertaling van Orange Earth aan De Klerk op te dra. Hierdie stuk is deur Daniel Hugo vertaal onder die titel Goree en is in 2006 oor RSG uitgesaai en deur Willem Fransman jr op die planke gebring met sy teatergroep die KreAkon-toneelgeselskap.

In 1995 lewer Adam sy debuutreferaat op die 86ste jaarvergadering van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns nadat hy as lid verkies is. Die titel van sy referaat is "’n Historiese en toekomsperspektief oor Suid-Afrikaanse waardes". Saam met sy seun Peter John voer hy sy werk ook op by die KKNK in 1995 en 1996, en in 1995 ontvang hy saam met Jan Rabie die Afrikaans Onbeperk-toekenning van die KKNK.
In Desember 1996, die maand van Small se 60ste verjaardag, word van sy dramas, soos Joanie Galant-hulleKrismis van Map Jacobs en Kanna hy kô hystoe, oor die senders van RSG uitgesaai as spesiale ”verjaardaggeskenk”. ’n Hoorbeeld oor Small, vervaardig deur Chris Swanepoel, was ook op die program. Waarskynlik die hoogtepunt van die seisoen was ’n vertaling van The Orange Earth. Daniel Hugo het dié drama, wat in die sewentigerjare laas in die Baxter op die planke gebring is, as Goree in Afrikaans uitgesaai, geregisseer deur Johan Rademan.

Adam ontvang ook twee eredoktorsgrade in letterkunde: in 1981 van die Universiteit van Natal en in 2001 van die Universiteit van Wes-Kaapland. In 1996 vereer die Universiteit van Port Elizabeth hom met ’n eredoktorsgraad in die filosofie.

In 2000 vereer die Afrikaanse Skrywersvereniging vir Small met die toekenning van die Patrick Petersen-gedenkprys. En dit is nog nie die laaste van die akkolades wat hy ontvang nie: in 2005 ontvang hy die Fleur du Cap-teaterprys vir lewenswerk en sy bydrae tot die teater, asook die Departement van Kuns en Kultuur se toekenning vir beste drama vir Kanna hy kô hystoe.

In 2009 het Adam die eerste Suid-Afrikaanse digter geword vir wie ’n bronsbeeld by die Taalmonument in die Paarl opgerig is. Die bronsbeeld is ’n dag voor sy 72ste verjaardag onthul. Hoewel hy nie self die verrigtinge kon bywoon nie, het hy die organiseerders laat weet hy is in sy skik met die eer wat hom te beurt val.

Volgens Ampie Coetzee is Small se onttrekking uit die openbare lewe deels toe te skryf aan “bruin ver-linkses” wat hom destyds tromp-op geloop het oor sy kwansuise stereotipering van die bruin mense (Rapport, 7 Januarie 2009).

Net voor die eerste demokratiese verkiesing in 1994 het Small hom ook die gramskap van die ANC op die hals gehaal toe hy gunstige uitsprake teenoor die Demokratiese Alliansie gemaak het.

Steward van Wyk, hoof van die Departement Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), het gesê (Rapport, 7 Januarie 2009) Small is ’n “ambivalente en enigmatiese figuur, ’n loner, en ’n individu”.

“Small is deeglik bewus van die betekeniswaarde van sy stilte. In Kanna hy kô hystoe staan daar byvoorbeeld: ‘Dis stil, baie stil.’ ’n Ruk lank ervaar die gehoor hierdie stilte, hierdie sprekende woordeloosheid.

“En oor die historiese gebeure van 27 April 1994 skryf hy: ‘lat ons stil word, dja/ en dink, dja, baie stil.’ Van Wyk het ook gesê daar is ook ’n meer bekende en gevleuelde kredo van Small: ‘Kô lat ons sing!’

“Tog illustreer sy uitsprake die liberale waardes van vryheid van denke en spraak waarvoor Small hom altyd beywer het. Small moet geloof word vir sy bydrae om die Afrikaanse letterkunde verteenwoordigend van die volle spraakgemeenskap te maak. Hy was lief vir die randfigure van ons gemeenskap. Mense soos die kitaarspelers, die groentesmouse, die blommeverkopers, bendelede en straatpredikers het hy kleurvol beskryf.”

Christo van der Rheede, destyds uitvoerende hoof van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en nou uitvoerende hoof van die Afrikaanse Handelsinstituut, het gesê Small se bydrae is vandag nog meer relevant as ooit vantevore. “Wat baie van Small se kritici nie besef nie, is dat sy bemoeienis met die gemarginaliseerde Afrikaanssprekendes presies dieselfde bevrydingsagenda gedryf het as hulle, maar dat hy dit gestroop het van die elitisme en klassisme wat baie van die politieke aktivisme van destyds gekenmerk het” (Rapport, 7 Januarie 2009).

Tydens die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se eeufeesvieringe in 2009 was Small een van die 25 ontvangers van spesiale Akademie-eeufeesmedaljes vir Suid-Afrikaanse presteerders.

Tydens die Suidoosterfees in Januarie 2011 is In my hand was my kitaar - 'n Peiling van Adam Small as kunstenaar en intellektueel in die Fugard-teater aangebied as deel van die Jakes Gerwel Roots-gespreksreeks. Die aanbieders was Jakes Gerwel, Randall Wicomb, Antjie Krog, Steward van Wyk, Ronelda Kamfer, David de Waal en Charlyn Dyers. Ingesluit in die program was ’n samestelling van gedigvoorlesings en musiek.

Die Skouerklop-toekenning van die Burger-Suidoosterfees is ook in 2011 aan Adam Small toegeken. Dit word sedert 2006 gegee aan iemand wat ’n besondere bydrae tot die Suid-Afrikaanse kunstebedryf gelewer het. Die ontvanger moet ook in die jaar van die toekenning by die Suidoosterfees betrokke wees. In ’n verklaring is gesê die Suidoosterfees het in 2011 die toon aangegee in die huldigingsjaar ter viering van Adam Small se 75ste verjaardag. Tydens die Jakes Gerwel Roots-gespreksreeks by die afgelope fees is drie dae lank met voorlesings, besprekings, musiekitems en dramatiserings op gepaste wyse erkenning aan Small gegee.

Die feestema in 2011 was Kaaps. In sy verklaring het die fees se uitvoerende hoof, Niel le Roux, gemeld dat Small “meer as ’n gepaste wenner van die Skouerklop-toekenning is, want hy het met sy poësie en dramas uiting aan die musikaliteit van die woord, en in besonder die klankrykheid van Kaaps-wees, gegee” (Die Burger, 2 Februarie 2011). Die toekenning is tydens die fees se afsluitingsgala by die Kunstekaap oorhandig en is op versoek van die Small-familie deur Steward van Wyk in ontvangs geneem.

Adam is op Saterdag 24 September 2011 by die Versindaba gehuldig. Drie-en-twintig digters het op ’n uitnodiging reageer om ’n gedig te skryf wat met hom in gesprek tree of aan hom hulde bring. Die inisiatief was die geesteskind van RSG-omroeper Iris Bester, en is opgeneem om verwerk te word in ’n program oor Small wat later op RSG uitgesaai sou word. Die akteur Nic de Jager het ingestem om die digters wat nie die geleentheid kon bywoon nie, se verse voor te lees.

Melt Myburgh, woordkunsbestuurder van die Woordfees (wat die jaarlikse Versindaba reël), het die geleentheid as ’n groot sukses beskryf: “Ek en Iris Bester, wat die Small-geleentheid voorgestel het, was oorweldig deur die reaksie van digters om deel te neem. Nie minder nie as 23 digters, gevestigde stemme en ook jong, opkomende talent, het gedigte vir dié besonderse geleentheid gelewer. Die publiek was besonder geïnteresseerd in die geleentheid. Dit was die item op die Saterdag se dagprogram wat die grootste aftrek by Versindaba-gangers gekry het.”

Ná die Versindaba is ’n bundel getiteld Vi’ Adam Small saamgestel wat die 23 digters se gedigte bevat. Dit is deur Naledi gepubliseer. Daarmee saam is ook ’n CD wat onder meer Iris Bester se ATKV-bekroonde hoorbeeld Adam Small 75­ en die klankopname van Vi’ Adam Small bevat. Opnames van tussen 1978 en 1996 uit die SAUK se klankargief, waar Small meer as 20 van sy eie gedigte voorlees, is ook op die CD ingesluit. Onder hierdie gedigte is vyf voorheen ongepubliseerde verse.

