Onderhoude | Interviews

 
Nuwe FAK-sangbundel 'so akkommoderend as moontlik'

FAK Fantasties is ’n spesiale Aardklop-konsert saamgestel deur Janine Neethling ter viering van die bekendstelling van die jongste FAK-sangbundel. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, beantwoord enkele vrae van LitNet oor die jongste bundel.

Danie, die FAK-sangbundel word vanjaar in 'n nuwe vorm uitgegee. Wat was die motivering agter die besluit om die bundel weer uit te gee nadat die vorige uitgawe in 1979 verskyn het?

Die FAK-sangbundel vier met die uitgawe sy 75ste verjaarsdag. Deur die dekades het die FAK-sangbundel bekend geword as die kanon van Afrikaanse musiek, want die verhaal van die sangbundel is verweef met die historiese ontwikkeling van Afrikaanse musiek.

Die eerste uitgawe, wat in 1937 verskyn het, was die opvolger van Mansvelt se Hollands-Afrikaanse Liederebundel (1907) en Van Niekerk se Groot Afrikaanse-Hollandse Liederebundel (1927). In die twee bundels was daar 78 Afrikaans-Hollandse liedere, waarvan slegs 28 opgeneem is in die 1937-FAK-sangbundel se 314 liedere. Van die 314 liedere was 275 spesifiek geskryf vir saamsing. Die sprong van 78 liedere in 1927 tot 314 in 1937 dui op ’n geweldige groei in Afrikaanse musiek in ’n kort tydperk van tien jaar.

Teen die tyd toe die hersiene uitgawe in 1961 verskyn het, was reeds meer as 60 000 eksemplare verkoop. Die FAK se musiekkomitee het die getal liedere tot 400 beperk om te verseker dat die sangbundel maklik hanteerbaar sal wees. Van die oorspronklike 314 liedere is bepaal dat 140 nie meer algemeen gesing word nie. Die 156 wat behou is, is in die meeste gevalle van nuwe begeleiding voorsien. Nuwe liedere is gesoek uit die Afrikaanse liedereskat van volkspelebundels, skoolsangbundels, populêre liedjies en liedere wat by volksfeeste gesing kan word.

Die derde uitgawe het saamgeval met die FAK se halfeeufees in 1979. Alhoewel die getal liedere weer tot 400 beperk is, is die liedere ingrypend hersien om hulle makliker speelbaar en meer effektief vir groter groepe te maak. Begeleidings is so geskryf dat hulle ook makliker deur snaar- of blaasinstrumente gespeel kan word, sodat dit nie meer noodsaaklik sou wees om net op ’n klavier aangewys te wees vir begeleiding nie. Hiermee wou die 1979-sangbundel erkenning gee aan die ontwikkeling van instrumentespel in die Afrikaanse gemeenskap. ’n Besondere kenmerk van die 1979-bundel is die aandag wat aan Afrikaanse woorde bestee is. Sedert die verskyning van die eerste bundel in 1937 het Afrikaans as taal merkwaardig gegroei. Sekere uitdrukkings het in onbruik geraak, groter soepelheid is ontwikkel en vloeiender, beeldender rym het moontlik geword. Soms is slegs een woord of reël verander, in ander gevalle hele strofes en in enkele gevalle is nuwe woorde in die gees van voriges geskep. Die 1979-bundel staan nie net in die teken van die ontwikkeling van Afrikaanse musiek nie, maar is ook ’n monument vir die ontwikkeling van Afrikaanse musiektaal.

Die jaar 1979 was ook om ’n ander rede ’n hoogtepunt, naamlik dat die begin was van die musiek-en-liriek-beweging. Koos du Plessis se eerste langspeler word opgeneem. Skadu's teen die muur bevat verskeie treffers: “Kinders van die wind”, “As jy my kon volg”, “Sprokie vir 'n stadskind” en die titellied, “Skadu's teen die muur”. Musiek en liriek word vir die eerste keer op televisie aangebied en die Afrikaanse luisterliedjie is boaan die gewildsheidsleer. Die musiek-en-liriek-beweging kom nie-amptelik op die been en bewerkstellig 'n revolusie in Afrikaanse musiek. Baanbrekers soos Jannie du Toit, Koos du Plessis, Laurika Rauch, David Kramer en vele andere lê die fondamente vir die groei van Afrikaanse musiek in die komende dekades.



Reeds in 2009 het die gedagte ontstaan dat die FAK met die oog op die bundel se 75ste verjaarsdag in 2012 ’n nuwe bundel moet ontwikkel wat erkenning gee aan die ontwikkeling van Afrikaanse musiek sedert 1979. Dit sou die eerste keer in 33 jaar wees dat daar weer ’n sangbundel verskyn, met die gevolg dat sekere van die riglyne wat vir die vorige bundels gegeld het, drasties hersien moet word.

