Innibos-onderhoud: Albert Maritz gesels oor Die Van Aardes van Grootoor

  • 5

Die Van Aardes van Grootoor, moontlik gemaak deur die LW Hiemstra-trust, die Dagbreek Trust en Media24.

"Hierdie skat uit die pen van Pieter-Dirk Uys is Innibos se opdragproduksie. Dertig jaar gelede het Die van Aardes van Grootoor Suid-Afrika verower. Dié stuk het toe vir twee jaar ononderbroke in teaters gespeel. Ons het toe heerlik vir onsself gelag en nou, in 2012, is dit weer tyd om des jare se lagkrane oop te draai. Kom kuier by die Van Aardes van Grootoor en beleef die familie-intriges wat oor drie dekades afspeel. Dit is ’n epiese 'vervolgverhaal' van ’n familie wat hulle erfgrond moet beskerm teen alles wat volksvreemd is. Hulle plaas alles wat preuts is op die spel en verdoesel in die proses ’n paar geheime. Maar jare later kruip en prut elke sondetjie uit elke holtetjie, waar dit altyd ingesteek en weggesteek is. Selfs die versteekte heilige koeie kom onder die loep, in seker een van die snaaksste toneelstukke wat nog plaaslik geskryf is." (Bron: Innibosprogram)

Naomi Meyer het Albert Maritz, regisseur,  oor hierdie produksie uitgevra.

Hallo Albert, ek het die teks van Die Van Aardes van Grootoor onder oë gehad. Ek sien hierdie “epiese Boeredrama in 780 episodes in 2 landstale” was al in 1978 in die ateljee van die Baxter en is nou herskryf vir die Innibos-fees. Waarom die drama opwarm? Of is dit nie opgewarm nie, is dit iets nuuts? Sien mense in ’n ander era dieselfde era nou verskillend? Maar waarom juis nóú?

Die  stuk is skrikwekkend aktueel. Die een of twee grappies wat weens die verloop van tyd nie meer so aktueel is nie, sal steeds waarde toevoeg in terme van vermaak, en ’n aangrypende ervaring van die periode. Onthou die gatskop-akteurs.

Dis ’n bekende beginsel dat dit nie gaan om ons wat lag vir onsself as vakmanne nie. Dan is daar ’n fyn lyn tussen die genieting wat jy vir die gehoor beoog, en jou eie genieting as vakman. Gedurende repetisies met hierdie baie spesiale groep mense is dit makliker gesê as uitgevoer.

Die teks lees baie snaaks, en dan is die uitdaging om dit so aan ’n gehoor oor te dra. Hulle gaan dit nie lees nie, maar kyk. So ons kommunikasie moet raak wees.

Die teks is met sy tong stewig in sy kies geskryf, van die intrapslag af al. Selfs die diskleimer is humoristies: “Soap opera must be played in all seriousness on every level”, en dan handel die stuk ook juis oor seep, KUX. (Hoe het Lux dit gevat?) Maar eintlik is hierdie satire op sy mees satiriese, as mens nou die definisie sommer hier van LitNet af kry, na aanleiding van wat Marius Ackermann oor die Zuma-skildery geskryf het - “Die woord satire se Latynse oorsprong is satura, wat letterlik ’slaaiemengelmoes’ beteken. Dit het eers later literêre betekenis gekry toe spotskrywers ’n mengelmoes vorme en style gebruik het om sosiale kommentaar te lewer. Die satirikus gebruik genadelose, skerp spot om wanpraktyke aan die kaak te stel, weliswaar met die langtermynoogmerk van regstelling of verbetering van die voorwerp van bespotting. Satire is dus in wese korrigerende sosiale kommentaar. Hoewel dit humoristiese elemente mag bevat, verskil satire van humor. Laasgenoemde wek ’n gevoel van deernis, dalk ’n kopskuddende laggie. PG du Plessis se meesterlike koöperasiestories is goeie voorbeelde hiervan. Daarteenoor is satire se spot bedoel om ongemak en spanning te skep.” In Die Van Aardes is daar vinnig al ’n “Ai, Marie, maar jou wit vel lyk pragtig ...” En sommer dadelik is die hele tafel gedek: die sosiale kommentaar binne ’n land wat obsessief is oor kleur, die verwysing na die “seep” van “sepie” ... Hoe verder mens met die teks vorder, hoe meer tragies word dit. ’n Tragiese komedie, ’n nostalgiese, landelike terugblik. ’n Woody Allen-stuk vir die Afrikaner. Of hoe? Wat is jou indrukke, as jy as regisseur die materiaal deurtrap?

