Lubbel

  • 0

Teen die einde van die jaar begin ons skool se werksaamhede afneem. Minder kinders kom skool toe. So gebeur dit toe dat ek een oggend ’n SMS van Sihle se ma afkry: ”Did Susan told you that Sihle is not coming to school, the transport is not picking him up. So you will see him next year.”

Dit was slegte nuus vir my, want ons het nie behoorlik gegroet nie. Ek laat weet haar dat sy asseblief moet skool toe kom, en hom saambring, dat ons kan groet en om sy gehoorstukkies te kom haal.

Die groetdag breek toe aan. Sy laat weet my dat hulle in die dorp by die taxi-staanplek is.  Ek ry toe om hulle te gaan haal. Van ver af sien ek die twee figure. ’n Mamma met ’nhelder pienk top, met ’n seuntjie by haar. Ek kon nie sy grasgroen baadjie mis nie.

By die skool, groet ons ordentlik, want al het hy voor langs my gesit, kan mens nie met dowes kommunikeer terwyl jy bestuur nie! Hy sit dadelik die gehoorstukkies in . Hy is trots dat hy dit self kan doen. Dieselfde lewendige seuntjie is effens uit sy gemaksone, dis net hy en ek en hy is nie so “spraaksaam” soos altyd nie.

Ek en hy gaan sit toe oormekaar dat ek met hom kan gesels.
“Wat doen jy die vakansie?“
“Speel en slaap. En kyk my nuwe broek en tekkies. En gordel.”
“Mooi, mooi,” sê ek.

Die musiekjuffrou  het vir ’n rukkie gekom om saam met hom drom te speel. Ek is verstom oor hoe maklik hy die dromritme nadoen. Teen groettyd preek ek  ‘n juffrou-preek: “Soet wees, help vir mamma, nie met boetie en sussie baklei nie en bid elke dag. Geniet die vakansie.” Weer ry ons in stilte dorp toe.

Met die afklim, kyk ek hom in die oê, en se met my mond: ”I love you.” Hy antwoord met sy mond en stem: ” Lubbel.”

Toe die pienk top en groen baadjie wegstap, is ek van vooraf dankbaar vir die voorreg om die werk te mag doen wat ek doen. Karabo, Sihle, Karien, Buhle en al die res het in my hart kom nesskop. Vir hulle wil ek sê: “ Take care. Lubbel. Lubbel very much.”

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top