Breyten Breytenbach het die voorwoord tot hierdie bundel geskryf (Beeld, 8 September 2012). Hy het onder andere geskryf: “Meester: Dis ’n vreugde om iets te mag sê oor jou, Adam Small. (...)

“Beter gestel: Dis ’n voorreg om so ook deel te mag wees van hierdie blye geleentheid by die vrystelling op CD van ’n hoorbeeld wat Iris Bester van jou werk gemaak het. Daarby saam, en ook afsonderlik gebundel, kom die verse wat drie en twintig digters geskryf het uit erkentlikheid vir jou voorbeeld en as erkenning van die durende impak en invloed van jou werk. En belangriker nog vir ons as lesers is daar dan ook die heruitgawe, die weer-hoor, van vier en twintig verse wat jy oor die jare op band ingelees het.

“Dat hierdie liefdeswerk op Wellington, jou grootworddorp, vir die eerste keer in so ’n verpakking beskikbaar gemaak word, is belangrik en dit is goed so. Ek het ’n spesmaas jou voete wou maar altyd terug Wellington toe loop, Boland toe – soos myne seker ook.

“Miskien het ons die dorp uit verskillende rigtings benader. Die ruimtes wat ons help vorm het, is nie dieselfde nie, afgesien van die wind en van oumensberge op die kim. Dit sou aanmatigend van my wees om voor te gee ek kan weet hoe dit is om Adam Small te wees, dat ek jou erfenis se pyn en opstand en miskien ook die vervreemding daarvan van binne sou kon aanvoel. Maar die proe-vreugde van jou woorde, die optel-en-gooi of die skulpkoestering van jou mensweesverse, is daar vir ons almal.

“Want jy het by uitstek gewys dat die poësie in die eerste plek, die tuisplek, ’n mensetaalomgang is: ’n koerskuns en ’n verdwaalkuns. En partykeer – ons is ook mos maar mens – ’n kansvattery. Dit is wat ons dankbaar in die mond neem en saamneem as troos vir ’n lewe wat op te veel maniere ’n vernedering en ’n vashou aan die verbygaande is.

“Die res is duister en vol teenstrydighede – en nie slegs omdat mens op simplistiese wyse aanvaar ‘’n ander se verse is duister’ nie. (Dikwels is dit omdat mens nie wil hoor nie.)

“Ek dink nie jy het anders voorgegee nie, en dis ook goed en reg so. Mens kan maar net raai hoe problematies dit moes wees, en nog steeds is, om die spanning te hanteer tussen die privaat lewe van ’n besonder fynsinnige filosoof enersyds en die rol van die openbare denker-aktivis-volksdigter aan die ander kant. Dis nou wel waar dat spanning ’n mens noop om dieper te skep in persoonlike en gedeelde goedere, en in jou geval sommer in die Bybel ook, maar dit maak die gedurige skawe-aan-jouself nie makliker nie.

“Is jy ooit ’n keuse gegun? Die verdwaalkuns is, paradoksaal, ’n veeleisende en meedoënlose leermeester én -meesteres. Miskien sou jy dit nie anders wou hê nie. En hoekom mag ons nie weet waar ons vandaan kom, wat ons hier soek en wat die implikasies is nie?

“Jy is emblematies van wat ’n mens as ’n inheems gesoogde ‘organiese intellektueel’ sou moet beskryf – met inagneming daarvan dat jou bemoeienisse en posisionering wyer strek as die Suid-Afrikaanse historiese moment, die locale en tydgebonde delirium. Natuurlik is daar eerstens jou identifisering met jou mense, met die armes en die verstotenes en die windrykes en die werkers en die werkloses en dié wat met die nommers loop – maar ook verder, met dié wat in die weikampies en agter die skanse van ’n eie ‘identiteit’ hulle eie braaivleisbeeste wil slag so asof hulle die groenigheid van gras self uitgevind het, wat blind seergemaak of selfregverdigend of deur die “geskiedenis” bemagtig verby die veelduidende van ’n gedeelde lappiesmenswees wil kyk. En ook verder en dieper, is daar jou vergestaltings van die profeet en die sjamaan én, in jou breër empatie en deur jou rousange, jou solidariteit met die klasselose armes oor kontinente en tydvakke en etniese afkampings heen.

“Laat ons die noot nie te hoog insit nie! Want ‘aan die einde van die dag’ (soos ons nogal ewe gladdebek deesdae sê) is wat ons by gaan bly Adam Small die digter – die man wat van ons taal, ons mooi mens-in-wording-bastertaal ’n lokasie – dus ’n plaaslikheid – van universaliteit gemaak het. Die poësie is dieper as die mond, en met baie tonge.

“Jy, Meester, het ons ook die ryke kreatiwiteit van twyfel en onsekerheid voor die ewige laat ervaar. Dis goed en mooi so. Ons is jou dankbaar.”

’n Simposium oor Small se lewe en werk is op 8 Oktober 2011 by die UWK aangebied. Hy het in Desember 2011 sy 75ste verjaarsdag gevier, en akademici met persoonlike en professionele bande met Small het van hierdie geleentheid gebruik gemaak om te besin oor sy bydrae as digter, dramaturg, filosoof en mens. In ’n brief van dank “vir alles wat almal doen in verband met my werk” en wat Steward van Wyk, voorsitter van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland, in sy verwelkomingsboodskap voorgelees het, het Adam Small sy innige waardering uitgespreek “vir die grasie waarmee almal my privaatheid respekteer”. Hy het daarop gewys “dat my werk dikwels in die teken van satire staan, en satire, soos James Sutherland sê (ek haal uit geheue aan), ‘is not for the literal-minded ... and is intended to destroy the fool’.” Small se vrou, Rosalie, was sy oë en ore op die simposium, aangesien hy sedert 1993 nie meer aan die openbare gesprek deelgeneem nie. (Beeld, 12 Oktober 2011)

Die verskillende deelnemers aan bogenoemde simposium het hulle as volg oor Adam Small uitgelaat:

  • André P Brink: Small se werk getuig van ’n lang pad “deur ’n donker, dónker droom” van apartheid. Dit is skreiend hoe sy werke geensins verouder nie. Small se bydrae in Afrikaans is juis vandag belangriker as ooit tevore. Saam met Jonker was Small ’n stemvurk van ’n era vir die praktyk van menswees. Small se oeuvre is een van die belangrikstes in Afrikaans ... En sy dramas staan nie ’n duimpie terug vir Arthur Miller s’n nie.
  • Jakes Gerwel: Small se sterk punt is sy kritiese ingesteldheid. As satirikus staan Small in die teken van die filosoof Kierkegaard se “laughter administered in fear and trembling”.
  • Abraham de Vries het gewys op die merkwaardige van Small se stilte die vorige 18 jaar. “[H]eilige minagting vir valsheid en opstandige meelewing met mede-onderdruktes laat sy werk saampraat – ook in die redes vir een van die onlangse, hopelik rigtinggewende, woede-uitbarstings van ons tyd.”
  • Frank Hendricks van die UWK: Small het Kaaps help destigmatiseer. In sy skryfwerk het Small Kaaps na ’n groter gehoor geneem. Hy het gewaarsku teen uitdefi­niëring in Afrikaans. Die literêre benutting van Kaaps is deel van die meriete van sy skryfwerk ... Small bring Kaaps as ’n voedingsbron by en sal só bydra tot ’n hersiening van Standaardafrikaans.
  • Steward van Wyk: Afrikaans kan vir Small dankbaar wees soos Duits vir die groot naoorlogse digter Paul Celan. Small het met ’n ander geluid Afrikaans binnegebring en gehelp om die taal menslik te maak. In ’n bespreking van Sê sjibbolet sê Van Wyk dat Small met sy gebruik van Kaaps en deur sy gewroeg met Afrikaans die verstotenes ook die taal binnegebring het.
  • Hein Willemse van die Universiteit van Pretoria het afstand en affiniteit en gemeenskaplikheid by Small bespreek, soos sy fokus op kulturele gemeenskaplikheid onder apartheid.
  • Die groot invloed van Small se ouers op hom is bespreek deur Francois Cleophas (’n susterskind van Small) van die Universiteit Stellenbosch.
  • Michael Cloete van Unisa het Small as morele filosoof bekyk: by Small gaan dit om die wil tot dialoog – nie Nietzsche se idee van die wil tot mag nie. ’n Filosofie van die humanisme is Small se blywende teenvoeter in die probleem van verontmensliking.
  • Wium van Zyl van die UWK het die retoriese aard van Small se werk bespreek: Small het op ’n uitkringende wantoestand gewys en dit teengestaan ... Hy het die kritici van destyds oorstyg.”
  • Nico Koopman van die US: Oor Small se werke en as profeet vir menswaardigheid het hy gesê dat dit profeties was in ons stryd teen apartheid en dat dit profeties is in ons strewe om ’n nuwe gemeenskap te bou. (Beeld, 12 Oktober 2011)

Ook in 2011 is Adam Small deur die Kaapse stadsraad vereer met ’n burgerlike eerbetoon vir sy unieke bydrae tot kuns en kultuur deur sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde.