Jislaaik, jy skryf so oor die stuk! Ek hang eintlik aan jou lippe! Ja, ons probeer ons koppe soveel moontlik kry om al die begrippe, parallelle, lae, innuendo’s en raakpunte – en dan ook om nie ernstig te raak nie. Die skrywer weet seker nie hoe slim hy is nie. En hy is soos ’n tightrope walker wat die hoogte bo die grond geniet. Die produk is hierdie omvangryke werk. Die skrywer het ook nóg ’n mikpunt gehad – om die “mirror of nature” voor die gemeenskap van die tyd te hou sodat hulle hulself kan sien.


Foto: Alwyn Mouton

Maak dit vir jou saak hoe die gehoor op hierdie opvoering sal reageer? Hoe dink jy sál hulle hierop reageer? (Terloops, hoe hanteer jy as regisseur dit as mense begin uitloop? Nie dat dit my voorspelling is vir Die Van Aardes nie, maar dit is ’n Afrikaanse gehoor, so mens weet nooit ...)

Ons eerste taak is om die gehoor te vermaak. Dit het my baie senuweeagtig. Pieter-Dirk Uys weet hoe. Hier sit ek met sy teks. En minder as ’n kwart van sy talent. En ek wil nie vir hom, of die gehoor, teleurstel nie. En net die tyd sal leer hoe suksesvol ons gaan wees. Dis vreesaanjaend.

Wat is vir jou lekker van die Innibosfees? Of nie so lekker nie? Was jy al daar?

Innibosfees is bekend daarvoor hoe goed hulle kunstenaars behandel. Hulle is ook algeheel onpolities. Daar is nie groepies en maatjies nie. Vir hulle is sukses aan die een kant, en ’n tevrede gehoor aan die ander kant, belangrik. En deel van hul denkwyse is: ’n gelukkige personeel is ’n suksesvolle personeel. En dit teen die agtergrond van harde, sobere sakebeginsels. So, “nice” is nie die enigste motto nie. Dinge soos begrotings moet ook nice uitwerk.

Lees ook Anna-Mart van der Merwe se onderhoud oor Die Van Aardes.

  • 5

Kommentaar

  • Albert Maritz het laat weet dat daar op 20 Junie 2012 'n "deurloop" van hierdie produksie in Melkbosstrand plaasgevind het - 'n voorsmaak van wat vir die feesgangers by Innibos wag. Die kommentare van Kapenaars wat bevoorreg genoeg was om dit reeds te sien, het agter die skerms ingestroom en volg hierna. Groete, Naomi Meyer, LitNet inhoudsbestuurder

  • Wat 'n heerlike voorreg om sommer so in die middel van 'n repetisievak oor die denkbeeldige vierde muur te loer en kyk wat 'n teaterspan se harde werk oplewer. Daar in 'n gewone gemeenskapsaal tussen rekwisiete, dekor en drade maak akteurs nog steeds magic. Ek was veral beindruk deur die twee manlike akteurs. Beide gebruik fisiese komedie fyn en doeltreffend. En watter ander gesiene Afrikaanse ikoon sal kop onderstebo haar pantie vir die gehoor wys omdat haar rol as 10jarige dit vra? Anna-Mart ... Respek!

  • Avatar
    Marietjie Rossouw

    Dit was vir my ongelooflik hoe relevant die teks nog steeds is, en hoe siek die Afrikaners was en seker nog steeds is.  Omdat dit opgedien word as 'n klug/komies, sluk mens dit seker makliker.  Die regie  is van hoogstaande gehalte.  Die spel deur akteurs is op n goeie peil in die vroeë stadium.  Die casting kon nie beter nie, dit is asof daardie rolle vir elkeen 'n week gelede geskryf is.  

