WF 2015: Die Mars-uitstappie

  • 1

Die klok lui vir wetenskap. Almal storm na die klas om hulle toestemmingstrokies vir meneer Steyn te gee. Ek sit my strokie op meneer se tafel en gaan sit langs my vriendin Jenna. “Het jou ouers vir jou toestemming gegee om op die uitstappie te gaan?” vra sy my. “Jip, en joune?” Daar is ‘n lang stilte. “Sê my jy gaan ook?” vra ek haar. “Nee, jammer, Nicki,” antwoord sy my uiteindelik. “Wat? Hoekom nie?” Voordat ek haar kan uitvra, begin meneer praat.

 

“Wel, tien kinders se ouers het toestemming gegee. Hulle is Jolia, Peter, Susie, Nicki, Zack, Karla, Kyle, Mimi, Anne en Ron,” lees meneer die name. “Hoekom kan jy nie gaan nie?” fluister ek vir Jenna.

“Nicki?” Meneer staan reg voor my, “is daar iets wat jy met ons wil deel?” vra hy kwaai. “Nee meneer,” antwoord ek skaam. Hy draai om en praat met die klas. “Julle het af vandag.” Die klok lui vir pouse en almal spring op.

“Sit!” sê meneer Steyn kwaad. Almal gaan sit toe maar weer. “Die tien wie se name ek vroeër gelees het, moet agterbly,” sê hy. Toe die laaste leerder uit is, maak meneer die deur toe.

“Almal van julle moet al julle gelde inbetaal hê en moet moreoggend teen sesuur daar wees,” sê hy en gee vir ons elkeen ‘n padkaart van die pad na Mars.

Vieruur Saterdagoggend staan ek op en gaan draf soos gewoonlik. Terwyl ek draf, dink ek aan hoe ek my tuisgemaakte kos gaan mis.

By die huis gekom sien ek daar is pos. Ek tel dit op en loop die huis binne. “More,” skree ek die trappe op, “Mamma, hier is pos op die eetkamertafel. Ons moet 6-uur by SAMP wees,” skree ek weer. SAMP staan vir die Suid-Afrikaanse Marsprojek. Die projek is eers hierdie jaar gestig en ons is die eerste skool wat daaraan gaan deelneem.

Ek gooi die pos op die tafel neer en sien ‘n bruin koevert uitsteek. Ek skeur die koevert oop en ‘n uitgeskeurde koerantberig en ‘n geel opgevoude papiertjie val uit. Ek lees:

“Vreemde Wesens in die Ruimte?

“In die 1800’s het almal gevra hoe daar lewe in die buitenste ruim kan wees as daar nog nie eers mense in die ruimte was nie.

“Kenners sê dat daar ander spesies in die ruimte is wat beplan om die mensdom van hierdie planeet te verwyder.

“Mense het mekaar begin beskuldig dat hulle aliens is omdat hulle nie saans hulle karre in die motorhuis trek nie of as hulle nie hulle tande op ‘n Saterdag borsel nie.

“Hulle het weer in die vroeë 1900’s ‘n vreemde vlieënde voorwerp gesien en dis toe dat die mensdom se grootste vrees bewaarheid word en almal van daardie dag af geweet het dat ons nie alleen in die heelal is nie …”

Ek is geskok oor wat ek so pas gelees het. Ek vou die geel briefie oop en lees: “Dis hoekom ek nie wil gaan nie!”

By SAMP aangekom, trek ek my ruimtepak aan. Ek sit my klere in die sluitkassie en loop die gang af. Ek hoor ‘n skree-geveg. Met my Oros-pak loop ek in die rigting van die geskree en sien vir Jolia en Peter in die kamer waar hulle mekaar aangluur.

“En vir wat skree julle so kliphard op mekaar?” vra ek sonder om vir hulle te kyk. “Nee, Jolia dink sy ken mans,” antwoord Peter my. “Wel, ons weet hoe julle mansmense se koppe werk,” merk sy sarkasties op.

Ons klim in die ruimtetuig en ons lang tog na Mars begin.

“Uiteintelik is ons op Mars!” sê ek vir myself. Ek draai om en sien hoe Jolia en Peter mekaar met Marsklippe gooi. “Ai, wanneer julle eendag trou, sal julle mekaar net vir 10 minute nie sleg sê nie,” sê ek kliphard.

“Hahaa,” maak Peter of hy lag. “Hey Nicki, vang!” skree Jolia vir my – en die klip tref my helm met ‘n slag. Ek val Marsgrond toe en land op ‘n groot, harde klip.

Ek word wakker en sien niemand nie. Ek staan op en roep so hard as wat ek kan, “Meneer!” maar kry geen antwoord nie. Ek begin hardloop na waar ek laas die ruimtetuig gesien het maar sien dit n?rens nie. Ewe skielik sien ek ‘n beweging uit die hoek van my oog. Ek swaai vinnig om en kan my oë nie glo nie. “Aliens,” sê ek hardop. Toe die groep aliens naderkom, loop ek vinnig agteruit. “Kan nie wees nie,” praat ek weer met myself. Ek draai om en wil weghardloop, maar twee gryp my arms van agter vas. Hulle sleep my nader en gooi my voor die ander neer.

Ek staan op en skud die Marssand van my af en kyk die een alien in die oë ... en die volgende oomblik gaan almal se monde wawyd oop! Ek skree en probeer losruk, maar ek kan nie.

Ek maak my oë weer oop en sien dat ek in ‘n wit kamer is met klomp mense met groen maskers op hulle neuse en monde. ‘Is dit die aliens?’ wonder ek bang.

Ek is omring deur die gemaskerde wesens wat my probeer stil hou. Ek kom tot ruste en voel hoe erg my kop pyn. Saggies raak ek aan my kop en voel dat daar ‘n verband om my kop is.

O ja, nou onthou ek! Jolia het my met ‘n Marsklip gegooi – en met groot verligting sê ek vir myself: “Sjoe, wat ‘n droom!”

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top