Swak dissipline ondermyn goeie onderrig

  • 0

Oorvol klasse, armoede en dwelmmisbruik is enkele van die uitdagings waarmee talle onderwysers elke dag in agtergeblewe skole worstel. By Tuscany Glen High in Eersterivier in die Wes-Kaap verkies die onderwysers om die glas eerder as halfvol te sien en nie halfleeg nie. Ondanks moeilike omstandighede en gebrek aan fondse kon dié skool danksy gemotiveerde personeel daarin slaag om verlede jaar vir die derde agtereenvolgende jaar 80 persent plus in die finale matriekeksamen te behaal. Jean Oosthuizen het met die adjunkprinsipaal, Denver Robertson, gesels oor die probleme en uitdagings wat sulke skole moet trotseer.

Wat beskou jy as die grootste uitdaging in die onderwys? Ek praat spesifiek van die dinge op grondvlak wat pla. Praktiese probleme waarmee onderwysers soos jy in van die armer bruin skole te kampe het.

Oorvol klasse is in die eerste instansie ’n baie groot uitdaging vir enige onderwyser. Dit het ’n negatiewe effek op die moreel van onderwysers. Klasse is gemiddeld 45 leerders per klas. Wanneer twee of drie leerders klasse ontwrig, word al die onderwyser se aandag op hierdie leerders gevestig. Dit veroorsaak dat die res van die klas nie die gehalte onderrig ontvang wat hul veronderstel is om te kry nie. In baie gevalle is die skool se bestuurspan (SBS) nie beskikbaar om ’n betrokke onderwyser van hulp te wees nie, omdat hulle self besig is met onderrig. Wanneer SBS-lede hul klas verlaat om ’n onderwyser te help om orde te gaan skep, word hulle leerders ook van gehalte-onderrig ontneem.

Hoe raak die knellende ekonomiese situasie agtergelewe skole?

Die invordering van skoolgelde is vir baie skole problematies. Omdat baie ouers onder geweldige finansiële druk verkeer, is die betaal van skoolgelde nie op hul prioriteitslys nie. Dit kan deels toegeskryf word aan die ekonomiese klimaat wat in die land heers. Sonder voldoende fondse vind agtergeblewe skole dit baie moeilik om finansieel kop bo water te hou. Beheerliggame kan nie aanstellings doen nie, want hul het nie voldoende fondse om hierdie poste te finansier nie. Daarom is klasgroottes gemiddeld 45 leerders per klas, terwyl die verhouding 1:35 in hoërskole is. Agtergeblewe skole betaal ook nie ’n markverwante salaris aan onderwysers in beheerliggaamposte nie. Hulle kan dit eenvoudig nie bekostig nie.

Denver Robertson

Daar is ook heelwat disfunksionele gesinne in armer of agtergeblewe gebiede, wat aanleiding gee tot gebrekkige ouerbetrokkenheid. Hoe raak dit die kinders se onderwyssituasie?

Daar is nie ’n amptelike wet wat ouers se betrokkenheid afdwing nie. Sommige ouers het nie meer beheer oor hul kinders nie, ten spyte daarvan dat hulle en hul kinders gedurende dissiplinêre verhore onderneem om hul gedrag te verander. Wanneer sommige van hierdie leerders terug is in die klaskamer, gaan hulle voort met dieselfde onaanvaarbare gedrag. Dit is tydrowend om dissipline te hanteer. In baie gevalle is SBS-lede besig om onderrig- en administratiewe take te verrig, wat veroorsaak dat daar nie teen oortreders opgetree word nie.

Die inkonsekwente optrede kan ’n negatiewe kultuur by die skool skep. Die PAM-dokument vereis ook dat prinsipale 40 persent, adjunkprinsipale 60 persent en departementshoofde 85 persent van hulle tyd onderrig moet gee. Die vereiste kan ’n negatiewe invloed hê op konsekwente optrede. In baie gevalle is SBS-lede se verweer dat hulle nie aandag kan skenk aan ’n oortreder nie, omdat hulle self besig is met onderrig.

