Onderhoude | Interviews

 
Die revolusie in die kombuis: Kinders wat kook
Titel: Kook met Josh
Samestellers:
Josh Thirion
Uitgewer:
Struik Lifestyle
ISBN:
9781432300074

 


Klik hier om Kook met Josh te koop by Kalahari.com.

 

 

 

 

 Kook met Josh, 'n kook- en aktiwiteiteboek saamgestel deur die negejarige Josh van Kaapstad, het pas by Random House Struik verskyn. In die boek vertel Josh self dat een van sy gunstelingprogramme Masterchef Australia is. Het Jamie Oliver dit 'n paar jaar gelede begin, dié ding dat tienerjariges en kinders nou kos maak? Naomi Meyer het met Martjie Malan by 'n kookskool vir kinders in Stellenbosch hieroor gesels.

Hallo Martjie, baie dankie vir die geleentheid om te gesels. Ek sien jy is betrokke by ’n kookskool in Stellenbosch met die naam Food by Kids. Vertel asseblief vir ons lesers wie julle is.

Food by Kids is ’n kookskool vir kinders. Ons wil kinders graag opgewonde maak oor kos! Ek is ’n gekwalifiseerde onderwyseres en kosliefhebber. Ek kombineer my liefde vir kinders en vir kosmaak in een kombuis. Ek het ’n opvoedkundige kookkurrikulum geskryf wat by die ontwikkelingsfases van kinders pas. Hierdie besondere kurrikulum fokus daarop om kinders die lewenslange vaardighede van kosmaak en gesonde keuses aan te leer. Na-skoolse  kookklasse is ontwerp om vir kinders die geleentheid te gee om aktief in die kombuis te leer en terselfdertyd pret te hê. Klasse is interaktief en vind in ’n ondersteunende omgewing plaas; so moedig dit ’n positiewe en gesonde uitkyk op kos aan. Aktiwiteite is ouderdomsgerig en kinders kan besluite neem, resepte volg en ’n voltooide gereg op die tafel sit. Kinders bou aan hul selfbeeld en leer om onafhanklik en veilig in die kombuis te werk.

Die naam van jou kookskool spreek reeds vanself: hier is kinders wat kosmaak. Sou jy sê hierdie is ’n betreklik nuwe ding – het Suid-Afrika aangesteek by die res van die wêreld (dalk  het Jamie Oliver jare gelede die ding aan die gang geskop), en nou is daar nog programme soos Junior MasterChef Australia ook nog, wat mense se aandag hierop vestig?

Ja, ek dink dit is ’n nuwe tendens in Suid-Afrika. Nou kry kinders en ouers die geleentheid om anders te dink oor kinders wat kosmaak. Dit is so deel van ons lewe, dit is iets wat ons elke dag moet doen, kosmaak en eet. Kinders word nou net meer deel van die kombuisaktiwiteite. Ek noem dit die kosmaakrevolusie vir die gesin.

Watter soort vaardighede leer kinders wanneer hulle self kosmaak?

Kinders kry ’n unieke geleentheid om te leer, te ontwikkel en te speel in die kombuis – dit is ’n opvoedkundige omgewing. Kinders ontwikkel persoonlike vaardighede soos sosiale en emosionele vaardighede; dit bou karakter en moedig ’n positiewe selfbeeld aan. Hulle ontwikkel ook sensoriese en motoriese vaardighede. Hulle word blootgestel aan verskillende teksture, geure en smake en leer so om ’n groter verskeidenheid kosse te probeer. Ook die vermoë om probleme op te los en kreatief te wees. Al hierdie vaardighede dra by tot goeie selfvertroue. Nou kan kinders sê: “Ek het dit self gemaak!”

Op watter ouderdom is kinders gereed om los te trek met kosmaak? Dis seker nie veilig vir ’n tweejarige om in ’n kombuis losgelaat te word nie?

Die kombuis is nie ’n veilige omgewing nie, maar met toesig kan kinders van so klein as twee jaar wel toegelaat word om saam kos te maak. Hulle kan eenvoudige goed doen, soos om die slaaiblare te breek, die opgesnyde bestanddele by te voeg of te meng en roer. ’n Gemors is gewaarborg en kan skoongemaak word, maar die pret en ontwikkeling is ewigdurend.

Sou kinders geïnteresseerd wees in ’n kookboek wat deur ’n kind saamgestel is, soos die boek Kook met Josh? Of is dit eerder mammas wat deur so ’n boek geprikkel sal word – “as hy dit kan doen, kan my kind dit ook doen”)?

Beide kinders en mammas kan deur hierdie boek geïnspireer word. Dit gee die geleentheid vir mammas om ’n eenvoudige, stap-vir-stap-resep vir hul kinders te gee om te maak, of sommer self iets uit die boek te maak waarvan kinders sal hou.

Dankie vir die geleentheid om met LitNet te gesels!

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address