In 2012 het Krismis van Map Jacobs in die spervuur beland. Dit is voorgeskryf vir skole en Anton Alberts, VF+-parlementslid, het, hoewel hy nie self die drama gelees het nie, namens VF+-ondersteuners aan die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, gevra of sy besef dat daar rassistiese taalgebruik in die drama is, asook godslastering, gekruide taal en swak Afrikaans. Alberts het ook vir Motshekga gevra of die drama opvoedkundig enige waarde toevoeg en of dit tot nasiebou bydra.

Motshekga was wel deeglik bewus van die klagtes van die taalgebruik in Map Jacobs, maar ook dat die taal wat in die drama deur die karakters gebruik word, binne ’n bepaalde konteks geskied. Die drama is as voorgeskrewe werk gekies omdat dit ’n baie goeie voorbeeld bied van hoe ’n drama se struktuur daar moet uitsien. Dit bied ook aan leerders ’n nuwe perspektief op ander wêrelde en ander kulture se uitkyk op die lewe.

“Die drama is uitdagend en bevat stimulerende temas wat ’n kritiese begrip vir waardes en maatskaplike binding kweek. Dit is ’n voortreflike viering van menswaardigheid, ongeag ras. Adam Small is ’n Hertzogpryswenner, ’n skrywer, digter en filosoof wie se navorsingswerk oor etiek en moraliteit welbekend is.” (Beeld, 26 Mei 2012)

Steward van Wyk, voorsitter van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland en gerekende kenner van Small se werk, was baie ongelukkig oor die kritiek op Map Jacobs: “Die vraag deur die VF+ verwoord ’n verkrampte en bekrompe benadering, soos die knap antwoord van die minister uitwys. Ek is werklik onbewus van rassisme en godslastering in die teks. Mense moet in konteks lees. Die drama speel af in die tyd toe apartheid en werkreservering ’n groot rol gespeel het om Map se betrokkenheid in die bendekultuur aan te help.”

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het Adam telkens in die verlede oor die hoof gesien wanneer dit gekom het by die toekenning van die Hertzogprys vir drama. In 2012 is hierdie onreg egter reggestel toe die Hertzogprys vir al sy dramas aan hom toegeken is.

Hierdie toekenning was egter ook nie sonder sy omstredenheid nie. Nicol Stassen, besturende direkteur van Protea Boekhuis, het in ’n brief aan die Akademie gesê hoewel hy dit nie betwyfel dat die Akademie die prys al jare gelede aan Small moes toegeken het nie, hy nie dink dat die Akademie regverdig en reëlmatig opgetree nie.

Rapport van 27 Maart 2012 berig as volg oor die hele aangeleentheid: “Volgens die reglement is dit duidelik dat slegs werke van skrywers wat die ‘vorige drie kalenderjare’ nuwe, oorspronklike wer­ke gepubliseer het, in ag geneem word by die toekenning van die prys,” het Stassen geskryf. “Dit is jammer dat die Akademie in die verlede, toe hy die prys wel volgens die reglement aan Adam Small kon toeken, dit nie gedoen het nie. 

“’n Mens het begrip daarvoor dat die Akademie ’n onreg van die verlede wil regstel. ’n Mens kan egter geen begrip daarvoor hê dat die Akademie vanjaar ’n nuwe onreg pleeg nie.”

Stassen het ook gesê die stap wat die Letterkundekommissie gedoen het, was nie in ooreenstemming met vorige besluite nie. “In die verlede is een of twee keer besluit om die prys nie toe te ken nie – eerder as om, soos in hierdie geval, die prys toe te ken aan persone of werke wat nie vir toekenning in aanmerking mag kom nie.”

André P Brink het gesê: “Ons was almal bewus van die driejaar-reglement, en die Akademie het dit jare lank voorgehou as ’n rede waarom hy nie die prys aan Small ‘kon’ toeken nie. Die feit dat hy dit nou tóg gedoen het, suggereer dat hy willens en wetens moes besluit het om die reglement op te skort, en ’n mens sou ’n aankondiging daaroor waardeer het. Dit kon baie duidelik nie ‘toevallig’ gebeur het nie.

“Ek self is in die wolke om te sien dat hierdie onreg wat byna ’n halfeeu geduur het, nou uiteindelik, lyk dit, ongedaan gemaak is,” het Brink bygevoeg.

Breyten Breytenbach, wat ook reeds die prys gewen het, het Jacques van der Elst, uitvoerende hoof van die Akademie, só per e-pos gelukgewens met Small se aanwysing as wenner. “Liewers laat as nooit. Ek dink dis ’n welverdiende erkenning van die wel erkende werk van ’n werklik belangrike skrywer. Met ander woorde, dis ook die erkenning van die rol van sosiale waarnemer en kritikus wat hier praat. My gelukwensinge aan die Akademieraad vir die amper vanselfsprekende besluit.”

Van der Elst het soos volg op Stassen se skrywe gereageer: “Uiteraard is die besprekings in die binnekringe van die Akademie oor hierdie sake vertroulik van aard, maar die volgende feitelikhede is ter sake: Die Letterkundekommissie van die SA Akademie is gebonde aan die reglement en het binne die reglement vir die toekenning van die Hertzogprys opgetree en voorleggings vir drama (oor die afgelope drie jaar) uitvoerig en indringend bespreek. Die LK het besluit om geeneen van die dramas wat voorgelê is aan te beveel vir die Hertzogprys nie. Hierdie bevinding is na die Akademieraad verwys. Die LK het wel ter oorweging aan die Raad deurgegee om die prys aan Small toe te ken. Die Akademieraad, as hoogste gesagsliggaam, het besluit, soos wat al in die verlede in sekere gevalle gebeur het, om die Hertzogprys aan Small toe te ken” (Rapport, 27 Maart 2012).

Rosalie, Small se vrou, het die toekenning namens hom ontvang en Johan Rademan het ’n eksklusiewe onderhoud met hom gevoer wat op RSG se Skrywers en boeke uitgesaai is. Rademan het gesê sy ervaring van die onderhoud met Small was oorrompelend. “Hy het ’n onwrikbare geloof in die liefde. Hy het al baie seergekry, maar genesing speel steeds ’n sentrale rol in sy lewensuitkyk. Hy toon deernis veel meer as wat ander met hom getoon het” (Die Burger, 8 September 2012).

Steward van Wyk het die rede by die toekenning gelewer. Hy het Small se werk so getipeer: “Hy spreek terselfdertyd breë, universele temas aan, soos wat ’n stelsel aan mense doen, die kwessie ook van armoede, van gewone mense, ook van liefde en versoening en sulke soort waardes wat regdeur sy poësie inslag vind” (Die Burger, 26 Maart 2012).

In sy huldigingswoord het Van Wyk ook gesê: “Small word beskou as een van die voorste dramaturge in Afrikaans. Kanna hy kô hystoe is waarskynlik een van die mees afgeronde dramas waarin politiek-maatskaplike problematiek binne ’n totale en vernuwende gebruik van teaterkonvensies verpak word. André P Brink beskou dit as ’n hoogtepunt in die Afrikaanse drama-tradisie.

“Baie is die afgelope jaar gesê oor die besluit van die Akademie om dié prys aan Adam Small toe te ken. Na alles wat gesê is, sal hierdie toekenning in die geskiedenis afgaan as een wat welverdiende erkenning gee aan Small se groot bydrae tot die Afrikaanse drama, ’n nodige regstelling van ’n historiese mistasting en gepaste hulde aan ’n groot skrywer.” (Die Burger, 12 September 2012)

In Adam se toespraak, wat deur Rosalie voorgelees is, spreek Adam sy waardering uit teenoor onder andere die Akademie, die digters wat verse vir hom op sy 75ste jaar geskryf het, Steward van Wyk, Michael le Cordeur, Jason Lloyd en Heindrich Wyngaard. Ook teenoor Antjie Krog vir haar insig in die musikaliteit van Kaaps – “Kaaps synde my spesiale identifikasie met Afrikaans vir soverre ek die grense van ons taal versit het sodat dit nou ’n baie wyer ruimte as voorheen bestryk.”

