Innibos-onderhoud: Albert Maritz gesels oor Die Van Aardes van Grootoor
Die Van Aardes van Grootoor, moontlik gemaak deur die LW Hiemstra-trust, die Dagbreek Trust en Media24.
"Hierdie skat uit die pen van Pieter-Dirk Uys is Innibos se opdragproduksie. Dertig jaar gelede het Die van Aardes van Grootoor Suid-Afrika verower. Dié stuk het toe vir twee jaar ononderbroke in teaters gespeel. Ons het toe heerlik vir onsself gelag en nou, in 2012, is dit weer tyd om des jare se lagkrane oop te draai. Kom kuier by die Van Aardes van Grootoor en beleef die familie-intriges wat oor drie dekades afspeel. Dit is ’n epiese 'vervolgverhaal' van ’n familie wat hulle erfgrond moet beskerm teen alles wat volksvreemd is. Hulle plaas alles wat preuts is op die spel en verdoesel in die proses ’n paar geheime. Maar jare later kruip en prut elke sondetjie uit elke holtetjie, waar dit altyd ingesteek en weggesteek is. Selfs die versteekte heilige koeie kom onder die loep, in seker een van die snaaksste toneelstukke wat nog plaaslik geskryf is." (Bron: Innibosprogram)
Naomi Meyer het Albert Maritz, regisseur, oor hierdie produksie uitgevra.
Hallo Albert, ek het die teks van Die Van Aardes van Grootoor onder oë gehad. Ek sien hierdie “epiese Boeredrama in 780 episodes in 2 landstale” was al in 1978 in die ateljee van die Baxter en is nou herskryf vir die Innibos-fees. Waarom die drama opwarm? Of is dit nie opgewarm nie, is dit iets nuuts? Sien mense in ’n ander era dieselfde era nou verskillend? Maar waarom juis nóú?
Die stuk is skrikwekkend aktueel. Die een of twee grappies wat weens die verloop van tyd nie meer so aktueel is nie, sal steeds waarde toevoeg in terme van vermaak, en ’n aangrypende ervaring van die periode. Onthou die gatskop-akteurs.
Dis ’n bekende beginsel dat dit nie gaan om ons wat lag vir onsself as vakmanne nie. Dan is daar ’n fyn lyn tussen die genieting wat jy vir die gehoor beoog, en jou eie genieting as vakman. Gedurende repetisies met hierdie baie spesiale groep mense is dit makliker gesê as uitgevoer.
Die teks lees baie snaaks, en dan is die uitdaging om dit so aan ’n gehoor oor te dra. Hulle gaan dit nie lees nie, maar kyk. So ons kommunikasie moet raak wees.
Die teks is met sy tong stewig in sy kies geskryf, van die intrapslag af al. Selfs die diskleimer is humoristies: “Soap opera must be played in all seriousness on every level”, en dan handel die stuk ook juis oor seep, KUX. (Hoe het Lux dit gevat?) Maar eintlik is hierdie satire op sy mees satiriese, as mens nou die definisie sommer hier van LitNet af kry, na aanleiding van wat Marius Ackermann oor die Zuma-skildery geskryf het - “Die woord satire se Latynse oorsprong is satura, wat letterlik ’slaaiemengelmoes’ beteken. Dit het eers later literêre betekenis gekry toe spotskrywers ’n mengelmoes vorme en style gebruik het om sosiale kommentaar te lewer. Die satirikus gebruik genadelose, skerp spot om wanpraktyke aan die kaak te stel, weliswaar met die langtermynoogmerk van regstelling of verbetering van die voorwerp van bespotting. Satire is dus in wese korrigerende sosiale kommentaar. Hoewel dit humoristiese elemente mag bevat, verskil satire van humor. Laasgenoemde wek ’n gevoel van deernis, dalk ’n kopskuddende laggie. PG du Plessis se meesterlike koöperasiestories is goeie voorbeelde hiervan. Daarteenoor is satire se spot bedoel om ongemak en spanning te skep.” In Die Van Aardes is daar vinnig al ’n “Ai, Marie, maar jou wit vel lyk pragtig ...” En sommer dadelik is die hele tafel gedek: die sosiale kommentaar binne ’n land wat obsessief is oor kleur, die verwysing na die “seep” van “sepie” ... Hoe verder mens met die teks vorder, hoe meer tragies word dit. ’n Tragiese komedie, ’n nostalgiese, landelike terugblik. ’n Woody Allen-stuk vir die Afrikaner. Of hoe? Wat is jou indrukke, as jy as regisseur die materiaal deurtrap?
Jislaaik, jy skryf so oor die stuk! Ek hang eintlik aan jou lippe! Ja, ons probeer ons koppe soveel moontlik kry om al die begrippe, parallelle, lae, innuendo’s en raakpunte – en dan ook om nie ernstig te raak nie. Die skrywer weet seker nie hoe slim hy is nie. En hy is soos ’n tightrope walker wat die hoogte bo die grond geniet. Die produk is hierdie omvangryke werk. Die skrywer het ook nóg ’n mikpunt gehad – om die “mirror of nature” voor die gemeenskap van die tyd te hou sodat hulle hulself kan sien.
Foto: Alwyn Mouton
Maak dit vir jou saak hoe die gehoor op hierdie opvoering sal reageer? Hoe dink jy sál hulle hierop reageer? (Terloops, hoe hanteer jy as regisseur dit as mense begin uitloop? Nie dat dit my voorspelling is vir Die Van Aardes nie, maar dit is ’n Afrikaanse gehoor, so mens weet nooit ...)
Ons eerste taak is om die gehoor te vermaak. Dit het my baie senuweeagtig. Pieter-Dirk Uys weet hoe. Hier sit ek met sy teks. En minder as ’n kwart van sy talent. En ek wil nie vir hom, of die gehoor, teleurstel nie. En net die tyd sal leer hoe suksesvol ons gaan wees. Dis vreesaanjaend.
Wat is vir jou lekker van die Innibosfees? Of nie so lekker nie? Was jy al daar?
Innibosfees is bekend daarvoor hoe goed hulle kunstenaars behandel. Hulle is ook algeheel onpolities. Daar is nie groepies en maatjies nie. Vir hulle is sukses aan die een kant, en ’n tevrede gehoor aan die ander kant, belangrik. En deel van hul denkwyse is: ’n gelukkige personeel is ’n suksesvolle personeel. En dit teen die agtergrond van harde, sobere sakebeginsels. So, “nice” is nie die enigste motto nie. Dinge soos begrotings moet ook nice uitwerk.
Lees ook Anna-Mart van der Merwe se onderhoud oor Die Van Aardes.