  • Avatar
    Cornell Ellis

    Dit was werklik vir my een van die snaaksste komedies wat ek in ‘n lang tyd gesien het!  Ek dink die keuses van akteurs vir die verskillende rolle was veral briljant.  Buiten die feit dat almal van hulle uitstekend is, het hulle ook hul verskillende rolle briljant vertolk.  Ek het bitter min foute gesien – kan nie my indink dat 7 rehearsals nog nodig is nie! Dis ‘n lang play, my boude was bietjie deurgesit, MAAR die play het my deurtentyd “vasgevang”.  Wat ook nice was is dat die storie nie “vanselfsprekend” is nie…daar is die heeltyd draaie (skandes!) en wendings wat jou aandag hou en jou “skok”! Die tv opnames tussen-in het die play ook ‘n lekker gees gegee…ek kon relate!   Overall, baie nice!  Sterkte, ek is seker hierdie ene gaan ‘n sell-out wees!

  • Die van Aardes van Grootoor uit die pen van die welbekende Pieter-Dirk Uys  word as 'n epiese Boeredrama ge-“klassifseër”. Die stuk is saamgestel uit vyf  bedrywe en is in twee van ons landstale, naamlik Afrikaans en Engels geskryf.  Dit is ‘n redelik lang stuk aangesien dit die verhaal van die Van Aardes van  Grootoor, oor ongeveër vyftig jaar uitbeeld. Die stuk is die eerste maal in  1976 by die Baxterteater in Kaapstad opgevoer en die rolverdeling het Mary  Dreyer, Antoinette Kellermann, Lida Botha, Christopher Galloway, Marthinus  Basson en Bill Curry ingesluit. Die regie vir die stuk gedurende die tyd was  deur Dawie Malan behartig.

     In egte sewentigsstyl en eie aan die politiek van daardie jare is die Van  Aardes in Oktober 1978 deur die publikasieraad onder seksies a, b, c  en d  van die Wet verbied. Na die klaarblyklike harde werk van Mannie Manim, groot  gees van die Markteater en ‘n span regsgeleerdes, insluitende Koos de la Rey is  opvoerings hervat. Die visuele verwysing, fotos van Suid-Afrikaanse premiers,  het die verkramptes duidelik geirriteër en na ‘n meer “polities korrekte”  benadering deur die fotos te verwyder, kon die volk weer rustiger slaap en die  Van Aardes voortboer. Dit genadelik, nadat die uitspraak van die woord KUX ook  aanstoot gegee het aan die sedebewakers van die tyd.

    Indien jy dit sou gaan sien, waar dit hierdie jaar by die Innie Bos-fees in  Nelspruit op die planke gaan, is ‘n sagte kussing ‘n aanbeveling. Maak jou reg  vir ‘n lang sit, ongeveer twee ure, waarvan elke sekonde die moeite werd is en  nie ‘n oomblik van verveeldheid sal bring nie. Hierdie Pieter Dirk Uys stuk is  slim geskryf met vlymskerp dialoog en verskuilde juweeltjies uit vervloë jare.  Laasgenoemde, eksklusief vir diegene wat die land se politieke verloop  gedurende die rustelose negentien honderds ken. Die regie vir die Innie Bos  Fees word deur Albert Maritz behartig en sy keuse van spelers grens aan  briljantheid. Onder sy bekwame hande kom die rolverdeling, bestaande uit Noxolo  Bodlani as (Aia), Marion Holm (Dolla/Madame), Esther Von Waltsleben  (Mimi/Brenda), Pierre Van Heerden (John Firestone/Tertius), Anna-Mart Van Der  Merwe (Ouma/Elana) and De Klerk Oelofse (Fanie/Evert), herlewe die Pieter Dirk  Uys stuk in al sy glorie. Die bedrywe word afgewissel met visuele projeksies  van die ‘bekende” KUX seep van Uys, tot groot vermaak van die gehoor, en ook om  aandag te behou tydens die oorgang na die volgende bedryf. Dit lei ook die  gehoor deur die tydsfases van die stuk. Hieronder ‘n kort uiteensetting van die  vyf bedrywe, soos deur my ervaar.

