Ons hou gewoonlik Desembers in Ballito aan die Natalse Noordkus vakansie. Dit het al ’n familietradisie geword en en die kinders probeer om elke tweede jaar almal kersfees daar te wees - die alternatiewe kersfese behoort aan die onderskeie skoonfamilies. Gewoonlik kies ons sommer koers vanaf Knysna deur die Transkei tot in KZN. Ons middelste seun moes egter hierdie jaar ’n rooi toga omgehang kry en so besluit ek en my beste helfte om ná die gradeplegtigheid sommer vanaf Stellenbosch, via Orania, Ballito toe te ry. Ja, foei tog dit nou die arme seun van ons wat hom verbeel het hy sien Jupiter se mane deur sy teleskoop totdat die Sê se resident astronoom (of is dit nou astroloog?) vir my daarop gewys het dat dit spiritueel intelligent gesproke heeltemal onmoontlik is.
Ons keuse om Orania om te ry was ’n besluit wat uit nuuskierigheid gebore is en ook vanuit ’n behoefte om as Afrikaners eerstehands te evalueer of die Orania-eksperiment die moeite werd is. Ons het bespreek om twee aande by die Oewerhotel op die oewers van die Oranje-rivier oor te bly wat ons dus ’n hele dag sou gee om Orania ’n bietjie deur te kyk. Dit was werklik lekker om by die hotel aan te kom en in Afrikaans ontvang en bedien te word. Die kamers word deur wit (is daar ’n ander kleur?) vrouens gediens en almal is baie vriendelik. Een ding wat my opgeval het was dat die DSTV kanale wat in die kamers beskikbaar is kykNET insluit! Die eerste aand verneem ons toe dat ons beslis nie die Koringfees, wat die volgende dag sou begin, moet misloop nie. Vol verwagting is ons toe die volgende oggend na ontbyt (bedien deur jong with meisies in Afrikaans) die stukke afgesit dorp toe om al die bekende bakens te gaan sien asook om die Koringfees by te bring.
Die mees prominente tent wat ons heel eerste op die feesterrein opval het was die een waarop geskryf staan ”SKEPPING OF EWOLUSIE”. Ons is natuurlik terstond die tent in om hierdie netelige vragie opgeklaar te kry.
Binne die tent word ons tegemoetgeloop deur ’n ouerige persoon wat lyk soos wat ek altyd vir Kobus de Klerk voorgestel het. Ek word toe meegedeel dat ewolusie ’n loutere spul klei is en dat die Bybel hulle enigste bron is waarop hulle hierdie verstommende navorsing gegrond het. Daar is selfs ’n klein kartonmodelletjie van Noag se ark en à la KdK word daar aan ons verduidelik hoe al die diere sommer in ’n japtrap in die ark ingepas is. Oom Kobus (dis nie dalk regtig jy nie Kobus?) het die replika vir my vasgehou sodat ek ’n foto kon neem.
Behalwe hierdie kreasionistiese aanbiddingstent was daar ongelukkig verder niks op die Koringfees om te sien nie en het ons gou na al die ander besienswaardighede op die dorp gaan kyk.
Weens die gebrek aan genoegsame (en waarskynlik gewillige) handearbeiders wat die huise se tuine in stand kan hou is al die mense se tuine maar in ’n haglike toestand en die finale indruk wat die dorpie by my gelaat het was een van agterlikheid en verval. Die prominensie wat oom Kobus se tent by die fees geniet het, was vir ons aanduidend daarvan van wat dit sou verg om in Orania te gaan woon. As ateïs sou ek waarskynlik nie ’n aandeel in die aandeelblok van Orania kon bekom nie omdat ek meegedeel is dat ’n mens ’n christen moet wees om in Orania te bly. Die grootste en mees prominente kerkgebou in die dorp is dan ook dié van Afrikaanse Protestantse Kerk, met ’n klein NG Kerk, Hervormde Kerk, Gereformeerde Kerk, Afrikaanse Baptiste Kerk, AGS Kerk en nog ’n hand vol ander.
Om dus op te som: om in Orania in te pas moet jou tuinboustandaarde drasties afwaarts aangepas word, moet jy jou logiese verstand afskakel en soos ’n verstandlose die onwetenskaplike dogma van kreasionisme en ander christelike feëverhaaltjies omarm. Ek is ’n trotse Afrikaner maar vir Orania sien ek wragtag nie kans nie! Ek waardeer Knysna nou sommer weer soveel meer en verduur maar die spul Ingelse – dis baie makliker as om terug in tyd in te beweeg en in Orania saam met ’n dorp vol Kowusse te gaan bly.
Groetnis
Thomas