Hy het sy toespraak as volg afgesluit: “Laat die tesamevoeging van die name Hertzog en Adam Small ’n groot simboliek van versoening vir die mense van ons land wees. Politieke versoening is belangrik, maar intellektuele versoening, wat slegs deur die filosofie en die kuns gedra kan word, is diepsinniger en die grond van alles. Laat ons opvrolik. In daardie ewige woorde: Kô lat ons sing!” (Beeld, 18 September 2012)

In sy toespraak het Adam ook melding gemaak van die gedig wat Pieter Odendaal vir die bundel Vi’ Adam Small geskryf het. “(Ek) sê graag aan die jong digter Pieter Odendaal, na aanleiding van sy roerende reëls waarin hy my vra om te aanvaar dat sy pa, wat indertyd in die sogenaamde grensoorlog betrokke was, ’n goeie man is: Pieter Odendaal, glo my, ek het begrip daarvoor dat goeie mense ingesuig is deur die siekte van apartheid. Ek verstaan.”

Pieter Odendaal se gedig:

Die eerste steen
ek sou graag net ’n klipgooi ver
van jou af wou leef, meneer small
van die bankies die deure
die treine die skole die strande
die riots die klip in die hande
maar ek staan anderkant die storm
waar ons reënboë teen die skerm van die dag projekteer
’n mens kan nie lewens
in die lug bou nie, adam
en ek weet nie hoe om 
van hier vir jou te skryf nie
hier waar die blindes dans dans dans
met iPods in hul ore
en dollars in hul oë
ek wens ek is vroeër gebore
dat ek al kon loop die dag
toe Hector gaan lê het
miskien sou ek hom kon optel
miskien sou ek saam 
cowboys en kroeks speel
maar my hande is nog altyd
te klein gewees om klippe te gooi
al stoei my pa se bloed in my
en al was my oupa in die senaat
hy’s dood die jaar
toe my pa begin skiet het
my pa is ’n goeie man, meneer small
al praat slegs sy oë oor die grens
en al drink hy soms te veel
hy’s ’n goeie man, meneer small
al skree hy soms op taxi’s
en al was hy en sy god maar oukei met als gewees
hy’s ’n goeie man, meneer small
en ek hoop dat ek eendag skroomloos
langs sy graf kan staan en huil

En André Trantraal se gedig:

Die Afrikaanses

(Wie ore het om te luister, laat hom luister)

Die eerste gedwonge verskuiwing in die geskiedenis
was mos uit die Tuin van Eden:
Ons is almal die kinders van refugees;
dié dat ons so verlore is.

Die Here het ’n wag aangestel:
’n Engel met ’n vlammende swaard
bewaar die ingang tot die Paradys,
soos ’n sekuriteitswag in ’n rykmansbuurt.

Die mens is dakloos, ’n werklose tuinier.
Hy bid vir die kans om sy brood in die sweet van sy aangesig
te verdien; hy sit langs die pad en werk bedel,
maar die mense is te veel en die werk te min

1. Die taal van Eden, die taal van die engele,

beskik nie oor die woorde om iets so
menslik soos pyn te beskryf nie;
dit is ’n taal ongeskik vir die mond van die armes

2. Mý taal is ’n informal settlement op die nasionale pad van Afrikaans

Mý taal bestaan uit chipboard, swart plastiek en
verroeste sinkplaat
Mý taal kan nie bekostig om mooi te lyk nie
My taal is ongeskik vir die mond van die engele

3. Die verlange om terug te keer

verlaat hulle nooit; vir die mens wat
in die skaduwee van God gesit het
is die helderste lig van die wêreld duisternis

4. En in die donkerste nag
wat ’n naakte bewussyn kan skilder
droom hulle van perfekte blomme pluk
in die perfekte tuin van hul jeug.

In 2013 is The orange earth by die Suidoosterfees in Kaapstad opgevoer. Die dramaturg noem Orange Earth sy mees outobiografiese werk, sê Steward van Wyk, samesteller van Kô, lat ons sing, ’n keur uit Small se digbundels aan Willem de Vries (Die Burger, 18 Desember 2012). “Dit het waarskynlik te make met die persoonlike herinneringe wat die karakter Johnny Adams oproep. Een besonder roerende herinnering is dié van die vernedering wat sy moeder beleef wanneer sy deur ’n blanke vrou gedwing word om na die agterdeur te gaan om ’n aalmoes te ontvang. Hiermee gee Small ’n aanduiding van hoe apartheid op ’n baie persoonlike vlak beleef is, en die pynlike herinneringe wat die individu steeds met hom of haar saamdra en moet verwerk.

“Dit wys ook hoe ’n denkende individu deur vernedering op grond van ras gedryf word tot op die rand van geweld. ’n Verdere tema in die drama is die gedeelde taal- en kultuuragtergrond van wit en bruin Afrikaans-sprekendes soos vergestalt in die gesprekke tussen Johnny en sy tronkbewaarder. Small wil daarmee wys hoe hierdie gedeelde agtergrond vir ’n ideologie opgeoffer kan word. Dit is relevant vir die huidige tydsgewrig waarin versoening en inklusiwiteit steeds aktief nagestreef moet word, ten spyte van die aanduidings dat ons meer gepolariseerd op taal-, ras- en ander grense raak. Ek kan my nie herinner dat die drama ooit hier opgevoer is nie. Indien nie, is die opvoering op die Suidoosterfees literêr-histories van belang en ook ’n stuk teatergeskiedenis. Ons sal in ’n kort tyd al Small se dramas op die verhoog gesien het in ’n tyd wanneer sy lewe en bydrae op vele terreine gehuldig en gevier word.”

Op 14 September 2013 het Adam Small ’n openbare stilswye van ongeveer 20 jaar verbreek toe hy tydens die Tuin van die Digters-fees by die Breytenbach-sentrum op Wellington gedigte uit sy nuwe bundel, Klawerjas, voorgelees het.

Net mooi 'n jaar nadat Small die Hertzogprys ontvang het (12 September 2012, om presies te wees), het hy die Saterdagmiddag om 14h00 aan die sy van sy vrou, Rosalie, saam met die ATR-voorsitter, Michael le Cordeur, en Riana Barnard van Tafelberg-uitgewers die volgepakte markiestent by die Breytenbach Sentrum op Wellington, sy tuisdorp, binnegestap. Ekstra stoele en sitplek moes inderhaas vir die ongeveer 400 mense gereël word. Ander ATR-lede in die gehoor was Danny Titus (ATKV), Danie van Wyk (SBA) en Ria Olivier (projekbestuurder). Ook in die gehoor was André P Brink, Wilma Stockenström, Riana Scheepers en ander skrywers. Richard van der Ross, voormalige rektor van die UWK, waar Adam Small professor was, het ook kom groet; so ook vriende uit sy jeug, soos Nellie Cavernelis en Sylvia le Cordeur. Fotograwe, TV-spanne en sakemanne, studente en onderwysers, en sommer net gewone Welingtonners.

In sy verwelkomingswoord het Le Cordeur gesê: "Een van Wellington se grootste seuns het hystoe gekom (à la Kanna)."

Dit was ’n emosionele middag, nie net vir Adam Small nie, maar ook vir die toehoorders, en daar was min wat nie ’n knop in die keel gekry het of ’n traan weggepink het toe hy uit Klawerjas begin voorlees het nie. Rosalie het langs hom gesit en sy trane afgevee. Sy het na die tyd gesê dat sy oorweldig was, ook vanweë die staande toejuiging wat hulle ontvang het.

Klawerjas is in 2013 deur Tafelberg gepubliseer en dit is Adam se eerste bundel gedigte sedert Oos wes tuis bes Distrik Ses en sy eerste gepubliseerde werk sedert Krismis van Map Jacobs in 1983. Hy het ongeveer ’n jaar en ’n half aan die bundel gewerk en het daarna al weer amper genoeg verse geskryf vir ’n vervolg. Hy vertel aan Murray la Vita (Beeld, 13 September 2013) dat die tema van reis baie sterk deurkom in Klawerjas. “Die Odysseus-tema. Die lewe is ’n reis.”

Oor sy jare lange stilte en onttrekking aan die openbare lewe verduidelik hy aan La Vita: “Ja, jy weet, dit was die dae toe ek baie, baie bitter was ... ’n groot bitterheid gehad het. Oor apartheid, natuurlik. En ek het net besluit, wat baat dit tog? Laat alles maar vaar en bly net stil. En dit is natuurlik nie net gewone stilte nie, maar ook digterlike swye. Rosalie het my seker gehelp. Ek het later, soos ek ouer geword het, om die waarheid te sê redelik onlangs, besluit: hoekom sal ek myself skade berokken. Ek wil nog graag my beste werk lewer voordat ek sterf ... en die dood is ’n werklikheid in my lewe. En ek het vir myself die lig gevind. Dit was eintlik ’n Herkuliese werk hierdie. Rosalie het vir my alles getik. Ek tik deesdae nie meer self nie.

