Brianvds skryf dat hy die kwessie van die hel nie kan kleinkry nie, omdat ’n ewigheid van lyding, nie oor enigiets wat ’n persoon gedoen het nie, maar bloot oor wat hy privaat geglo het, vir hom nie sin maak nie en hy vermeld ook dat hy min geskeel is oor wat ander mense glo.
Maar as agnostikus sál hy só dink – omdat hy God se rol nie kan plaas en rasionaliseer in die kwessie wat hy probeer aanspreek en beredeneer, nie.
Die waarheid is, daar is nié iets soos ‘privaat glo’, nie. Niemand leef in isolasie nie. Selfs nie eens Michael Jackson en voor hom, Howard Hughes, met hulle tamaai bankrekenings, kon dit regkry om effektief in reklusie te leef, nie. Benewens die feit dat, wat hy ook al glo, op een of ander manier ’n effek op ’n ander mens het, hetsy in die huwelik, in die gesin of by die werk, is daardie één aspek waar ’n persoon se geloof ten volle impakteer, elke sekonde van sy lewe – teenoor God.
Teenoor God – want dit gaan eksklusief juis oor God en wat God van jou as mens verwag ten aansien van jou verhouding met Hom, in die eerste plek en uit hoofde van dáárdie verhouding, jou verhouding met jou medemens (Mattheus 22:37-40) - wanneer daar hóégenaamd geloof gepraat word.
As hy dus glo dat God nie bestaan nie en dienooreenkomstig optree, raak dit God direk. Dat die arme agnostikus dít nie besef wanneer hy sy sinnelose onkunde stelling maak nie, dui op sy reddelose onkunde, insigloosheid en botheid oor dié dinge en gaan enige gesonde denke ten prooi val.
Dit is waaroor sommige mense, tragies genoeg, in die hel sal beland of nie – juis oor daardie geloof rakende God en die gepaardgaande uitlewing, daarvan – Mattheus 10:28.
Die hel en die tipe EWIGE ontbering wat mense dáár te wagte kan wees, is iets waaroor die HERE Jesus Christus gereeld gewaarsku het (Mattheus. 5:22, 29–30; 10:28; 23:15, 33; Markus 9:43, 45-48; Lukas 12:5; 16:23-31; Openbaring 19:20; 20:10, 14–15; 21:8). Wat is die ewigheid? Onthou die vergelyking met die voëltjie wat sy snawel aan Everest slyp … die ewigheid is verby wanneer Everest ’n hopie stof is aan daardie voëltjie se kloutjies.
Mense van die tyd het góéd geweet waarvan die HERE Jesus praat, wanneer HY van die hel praat.
Besuide Jerusalem, was daar ‘n plek met die naam die vallei van Hinnom (Hebreeus). Op Grieks heet dit ‘geenna’ (gevenna) oftewel ‘Gehenna”.
Dít is die woord waarmee die HERE Jesus “hel” vertaal het (Mattheus 10:28) … Dit sluit ook direk aan die profesie in Jeremia 7:
“32 Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat nie meer gesê sal word: Tofet en die dal van die seun van Hinnom nie, maar Moorddal. En hulle sal in Tofet begrawe, omdat daar geen plek sal wees nie.
33 En die lyke van hierdie volk sal dien as voedsel vir die voëls van die hemel en die diere van die aarde sonder dat iemand hulle skrikmaak.”
Op die tyd wat dié profesie ongeveer 580 vC gemaak is, was daardie plek juis gebruik deur Goddelose konings soos Manasse en daarna wat hulle seuns vir die afgod molog daar gaan verbrand het, en was daar nog nie werklik sprake van die plek van ‘hel’ wat dit later onder Romeinse heerskappy sou word, nie…
Daar het dag na dag ‘n groot vuur gebrand, wat nooit geblus was nie. Sedert Kanaänitiese tye, het die Baäldienaars hulle eersteling seunskinders daar vir hul afgod moloch gaan verbrand, en sommige afvallige Israelitiese konings ook - iets wat deur God verfoei en natuurlik ten strengste verbied was. Daardie walglike praktyk was sedert die regverdige koning Josia (aan die begin van Jeremia se dienstyd) nie meer daar bedryf nie, omdat hy die vallei opsetlik vir hierdie tipe gebruik gaan ‘ontheilig’ het vir die afgodedienaars, sodat geen afgod met sy walglike praktyke meer dáár gedien kon word nie.
Sedertdien was die vallei van Hinnom (Hebreeus) – Gehenna (Grieks) - as plek van ashoop gebruik en daar, vir eeue, is die vuur steeds aan die gang gehou om Jerusalem se daaglikse vullis daar te verbrand. Dit is nie duidelik wat daar gebeur het tydens die ballingskap nie, maar daar word vermoed dat die vlugtelinge wat ontkom het, en weer in die ruïnes gaan woon het nadat die vyand onttrek het, wel dié vuur vir dieselfde doel steeds aan die gang gehou het, dag en nag. Later het die terugkerendes onder Esra en Nehemia natuurlik ook by hulle aangesluit.
In die HERE Jesus se tyd, was dit nóg so.
