Ons hou gewoonlik Desembers in Ballito aan die Natalse Noordkus vakansie. Dit het al ’n familietradisie geword en en die kinders probeer om elke tweede jaar almal kersfees daar te wees - die alternatiewe kersfese behoort aan die onderskeie skoonfamilies. Gewoonlik kies ons sommer koers vanaf Knysna deur die Transkei tot in KZN. Ons middelste seun moes egter hierdie jaar ’n rooi toga omgehang kry en so besluit ek en my beste helfte om ná die gradeplegtigheid sommer vanaf Stellenbosch, via Orania, Ballito toe te ry. Ja, foei tog dit nou die arme seun van ons wat hom verbeel het hy sien Jupiter se mane deur sy teleskoop totdat die Sê se resident astronoom (of is dit nou astroloog?) vir my daarop gewys het dat dit spiritueel intelligent gesproke heeltemal onmoontlik is.
Ons keuse om Orania om te ry was ’n besluit wat uit nuuskierigheid gebore is en ook vanuit ’n behoefte om as Afrikaners eerstehands te evalueer of die Orania-eksperiment die moeite werd is. Ons het bespreek om twee aande by die Oewerhotel op die oewers van die Oranje-rivier oor te bly wat ons dus ’n hele dag sou gee om Orania ’n bietjie deur te kyk. Dit was werklik lekker om by die hotel aan te kom en in Afrikaans ontvang en bedien te word. Die kamers word deur wit (is daar ’n ander kleur?) vrouens gediens en almal is baie vriendelik. Een ding wat my opgeval het was dat die DSTV kanale wat in die kamers beskikbaar is kykNET insluit! Die eerste aand verneem ons toe dat ons beslis nie die Koringfees, wat die volgende dag sou begin, moet misloop nie. Vol verwagting is ons toe die volgende oggend na ontbyt (bedien deur jong with meisies in Afrikaans) die stukke afgesit dorp toe om al die bekende bakens te gaan sien asook om die Koringfees by te bring.
Die mees prominente tent wat ons heel eerste op die feesterrein opval het was die een waarop geskryf staan ”SKEPPING OF EWOLUSIE”. Ons is natuurlik terstond die tent in om hierdie netelige vragie opgeklaar te kry.
Binne die tent word ons tegemoetgeloop deur ’n ouerige persoon wat lyk soos wat ek altyd vir Kobus de Klerk voorgestel het. Ek word toe meegedeel dat ewolusie ’n loutere spul klei is en dat die Bybel hulle enigste bron is waarop hulle hierdie verstommende navorsing gegrond het. Daar is selfs ’n klein kartonmodelletjie van Noag se ark en à la KdK word daar aan ons verduidelik hoe al die diere sommer in ’n japtrap in die ark ingepas is. Oom Kobus (dis nie dalk regtig jy nie Kobus?) het die replika vir my vasgehou sodat ek ’n foto kon neem.
Behalwe hierdie kreasionistiese aanbiddingstent was daar ongelukkig verder niks op die Koringfees om te sien nie en het ons gou na al die ander besienswaardighede op die dorp gaan kyk.
Weens die gebrek aan genoegsame (en waarskynlik gewillige) handearbeiders wat die huise se tuine in stand kan hou is al die mense se tuine maar in ’n haglike toestand en die finale indruk wat die dorpie by my gelaat het was een van agterlikheid en verval. Die prominensie wat oom Kobus se tent by die fees geniet het, was vir ons aanduidend daarvan van wat dit sou verg om in Orania te gaan woon. As ateïs sou ek waarskynlik nie ’n aandeel in die aandeelblok van Orania kon bekom nie omdat ek meegedeel is dat ’n mens ’n christen moet wees om in Orania te bly. Die grootste en mees prominente kerkgebou in die dorp is dan ook dié van Afrikaanse Protestantse Kerk, met ’n klein NG Kerk, Hervormde Kerk, Gereformeerde Kerk, Afrikaanse Baptiste Kerk, AGS Kerk en nog ’n hand vol ander.
Om dus op te som: om in Orania in te pas moet jou tuinboustandaarde drasties afwaarts aangepas word, moet jy jou logiese verstand afskakel en soos ’n verstandlose die onwetenskaplike dogma van kreasionisme en ander christelike feëverhaaltjies omarm. Ek is ’n trotse Afrikaner maar vir Orania sien ek wragtag nie kans nie! Ek waardeer Knysna nou sommer weer soveel meer en verduur maar die spul Ingelse – dis baie makliker as om terug in tyd in te beweeg en in Orania saam met ’n dorp vol Kowusse te gaan bly.