Van die unieke eienskappe van die 2012-sangbundel is:

  • Dat liedere wat in die vorige sangbundels verskyn het, met die enkele uitsonderings in die Kunslied-rubriek, nie weer in die nuwe sangbundel opgeneem is nie, om erkenning te gee aan die Afrikaanse musiekontwikkeling sedert 1979. Omrede die 2012-sangbundel nie ’n herhaling is van vorige sangbundels nie, kan dit eerder beskou word as ’n tweede volume van die Afrikaanse liedereskat.
  • Vanweë die ontploffing in Afrikaanse musiek sedert die tagtigerjare het die FAK ook besluit om die getal liedere in die nuwe bundel van die tradisionele 400 na 600 te vermeerder. Ten spyte van die groter volume liedjies is die boek se rugkant so ontwerp dat hy beter op die klavier staan as vorige bundels.
  • Liedjies in die Immergroen- en Kleinkuns-rubrieke kry kitaardrukke by en die melodielyn word so maklik uitgelê dat enige persoon met ’n basiese musiekkennis die liedjies sal kan speel.

Luidens die FAK se webwerf maak die nuwe bundel plek vir 400 liedjies wat uitgereik is sedert die vorige uitgawe die lig gesien het. Wat is die kriteria wat gebruik is om te kies watter liedjies ingesluit sou word in die nuwe bundel?

Die liedjies is vermeerder van 400 na 600 (sien tweede punt hier bo). Die FAK het gepoog om met die sangbundel so akkommoderend as moontlik te wees en daarom is die kriteria ook so opgestel dat dit ’n wye trefkrag het.

Die kriteria behels:

  • Die liedjies moet singbaar wees vir gewone mense wat lief is vir Afrikaanse musiek
  • Die liedjies moet sover as moontlik oorspronklik Afrikaans wees en nie vertaal of woorde op oorsese wysies wees nie. Slegs enkele vertaalde liedjies is opgeneem (minder as 10 uit die 600 liedjies), vanweë die liedjies se bekendheid en gewildheid.
  • Die liedjies moet eienskappe van tydloosheid sowel in die liriek as in die melodie toon. Noot vir noot se liedjielys oor dekades tesame met Johan van Rensburg se insette het beslis gehelp om hier liedjies te identifiseer
  • Die liedjies moet ’n bydrae lewer tot die Afrikaanse liedereskat.

Ek merk dat Bok van Blerk se (debatteerbaar) omstrede lied “De la Rey” ingesluit word. Was dit 'n moeilike besluit om te neem, in ag genome die persepsies waarmee die lied van buite (en in 'n groot mate binne) die Afrikaanse gemeenskappe ervaar is?

Die FAK is bewus van die omstredenheid in sekere kringe, maar die lied is gemeet aan die kriteria wat vir alle nommers gegeld het, en daar is op grond daarvan besluit om dit wel op te neem. Op sy tyd was “Skipskop” net so omstrede, in ’n sekere politieke konteks, maar het later het dit ’n geliefde en tydlose lied geword wat in alle gemeenskappe gesing word.



Verskeie liedjies, soos bogenoemde “De la Rey”, en “Engel” van Karen Zoid, is opgeneem onder andere omdat hulle 'n daadwerklike indruk op Afrikaanse luisteraars gemaak het. Is daar ooit oorweeg om, in daardie opsig, liedjies van groepe soos Fokofpolisiekar in te sluit? Hoe het die oorweging hiervan gewerk?

Daar is definitief oorweging geskenk aan liedjies van verskeie groepe en individue. Die betrokke groep se liedjies was beslis oorweeg. Daar moet egter in gedagte gehou word dat die sangbundel ’n deursnit bied van Afrikaanse musiek en dat nie alle Afrikaanse liedjies of groepe of sangers se liedjies opgeneem kan word nie. Alhoewel die FAK niemand wil uitsluit nie en alle liedjies wat oorweeg is wil plaas, is dit net nie prakties moontlik nie. Ook bemoeilik die feit dat die sangbundel vanaf 1979 tot vandag strek, die finale liedjiekeuse. ’n Liedjie kan vandag baie gewild wees, maar volgende jaar vergete. Die uitdaging vir eietydse moderne groepe en individue is eerder om tydlose, singbare, kwaliteit Afrikaanse liedjies te skep wat in ’n volgende sangbundel opgeneem kan word.

