WF 2015: Wie is nóú die alien?

  • 0

Ek kruip agter die bank weg, gespanne ... asem ingehou wag ek vir die rooi lig om weg te gaan. Die oomblik toe die lig weg is, staan ek op en hardloop so vinnig as wat ek kan na die kelder se deur toe. Die deur kraak toe ek dit oopmaak en ek hardloop die trappe vier-vier af na waar my vriende bang sit. “Kom!” fluister ek vir hulle.

Verlede week het ruimtewesens op moeder aarde geland en ons was só tegemoetkomend met hulle. En dis presies waar die probleme begin het, toe “hulle” begin om ouers te ontvoer, en ons kinders te gebruik vir allerhande eksperimente en wanneer kinders daarna weer terug is op aarde, tree hulle net soos die ruimtewesens op. Dis angswekkend! Dan probeer “hulle” jou vir die Aliens gee. Daarom hardloop ons nou weg.

Ons hardloop die straat af en kyk die hele tyd agter ons, want dit voel of iemand of iets ons agtervolg. Skielik sien ons ‘n restaurant voor ons waar die ligte nog brand. Ek fluister-sê vir my maats om wag te staan en loop-kruip na die kombuis toe en sien dat daar gaargemaakte kos op die kas lê.

Ons sit almal op die vloer en eet die kos. Ewe skielik verdwyn almal se glimlagte en flits ons oë na ‘n moontlike wegkruipplek. “Kom, ons moet beweeg,” sê een van die wesens wat op ‘n stoel gaan sit het.

My hart klop in my keel en my asemhaling is kliphard en hortend. Ek kyk rond waar ons kan uitgaan en sien ‘n mes op een van die kaste lê. Ek skuif nader en raap die mes saggies van die kas af. Ek sit op my hurke en kyk na my vriende. “Gaan aan,” fluister ek vir hulle. Ek staan op – ewe braaf – en loop in die rigting van die ruimtewesens. Al drie van hulle sien my gelyk, my asem snak en ek sluk-sluk vinnig. Soos een gedrog rig hulle hulle wapens op my. Ek staan sterk, gereed om iemand te gooi, toe my vriende soos een man agter my kom staan. “Ons moet hulle skiet voordat die gedrogte hulle vriende waarsku en roep,” sê een van die manne. “Nee, wag,” skree Hanlie. “Ons is nie hulle nie,” skree sy weer. Voordat een van ons ander iets kan sê, kom die rooi lig nader en almal spat in alle windrigtings. “Hoe het hulle ons gevind?” wonder ek. “Kom julle of bly julle?” vra ek my maats met ‘n bewerige stem.

Ek hardloop by die deur uit en so vinnig soos die wind nael ek na die naaste waterbron. Ek sien ‘n waterstroompie en hardloop reguit soontoe en spring in. Die ander spring ook in. Ek skree bevele soos ‘n wafferse kaptein. “Sodra daardie rooi lig by ons is, moet julle asems ophou en onder die water induik.” Nader, al nader kom die rooi lig. Ek trek my longe vol lug en duik onder die water in. Ek sien hoe almal met hulle verstarde oë onderwater is. Die rooi lig is weg en een vir een kom almal uit die water om asem te kry. Ek begin bewe van die koue wind wat op my nat liggaam waai. “Kom, ons moet aanhou beweeg,” sê ek en begin weer te hardloop. “Stop net!” skree Gini. Ek stop en gaan rus teen ‘n muur en almal kom sit op hulle hurke en snak na asem. “Waarnatoe hardloop jy?” vra een van die meisies. “Ek probeer oorleef. Dit is wat ek doen,” sê ek kwaad.

Mense kom aangehardloop en ek staan op. ’n Vrou en man nader die mense wat aangehardloop kom en die vrou begin te skree. Ek staan so regop soos ‘n kers en weet waarom sy skree. Die rooi lig verskyn ewe skielik bo hulle en al vier is eenklaps weg. Ek val oor asblikke toe ek probeer wegkom. “Kom, Tansie,” probeer Hanlie my optel. Ek begin hardloop met Hanlie en Gini agter my. Ek loop in die bos in en Gini en Hanlie kom staan langs my. “Wat nou?” vra hulle my asof ek alles moet weet. “Ek is moeg, ek wil kyk of ek vir ons ‘n plekkie kan kry om te slaap,” antwoord ek. Ek begin loop na ‘n lig wat ek in die verte sien.

Hanlie en Gini loop langs my. Toe ons naby die lig kom, kan ons ons oë nie glo nie. “Is dit wat ek dink dit is?” vra Gini. “Dit is asof hulle dink dit is hulle planeet,” sê Gini boos. “So dit is waarheen hulle al ons vriende en familie vat,” sê ek. Daar kom wesens na ons kant toe. Ons duik weg agter die bosse sodat hulle ons nie sien nie. Die wesens loop weg en ek besluit om by die gebou in te gaan. Ek voel hoedat ‘n hand my stop. “Is jy van jou kop af?” vra Gini my. “My familie en vriende is daar binne!” skree ek kwaad. Skielik sien ek dat alles ‘n rooi skynsel het en ek weet sommer dat die rooi ruimtetuig bo ons drie is.

Ons staan voor ‘n vreesaanjaende ruimtewese. “Wat wil jy met ons doen?” vra Hanlie vir die ruimtewese. Maar die ruimtewese kyk haar net aan en begin ons vasbind. Ek kyk die ruimtewese in die oë en hy staan op en kom nader en sny die toue van my hande af. Gini skud net haar kop en Hanlie wil-wil huil. “Jý van alle mense?” vra Hanlie my. Met ‘n glimlag gaan sit ek op my stoel en knik my kop sodat die ander wesens hulle kan wegvat. Gini ruk haarself los van die wesens en maak haar baadjie oop en ek sien die tuisgemaakte bom om haar lyf. “Nou gaan niemand my seermaak nie!” sê sy en druk die knoppie.

 

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top