Groetnis
Thomas


Kommentaar
Hallo Thomas. Baie geluk met jou seun se Graad behaal. Dis verseker iets waarvoor 'n ouerhart baie dankbaar en op trots kan wees. Ek is Lapland wit. Dink jy dalk ekke met my Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke en Boeddhistiese liefde in my hart sou dalk ook 'n plekkie kon vind tussen die gekoringdes op Orania? Hoe pragtig dink jy sal 'n moskee, katedraal, sinagoge of 'n Hindoe tempel op die oewer van die Oranje teen skemer of sonsopkoms met sterretjies wat teen die donker fluweel bokant jou kop skitter lyk?
Thomas. Jou artikel is werklik teleurstellend. Ek woon nou 18 maande in Orania en beleef dit 100% anders as dit wat jy beskryf het. Jy is oneerlik deur te sê dat almal se tuine sleg lyk. Het jy enigsens gaan kyk hoe die tuine in ander dorpe in die harde Bo-Karoo streek lyk. Gaan kyk gerus in Hopetown, Britstown, Strydenburg, Petrusville en Philipstown. Hulle is almal in dieselfde streek (klimaat) as ons. Voorts het Orania groot gevorder om die Afrikaner se immorele verslawing aan goedkoop swart arbeid af te skud. Dus het ons nie tuine wat een of twee keer per week teen 'n hongerloon deur 'n swart arbeider versorg word nie, maar het ons tuine wat min onderhoud verg. Dat Orania se tuine in 'n 'haglike toestand' is soos wat jy beweer is nie waar nie.
Voorts is dit vir my altyd interessant wanneer mense wat nie met Orania wil assosieer nie (en dit al vooraf besluit het!) hierdie soort van kritiese houding inneem. Ek wonder hoe jy sal reageer op 'n besoek aan 'n Amish-gemeenskap (dus ook 'n redelik homogene gemeenskap met 'n spesifieke oogmerk) in Pennsylvania of 'n Eskimo-gemeenskap in Alaska. Sal jy hulle ook na jou besoek slegsê vir elke ding waaroor hulle van jou lewensbeskouing verskil of sal jy hulle respekteer en dalk selfs prys vir die wyse waarop hulle op hul manier eie 'n kultuur, tradisies, ens in stand hou?
Orania is 'n unieke gemeenskap wat duidelik deur die Grondwet toegelaat word. Ons is eerlik oor wie en wat ons is en waarvoor ons staan en wys dit graag vir die res van die wêreld. As ons waardes en dit waarvoor ons staan nie ooreenstem met dit waarin jy glo nie, is dit tog seker nie genoeg rede om ons sleg te sê nie.
Oor die stalletjie wat kreasionisme bevorder: Het ons dan nie geloofsvryheid in Suid-Afrika nie? Ek is self nie 'n 'kreasionis' nie en baie Oraniërs stem nie noodwendig saam met wat die stalletjie probeer oordra het nie, maar moet ons gevolglik mense verbied om hul standpunte te probeer bevorder net omdat ons van hulle verskil? Is dit opsigself nie eintlik maar eng nie? Is jy dus nie eintlik ook maar eng nie?
Oor 'n klomp ander opmerkings kan ek net sê dat jy dalk weer Orania moet besoek. Jou artikel is vol feitefoute (soos jou lys van kerke - jy noem meer as een denominasie wat nie eers in Orania is nie!!!).
Ek sou dink dat iemand wat so oopkop soos jy is darem ook verdraagsaam sal wees, maar ek sien nie veel verdraagsaam in jou artikel nie.
Dagsê Cornelius
Nee, jong ek dink nie jy gaan dit maak daar in Orania nie. Dis streng gereformeerd of niks. Op my vraag of jy ’n christen móét wees om daar te woon het die persoon nie eers my vraag verstaan nie. Sy antwoord was bloot dat jy aan enige van die bestaande kerke mag behoort, maar dat die APK die grootste en dus die logiese keuse is. Ek dink nie die konsep van ateïsme bestaan in sy denkraamwerk nie en verseker ook nie jou allesomvattende benadering nie.
Groetnis
Thomas
Beste Jaco
Baie dankie vir jou reaksie op my skrywe oor Orania. Ek het werklik gehoop dat iemand van Orania sou reageer sodat ’n mens ’n bietjie kan debatteer oor die punte wat ek aangeraak het.