Die grondwetlike beginsel is dat daar altyd in die beste belang van die kind opgetree moet word. Wat is jou ervaring in dié verband as mens kyk na die niefunksionerende onderwysdepartement in groot dele van die land?

Die reg van die gehoorsame massas word misken in die hantering van dissiplinêre oortredings: oortreders moet verdra word, terwyl die gehoorsames se onderrigtyd opgeneem word met die hantering van dissiplinêre verhore. Die onderwysdepartement moet ’n onderwyser of twee, afhangende van die grootte van die skool, aanstel wat slegs betrokke is by die hantering van dissipline. Dit sal meebring dat onderwysers kan voortgaan met onderrig, terwyl die oortreders aangespreek word. So sal die meerderheid kinders wat wíl leer, nie van gehalte-onderrig nie ontneem word nie.

Metropool-Oos in die Wes-Kaap is gelukkig ’n funksionerende onderwysinstansie. Die direkteur, mnr M Caroline, het ons personeel toegespreek en geleentheid geskep om hom direk te kontak indien ons enige ondersteuning benodig. Die ondersteuning wat ons van Metropool-Oos ontvang, behels onder andere motiveringsessies, programme tydens skoolvakansies, maatskaplike berading en kundige advies rakende studiemetodes, skoolbestuur en die kurrikulum. Hierdie amptenare reageer so spoedig as moontlik op ons versoeke. Weens hierdie ondersteuning en ’n gemotiveerde personeel het ons skool welslae behaal en vir die derde agtereenvolgende jaar 80 persent plus in die finale matriek eksamen behaal.

Opvoeders se motivering is op 'n laagtepunt weens die groot las wat hulle dra. Hoe motiveer ’n onderwyser hom- of haarself onder sulke moeilike omstandighede om die beste resultate te kry?

Ons wil baie graag die glas as halfvol sien en nie halfleeg nie. Dit beteken die belange van gehoorsame leerders moet die primêre rede wees hoekom onderwysers skool toe kom.

Onderwysers moet fokus op die positiewe aspekte in plaas van die negatiewe aspekte van die skoolopset. Daarom is dit belangrik dat die prinsipaal moet fokus op personeellede se sterk eienskappe in plaas van hul swakker eienskappe. Indien skoolhoofde of SBS-lede fokus op ’n onderwyser se sterk eienskappe, sal dit gemotiveerdheid by onderwysers verhoog, ongeag die werksomstandighede.

Daarom is dit noodsaaklik dat die personeel betrokke moet wees wanneer belangrike besluite geneem word. Indien die personeel die gevoel kry dat hulle ’n positiewe bydrae lewer, is hulle meer geneig om die besluite te implementeer.

Langverlof (drie maande) bestaan nie meer nie, wat beteken dat onderwysers uitgeput raak en nie die geleentheid het om te herlaai nie. Onderwysers moet weer toegelaat word om gekontroleerde verlof te akkumuleer om vir byvoorbeeld vir drie maande betaalde verlof te kwalifiseer. Dit kan ’n teenvoeter wees vir die hoë afwesigheidsyfer onder onderwysers. Onderwysers sal liewer verlofdae wil akkumuleer as om ’n dag of twee per maand verlof te neem.

Baie van die probleme in die onderwys word deur kenners gekoppel aan die afwesigheid van moedertaalonderrig. Wat is jou siening oor moedertaalonderrig?

Deesdae verkies baie ouers dat hul kinders in Engels onderrig moet word. Baie Afrikaanse en Xhosa-moedertaalsprekers verkies dit ook. Moedertaalonderrig is noodsaaklik vir leer. In die algemeen vaar leerders baie swak wanneer hul in ’n tweede taal onderrig word.