“Ek het maar net besluit dat die bitterheid my nie sal onderkry nie; ek sal daar uitkom. En ek hét daar uitgekom.”

La Vita wou weet of daar iets spesifieks was wat hom laat onttrek het. ““Ek dink dit was ná die publikasie van Oos Wes Tuis Bes: Distrik Ses (1973) of selfs nog vroeër, miskien ná die publikasie van Sê sjibbolet (1963). Wanneer jou werk verskyn en al wat mense raaksien, is kleurling, kleurling, kleurling, dan maak dit séér ... dit maak seer. In elk geval, later het die mense tog tot beter insigte gekom en daar’s niemand meer wat Kanna hy kô hystoe kan afskryf nie, want dit sou dwaas wees. Dis nie goed dat ek dit self sê nie, maar dit is ’n feit.

“Jy weet, destyds het selfs WEG Louw ... en tog was hy die eerste toe hy die kunsredakteur van Die Burger was wat my Kaapse skryfwerk gepubliseer het ... Maar selfs hý het gesê toe Kanna hy kô hystoe verskyn: ‘Drama in straattaal van kleurling’. Kan jy dit glo ... WEG Louw? Hy het egter die moed gehad om later – dit was op ’n verhoog in Stellenbosch – te sê: ‘Jammer, meneer Small, ek was verkeerd.’”

Vir Adam Small is die grootste gedig in Klawerjas die Jesus-gedig. “Ek is ’n Jesus-bewonderaar. Ek aanvaar dat hierdie historiese persoonlikheid onuitspreeklik imponerend sy skadu oor die hele geskiedenis gewerp het. Om ná meer as 2 000 jaar onblusbaar te wees, is self ewe ’n wonderwerk.”

In ’n nota aan die einde van die onderhoud met Ronnie Belcher wat opgeneem is in Gesprekke met skrywers 2 (1972) skryf Small: “Is op geen dag 100% fisiek gesond nie (oorsaak: my land en sy mense en dat ek van hulle notisie neem).”

Murray la Vita (Beeld, 13 September 2013) het hom daaroor uitgevra: “Ja, ek ly aan ulseratiewe kolitis (ontsteking van die spysverteringstelsel). Dis ’n helse krankheid, ek wens dit nie op my vyand toe nie. Wanneer daai pyn jou vat, dan vát hy vir jou. Soos ek in een van die gedigte sê: Dis ’n fóltering. Dit word deur spanning vererger en dit bring ook ’n sekere soort depressie mee.”

Die jong digter Nathan Trantraal het in Augustus 2013 gesorg vir ’n klein opskudding toe hy hom sterk uitgelaat het oor Adam Small en Peter Snyders deur te beweer dat hulle Kaaps ’n “joke-taal” gemaak het. Hulle het volgens Trantraal gedink dis ’n taal waarin jy sing en dans, “’n f****n coon-taal”.

Hierop het Adam Small aan La Vita gesê dat hy aan Nathan Trantraal geskryf het en dat hy baie vriendelik en erkentlik geantwoord het. “Ek dink hy’s ’n jong man en hy het nog ’n ver ent, ’n digterlike pad, om te loop, maar hy is welmenend en hy sal sy weg vind.” (Beeld, 13 September 2013)

In Oktober 2013 was Adam Small, Hennie Aucamp en TT Cloete die eregaste by die bekendstelling van Deel XIV van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Hulle het elkeen ’n leergebinde eksemplaar ontvang. Adam het voorgelees uit sy drama wat toe pas verskyn het, Goree, en het ook ’n nuwe gedig voorgelees waarin hy weer sy gegriefdheid teenoor ongeregtigheid uitdruk. Small, Aucamp en Cloete het jare lange bande met die WAT. Adam Small het in 1994 deelgeneem aan ’n WAT-kongres waar daar plek ingeruim is vir die wetenskaplike, maar tog ook sensitiewe toevoeging van woorde en uitdrukkings wat dalk gevoelens kan kwets. Talle Kaapse woorde in die woordeboek is uit sy tekste.

Adam Small is saam met Cerneels Lourens, prokureur en taalaktivis, en Ton Vosloo, nie-uitvoerende voorsitter van Naspers, in 2013 deur die Afrikaanse Taalraad met die Kokerboomprys vereer. Dit is die eerste keer dat die Taalraad sedert sy stigting pryse toeken. Dié pryse is om die ATR se drievoudige leuse, “Afrikaans: Bevorder, Bemagtig, Beskerm”, te verwesenlik. Die pryse was in die vorm van ’n skildery van ’n kokerboom.

In Februarie 2014 is Adam Small met die toekenning van ’n ministeriële eerbewys deur die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport vereer vir sy omvattende en lewenslange bydrae tot kultuursake en spesifiek tot die Afrikaanse letterkunde. Dit was vir hom ’n eer om hierdie toekenning te ontvang, het Small gesê: “Dit was nog altyd ’n voorreg dat my werk op een of ander manier ’n stem sou gee aan diegene wat nie kan praat nie.” (Die Burger, 28 Februarie 2014)

Ook in 2014 was Adam Small een van die deelnemers aan die Franschhoekse boekefees. In die feesprogram is genoem dat hy "jare lank die swye opgelê is weens verwerping" deur sy medeskrywers. Hierdie stelling het Small vir 'n ses geslaan toe hy dit in ’n gesprek met Joan Hambidge "strooipratery" genoem het. Hy het dit benadruk dat sy skrywersvriende en -kollegas hom altyd ondersteun het en dat hy nooit die gevoel ervaar het dat hy deur hulle verwerp word nie.

In ’n resensie in Die Burger van 20 Januarie 2015 is met groot lof gepraat van die tweeluik wat Natalia de Rocha en Applauz saamgestel het wat Adam Small se lewe en werk vier.

In die eerste deel van die aanbieding is die gehoor bekendgestel aan drie van sy dramas deur middel van uittreksels: Joanie Galant-hulle, The orange earth en Kanna hy kô hystoe. Daarna was daar ’n jazzprogram waarin Small se bekendste gedigte wat in die 1970's gepubliseer is, ten toon gestel is. Die eerste gedig in dié deel van die program was "Die Here het gaskommel".

Volgens die resensent het Da Rocha baie goed daarin geslaag om die gedigte op "eg menslike wyse met heerlike musiek uit te beeld".

Die eerbewyse aan Adam Small het nie opgehou soos hy ouer geword het nie. Inteendeel. In 2015 is hy saam met Wilma Stockenström vereer met ’n Fiësta-toekenning vir hulle lewensbydrae in teater en woordkuns en in 2015 het die Universiteit Stellenbosch ’n eredoktorsgraad aan hom toegeken. Tydens die plegtigheid is drie van sy gedigte, "Sancta Maria", "Witkalk" en "Affodil van Saron", aan die gehoor voorgelees. Die graad is aan hom toegeken vir sy "verruiming van die Suid-Afrikaanse letterkunde, sy verryking van Afrikaans en sy gevoelige dog gesaghebbende verwoording van eens verbode onderwerpe om sodoende as stem vir menige stemlose te doen".

Michael le Cordeur het met die toekenning geskryf: "As akademikus, digter en dramaturg het Small die brandende vraagstukke van ’n verdeelde Suid-Afrika op deurdagte dog onverskrokke wyse aangeroer en hom só as denkende revolusionêr en revolusionêre denker onderskei. Deur sy werk het hy die Suid-Afrikaanse letterkundeskat verruim en vernuwe, die Afrikaanse taal verryk, eens versweë onderwerpe gevoelig dog gesaghebbend verwoord en ’n stem vir menige stemlose geword.

"Sodoende het Small Kaaps tot vryheidstaal, maar bowenal tot literêre taal verhef. Om ’n eredoktorsgraad aan prof Adam Small toe te ken, is gepaste erkenning vir ’n man wat sy tyd ver vooruit was; ’n profeet wat lank in sy eie land misken is. Dit wys onteenseglik dat die universiteit op ’n onomkeerbare pad na ware demokrasie is."