Kom ons begin deur eers net ’n paar feitefoute, soos jy dit stel, reg te stel sodat dit minstens nie in die gedrang kom nie. Ek erken ruiterlik dat ek dat ek hiperbolies oordryf het met die aantal kerke wat ek daar gesien het. Ek het eintlik tong-in-die-kies gespot met die Afrikaner (en ek sluit my by hulle in) se swakheid om kerke en politieke partye te stig. Miskien kan jy vir ons sê hoeveel verskillende kerke daar regtig is. Ek aanvaar dat jou verwysing na ons ouens wat ons swart arbeiders ’n hongerloon betaal ook ’n hiperboliese oordrywing is. Die tuine van die huise het oor die algemeen ’n slegte indruk by my gelaat en ek volstaan met daardie waarneming. Ek neem egter kennis van jou stelling oor die droë klimaat en die uitdagings wat dit vir tuinbou in daardie geweste stel.
As jy Orania met die Amish-gemeenskap of die Eskimo’s vergelyk sou ek sê dat jy heel in die kol is. Ek het werklik vrede met mense wat baie sterk oor ’n saak voel en wil saamkoek dat hulle toegelaat moet word om dit te doen. Soos Voltaire wil ek ook sê: “Ek stem nie noodwendig met alles wat julle sê saam nie, maar ek sal julle reg om dit te s? met my lewe verdedig.” Die punt is dat ek sou verkies om nie daar te bly nie.
My groot probleem met my belewenis van Orania was egter die oënskynlike ondersteuning en onderskrywing van kreasionisme ten koste van die wetenskap. Die gevoel wat ek gekry het uit gesprekke met mense daar is dat geloof in die Bybel (en dan ook die APK se vertolking van die Bybel) die vereiste vir suksesvolle verblyf in Orania is. Waar die wetenskap bybelse geloof weerspreek word die wetenskap gekruisig en seëvier die godsdiens. Wat leer julle die kinders in die skole? Mag ek as ateïs daar kom woon?
Ek gun die Orania-inwoners hulle vryheid om te leef soos hulle wil. Ek het werklik met ’n oop gemoed gegaan om eerstehands te gaan sien wat daar aangaan. As Afrikaner het ek miskien te veel verwag. My negatiwiteit is heel moontlik eerder intense teleurstelling.
Groetnis
Thomas
Hi Thomas
Soos jy sê sien ek ook nie dat baie mense van Orania gereageer het op jou kommentaar nie. Ek dink dat hulle nie hulle verwerdig om op sulke goed te antwoord nie. Dink jy REGTIG daar is nie 'n God nie? Dink jy REGTIG dat alles uit NIKS uit ontstaan het? Soos die een ou gesê het: "It is embarrassing unscientific to speak of anything creating itself from nothing."
Doen jouself 'n guns en gaan kyk Kent Hovind se praatjies op Youtube.com.
NS Jy weet net so goed soos ek dat God bestaan ...
'n Uitstekende webtuiste vir Christene wat wetenskaplike antwoorde op die evolusie-vrae soek http://creation.com/
Thomas,
Dit is moelik om die motivering vir jou skrywe te verstaan. Goed, jy's nie te vinde vir die Christelike aspekte nie, maar hoekom die neerhaligheid? In jou antwoord op Jaco skryf jy "As Afrikaner het ek miskien te veel verwag", maar wat presies het jy dan verwag? Wat sou jou dan hogere Knysna-standarde tevrede gestel het? 'n Lowergroen oase vir ateiste in die andersins dorre Karoo miskien?
Jy praat verder van 'n "intense teleurstelling" en 'n mens sou dit dalk kon aanvaar as die res van SA perfek was, maar het jy opgelet dat verreweg die meeste dorpies in die platteland baie slegter af is Orania (met sy beperkte finansiële bronne, ens)? Eerlikwaar. Anders as die klein Vrystaatse plattelandse dorpie waar my ouers tans woon is Orania sigbaar besig om te groei en te floreer. Ja, dit is maar nog klein, maar hulle beweeg darem vorentoe en plaas van agteruit. Orania het 'n nuwe (en baie netjies) hotel, terwyl die hotel in my ouers se tuisdorp die laaste paar jare basies in 'n krot verander het ... om 'n eenvoudige vergelyking te tref.
Ek sou twee dinge aan jou voorstel, (i) herevalueer jou Afrikanerskap, en (ii) lees gerus Tel Aviv se geskiedenis op . Ten slotte, as grasperke en kerke (of liewer die afwesigheid daarvan) jou belangrikste kriteria is, is die reënboognasie dalk 'n beter opsie vir jou en jou nageslag.
Groetnis
Dagsê Johan
Jy maak ’n geldige punt oor die algemene agteruitgang van plattelandse dorpies en dat daar vooruitgang te bespeur is op Orania. Ek wil dit op geen manier probeer betwis nie. Ek dink in elk geval ons almal (ek inkluis) het dalk te veel gemaak van my negatiewe belewenis van die voorkoms van die tuine in Orania.