Die teendeel is ook bewys waar leerders wat vanaf graad 1 in ’n tweede taal onderrig word, met verloop van tyd akademies presteer met die nodige ondersteuning in die grondslagfase. Leerders wat nie die tweede taal kan baasraak nie, gee egter maklik aanleiding tot dissiplinêre probleme. Dit kan ook aanleiding gee tot vroeë skoolverlating. ’n Gewese matriekleerling wat matriek met universiteitstoelating geslaag het, noem dat sy in die grondslagfase gesukkel het met die taal, maar dat sy met die nodige ondersteuning in die grondslagfase die taal baasgeraak het. Ten spyte daarvan dat haar moedertaal Xhosa is, praat sy op die oomblik slegs met haar ouers Xhosa, terwyl sy 80 persent van haar dag slegs Engels praat.

Die beleid dat leerders net een maal per fase teruggehou mag word, het sekerlik ook ’n invloed op gehalte-onderwys. Hoe voel die onderwysers daaroor?

Onderwysers is alreeds oorlaai met ’n magdom van administratiewe pligte. Hulle het nie tyd om addisionele hulp aan leerders te verleen wat op grond van jare in ’n klas deurgesit word na die volgende graad nie. Die kurrikulum vereis dat onderwysers in elke vak by ’n voorgeskrewe tydgleuf hou, anders kan hulle nie die kwartaal se werk afhandel nie.

Leerders wat nie akademies gereed is om na ’n volgende graad te vorder nie, veroorsaak ook makliker dissiplinêre probleme. Die teendeel is ook al bewys, naamlik dat leerders wat vorder as gevolg van jare in ‘n fase, suksesvol is in die volgende graad. Dit kan toegeskryf word aan ’n positiewe houding van ouer, leerder en onderwyser. ’n Positiewe ingesteldheid van hierdie rolspelers kan ’n bepalende rol speel in die sukses van die kind. In die afwesigheid van hierdie houding is die kans op sukses minimaal.

In die algemeen is dit nie ’n gesonde beginsel dat leerders kan vorder weens jare in ’n fase nie. Dit dra nie by tot die skep van ’n leerkultuur nie. Sommige leerders se gehalte van werk verbeter nie die jaar dat hul die graad herhaal nie, want hul weet hul gaan outomaties vorder na die volgende graad.

Dit is van kardinale belang dat elke skool ’n sielkundige in diens het om die nodige berading, beroepsvoorligting, psigometriese en aanlegtoetse aan leerders te bied. So kan leerders na graad 9 in verskillende rigtings gekanaliseer word. Die sielkundiges kan sodoende deur behoorlike toetse en akademiese vordering bepaal wie skuif na die VOO-fase en wie na vaardigheidskole. VOO-leerders moet voorberei word vir hoër onderwys, terwyl vaardigheidskole leerders moet voorberei word om elektrisiëns, loodgieters, ens te word. Dit kan ’n teenvoeter word vir die hoë werkloosheidsyfer. Dit beteken hierdie vaardige leerlinge kan ’n positiewe bydrae lewer tot ons land se ekonomie. Hul kan vir hulself werkgeleenthede skep, asook aan ander werkgeleenthede bied.

Daar is ’n groot gaping tussen ryk en arm of voorheen benadeelde skole. Is daar genoegsame samewerking tussen skole wat voorheen bevoorreg was en die skole in agtergeblewe gebiede en kan sulke skole nie op een of ander manier vennootskappe sluit waar hulle by mekaar kan leer nie?

Daar is nie genoegsame samewerking tussen ryk en arm benadeelde skole nie. Samewerking deur middel van die gebruik van ryk skole se fasiliteite kan tot voordeel van die arm skole aangewend word. Vervoerkoste vanaf arm na ryk skole kan die idee kniehalter, want in baie gevalle is die skole nie naby mekaar geleë nie. Die arm skole het ook nie die nodige fondse om die reiskoste te finansier nie.

Dit is die onderwyser wat elke dag die stryd in die klaskamer moet stry terwyl daar van hulle verwag word om goeie resultate te lewer. Wat kan gedoen word om hulle te motiveer en by te staan?