In die HERE Jesus se tyd was Gehenna (die Hinnom-vallei) steeds die stad Jerusalem se afval stortingsterrein. Steeds is daardie groot vuur aan die gang gehou, om dit wat daarheen gebring word, mettertyd te verbrand. Maar, ook was die brandende Gehenna die weggooiplek van dooie diere. Alle dooie diere moes daar weggegooi word. Daar was oor die algemeen nie sprake van diere begrawe nie, want begrafnis was as ‘n besondere laaste eerbewys aan die waardige menslike afgestorwene beskou. Nie vir diere nie.
Daar was ook ’n ander funksie van Gehenna - die Romeinse soldate, bekend vir hulle wreedaardige eksekusiemetodes, het bykans elke dag menselyke daarheen gedra en gaan weggooi, mense wat aan halsmisdaad en veral sedisie en rebellie teen Rome skuldig bevind en tereggestel was, asook ander wat in situ deur hardvogtige Romeinse soldate vir watter politieke en sekuriteitsrede ook al, afgemaai is (sien Lukas 13:1 – Pilatus het géén kanse gewaag nie …), want in die HERE Jesus se tyd was sekuriteit van Rome vir die Romeine ‘n netelige probleem.
Uiteraard, volgens die Romeinse gebruike, was begrafnis beslis nie toegelaat vir sulke tereggesteldes nie. Daardie lyke moes verbrand (veras) word.
Hier is ’n baie betekenisvolle uitsondering ter sprake - Dit is, heel betekenisvol, waarom die begrafnis van die HERE Jesus se liggaam ná Sy kruisiging as ‘veroordeelde’ só wonderlik was – dit is waarom die Joodse raadslid, Josef van Arimatea, spesiaal toestemming moes gaan vra en Pilatus spesiaal toestemming gegee het (Johannes 19:38 - sekerlik omdat sy gewete hom gepla het …) – dit was ongeskonde gelaat ooreenkomstig die profesie daaromtrent en dit is ook waarom die graf bewaak moes word deur die owerheid, omdat dié begrafnis so ongewoon was vir ’n sogenaamde ‘veroordeelde’.
Die naasbestaandes van tereggestelde veroordeeldes, wat normaalweg nie by die eksekusie toegelaat was nie, het die soldate op ’n afstand gevolg, en wanneer die soldate die lyke afgegooi het by Gehenna en padgee, het hulle maar by die lyke van tereggestelde naasbestaandes gaan ween en rou bekla en huil. Daagliks. Die groot vure kon nie alles vinnig genoeg verteer nie. Roubeklaers het die lyke probeer oppas teen wilde honde en ander aasdiere wat snags dit wil kom vreet. Daar was dan die mees senutergende getjank en gevegte van wilde honde, gemeng met die klanke van die geween en gekners van mense wat skreeu, huil en weeklaag, en hulle teen die honde en aasdiere probeer verset om die lyke darem op ’n manier te probeer beskerm voordat dit verbrand sou word - voorwaar loutere, egte HEL.
Gehenna was besaai met as, vullis, verbrande en halfontbindende mens- en dierelyke, maaiers, wurms en geweldige stank (sien vir ooreenkoms ’n beskrywing van die satan se val en sy blyplek sedertdien in Jesaja 14:7-20), vermeng met die allerbitterste geweeklaag en gehuil van hartverskeurde mense tussen die lyke en vullis, veral ook snags, die tyd van die aasdier.
Gehenna was voortdurend oortrek met donker, stink rookwolke en as. Gereeld het die winde uit die suidooste gekom, en hierdie weersinwekkende klanke en stanke in die rigting van Jerusalem gewaai …
Wanneer die HERE Jesus dus mense oor die hel gewaarsku het, het Hy direk na Gehenna verwys, want dan kon mense maar net so ‘n idee vorm van die ontbering, geween en gekners van tande wat in die hiernamaals as die plek van die poel wat brand met vuur en swawel – die hel – te wagte kan wees vir dié wat daar beland.
Tewens, die gebruik van verassing was ’n heidense gebruik wat later wyd aangewend is. Die Woord se hantering van verassing is ook dat dit aangewend is in ’n baie negatiewe sin en veral vir afvalliges en is ook simbolies van God se straf vir afvalliges en Goddeloses – van Sodom en Gomorra tot by die laaste Oordeel. God het verassing en verbranding as straf vir Goddeloosheid gebruik en is vereenselwig met heidene se gebruike – Genesis 19:1-18; Levitikus 20:14, 21:9; Numeri 16:35; Josua 7:15; 1 Samuel 31:11-13 (daar moet onthou word dat God Saul verlaat het weens Saul se ongehoorsaamheid, en dat Saul as gevolg daarvan gesterf het en verbrand is, en net sy beendere begrawe is …); 1 Konings 13:1-2; 2 Konings 23:15-16; 2 Kronieke 28:3; Amos 2:1-2, 6:9 - by hierdie Woord van die profeet Amos sien ons dat die Here se Naam nie eens by die verbranding (verassing) vermeld mag word nie ... Daarom behoort géén ware Christen óóit aan ’n verassing deel te hê nie - nie sy eie nie en ook nie ’n naaste s’n nie, ongeag die testament se bepalings – dit so terloops.
Groete,
Kobus de Klerk