Die belangrike punt is tog sekerlik dat as ek ’n pragtige omgewing soos Knysna waarin ek tans woon, moet verruil vir iets anders moet daar tog sekerlik sterk motivering daarvoor wees. Ons het nou klaar besluit dat die natuurskoon my nie gaan lok nie en dus moet daar verder gesoek word.
Ek deel nie die visie dat die Afrikaner se voortbestaan afhanklik is van die sukses van Orania nie en sou dus nie die opoffering wou maak daarvoor nie. Om tussen “my” mense te leef sou moontlik ’n motivering kon wees. Ek het reeds in my eerste skrywe vertel hoe lekker dit was om in Afrikaans by die hotel ontvang te word en kykNET in my kamer te kon kyk. Daardie lekker is egter oorskadu deur die oënskynlike heersende dogma op die dorp dat die wetenskap ondergeskik is aan die bybel sovêr dit die waarheid omtrent natuurwette en die ontwikkeling van lewe op aarde aanbetref. My teleurstelling lê daarin opgesluit dat so ’n fundamentalistiese benadering die Afrikaner armer maak en van my ’n vreemdeling in daardie geledere sou maak.
Ek sien jy beveel aan dat ek my Afrikanerskap herevalueer. Gee my die kriteria waarteen ek daardie evaluasie moet doen en ek doen dit met graagte. As wit Afrikaanssprekende inwoner van Suid-Afrika word ek as Afrikaner deur die meerderheid mense binne en buite Suid-Afrika, geklassifiseer en is ek trots om so genoem te word. Persoonlik sou ek die beskrywing wou verander en die woordjie “wit” uitlaat maar buitelanders en “nie-wit” Suid-Afrikaners gaan dit nie sommer gou laat gebeur nie.
Ek vra jou maar soos wat ek vir Jaco gevra het: Wat leer julle die kinders omtrent evolusie en die wetenskap in die skole en sou ek as ongelowige mag aandele koop in die aandeleblokskema?
Groetnis
Thomas
Dagsê Thomas,
Of jy mag aandele koop of nie sal ek nie vir jou kan sê nie ... ek is maar net 'n trotse uitwoner.
Aangaande die evolusieleer wat jou so omkrap, kan ek maar net sê dat meeste ondersteuners vir EN teen evolusie nie regtig weet waarvan hulle praat nie. My persoonlike opinie is dat Darwin se teorie baie verklaar, maar dat die ontstaan van lewe nie 'n produk van 'n willekeurige proses was nie. Ek is 'n peptiedchemikus en ek kan jou verseker dat die suksesvolle sintese van 'n korrek gevoude proteïnmolekuul (en ander komplekse verbindings) in 'n "primordial broth" statisties nie moontlik is nie. Verder sien ek die Bybel nie as 'n wetenskaplike handboek nie, maar slegs 'n handleiding van wie die Here is en wat Hy van ons verwag. Punt. Chemie, fisika, biologie, evolusie ens is nie die Bybel se onderwerp nie. Noem my dus 'n teïstiese evolusionis as jy moet. Terloops, ek hoop werklik nie jy baseer jou ateïsme op die evolusieleer nie. Dit sal 'n ou foutjie wees, maar daai is 'n ander debat.
Maar om vinnig terug te kom na jou oorspronklike brief. Jy vra of die Oraniërs jou "andersheid" (as ongelowige en tuinbousavant) sal aanvaar. Snaaks dat dit jou so sal kwel, want jy toon absoluut geen respek vir hulle "andersheid" nie. Net omdat hulle sienings van joune verskil moet hulle nou as verstandloses uitgekryt word.
Nee wat, jy is beslis beter af in Knysna tussen die wonderlike Ingelse.
Groetnis.
Dagsê Johann
Dis duidelik dat jy nie debat wil voer nie maar net wil baklei. In jou woede het jy blykbaar nie my vrae raakgesien nie.
1) Wat is die kriteria waaraan ’n Afrikaner moet voldoen aangesien jy duidelik voel dat ek die titel Afrikaner nie waardig is nie?
2) Wat leer hulle die kinders oor evolusie in die skool?
Groetnis
Thomas
Thomas,
Ek het 'n paar maande gelede 'n debat met iemand, wat op 'n soortgelyke besoek op Orania was gehad. Sy opsomming was: Orania is nie lewensvatbaar nie want op plekke is die gras op die sypaadjie nie eers gesny nie. (Ek neem aan die dorpsraad hou elke huiseienaar verantwoordelik vir die verfraaiing van die sypaadjie voor sy huis soos dit ook maar in Pretoria die geval is.) Die debat oor lewensvatbaarheid (wat nou dalk nie jou punt is nie maar tog aansluit) is eintlik 'n baie maklike een, wat glad nie hoef te daal na die vlak van die gehalte van 'n mens se Afrikanerskap nie.
