Hertzogprys vir drama 2012 aan Adam Small

  • 0

Die Sestigers word bestempel as die vernuwers in die Afrikaanse letterkunde. Daar is Breytenbach in die digkuns, Brink en Leroux in die roman en De Vries in die kortverhaal. In die drama is dit ongetwyfeld Adam Small. Small se drama-oeuvre sluit in Kanna hy kô hystoe (1965), Joanie Galant-hulle (1978), Krismis van Map Jacobs (1983) en The Orange Earth (1984). Die vernuwing wat met Kanna hy kô hystoe ingelui is, het die Afrikaanse drama volledig in die moderne era geplaas.

Kanna is een van die mees afgeronde dramas waarin polities-maatskaplike kwessies in ’n totale en vernuwende gebruik van teaterkonvensies verpak word. Die problematiek van die individu wat verskeurd is tussen sy eie aspirasies en dié van sy mense, die aanklag teen ’n sisteem wat mense in sosiale euwels vasvang, die aanspreeklikheid van die mens vir sy dade, en die alomteenwoordigheid van die armes is van die temas in die drama, temas wat vandag steeds relevansie het.

Van die hoog-aangeskrewe tegniese aspekte in die drama is die verskuiwing van tydsvlakke, die achronologiese aanbieding, die suggestiewe gebruik van musiek en dekor – dié aspekte wat kritici aan die Brechtiaanse epiese teater koppel. Voeg hierby ook die gebruik van dialoog, folklore en taalvorme.

’n Besondere vonds is die wyse waarop die karakter Kanna Kaaps en Standaardafrikaans gebruik: die Kanna wat hystoe kom teenoor die Kanna wat huis toe kom. Deur Kaaps in sy gedigte en dramas aan te wend, begin Small om die stigma wat aan Kaaps kleef, ongedaan te maak.

In die vroeë sewentigerjare het Small self die regie van dié stuk vir die dramavereniging van die UWK en later die Cape Flats Players behartig. Dié produksies vorm deel van ‘n opwindende kultuurlewe op die Kaapse Vlakte en van protesteater in die demokratiese stryd. Ook in die hoofstroomteater het opvoerings van Kanna ’n onuitwisbare indruk gelaat op gevierde akteurs soos Wilna Snyman en Sandra Kotzé. Kanna hy kô hystoe word tereg deur André P Brink bestempel as ’n hoogtepunt in die Afrikaanse drama. Dit is ook in Engels vertaal en verskeie kere in die VSA opgevoer.

Joanie Galant-hulle handel oor die uitwerking van die Groepsgebiedewet en gedwonge verskuiwing op die lotgevalle van die Anthonys van Woodstock. Die opbreek van hulle gesin en gemeenskap lei tot persoonlike en sosiale tragiek wat die apartheidstelsel aankla.

Krismis van Map Jacobs bied ’n deurtastende ondersoek na skuld en aanspreeklikheid, asook na kwessies van identiteit. Map Jacobs is die slagoffer van werkreservering wat in die bendekultuur verval en wat sy tragiese soeke na identiteit soos volg verwoord: “Cause ek wil somewhere ge-belong het? Kan jy sien die tattoos, al die merke? It was ‘n terrible gesoek seker, vir identity."

Small gee deurgaans ‘n genuanseerde beeld van die gemeenskap. In sy dramas kry mens ’n verskeidenheid randkarakters wat tot die spel en stemming bydra: groente- en blommeverkopers, kitaarspelers, ’n Kersorkes, anties en oompies, bendelede, leeglêers en straatpredikers. Dit wys sy identifisering met die minderbevoorregtes.

Daar is verder nog die radiodrama The Orange Earth (1984), waarin aspekte van Small se outobiografie ingevleg word in ’n ondersoek na die uitwerking van apartheid op persoonlike vlak en op die verhoudinge tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes.

Dames en here, baie is die afgelope jaar gesê oor die besluit van die Akademie om die Hertzogprys vir Drama vir 2012 aan Adam Small toe te ken. Na alles wat gesê is, sal hierdie toekenning onthou word as een wat welverdiende erkenning gee aan Small se groot bydrae tot die Afrikaanse drama, ’n nodige regstelling van ’n historiese mistasting en gepaste hulde aan ’n groot skrywer.

Die Hertzogpryswenner, prof Adam Small, kon weens omstandighede nie vanaand self hier wees nie, maar het ingestem tot 'n kort onderhoud wat nou regstreeks op RSG uitgesaai word. Johan Rademan van RSG was telefonies in verbinding met prof Small en ons luister na 'n geredigeerde weergawe van sy reaksie op die ontvangs van die Hertzogprys.

Stellenbosch, 12 September 2012

Klik hier om na die potgooi op RSG te luister.

Klik hier om Adam Small se dankwoord op LitNet te lees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top