Gedurende die Suidoosterfees in 2015 het die akteurs June van Merch, Royston Stoffels en Ivan Abrahams Adam Small se verse in woord en klank uitgevoer. En by die Woordfees van 2016 is Adriaan Brand se produksie van Small se Kô, lat ons sing! aangewys as die beste kontemporêremusiekproduksie. Brand, wat ’n musikant sowel as ’n musiekterapeut is, het ’n huldigingskonsert saamgestel. Verskeie skeppende persoonlikhede het saamgewerk om hierdie musiekprojek die lig te laat sien: Koos Kombuis, Natalia da Rocha, June van Merch en die unieke Solms Delta-musiekprojek.

In 2015 het Adam Small se nuwe drama, Maria, moeder van God, tydens RSG se kunstefees op die radio gedebuteer. Dit is in 2016 deur Naledi gepubliseer.

In sy resensie van Maria, moeder van God skryf Danie Botha in Die Burger van 21 Maart 2016: "Maria, moeder van God as leesteks raak die gemoed dalk negatief. Jy kom in opstand teen die oorbeklemtoning van die alledaagse menslikheid. Dit raak anachronisties. Met hersiening en as opvoering kan dit moontlik besonder boeiend wees."

In Rapport (18 Mei 2015) het Adam Small geskryf oor Afrikaans 90 jaar nadat dit amptelike status verkry het: "Toe ek genader is om hierdie bydrae, het ek met my vrou, Rosalie, geraadpleeg. Sy’t my hierdie moontlikheid ­gestel! Ek kon die onderwerp tegnies benader met ’n opname van datums en tye, kwessies wat deur die jare te berde gebring is en responsies daarop, die aanstip van strydpunte rondom die taal, ensovoort – en ’n bondeltjie trietsige leesstof lewer; of ek kon heel persoonlik werk en vertel van my eie omgang met die taal, my eie liefde daarvoor, asook my persoonlike hartseer van belewenis daarvan (soms), en weliswaar soms ook my woede.

"Ek het die persoonlike manier gekies, wat daardie innigheid moontlik maak wat ook ek in my werk nastreef. Dit gaan oor emosie soos 'hwyl' – die Walliesers noem dit so: Daardie ínkom in 'iets' (die woordeboek is hier behulpsaam) soos ’n Richard Burton kon laat leef met die lees van ’n Dylan Thomas-gedig. (Of, ja, soos ’n partydige skare regkry tydens ’n groot rugbystryd!)

“'Afrikaans op 90' word dan vir my liewers 'Mý Afrikaans op 90'. En, gegee die dinamiek van ’n taal (sy groei hierdie kant toe en daardie kant toe, sy vorming en vervorming), sal Afrikaans alte seker bly leef, minstens vir nóg 90 jaar – en ek glo véél langer, met bruin mense, die groot Afrikaanspraters, dominant natuurlik.

"Mý Afrikaans is Bolands en Kaaps (soos in Kaapse Vlakte): Ek is bevoorreg om die naam te kon skep vir hierdie spruit van die taal, wat nou soos ’n groot boom staan binnekant die volle boord van Afrikaans. My Afrikaans het in Wellington ontstaan, waar ek gebore is. Ek het egter nie daar begin grootword nie. Hierdie eerste ontluiking het my te beurt geval op Goree, die gehuggie (dis steeds daar), Worcester se kant van Robertson neffens die Vinkrivier. Deel van daardie eerste ­jare van my Afrikaanse grootword – ’n uiters gelukkige kindertyd – was die oranjekleurige rooibruin grond van die plek ('the orange earth'), en ’n begraafplasie met rooibruin hopies grond van grafte oorkant die rooibruin stofpad na Robertson. Daardie uitgestrekte diep Bolandse plaasomgewing staan ingegríf in my heugenis: Die plaasdam, kortby ons eenvoudige huis, ’n sentrale verwysingspunt. Hoe dikwels het ek as vyf-sesjarige kind daar op die wal geloop en uitgekyk op die rooibruin water, lewegewend vir die koringlande wat ek op ’n afstand kon sien. Daar was twee afloopslote vanaf die (vir my) bangmaak-sluis met die groot wiel van ’n kraan.

"My pa was die onderwyser daar, en my moeder het hom soms in die skooltjie gehelp met die leer, vir die plaas-kleingoed – ék een van hulle – van die 'a, be, de, ê', die Afrikaanse alfabet. Dan het sy my saans ook stories gelees, ook vertel, in Afrikaans, hoewel van die stories dikwels in Engels in die boeke gestaan het – so het ek sommer ’n skootjie Engels bekom, al was my ma se vaardigheid met daardie taal maar eina! Skoolvakansietyd kon ek uit Goree se eensaamheid ontsnap – waar ek tóg ook nie wou wegkom nie, ek het dit só lief gehad. Dan is ons Wellington toe. Dit was dae toe Voorstraat nog ’n mooi gruispad was, waar my ma se mense gewoon het. My Nederduits Gereformeerde familie het hulle in Terracestraat bevind by die huis, indertyd nommer 13, waar ek gebore is. (Ek het maar so tussen Voor- en Terracestraat gependel.)

"Terwyl ek skryf (dis Sondagoggend) kom die ontroerende – eintlik gewyde – lied oor die lug, 'Pleit vir Afrika' (soms gesing deur ­Sibongile Khumalo). En ek besef deeglik hoe 'Afrika-ans' my wêreld is. Met die Bybel op my tafel – my eerste bron van besieling naas die Qur’an (vanuit my herkoms aan moederskant) – lees ek (weer) Johannes 1:1: 'In die Begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God ...' En baie helder is my ervaring hiervan dié van ’n Afrikaanse woord. (Dit verheug my: God is waarlik ook Afrikaans magtig!)

"My Afrikaanse ouers was, uit die aard van húl Afrikaans, vrydenkend. So het dit gebeur dat ek my senior skoolopleiding in Rooms-Katolieke omgewing beleef het – eers, op die Kaapse Vlakte waarheen ons in 1945 verhuis het, by die ­Dominikaanse nonne, en daarna by die Ierse Christian Brothers. (Uit hierdie agtergrond ook ontspring my jongste drama, Maria, Moeder van God. Dit word nou – in my 78ste jaar – eersdaags gepubliseer, maar dit is feitlik lewenslank in my geberg.)

"Die Brothers, veral, het ek as oop denkend ervaar – soos my ouers. Deur hulle het ek my belangrike digter-voorganger, SV Petersen, ontmoet. Hy was, soos die Brothers, in die onderwys betrokke. Petersen was 20 jaar en meer ouer as ek. Ek was in matriek toe ek hom die eerste keer ontmoet het, tot my durende voordeel. So is ’n verdere liefde vir die Afrikaanse woord by my gestig. Tot vandag toe bly van sy woorde in Die stil kind en Die ­enkeling vir my van ons grootste ­poësie. (...)

"Wat my Afrikaanse vorming betref, sal ek nie nalaat om ons groot digter-filosoof te noem nie: NP van Wyk Louw. Een van die mooiste oomblikke in my lewe is my kennismaking met Louw. Ek het op ’n keer by hom aan huis gekom. Hy was indertyd verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand.

"Ten slotte: Ek wil verder blý skryf in Afrikaans, en my pen het inderdaad ’n Afrikaanse punt! Die vraag kom dan by my, wanneer ek, soos Van Wyk Louw, kla: 'Heer, U het nie woord gehou met my: Hoekom, as ’n mens só graag nog wil skryf, moet jy deur die Dood afgesny word?'

"Vir laas, in dier voege, ’n uittreksel uit ’n kort gedig van my, gedagtig aan Dylan Thomas:

Hoekom? Wié wil dit hê só?
Ek sou graag glo
(want dit maak sin):
Death shall have no dominion."

Adam Small is op 25 Junie 2016 kort ná middernag in die Kingsbury-hospitaal in Claremont, Kaapstad oorlede. Sy seun Peter-John het gesê komplikasies het ingetree ná ’n operasie aan sy linkerbeen om sy bloedsomloop te verbeter. Small het vir ’n lang tyd aan progressiewe hartversaking gely en weens die pyn in sy been het hy met groot moeite geloop.

Peter-John en Rosalie, Adam Small se vrou, is Vrydagnag deur die dokters na die hospitaal se hoësorgeenheid laat kom waar Small gelê het. Hy het niks gesê nie en het hom weer eens van haar liefde verseker. Sy het gesê dat wanneer sy aan haar ma dink, sy gedig "Nou vou ek jou toe" die eerste ding is waaraan sy dink. "Ek en Adam het dit amper in tandem geskryf."