Ek ry gereelderig deur Delmas, so dis vir my 'n goeie vergelykende dorp, hoewel dit veel groter en oënskynlik veel welvarender behoort te wees. Nou, op Delmas is die gras op sypaadjies in die middedorp, waar die dorpsraad daarvoor verantwoordelik ook maar nie gesny nie. Die watersuiweringswerke op Delmas is van so 'n aard dat die inwoners daar al etlike kere cholera op gedoen het. Die rioolwerke op Delmas is van so 'n aard dat inwoners gereeld met rioolvuil in die strate moet leef. Op Orania waar die gras op die sypaadjies ook maar lank is, werk die watersuiweringwerke - die dorpswater is drinkbaar. Die rioolwerke werk goed. Orania gooi nie sy rioolvuil in die Oranjerivier soos die stad Witbank, of soos dit na die riooltransformasie bekendstaan as eMagglagenie, sy rioolvuil onverwerk in die Olifantsrivier gooi nie. Die Loskopdam is agv daarvan deesdae 'n slykgat.
Orania is in terme van vermoë om lewe te onderhou net soveel meer suksesvol as Delmas of selfs Witbank, of Kroonstad of Harrismith of ... noem maar byna elke plattelandse dorp in SA op, na die voltrekking van die riooltransformasie.
Naandsê Thomas,
Jy't self nog nie my vrae geantwoord nie, maar goed, kom ons los dit maar daar en ek beantwoord gou jou vrae hieronder...
1.a) Vir 'n groot meerderheid Afrikaners is Christenskap 'n definiërende aspek van hulle kultuur. Jy dink dit is "feëverhaaltjies", so daar is een punt.
1.b) Het jy al voorheen 'n brief in dieselfde trant as hierdie een oor jou Ingelse landgenote geskryf of los jy hierdie tipe vitriool slegs vir jou mede-Afrikaner? As jy nie menings/opmerkings oor jou mede-Afrikaners kan lug/maak sonder om dit met 'n snedige ondertoon te doen nie, dan twyfel ek werklik of jy enigsins respek vir hulle kan hê.
1.c) As 'n tuin en 'n tent genoeg is om jou na die Engelse te verjaag, wel, dan wys ditvbloot dat jou liefde vir die Afrikaner maar baie vlak lê, of hoe?
1.d) Dan sien ek die woord "wit" laat jou ongemaklik. As jy nog steeds, so op jou oudag en al, ongemaklik in jou eie wit vel is, dan sal die term Afrikaner en sy herkoms altyd vir jou 'n tipe verleentheid wees.
2.) Ek sal herhaal dat ek slegs 'n uitwoner is, so ek sit nie in die klaskamers nie. Ek vermoed kreasionisme mag op die spyskaart wees, maar wat sou jy daar wou sien? Net Darwin? Soos in die Engelse skole? 'n Gebalanseerde kyk na die sakie sal my voorkeur wees, maar nou ja, onderwysers is ook maar net mense met hulle eie sienings wat hulle dan aan kinders oordra ... en dit kry jy orals, nie net in Orania se skole nie, okay?
En dan wil ek my finale bydra tot hierdie belaglike "debat" afsluit deur te sê dat 'n mens kan nie 'n ordentlike debat verwag as die spreker die mense met wie hy nou kamtig wil debateer as "agterlik", "breinloos" ens beskryf nie. Los dus jou verontwaardigheid vir jou speelmaatjies in utopiese Knysna, asseblief.
O ja, miskien ook dit ... druk hierdie brief van jou uit op 'n groot A5 papier, raam dit, hang teen jou studeerkamermuur en lees dit elke dag. En vra jouself dan af of dit nou werklik nodig was of nie...
Groetnis.
Hallo Thomas
Ek reageer graag op jou skrywe. Ek het groot begrip vir jou waarneming, maar skryf omdat ek ‘n oop gemoed wil bepleit.
Ek is ‘n sogenaamde ‘uitwoner’ van Orania – ‘n lojale Oraniër wat (nog) nie in die dorp woon nie, maar reeds jare lid is van die Oraniabeweging. As Pretorianer kom ek nie gereeld in Orania nie hoewel ek die inisiatief met my hele hart ondersteun.
Soos jy, het ek die afgelope vakansie ook twee nagte in die Oewerpark oorgeslaap. Gemeen dit sou van opvoedkundige waarde vir my twee kinders wees om Geloftefees saam met die Oraniërs te vier, en wou graag weer ‘n klomp ou vriende groet. En dan natuurlik, soos jy, om myself op hoogte te bring van die stand van sake.
