Dismotief: Taal as vertrekpunt

  • 0

Goeiedag Richardt, hoe gaan dit? Hoe kom die voorbereiding vir die Dismotief-produksie aan?

Die laaste twee dae of wat was maar dol met logistieke voorbereidings. Ons is basies twee mense (ek en Steven Bosch) wat die installasie en promosie van die uitstalling behartig. Daar is dus baie rondgejaag tussen ramers, drukkers en hardewarewinkels in Potchefstroom en Johannesburg – dié tipe ding. Aan die ander kant was Franco Prinsloo en Pieter Bezuidenhout meestal in Pretoria besig met repetisies van die uitvoering saam met die instrumentaliste – die eerste repetisies in Potchefstroom is van Sondag af.

Kan jy asseblief uitbrei oor die aard van die produksie? Dit is 'n unieke benadering om poësie, kuns en musiek te kombineer in een tema – hoe werk hierdie samestelling en wat het dit geïnspireer?

Ons gebruik taal as vertrekpunt, aangesien taal betekenis konstrueer en sodoende die mens se verstaan van die wêreld vorm. Gedigte van Tertius Kapp, Loftus Marais en Wyn Roux word visueel geïnterpreteer deur kunstenaars Steven Bosch, Abri de Swardt en Richardt Strydom, en Pieter Bezuidenhout, Braam du Toit en Franco Prinsloo het die musiek gekomponeer.

Die interdissiplinêre inslag van Dismotief bring ander vorme van verbale en nieverbale interpretasies na die tafel. Dit is nodig om ’n konstruksie soos identiteit vanuit verskillende invalshoeke te ondersoek, veral manlikheid en witheid – beide hegemoniese posisies wat as metanarratiewe funksioneer.

’n Interdissiplinêre samewerking bring interessante en onverwagse interpretasies na die tafel en só lewer die verskillende bydraes nie net kommentaar op die tema nie, maar ook dikwels op mekaar. 

Met Dismotief het ons nie voorskriftelik te werk gegaan nie – elkeen van die deelnemers kon die tema op sy eie wyse interpreteer. Die kunstenaars en komponiste het op hul beurt ’n eie interpretasie van die poësie gemaak. Sodoende is daar gefokus op subjektiewe ervarings eerder as ’n strewe na ’n universele uitdrukking.

Dit is wel belangrik om die onderskeie bydraes in die konteks van ’n wisselwerking en diskoers te sien. Saam is dit ’n kollektiewe reaksie wat vervleg is in ’n fisiese, sosiale en kulturele konteks en ruimte.

Die produksie word beskryf as "’n transgressiewe alternatiewe uitdrukking van Afrikanermanlikheid". Dit is 'n onderwerp wat in die afgelope jare al telkens en in verskeie vorme bespreek en ondersoek is. Hoe hoop julle om 'n nuwe of vars blik op die onderwerp te bied wat op ’n unieke manier tot die diskoers sal bydra?

Ek dink daar is ’n generasie-aspek wat met Dismotief na vore kom – behalwe in Afrikaanse rock-musiek, is dit gewoonlik dieselfde ou stemme wat opklink. Daar is dié wat hul mag tot agency gebruik om in die publiek en die media namens, of eerder vír, die Afrikaner te praat. Hierdie groep bestaan hoofsaaklik uit vermaaklikheidsterre (met politieke aspirasies) of aspirantpolitici (met populistiese aspirasies).

Daar is natuurlik beduidende bydraes vanuit akademiese kringe, maar ongelukkig vind hierdie insigte selde hul neerslag buite die bestek van wetenskaplike publikasies.

Vanuit die literatuur is Antjie Krog se eerlike introspektiewe bevraagtekening van haar identiteit sekerlik sonder gelyke – dit het dan ook deels as inspirasie vir Dismotief se subjektiewe inslag gedien.

Verder hoop ons dat die interdissiplinêre aard van Dismotief sal bydra tot unieke ervarings van die onderwerp en dat ons binne ons onderskeie dissiplines ’n bydrae tot die geheelbeeld kan maak.

Waaruit het die inspirasie om 'n projek met hierdie tema juis nou aan te pak gespruit, spesifiek met betrekking tot "vrae oor waar ons as jongmense vandag in ons identiteitsbeskouing staan"?

Ek dink die afwesigheid van aangewese Afrikaanse rolmodelle het ’n groot invloed op jonger mense se identiteitsbeskouing. Hoeveel vind aanklank by die selfaangestelde middeljarige manlike stryders se retoriek van “benoud en behoud”? Ons is beduidend “nie almal so nie”.