Small word oorleef deur twee seuns uit sy eerste huwelik, John en Leon, sy vrou Rosalie en hul kinders Peter-John en Zaidee, asook agt kleinkinders.

Huldeblyke

    • Patricia de Lille: "It is with great sadness that I have learnt of the passing of one of our county's dear sons, Adam Small […] As a writer and poet, Small used his craft to highlight the oppression suffered by the working class under the apartheid regime. His works and writing were distinctly characterised by the Kaaps vernacular which he discovered when his family moved to Retreat. Rest in peace Adam Small. We will always remember you for your great contribution to literature and the struggle." (News24)

 

  • Breyten Breytenbach: "Mag Adam Small nou rus vind vir sy gefolterde gees. Die genoot met wie hy al die jare in gesprek was – die geskiedenis, die geloof, die wêreld van idees, maar veral met die vereistes van ’n etiese medemenslikheid – daardie gesprek sal voortgaan, al is dit dan ook slegs omdat ons uiteindelik nie ons ore en oë kon toemaak vir die diepgang van sy lyding en die ongemaklikheid van sy bevraagtekening nie. ’n Mens wil glo Small sal ontvang word deur die skadu’s wat hy aangehaal en opgeroep het, van wie hy die etiese impak van morele denke laat herleef het.

“Maar ’n mens weet ook die enigste werklike tot rus kom sal in hierdie wêreld moet wees, wanneer daar in alle eerlikheid besef en erken word watter byna onbeskryflike leed aan hom en sy mense berokken is bloot net omdat hulle in ’n waansin van kategorisering en uitsluiting bruin moes wees. En wanneer dié wat nog kan, alles moontlik probeer doen om te voorkom dat so ’n vernedering, sulke ontkenning en vervreemding, hierdie rassisme ooit weer gedoog word.

“Eintlik het Adam Small met slegs die staf van sy woord deur ons donker wêreld geloop. Maar hoe ryk en geskakeerd was daardie woorde nie! Dis familie wat wegval – dis die seun van Goree en die jong man van Wellington en die filosoof van die Kaap. Dis ’n digter wat nooit weer stil sal word nie. Graag hiermee my huldebetoon aan ’n beskeie meester, en die innige medelye van my en my vrou aan Rosalie en kinders aangebied. Ons treur saam met julle by die heengaan van hierdie voorbeeldige man, vader en mens." (Beeld, 27 Junie 2016)

    • Johann de Lange: "Vir die meeste van my generasie was die gedigte van Adam Small op skool die eerste kennismaak met bruin Afrikaans. As ek aan hom dink dan hoor ek immer daardie effens navrante klank in die stemme van sy sprekers. Wat kon verval het in bitterheid en woede, het hy getemper met humor en wysheid, en teregwysing. Die toekenning van die Hertzogprys aan hom het ’n laakbare oorsig reggestel, maar sy hertoetrede tot die literêre toneel het vir my iets van ’n Rip van Winkel-kwaliteit gehad: dinge het geweldig baie verander in die lang seisoen van sy swye. Sy opkoms vir Afrikaans, sy liefde vir Van Wyk Louw en Opperman, was deel van ’n intellektuele soort bestaan wat verby is, en hy is deur van die jonger bruin skrywers aangeval. Steeds het hy nie bitter geraak nie, maar met optredes, voorlesings, en e-pos-korrespondensie bly uitreik na medeskrywers. In ‘n vroeë e-pos vra hy, 'noem my asseblief Adam', ‘n versoek waaraan ek nie gehoor kon gee nie, maar vergun my om nóú, uiteindelik, te sê, 'Wel te ruste, Adam.' (Johann de Lange se blogspot)

 

    • Abraham H de Vries: "Small was groter as die tyd waarin hy gelewe het. Dit geld vir die ou era en vir nou. Sy agtergrond van liefde en vergewensgesindheid en menswaardigheid in ’n huis waar sy vader NG was en sy moeder ’n nooi Suleiman, het van hom ’n stryer gemaak teen magsmisbruik as sodanig. Adam sal onthou word en sy werk sal groei.” (Beeld, 27 Junie 2016)

 

  • Michael le Cordeur: "Adam was die inspirasie vir talle digters, akademici, onderwysers en studente – insluitend myself. Myns insiens moet die naam van Adam Small in dieselfde asem genoem word as Van Wyk Louw (aan wie se voete hy dikwels gesit het) en DJ Opperman. Hy was inderdaad een van die 'drie grotes' in die Afrikaanse kanon.

"Hy was ’n skrywer, digter, dramaturg, filosoof en baanbreker. 'Rigtingaanwyser en roetekaarteerder', sê Kivedo. Hy was ook my mentor. ‘’n Proefiet, sê ek djille, ’n proefiet van Jesus ...' skryf Charlyn Dyers (die eerste Makiet) op my Facebook-blad. Maar dié profeet was selde in sy eie land geëer, daarvoor was hy sy tyd te ver vooruit. En teen die einde was hy, in sy eie woorde, 'van alle haat ontdaan'. Hy het vrede gemaak voor sy vertrek. Ek gaan nou ophou huil.

"Suid-Afrika en Afrikaans het een van sy grootste seuns verloor. Adam Small is dood, maar sy woorde sal ons altyd by ons hê. Die Moses wat vir julle opgestaan het ... het opgevaar. Môre sal daar Kaaps gepraat word in die hemel. Ek verneem die mense van Distrik 6 wat hom vooruitgegaan het, het ’n reuse-'welkom tuis' vir hom gereël. Kanna is finaal hystoe. Tot wedersiens, prof Adam." (Beeld, 27 Junie 2016)

  • Heinrich Wyngaard: "Die Afrikaanse gemeenskap het vandag sy grootste pleitbesorger vir wedersydse begrip onder die wit en bruin sprekers van die taal verloor. Miskien, as ons sedert die begin sestigerjare na hom geluister het, sou Afrikaans nie vandag op soveel fronte onder beleg gewees het nie. Maar daar is geen tyd en plek meer vir leedvermakerigheid nie – en ek glo stellig hy sou dit ook nie so wou hê nie, want soos hy tereg in Die eerste steen? geskryf het, is niemand van ons meer sonder sonde nie.

En nou, 55 jaar later, sien ons waarskynlik vir die eerste keer werklik hoe sy pleidooi oor die noodsaaklikheid van medemenslikheid erns onder die sprekers van die taal geniet. Dit is ongetwyfeld die resultaat van Afrikaanssprekendes se strewe om hulself te bevry van toestande wat 'elke oomblik van elke dag soos ’n rasper pynlik oor ons gevoelens skraap'. Dié erns word vergestalt deur ’n inisiatief soos Afrikaans.com – en deur die feit dat ek my gisteroggend in ’n gesprek oor gemeenskaplike bemagtigingsaksies tussen bruin en wit Afrikaanssprekendes bevind het toe die tyding kom: Adam Small is hystoe." (Rapport, 27 Junie 2016)

  • Frederik de Jager: "En dekades later, ruim 40 jaar, gee hulle hom die Hertzogprys. Ek ry in my motor in Johannesburg en hoor oor die radio die boodskap wat sy vrou, Rosalie, namens hom voorlees. En al kom dit uit die mond van iemand anders, is die stem herkenbaar. Sy lankmoedigheid, sy vreugde en hartseer, sy wysheid en genade, en sy kwesbaarheid te midde van die ongenaakbare nuwe land waarin ’n golf van haat en woede terugstoot in antwoord op die vervreemding en verontmensliking wat die fondament daarvan is sedert 1948, 1913, 1652. En, man, ek huil daar in my motor. Die strate swem voor my. Die harde Johannesburg smelt ’n bietjie. Ek huil oor Adam Small, ja, en 'ammal die mense' van die Ses en op die Flats en verder weg op die plase, op donkiekarretjies in die Karoo, in tronke met nommers op hulle getatoeëer, in kerke soos ek en my ouers kerk gehou het in 1965, in die parlement, in raadsale, in lesinglokale. Ammal hulle wat die mooiste variante van die mooiste taal in die wêreld praat. Maar meesal huil ek oor myself en ammal 'my' mense, ons wit mense. Dat ons ons so in ’n hoek toegeverf het, ons eie so vervreem het, soveel pyn veroorsaak het en soveel gif in ons eie are ingespuit het. Hoekom, hoekom, hoekom?

