Onderhoud met Fanie Naudé, beurshouer van die Jan Rabie Marjorie Wallace Skrywersbeurs 2014

  • 0

Alfabet van die voëls deur SJ Naudé is in 2012 met die South African Literary Awards-toekenning as debuutbundel bekroon en in dieselfde jaar met die Jan Rabie Rapport-prys. Nou is die grootste skrywersbeurs in die land, die Jan Rabie Marjorie Wallace-beurs, aan die skrywer van dié kortverhaalbundel toegeken. Naomi Meyer het hom oor sy voorgenome skryfprojek uitgevra.

 

Hallo Fanie, baie geluk met die toekenning van die Jan Rabie Marjorie Wallace-beurs. Die grootste skrywersbeurs in die land! Laat ek afskop met die vraag op almal se lippe: Hoe voel mens as so ’n beurs jou te beurt val?

Dankie, Naomi. Verrassing was my eerste reaksie. En ek is bly en dankbaar. Dit is 'n seldsame geleentheid, en nie net in Afrikaans en Suid-Afrika nie. Behalwe dalk vir 'n handjievol gevestigde internasionale skrywers, is dit ongewoon in enige taal en land om 'n kans te kry om vir 'n lang tyd – ononderbroke en ongesteurd deur die daaglikse sleur – aan 'n ernstige roman te werk. Dit is natuurlik ook 'n verantwoordelikheid. Ek ervaar 'n gesonde graad van ontsag in die aangesig van die taak wat voorlê, veral as 'n mens Jan Rabie en Marjorie Wallace se kulturele nalatenskap en hul gulheid van gees in gedagte hou. 'n Mens sal ook graag die vertroue wat die UWK en die beurskomitee in 'n mens stel, waardig wil wees.

Maar my vraag was verkeerd geformuleer – dit het jou nie “te beurt geval” nie. Jy het ’n konsep van ’n verhaal voorgelê wat die beurs verdien. Wat kan jy op hierdie stadium omtrent jou idees verklap?

Die voorgenome projek is 'n roman. Dit behels onder andere 'n sukkelende Suid-Afrikaanse filmskoolstudent in Londen, 'n soektog na 'n verlore vroeë Duitse film in Berlyn, 'n stormagtige liefdesverhouding, 'n sonsverduistering en 'n industriële rock band. Alles in die lang skadu van 'n skendende stuk Europese geskiedenis. 

Alfabet van die voëls het groot pryse gewen en jou talent is vir almal sigbaar. Is daar temas in hierdie kortverhale wat jy in jou voorlegging verder wil uitbou in die roman wat jy wil skryf?

Ek beplan nie spesifiek om op die kortverhaaltemas uit te bou nie, maar daar is sekere obsessies en ruimtes waarheen mens neig om kompulsief terug te keer. Daar is wel ook 'n katalogus nuwe plekke en obsessies ... 

Hoe verskil die aard van romanskryf vir jou van die aard van kortverhaalskryf? En wat is eenders?

Veral in die afgelope 80 jaar is die grense van prosagenres dikwels getoets. My eie gepubliseerde verhale is nie juis tradisionele moderne kortverhale nie. 'n Ervare romanskrywer sou meer genuanseerde gedagtes hieroor hê, maar lang prosa neig natuurlik om met 'n langer tydlyn en meer karakters te werk. Dit maak gewoonlik voorsiening vir 'n meer geleidelike en fasetryke ontwikkeling van karakters, verhoudings en intrige. Goeie romans volg ook dikwels 'n sterk dialogiese/polifoniese benadering – 'n meerderheid stemme of lewensbeskouings wat in prekêre ewewig gehou word. Soos 'n vriend en ervare romansier onlangs teenoor my opgemerk het, Neem kompleksiteit waarskynlik eksponensieel toe, eerder as proporsioneel, wanneer mens langer prosa skryf.

Hoe lyk jou alledaagse lewe nou en wat dink jy sal die impak van hierdie beurs wees?

Ek het tot onlangs as redakteur by Umuzi gewerk. Laasgenoemde is Random House se fiksiedruknaam in Suid-Afrika (en ook my eie uitgewer). Ek het self heelwat redigeerwerk gedoen, wat behels het dat mens so volledig moontlik moes opgaan in ander skrywers se kreatiewe strome. Dit was helaas moeilik om self ook te skryf. Ek doen tans steeds vryskutredigering. Die ruim ondersteuning van die beurs sal my nou die manjifieke vryheid gun om twee jaar lank voltyds te skryf, asook om broodnodige navorsing vir die roman te doen.

Lees nog inligting omtrent die Jan Rabie Marjorie Wallace Skrywersbeurs.
Lees 'n onderhoud met Steward van Wyk omtrent dié beurs.
Lees Willem Anker, die vorige beurshouer van die Jan Rabie Marjorie Wallace Skrywersbeurs, se gedenklesing.
Lees die aankondiging dat die beurs aan Fanie Naudé toegeken is.


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top