Ek het weer, soos in die verlede, besef dat die belewenis van die Oraniagemeenskap bepaal word deur mens se ingesteldheid. Ek is daar weg, vuur en vlam en opgewonde oor min of meer alles wat ek gesien het, vol planne oor hoe ek ‘n verskil kan maak. Vroutjie aan die ander kant is nie eers bereid om die moontlikheid van ‘volkstaat toe trek’ te bespreek nie. Die algemene indruk van die dorp is een van haar klagtes, en dan het sy natuurlik ook nie veel vertroue in my vermoë om finansieel ‘n lewe vir ons vier daar uit te beitel nie. Sy het darem haar standaarde!
Wat betref die algemene indruk wat die dorp op die besoeker laat (jy verwys daarna as een van “agterlikheid en verval”), kan ek ook nie met eerlikheid sê jy is verkeerd nie. Dit is so dat daar veel ruimte vir verbetering is, en dit sou nogal lekker gewees het as daar snags ‘n onsigbare hand deur die dorp kon sweef wat die dorp kon omtower na ‘n tweede Bishop’s Court of Waterkloofrif. Sommer met reën en al. Maar die Karoo is maar die Karoo en mense is maar mense.
Laat my toe om ‘n paar aspekte ‘ter versagting’ te noem:
1. Dit is so dat daar slordige erwe is, maar jy moet toegee dat daar ook baie mooi tuine is. Neem die Oewerpark as voorbeeld. Ek het twee jaar gelede ook daar oornag, en was hierdie keer absoluut verras om te sien hoe pragtig dit nou daar lyk. Jy kan tog nie hieroor stry nie!
2. Orania is ‘n totale gemeenskap met rykes en armes, flukses en luies, geleerdes en minder geleerdes deurmekaar. Om Orania met een van Pretoria se oostelike voorstede (of Knysna) te vergelyk, is gewoon nie billik nie. As jy wil vergelyk, betrek dan ook die plakkerskamp tussen Pretoria en Krugersdorp in jou vergelyking. En dan lyk die prentjie tog heel anders, nie waar nie?
3. Vir baie Oraniërs is dit sekerlik ‘n uitdaging om liggaam en siel aanmekaar te hou. Die dorp se ekonomie is nog klein en werksgeleenthede en groot salarisse is beperk. Laat ons eerder die arbeider respekteer vir ‘n dag se eerbare werk as om hom te verguis omdat hy, na ‘n dag se harde werk, nie met dieselfde energie in sy tuin inspring as jou tuinman wat dit voltyds doen nie. Minstens staan hy nie op die naaste hoek en bedel nie.
Wat jou besware teen sommige Oraniërs se houding jeens ateïsme en sake soos evolusie betref, deel ek jou sentiment. Dit is so. Daar is soms ‘n onverdraagsaamheid, veral teenoor nie-Christen Afrikaners. Asof ‘n ‘goeie’ Afrikaner by verstek ook Christen móét wees. En hoe arm laat dit ons as volkie nie! Tog sou ek eerder die algemene gevoel opsom as een wat waardering het vir die Christelike (ek sou verkies ‘gereformeerde’, maar dan word ek seker gekruisig) tradisie van die Afikanervolk, en nie noodwendig dat die verpligting om soos die res te glo op elke individu in Orania geplaas word nie.
My filosofie rondom die ding is dat die lewe uit pakkette bestaan. ‘n Huweliksmaat is ‘n pakket. Ek stem nie saam met alles wat sy dink of doen nie, maar die pakket is tog aanvaarbaar. Die ANC is ‘n pakket. Baie ANC-ondersteuners steun steeds die doodstraf en is ongelukkig oor korrupsie, maar stem tog vir die pakket. Orania is vir my so ‘n pakket. Ek stem lankal nie saam dat die aarde 6 000 jaar gelede binne 6 dae geskep is of dat mense en dinosourusse saam in die ark was nie. Ek ‘glo’ nie aan evolusie nie – ek weet evolusie is ‘n feit. Ek stem ook nie saam met sommige Oraniërs se onverdraagsaamheid jeens ateïste, agnostici, gays of wie ook al nie, maar uiteindelik ondersteun ek die Orania-pakket. Ek ondersteun selfwerksaamheid en die bou aan ‘n nuwe toekoms. ‘n Volk wat uiteindelik staat moet word. Want wat is die alternatief? Om vir die res van jou lewe as vreemdeling in ‘n vreemde land (met of sonder sonskyn) te leef? Of om uitsigloos en hopeloos jou lewensdae deur te bring onder ‘n korrupte, magsbehepde regering wat jou al hoe minder tuis laat voel in jou eie land? Glo jy regtig dat dinge onder die ANC nog ‘alles sal regkom’? Waar ‘n lewe in Pretoria my moedeloos laat, bied Orania hoop. En ek en jy kan ‘n positiewe verskil maak deur vir die wêreld te wys ‘ons is nie almal só nie’.
