Fokusberoep: Towenaar

  • 0

Wil jy 'n towenaar word? Geon Nel gesels oor wat dit beteken om ’n kulkunstenaar te wees.

Hallo Geon, hoe sou jy jou beroep beskryf?

Sjoe, ek dink nie mens kan werklik my beroep beskryf nie – dit is iets wat ’n mens eerstehands moet ervaar! Elke dag is ’n nuwe ervaring en avontuur in ’n wêreld waar enigiets moontlik is.

Hoekom het jy besluit om ’n towenaar te word?

Ek dink nie ek het regtig “besluit” om ’n towenaar te word nie – dit is iets wat ek maar net altyd gedoen het. Dit is een van my vroegste herinneringe in my lewe. ’n Mens kan seker sê dat die kulkunste my gevind het en nooit laat los het nie.

Hoe gaan mens te werk om ’n towenaar te word? Waar kan mens daarvoor studeer?

Die maklikste manier vir my was om by die biblioteek te begin en daar te vra vir enige “magic”-boeke met toertjies in. Ek kan onthou toe ek omtrent nege of tien jaar oud was het ek geboer in biblioteke op soek na “magic”-boeke. Maar vandag is dit ’n bietjie makliker met die internet. Daar is honderde webwerwe wat jou beginners en meer gevorderde toertjies leer, maar my gunsteling bly boeke. Die boeke is nie altyd goedkoop nie, maar die hoeveelheid kennis en toertjies daarin kan jou ’n leeftyd bybly. Daar is toertjies wat ek nou nog doen vanuit my eerste boeke! Dan kom die oefening. ’n Mens moet soveel as moontlik oefen en oefen en oefen! Dis maar soos met enigiets waarin jy goed wil wees in die lewe: harde werk en deursettingsvermoë, dan groei die vrugte groter.

Dan is daar ook die College of Magic in Kenilworth, waar daar klasse aangebied word in die kulkunste.

Wat is die beste aspek van jou werk?

Die beste aspek van my werk is om mense se gesigte te sien nadat ek ’n suksesvolle towerkunsie gedoen het. Dis vir my baie lekker om te sien hoe mense dit geniet en hulself kan verloor in ’n wêreld waar enigiets moontlik is. Ek geniet dit ook dat elke vertoning anders is, want elke gehoor se energie is verskillend.

En die slegste?

Die slegte aspek is dat as ek die verkeerde toorwoorde sê verskyn daar paddas en ander vreemde goeters in my sakke!

Oor watter karaktertrekke moet ’n mens beskik om ’n towenaar te word?

Jy moet baie deursettingsvermoë hê, asook baie geduld. Van die towerkunsies vat baie lank om reg te kry, en ’n mens moet dit die heeltyd oefen. Jy moet ook leer om te hou daarvan om met mense te werk – dit maak nie saak of jy skaam is nie. Ek was baie skaam gewees, maar towerkunsies het my geleer om nie weg te kruip in my eie dop nie.

As jy nie ’n towenaar was nie, wat sou jy graag wou doen?

As ek nie ’n towenaar was nie, sou ek graag ’n argeoloog of ’n dokter wou gewees het.

Wie het jou geïnspireer om ’n towenaar te word? Het jy ’n mentor gehad?

Toe ek jonger was, was daar ’n towenaar met die naam Martino in Suid-Afrika. Ek het een van sy vertonings gesien en wou baie graag weet wat hy doen. Dis toe dat ek in die biblioteke gaan rondsoek het na boeke om te leer oor die kulkunste. Toe ek klaar was met hoërskool, het ek vir twee jaar Londen toe gegaan om verder te leer daaroor. Ek het in die grootste speelgoedwinkel in Londen gewerk en towerkunsies vir hulle gedoen. Op die ou end het ek die meeste van wat ek doen maar vir myself geleer!

Wat is die een ding wat niemand vir jou op universiteit vertel het van towenaar-wees nie?

Op universiteit het niemand my gesê dat mens so hard moet werk om ’n towenaar te wees nie. Oefen, oefen, oefen en nog ’n keer oefen! Niemand het my ook vertel dat daar sommige mense is wat regtig bang is vir towenaars nie. Maar wees gerus, daar is niks om voor bang te wees nie!

Wat is die toekoms vir towenaars in Suid-Afrika?

Die toekoms vir towerkunste in Suid Afrika lyk baie belowend. Daar is nog nie so baie mense wat dit hier doen soos oorsee nie, dus is die mark nog redelik oop!

Het jy enige raad vir jongmense/leerders wat towenaars wil word?

Daar is ’n groot mark vir die towerkunste in ons land, maar daar is so baie internasionale mense wat dit deesdae op televisie doen, soos Dynamo en David Blaine, dat mense jou heeltyd met hulle vergelyk. As ’n mens dus hier wil uitstaan, moet jy ekstra hard werk om te wys dat jy net so goed kan wees!

Waar tree jy weer op en wanneer?

Op die oomblik is ek besig met ’n volwasse kulkunsproduksie vir Aardklop, maar daarna wil ek so Oktober, November en Desember ’n paar vertonings vir die jongeres te doen. Datums is nog nie vasgemaak nie, maar hou julle oë en ore oop!

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top