In hoe 'n mate is daar buite wit gemeenskappe gekyk vir liedjies wat in die bundel opgeneem kan word – byvoorbeeld uit bruin gemeenskappe? Het verteenwoordigers van bruin en/of swart gemeenskappe insae gehad in die samestelling van die bundel?

Die fokus van die FAK was deurentyd Afrikaanse liedjies en daar is glad nie gekyk na watter liedjies is “wit” en watter is “bruin” nie. Dit gaan oor Afrikaanse musiek en niks minder of meer nie. So is daar byvoorbeeld ’n Griekwa-psalm in die Koor-rubriek opgeneem omdat dit voldoen het aan die kriteria. Baie kenners het insae gehad en professionele menings is gevra van persone uit alle Afrikaanse gemeenskappe.

Op die FAK se webwerf word melding gemaak van die afdelings wat onder leiding van sekere kenners saamgestel is. Hoe is hierdie kenners geïdentifiseer en is daar enige mandaat aan hulle gegee wat die samestelling betref?

Ses nuwe rubrieke is geïdentifiseer:

  • Immergroen-populêr, saamgestel deur Dirk van Niekerk en Johan van Rensburg
  • Kleinkuns, saamgestel deur Christa Steyn, Jannie du Toit en Katrien Holm
  • Kunslied, saamgestel deur Mimi Coertse en Wessel van Wyk
  • Koorwerke, saamgestel deur Niel van der Watt
  • Kinderliedjies, saamgestel deur Elsbet Hugo en Renea van Tonder
  • Geestelik, saamgestel deur Colin Campbell, Cassie Carstens en Jannie du Toit.

Hierdie kenners is almal vrywilligers wat oor die afgelope vyf jaar deur middel van betrokkenheid by die FAK en die FAK-musiekkomitee en -sangbundelkomitee by die proses betrek is. Almal het onbaatsugtige diens gelewer om van hierdie projek ’n sukses te help maak. Daar is aan geen individu ’n mandaat verleen om ’n keuse te maak oor die samestelling nie, maar al hierdie persone het die opdrag gehad om in samewerking met ander kundiges op die betrokke gebiede liedere te identifiseer en voor te lê vir oorweging. Van elkeen van hulle is ook verwag om deurlopend verslag te doen oor die werkswyse, asook die deelname van kollegas. Al hierdie deelnemers kon terugrapporteer dat hulle deur die loop van hulle navorsing baie meer musiek in die betrokke rubrieke sou kon plaas as waarvoor daar in die bundel plek sou wees.

Hoe sien jy die toekoms van die FAK-sangbundel met betrekking tot ontwikkeling, inklusiwiteit en die balans tussen dit en tradisionele liedjies?

Die FAK-sangbundel volume II is ’n logiese opvolger van die bestaande 1979-uitgawe, wat nog steeds herdruk word en waarvan daar nog minstens 500 eksemplare per jaar verkoop. Wat betref ontwikkeling is dit dus ’n noodsaaklike toevoeging tot die inklusiewe optekening en bewaring van die Afrikaanse musiekskat. ’n Gesonde balans tussen ontwikkeling, inklusiwiteit en tradisionele liedjies kan behou word deur voort te gaan om die musiekskat deurlopend te evalueer, te dokumenteer en beskikbaar te stel aan die Afrikaanse gemeenskap. Hoewel die behoefte ten opsigte van formaat van die beskikbare stof mettertyd mag verander, is dit noodsaaklik om die behoefte te bly bepaal en daaraan te probeer voldoen.

FAK Fantasties is op die program by vanjaar se Clover Aardklop Kunstefees. Janine Neethling het die konsert saamgestel en kunstenaars soos Theuns Jordaan en Pieter Smith sal optree. Hoe is daar besluit op watter materiaal in die konsert ten toon gestel sal word en watter kunstenaars sal optree?

Die produksie word volledig gedoen deur Aardklop en behoort ook aan Aardklop. Aardklop besluit alleen oor die samestelling van die produksie en wie optree.

Wat of wie is die teikenmark met die vrystelling van die nuwe FAK-sangbundel en hoe dink jy sal dié mark in die toekoms verander?

Die teikenmark is mense wat lief is vir Afrikaanse musiek, graag daarna wil luister en dit wil sing. In die toekoms sal daar hopelik meer en meer en nóg meer mense in die breë teikenmark val.

Klik hier vir die volledige Aardklop-program.

 

Comments 2 Reaksies | 2 Comments
Delete Comment
avatar
Emile van Zyl
2013-04-15 @21:02
Wat was die oorspronklike liedjie waarop Osbraai op Kromdraai baseer is, asseblief?
Delete Comment
avatar
Anna le Roux
2013-10-02 @21:36

Waar kan ek die nuwe FAK Sangbundel Volume II te koop kry?
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address