    “Daardie Kersdag op Grootoor” In die 1ste Bedryf wat gedurende 1928  afspeel beraam Dolla en Mimi om die geliefde erfplaas Grootoor uit die hande  van die Engelse “verdrukker”, John Firestone neem.  Met Fanie se uitlating “Gee Grootoor vandag aan ons, en ons sal Grootoor groot maak. Die wêreld  sal kniel voor die magdom van ons grond, en mense sal tot verganklikheid weet:  Ons, die Van Aardes woon hier!” word die wiel aan die rol gesit. Tussen  man.vrou en skoon suster smeë hulle ‘n komplot van lis, lus, seks en korrupsie  wat John Firestone laat afstand doen en eienaarskap van Groot Oor terug in die  hande van die Van Aardes plaas.

     

    “Die wonderwerk van Grootoor” Dis twintig jaar na Grootoor terug is  onder die Van Aardes se beheer.Die tweede bedryf open met die Van Aardes se  woelige kroos Elana en Tertius. Elana is ‘n bol van energie en heel moontlik  die “eerste” kind wat aan hiper aktiwiteit gelei het. Anna-Mart vertolk die rol  van die jeugdige Elana Van Aarde met totale oorgawe en passie. Tante Mimi wat  nie wel is nie en kla van vermoedelike gal probleme, ten spyte van aanduidings  dat sy vêr swanger is. Elana tydens ‘n gesprek met Tertius, haar broer vermoedelik  gebore uit die Firestone debakel, reken, “Die buurkinders sê mos Tannie  Mimi stoot goem.” Sprekend van die gepaste stilswye van die ouers van  daardie jare. Dit terwyl die kinders alles waarneem en bespreek in hulle soeke  na die waarheid. Die skuur brand af maar ‘n nuwe Van Aarde kom aan op Groot Oor  wanneer Mimi skielik geboorte gee aan ‘n dogter. “Ai, Fanie, ek sê dit knaend  en ek sê dit weer: Dis ‘n ongesonde gewoonte om so mekaar se badwater te deel”,  is al wat Dolla kan uitkry.

     

    “Die Tragedie van Grootoor”, Die 3de Bedryf, speel af in1958.  Hierdie is die mees dramatiese bedryf wat ‘n paar van die Van Aardes eerder tot  sterwe bring, of versteurd laat. Die Van Aardes is weereens in finansiële knyp  en die Landbank “wil” nie help nie. Tertius, op ‘n patetiese dertig jarige  ouderdom beoog om van die plaas te vlug. Met ‘n donker sy, waar hy vroue beroof  van kledingstukke om dit self te dra en graag wil ballet sien hy geen ander  uitweg nie en bieg teenoor Elana. Dolla vat dit alles saam in ‘n gesprek met Fanie  na Mimi se afsterwe, “Tertius! Ek haat daardie misoes van toeka se dae! Dis  oor daardie bedorwe mofkind dat ons vandag sit waar ons sit! Ons sit waar ons  sit omdat hy nie by die huis kan sit nie!”  In die bedryf sterf Mimi  van ‘n gebroke hart na ‘n bekgeveg met Elana. Fanie kom om aan hand van sy  seun, altans die optel “mof” soos hy dit stel in sy laaste oomblikke, nadat  Tertius hom met ‘n spuitnaald doodsteek. Aia word as “heldin” doodgeskok nadat  sy alle blaam op haar neem en haar gehoorstuk in die elektriese kragprop  indruk. Nodeloos om te sê, die dramatiese gebeure laat ‘n erg versteurde Dolla  en peinsende Elana agter met Tertius wat die onbekende invlug. In die sluitings  toneel praat Elana met Grootoor en lê die fondasie vir die vierde en ook laaste  bedrywe neer. “O Grootoor, hoor my toekomskoor! Die bloed van vandag sal  bly kleef aan die rand van my silwer beker van geluk en voorspoed en my laat  onthou! Ek sal nooit trou, net leef vir jou! Gee my net ‘n teken, O Grootoor,  my plaas van verlange, my plaas van verdriet, my plaas van verderf! O Grootoor,  gee my jou oor!”
     