’n Kleiner onderwyser-leerder-verhouding sal onderwysers se taak om te onderrig, vergemaklik. Motiveringsprekers kan gedurende die jaar ook baie help om onderwysers en leerders se batterye te herlaai. Leerders wat klasse ontwrig, behoort onmiddellik uit die klaskamer verwyder te word sodat onderwysers kan voortgaan met hul primêre doel, naamlik om onderrig te gee. Konsekwente optrede deur die skoolgemeenskap, sal ook die onderwyser se taak vergemaklik.

Die negatiewe effek van misdaad en dwelmmisbruik in sommige skole is aansienlik. Het dit enige invloed op jou werk en hoe hanteer mens die probleem?

Sommige leerders is onbeheerbaar wanneer hulle onder die invloed van dwelms by die skool is. Dit het ’n negatiewe effek op die onderwyser sowel as die ander leerders in die klas. In die meeste gevalle ontwrig hierdie leerders die onderrigprogram. Sulke leerders moet verwys word na ’n rehabilitasiesentrum of sielkundige wat berading bied aan dwelmverslaafdes. Leerders wat skool toe stap, word gereeld beroof en aangerand – die oplossing is verskerpte polisiëring. Hierdie leerders vind dit ook moeilik om in die klaskamer te konsentreer. Die skoolsielkundige word in hierdie gevalle gekontak vir berading. Die berading kan vinniger plaasvind indien die sielkundige by die skool gestasioneer is. Sommige leerders verkoop sigarette op skool – onderwysers op terreindiens maak eers hul koppie koffie of tee voordat hul aan diens gaan. Dit beteken onderwysers kry nie eens ’n blaaskans om hul energie te herlaai na drie of vier periodes van onderrig nie.

In die Oos-Kaap is daar gemeenskapsgroeperings soos die Korsten-Shauderville Action Committee wat hulle dit ten doel stel om aandag aan die probleme te skenk. Watter rol kan gemeenskapsorganisasies speel om die situasie in die onderwys te verbeter?

Gemeenskaporganisasies kan skole ondersteun met terreindiens gedurende pouses. In arm skoolgemeenskappe is ouers bereid om die skool te help, maar verwag vergoeding daarvoor. Weens die feit dat baie ouers werkloos is, sien hulle dit as ’n geleentheid om ’n inkomste te genereer. Arm skole het egter nie die fondse om vir hierdie dienste te betaal nie. Gemeenskapsorganisasies kan druk uitoefen op die onderwysdepartement om beleid te formuleer wat die vraagstukke doeltreffend uitskakel, byvoorbeeld dat die reël dat leerders net een maal in ’n fase teruggehou word, geskrap word.

Tot watter mate beïnvloed vakbonde die werk in die klaskamer?

Vakbonde beïnvloed nie die werk in die klaskamer nie, behalwe deur beleidsbepalings van die onderwysdepartement te ondersteun.

Baie onderwysers is hulle sout deur en deur werd, maar daar is ook diegene wat nie hulle kant bring nie en geen voorbeeld is vir leerders nie. Daar is selfs mense wat sê onderwysers is oorbetaal en onderwerk.

Ek stem geensins met die stelling saam nie. Inteendeel, onderwysers behoort baie beter vergoed te word. Onderwysers werk langer ure as waarvoor hulle vergoeding kry: merk van assesseringstukke en voorbereiding vind na ure plaas, want onderwysers het nie die tyd tot hulle beskikking om gedurende normale skoolure na te sien nie. In baie gevalle gebruik onderwysers hul persoonlike hulpbronne, soos telefone, vervoer, ens, vir skoolaangeleenthede sonder enige vergoeding. Onderwysers se indiensopleidingsessies vind slegs na normale skoolure en oor naweke plaas. Dit het ’n negatiewe effek op onderwysers se familieverpligtinge.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top