Om af te sluit, net so ‘n paar hoogtepunte van my besoek:
- Die Geloftefees was besonders – stigtelike Geloftediens en ‘n puik feesrede na die diens deur Willie Spies
- Die geleentheid om op hoogte van die nuutste ontwikkelinge te kom, veral die nuut aangekoopte besproeiingsplaas langs die Oewerpark
- Heerlike kuier saam met goeie ou universiteitsvriende
- 40 km met die bergfiets op ‘n grondpad al langs die oewer van die Oranjerivier vroeg in die oggend
- Oornaggeriewe wat pragtig skoon is, en sonder sleutel aangebied word.
Groete, kom koop vir jou eendag ‘n huis langs my!
Dagsê Appie
Baie dankie vir jou kommentaar op my skrywe oor die Koringfees op Orania. Nadat ek Johann Eksteen se reaksie op my antwoord aan hom gelees het, het ek tot die besef gekom dat die karikatuur wat baie vyandiggesinde nie-Afrikaners van die Afrikaner ontwikkel het sonder twyfel op die meerderheid van die in- en uitwoners van Orania van toepassing is en dat ek beslis geen aanklank tussen hulle sou vind nie.
En toe kry ek jou skrywe. Ek reageer graag op 'n paar aspekte.
1) Oor die tuine is daar alreeds te veel gepraat en ja daar is natuurlik die enkele tuine wat goedversorg voorkom maar dit is werklik in die minderheid. Die algemene indruk wat by my gewek is, is dié van verval. Is dit nie juis tekenend van ’n model wat nie werk nie?
2) Ek het reeds gesê dat my reaksie waarskynlik een van teleurstelling was. Ek het naïewelik gedink dat Orania se mense so hard sal probeer om hierdie eksperiment te laat werk dat hulle ’n lushof sou skep wat potensiële inwoners aanlok.
3) Ek kan my net indink hoe aaklig dit moet wees om na ’n dag se swoeg en sweet nog in die tuin te moet spit. Ek kan regtig nie verstaan hoekom ’n mens dit aan jouself doen as daar handearbeid (teen ’n menswaardige vergoeding) beskikbaar is nie. Die enigste rede is dat die beskikbare en gewillige handearbeid se velle waarskynlik effens donkerder as die gemiddelde inwoners s’n is. Wat vir my geweldig interessant was, was dat ek ’n hele aantal bruinmense by die drankwinkel opgemerk het – velkleur is blykbaar nie ’n probleem as ons iets uit hulle kan maak nie, maar speel wel ’n bepalende rol wanneer handearbeid uitgedeel moet word.
4) Ek is werklik bly om te hoor dat jy ook die wetenskap ondersteun. Ek het werklik begin dink alle in- en uitwoners van Orania verwerp die wetenskap ten gunste van godsdienstige wensdenkery.
5) Ek deel jou konsep van pakkette. Ek is ’n Afrikaner en deel daardie titel met ’n verskeidenheid ander mense wat baie anders as ek dink en redeneer. Alle in- en uitwoners van Orania is my mede-Afrikaners maar as ek so na Johann Eksteen luister dan kry ek die indruk hulle sien die saak nie so nie. Ongelowiges en ouens wat bietjie krities staan teenoor die Orania-ideaal is lyk my nie Afrikaners volgens hulle nie. Ek steur my egter nie aan sulke praatjies nie en sal myself as ’n Afrikaner beskou (en hulle daarby insluit) tot ek doodgaan.
6) Ek is sterk ten gunste daarvan dat Orania die reg moet hê om te bestaan en enigiemand moet die reg hê om met Orania te assosieer as hulle wil. Net soos apartheid en baie ander mooiklinkende ideale dink ek egter dat die ekonomiese werklikhede sodanig is dat dit nooit ’n reuse-sukses sal wees nie. Ek is oor die algemeen positief oor Suid-Afrika se vooruitsigte. Die ANC is loshande die swakste party om die land te regeer en gaan beslis nie regeer totdat Jesus weer kom nie. Ek is vol vertroue dat ’n waardegedrewe party (of koalisie) eventueel die botoon gaan voer en sal alles in my vermo? doen om persvryheid te bevorder en en waardestelsels na te jaag. Ek dink in elk geval dit is dagdromery om te dink Orania sal rustig voortbestaan as die res van SA in chaos verval.
Dankie vir die gesels. Met ouens soos jy staan Orania beslis ’n kans – klink my net jy sal bietjie aan jou vrou moet werk.