    “ ’n Gemaskerde Tuinparty op Grootoor” Dis 1968 en Elana is ferm in  die saal op Grootoor en in haar half Hitler-agtig drag speel die rol van ‘n  dikterende, snedige en harde vrou. Ene Evert Van Graan(De Klerk Oelofse) loop  erg deur onder haar lis en lus totdat ene Brenda (Esther Von Waltsleben) haar  verskyning as prikkelpop en skoonheids koningin maak. Sy natuurlik as die  liefdeskind van Fanie en sy skoonsuster Mimi. Wanneer Tertius, nou half  politikus, sakeman en donkerder as ooit, sy verskyning maak gebeur dinge  vinnig. Alles in die gejaag om beheer oor Grootoor. Elana soek egter  ondersteuning van Tertius maar die wil vyftig persent van Grootoor vir Brenda  hê wat hom afpers met onsedelike fotos van hom in haar besit. Elana se misnoeë  hiermeë is duidelik as sy hom toesnou, “Judas! Moet ek nou my bloedgeld –  my lewenswerk deel met ‘n skoonheidslet? Oor haar dooie liggaam en glo my dit  kan maklik gereël word! Dink jy ek het vir soveel jare alleen geveg, sodat jy  met jou skynheiligheid die mat onder my blad kan kom uitruk? Nee! Nooit!”  Nietemin, ek wil nie te veel verder uitlaat nie, na vele bedrog en  korrupte handelinge wen Elana die “onderhandelinge” en bekom Grootoor wat tot  ‘n groot verassing in die finale bedryf lei.

      “Vaarwel aan Grootoor” – In die Finale Bedryf maak die misterieuse Madame  Daphne Quazilezi haar verskyning. Grootoor is intussen verkoop en sy is die  nuwe eienaar. ‘n Baie ou Dolla wat lyk asof sy ‘n slagoffer van stadige “rigor  mortis” is groet die ander met,  “Hallo my dogter … oppas vir die hare  … Brenda my liewe mens! Oppas vir die wang … hoe bedaard lyk jy nou. Is dit wat  Prima Protea eis: wegsteek en verbloem? Elana kinta, en hoe gaan dit met jou?  Vergeet nou van hierdie skokkende Grootoor-debakel en kom woon by ons in Kannes  op die Riviera. Die fraaiste ou huisie, net 35 kamers en ek bad chronies in  bokmelk. Wie is die nuwe eienaar van Grootoor? Iemand wat ons ken”?

     

    In die sluitingstonele probeer Elana vir oulaas om  Madame Daphne  Quazilezi te oortuig dat sy Grootoor namens haar sal bestuur. Dit terwyl die  res van die gesin die huis plunder van waardevolle items wat die nuwe baas op  Grootoor nie benodig. Daphne, “You amaze me, Miss van Aarde. You’re so  calm. You’re a squatter now and yet you still manage to play the Empress. Can  anyone be that arrogant”? Elana, “ But I can dream it. My dreams are all I have  left and they will keep me alive!”
     

    Hierdie is na my mening ‘n “moet sien” en ek is oortuig dit gaan ‘n storm by  Innibos Kunstefees tot gevolg hê. Die wat dit te siene gaan kry in die ATKV  Nelspruit Staatsteater gedurende 26 tot 30 Junie vanjaar gaan vermaak van  gehalte kry. Buiten die uitstekende rolverdeling is die produksie van Albert  Maritz ‘n duidelike wenner gemeet aan die reaksie van die gehoor gedurende  tydens gisteraand se volle opvoering van die stuk in Melkbosstrand se Buiteklub  Saal.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top