"Vandag is daar Afrikaanssprekendes wat aanhalingstekens of die woord 'sogenaamde' gebruik wanneer hulle hulleself benoem. Maar dit moes andersom gewees het. Ons, sogenaamde wit mense, hoort in aanhalingstekens. Ons het Afrikaans toegeëien asof dit ons s’n is, maar Jan Rabie het lankal gesê Afrikaans is ons grootste veelrassige prestasie. En ek weet die woord 'veelrassig' is ook problematies, maar daar is nou eenmaal 'ons' en 'hulle', skynbaar ewig gefikseerde posisies.

"Uit dié troebel waters kom daar ’n suiwer stem sagkens. Sonder haat en sonder selfbejammering, maar ook sonder huiwering in sy oordeel. Dit verteenwoordig die beste wat ons kan wees. En ons kan geen aanspraak daarop maak nie, dit nie gryp nie, nie smoor nie, nie verdoesel of verdraai nie. Die strate staan in puin, maar die seuntjie Toefie speel nog tussen die bakstene. Hy is ons laaste hoop. Sonder hom is ons verlore." (Beeld, 27 Junie 2016)

    • Peter-John Small: "My pa was ’n besonderse mens. Waar ander mense van sy werke sin maak, het ek sin gemaak uit die mens wat my pa was. Hy het my geleer om te huil.” (Rapport, 27 Junie 2016)

 

  • Steward van Wyk: "Adam Small was jare lank die gewete van die Afrikaanse gemeenskap deurdat hy hom onverskrokke uitgespreek het teen politieke en maatskaplike onreg, die vergrype van ’n rasbehepte stelsel en die lot van die minderbevoorregtes. Sy drama Kanna hy kô hystoe is een van die mees afgeronde dramas waarin polities-maatskaplike kwessies binne ’n totale en vernuwende gebruik van teaterkonvensies verpak word. Die problematiek van die individu wat verskeurd is tussen sy eie aspirasies en dié van sy mense, die aanklag teen ’n sisteem wat mense in sosiale euwels vasvang, die aanspreeklikheid van die mens vir sy dade en die alomteenwoordigheid van die armes, is temas wat vandag steeds relevansie het.

Krismis van Map Jacobs bied ’n deurtastende ondersoek van skuld en aanspreeklikheid en kwessies van identiteit. (...) In die radiodrama The Orange Earth (1984) wat onlangs in ’n Afrikaanse vertaling uitgegee en opgevoer is as Goree, betrek Small aspekte van sy outobiografie in ’n ondersoek na die uitwerking van apartheid op persoonlike vlak en die verhoudinge tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes. Een van die hartroerende tonele is waar die moederfiguur gedwing word om agterom te gaan na die agterdeur om meel te kry.

“Ook in die digkuns het hy verruimende werk gelewer met die bundels Kitaar my kruis en Sê sjibbolet. Dit is veral met sy aanwending van Kaaps as medium dat hy ’n nalatenskap los.” (Rapport, 27 Junie 2016)

  • Beeld-hoofartikel: "Die stem van Adam Small (1936–2016) is nou stil, maar die stemme wat hierdie groot digter en dramaturg in Kaaps wakker gemaak het, sal bly praat met die gewete vanuit die wêreld van die armstes onder die armes. Die karakters in sy dramas (Makiet en Kanna, Map Jacobs, Joanie Galant, hulle almal), die hêpkêts en kitaarslaners en sangers in die gedigte, het in die Afrikaanse letterkunde ménse geword, Kaapse mense wat leef in en deur ’n variant van Afrikaans 'in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense dra wat dit praat; die volle lot, hulle volle lewe met alles wat daarin is'.

"Small, die rigtingwyser, fyn waarnemer en diep menslike oopmaker van die lyding wat so lank misgekyk is, het in 2012 die Hertzogprys vir drama ontvang. Nadat hy dekades moedeloos stil was oor apartheid, is hy met hartlikheid en waardering ­terug verwelkom in ’n groter gesprek, ’n gesprek waarin sy idees en werke ook vir ’n jonger generasie betekenisvol is. Inderdaad praat sy werke saam 'oor afstande, jare en die dood heen'. [...]

“Verskeie teaterproduksies, publikasies en eredoktorsgrade het Small se belang en sy nalatenskap help bestendig. Kernbelangrik in sy lewenswerk (en in enige setel of uithoek van die wêreldletterkunde) is die stemme wat onreg uitwys sonder om te beskuldig of te haat, ’n diepgaande sin vir medemenslikheid en naasteliefde. Sodoende bly sy voorbeeld ’n hoeksteen vir ’n soort saamleef in Suid-Afrika van 'voortbestaan in geregtigheid'. Small, die digter wat in 1957 met die bundel ­Verse van die liefde gedebuteer het, verdien ’n ­blywende plek in die gesprekke oor wat ons samelewing kán word." (Beeld, 28 Junie 2016)

    • Pieter Jooste, Pretoria: "Die heengaan van die Sestiger en Hertzogpryswenner Adam Small laat ’n groot leemte. Sy medesestiger DJ Opperman skryf in Negester oor Nineve: '... Jy is ’n vegter weer, van die begin, alleen ...' So ’n mens was Adam Small. Met sy sagte stem en sy weldeurdagte woorde was hy nooit bang om te sê wat gesê moes word nie, selfs al was dit soms as ’n enkeling. [...] Adam Small sal onthou word as ’n mens wat diep gedink het en altyd getrou was aan sy oortuigings wanneer hy geskryf en gepraat het. Sy bydrae en woorde sal vir altyd lewe." (Beeld, 28 Junie 2016)

 

  • Lynthia Julius, honneurstudent aan UV: "Ek dink nie ons kan jou ooit genoeg erkenning vir jou werke of denke gee nie. Maar vanaand sit ek Nama-musiek aan en Namastap op jou en jou werke omdat ek dankbaar is omdat dit is wat ons doen as ons vier. Ek sal my skoene om my voete vasmaak met woorde van die taal wat ons al twee lief het en die Afrikaanse pad verder stap. Ek is hartseer, maar ek weet geen digter se stem kan ooit stil raak nie. Jy is nou hystoe. Rus en weet jou swye en wroegings was nie tevergeefs nie. Rus en weet die Here het weer gaskommel en die dice het nie weer vikeerd geval, daai’s ma’ al.” (Volksblad, 28 Junie 2016)

Publikasies

Publikasie

Verse van die liefde

Publikasiedatum

1957

ISBN

hb

Uitgewer

Kaapstad: Culemborg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Klein simbool: prosaverse

Publikasiedatum

1958

ISBN

hb

Uitgewer

Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Kitaar my kruis

Publikasiedatum

  • 1961
  • 1973
  • 1974
  • 1975
  • 1979
  • 1987

ISBN

  • 0798600608 (hb)
  • 0798622989 (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: HAUM
  • Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die eerste steen?

Publikasiedatum

1961

ISBN

hb

Uitgewer

Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

Sosiopolitieke kommentaar

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Sê sjibbolet

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1978
  • 1981

ISBN

0628014325 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kanna hy kô hystoe

Publikasiedatum

  • 1965
  • 1973
  • 1974
  • 1975
  • 1977
  • 1980
  • 1982
  • 1988
  • 1999

ISBN

  • 0624004228 (hb)
  • 0624013596 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzogprys vir drama vir sy hele oeuvre 2012

Vertalings

Engels deur Carol Lasker, New Yorkse Universiteit

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Oos wes tuis bes: Distrik Ses. Fotografie deur Chris Jansen

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1973
  • 1974

ISBN

079810239X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie met foto’s

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Black bronze beautiful: quatrains

Publikasiedatum

1975

ISBN

0949937185 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Ad Donker

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Joanie Galant-hulle

Publikasiedatum

  • 1978
  • 1990

ISBN

  • 0628014651 (hb)
  • 0628034423 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzogprys vir drama vir sy hele oeuvre 2012

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Heidesee

Publikasiedatum

1979

ISBN

0628015291 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Krismis van Map Jacobs

Publikasiedatum

1983

ISBN

0624022420 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzogprys vir drama vir sy hele oeuvre 2012

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

District Six. Photographs by Jansje Wissema

Publikasiedatum

1986

ISBN

062010077X (pbk)

Uitgewer

Johannesburg: Fontein Publishing Co

Literêre vorm

Poësie met foto’s

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Klawerjas: gedigte

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780624065456 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Goree (The orange earth in Afrikaans vertaal deur Daniel Hugo)

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780624

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Maria, moeder van God

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780928316193 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Vertalings deur Adam Small

Louw, NP Van Wyk: Oh wide and sad land: Afrikaans poetry of NP Van Wyk Louw. Cape Town: Maskew Miller, 1975 [ISBN 0623008742]

Keur van artikels oor en deur Adam Small beskikbaar op die internet:

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top