Groetnis
Hallo Thomas
Al weer ek, en my pa het nogal gewaarsku daarteen om altyd die laaste woord te probeer inkry! Genoeg is sekerlik gesê oor die tuine. Ek het dit al in ‘n publieke forum in Orania gesê: Gewone mense (soos ek en jy) trek agter ‘n beter lewe aan, nie een of ander ideaal nie.En solank as wat die dorp ‘n swak indruk skep op die verbygaande besoeker, sal dit nie as alternatief oorweeg word nie.
Ek wil veral reageer op jou derde punt, maar laat ek myself net eers in die rede val. Ek dink ons as vryheidsgesinde Afrikaners sal baie verder kom as ons ons houding jeens bruinmense verander. Ons deel per slot van rekening ons taal, deels ons geskiedenis en dikwels ook ons geloof, hoewel ons sekerlik reeds vir baie lank as afsonderlike gemeenskappe bestaan.Of hulle deel van die Afrikanergemeenskap is of wil wees, is ‘n debat vir ‘n ander dag. Persoonlik sal ek, as ek ‘n stadsvader was, enige bruin persoon wat hom- of haarself met my vryheidstrewe vereenselwig, wou verwelkom in die dorp. (Ek praat hier in my persoonlike hoedanigheid en nie namens die inwoners van Orania nie.)
Maar ter wille van die argument, laat ons die bruin gemeenskap beskou as ‘nie-Afrikaner’, of dan ‘volksvreemd’. Nou kom ons terug na jou punt 3 toe. Ons probleem in die verlede was juis dat ons gedink het ons kan mense tussen ons laat woon en werk en terselfdertyd hulle basiese menswees misken: die reg om eiendom te besit, om te stem, om verhoudings aan te knoop met wie hulle wil. Dis juis om te voorkom dat ons weer hierdie fout maak dat Afrikaners in Orania hulle eie werk móét doen! Dit gaan ook nie daaroor dat elke individu al sy eie werk moet doen nie, maar die gemeenskap moet sy eie werk doen. Om ‘volksvreemdes’ toe te laat om jou arbeid te verrig, is by verstek om jou reg tot selfbeskikking prys te gee. Dis die les wat apartheid ons geleer het.
Jou opmerking rondom die drankverkope is moontlik nie heeltemal deurdag nie.Wat hier gebeur is presies wat in Europa gebeur – ons beskerm ons werksgeleenthede vir ons eie mense en ons dryf handel met die buitewêreld. As een of ander slim Oraniër tegnologie uitgevoer het, het ons hom bewonder. Wat is die verskil of ons tegnologie of kos en drank na buite toe verkoop en die wins terugploeg in ons eie gemeenskap?
Ek dink die groot verskil tussen my en jou kom miskien uit in jou 6de punt. Jy is die dromer, die idealis wat glo dinge in Suid-Afrika gaan ten goede verander: ‘n Nuwe, denkende groepering sal uit die stof opstaan en die land regeer soos wat dit hoort. Korrupsie sal verdwyn, individuele en groepsregte (soos Afrikaanse skole en Afrikaanse geskiedenis) sal herstel en eerbiedig word, en ons sal basies almal ‘happily ever after’ leef. Ek is die pessimis wat om my kyk en sien: dinge vererger, dit verbeter nie. Ek sien ook nie die politieke wil of die vermoë om sake om te keer in ons huidige leierskorps raak nie.
Wat die voortbestaan van Orania betref indien Suid-Afrika werklik in chaos verval: Sê nou maar ons verval totaal en al in ‘n tipe van bende-kultuur waar die polisie oneffektief raak of self op groot skaal misdrywe pleeg. Al wat ek kan sê, is dat ek in so ‘n geval veel eerder deel wil wees van ‘n ‘bende’ eensgesinde Afrikaners as wat ek aan my eie lot oorgelaat is.
Groetnis, Appie
Dagsê Appie
Dankie, vir jou laaste skrywe. Daar is werklik min waarmee ek nie saamstem nie.
Jy het dalk ’n punt beet as jy sê dat ek ’n dromer is. Mag ek jou herinner dat dat Anton Rupert op sy dae gesê het: As jy nie ’n droom het nie is jy nie ’n realis nie.
Droom jy gerus voort van ’n vooruitstrewende Orania (met pragtige tuine!) en ondersteun die poging aktief as uitwoner. Ek onderneem om te bly droom en aktief insette te lewer waar ek kan om ’n suksesvolle Suid-Afrika te skep. Iewers tussen ons drome gaan ’n werklikheid ontvou wat hopelik ons stoutste verwagtinge gaan oortref.
Dankie, vir lekker sinvolle gesprek.
Thomas