Ek moet wel benadruk dat ons met Dismotief nie daarop aanspraak maak om ’n nuwe stem vir Afrikaners en Afrikanermans te wees nie, maar eerder ’n ruimte wil skep waarbinne vrye heterogene uitdrukking kan plaasvind.

Waarom is daar besluit om te fokus op spesifiek Afrikanermanlikheid, in teenstelling met byvoorbeeld bloot jong Afrikanerskap of Afrikanervroulikheid? Julle noem dat 'n mikpunt is om die Dismotief-produksie as 'n tipe "franchise" uit te bou. Wat word hiermee bedoel?

Ek dink vele sal saamstem dat daar sedert 1994 ’n inkeer onder Afrikaners was. In die media lees mens van hierdie groep se ontnugtering, vervreemding, losmaking, gevoelens van uitsluiting, neerslagtigheid, inwaartse migrasie, ’n gevoel van magteloosheid en ’n verlies van status en nasionale identiteit, en ek dink dit is deels hier waar dit aansluit by die vorige vraag, veral wat betref die afwesigheid van aangewese rolmodelle. Dit is ook dikwels deur die media wat ons wysgemaak word dat daar veral nie plek is vir die stem van wit mans nie. (Ironies genoeg word hierdie artikels op een na almal deur ouer wit mans geskryf.)

Ja, daar is ’n mate van marginalisering, maar daar is ruimte in die marges. Wat dit dalk moeilker maak, is dat ons nie daaraan gewoond is om in die stem van die marge te praat nie. Persoonlik dink ek wel daar is ’n plek vir die stem van jong Afrikaanses in Suid-Afrika, maar dit kan nie die stem van meerderwaardigheid wees nie – dit moet ’n stem van deelnemendheid wees.

Die idee van Dismotief staan in teenstelling met die huidige leitmotief in die Suid-Afrikaanse samelewing – die leidende idees oor Afrikaans, Afrikanerskap en identiteit. Dus begin Dismotief met die subjektiewe insigte van jong mans, want ironies is dit ’n meer radikale vertrekpunt.

Die gedagtes rondom Dismotief strek egter wyer as hierdie een produksie, met die idee om die produksie in die toekoms as ’n tipe franchise uit te bou en daardeur die stemme van meer Afrikaanses te betrek – ’n Dismotief met vroueskrywers, ?filmmakers en ?kunstenaars is byvoorbeeld een logiese opvolg. Met Dismotief wil ons poog om in die woorde van Wyn Roux en Tertius Kapp ’n alternatiewe stem vir Afrikaners of Afrika-ners, Afrikaanses en Afrikaans-wees-in-Afrika te vind en uit te druk.

In die beskrywing van Dismotief word gestel: "Dismotief neem kennis van die feit dat witheid in Suid-Afrika met agterdog bejeën word." Kan jy moontlik hierdie stelling kwalifiseer in terme van hoe dié "agterdog"spesifiek konkreet opmerklik is in die Suid-Afrikaanse samelewing? Wie bejeën witheid in Suid-Afrika met agterdog? In watter mate bejeën wit mense in Suid-Afrika mekaar en hulself met agterdog?

Volgens Antjie Krog is elke kreatiewe werk geskep in Suid-Afrika, met sy geskiedenis van kolonialisme en apartheid, polities van aard (De Vries, 2012).1 Binne hierdie konteks is dit dus natuurlik dat witheid met agterdog bejeën word – en sekerlik nog meer binne die konteks van sosiale interaksie in alledaagse omgang.  Omdat witheid histories hegemonies is, is dit dikwels vir mense vreemd om marginale witheid te verstaan en moeilik om dit te artikuleer, wat kan lei tot onsekerheid en agterdog.

Onder die digters, kunstenaars en komponiste wat betrokke is, tel Loftus Marais, Tertius Kapp, Braam du Toit en ook jyself. Hoe het julle besluit wie by die projek betrokke moet wees? Was deelnemers onmiddellik geïnteresseerd in die onderwerp, of het dit oortuiging gekos?

Ons het hoofsaaklik tematies te werk gegaan en deelnemers genader wat die Afrikaanse identiteit en manlikheid of tradisies op verbredende wyse in hul werk aanspreek. Loftus Marais se poësie het byvoorbeeld sterk queer narratiewe, en daar is Braam du Toit se vernuwende werk vir Afrikaanse teaterproduksies en Tertius Kapp se Rooiland, wat witheid ver-ander (othering) en so meer. Verder het ons ook geografies gedink oor ’n noord-suid-wisselwerking.

 

1 De Vries, W. “Lees wyd, maan Krog.” Geraadpleeg 2012-09-29.
 

Klik hier om die Dismotief-webblad te besoek.

Kliek hier vir die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees program.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top