Die Godheid en die afgode
Terwyl Chris “Gilgamesh” Dippenaar, behalwe dat hy nou sommer kulturele (wat op aarde het dit nou met Godsdiens te make) evolusie sommer in dieselfde hutspot as Darwinistiese biologiese evolusie wil inboender met ’n enkele bewering, in ’n praatlose stadium verval het waar hy as reaksies net skakels na vorige onsamehangende en irrelevante skrywes van hom plaas, poog Angus darem nog om sy onsinnighede een of ander geloofwaardigheid verleen met nóg demonstrasies van onbegrip.
Maar, só openbaar hulle vir ons ál meer en meer die onsinnige menings waarop hul agnostisiteit gebou word – en kry ons die geleentheid om dit vir hulle in die korrekte perspektief te plaas. Kortom, ek verwelkom dat hulle standpunte en menings aan die lig moet kom, sodat daarmee gedeel kan word.
Dus, soos die ou gesegde op Ingels lui – bring it on, stupid boys!
Angus sê uit onkunde dat hy meen ek sal saamstem dat die Griekse gode die skepping van die menslike verbeelding was en dat dié ook rekenskap van mense sou eis – en daarmee wil Angus voorgee dat God óók ’n skepping van die verbeelding, is. Dit is natuurlik nie korrek nie. As Angus die Godsdienstige ontwikkeling (alhoewel hy seker eerder daarna sal wil verwys as Godsdienstige evolusie) begryp het, sou hy nie sommer só ’n lukrake onjuiste stelling maak nie.
Die ontwikkeling van Godsdiens is as volg:
Godsdiens is die “gereedskap”, die werkswyse, die formaat, waarop die mens die Godheid qua mens kan ervaar en beleef, net soos die motorkar die wyse is waarop die mens die roumateriaal van die natuur kan benut – God Self staan dus geheel onafhanklik van die menslike pogings tot diens aan Hom deur middel van Godsdiens. Die doel van Godsdiens is dus om tot God te kan nader.
Eerstens, wat empiriese, beskikbare data aanbetref, word dit dikwels deur Godsdienstige antagoniste buite rekening gelaat dat alle religieë hul antieke oorsprong in die ware Godsdiens had. Só ook met die antieke Grieke en Romeine en Sumeriërs en wat ook al. Na die sondvloed, het slegs (wat mense aanbetref) dienaars van God oorgebly. Hulle was die afstammelinge van Noag en sy seuns, baie lank voor die vestiging van die Joodse volk, die Israeliete.
Die mense het na die vloed verspreid geraak, maar toe weer met tyd saamgegroepeer. Die enigste bekende God aan hulle, was juis die ware God. Maar weens gebrek aan toewyding, het daar sektes ontstaan, deurdat menslike gebruike en tradisies verstrengel geraak het met ware Godsdienstige dogma en praktyke van die tyd. Algaande het daar leemtes ontstaan in die religieuse mondering van antieke volke, waar mites oor afgode en aanverwante praktyke geskep is, om daardie leemtes te vul. Daarna het die groot verwarring by Babel ontstaan, en mense is nog meer versprei, en die tendens van religie skepping rondom die vervagende kennis van die ware God en die aanverwante religieuse praktyke, het meegaande toegeneem en in hierdie verband staan juis die Sumeriërs (let op, Gilgamesh!), die Egiptenare, Grieke en die Romeine, uit. Hulle is almal afsplinter religieë van wat eens 'n ware Godsdiens van hul antieke voorouers, was.
Vandaar die panteon van afgode en religieuse praktyke, met daar iewers tussenin, verwysings na die ware God, iewers as ’n Opperwese van een of ander beskrywing, in al die religieë oor die ander gode, maar duidelik het mense alle belangrike direkte Een-tot-een kontak met God verloor, en het hulle al meer toegespits op die leemte-vullende afgode, deur hulle self gemaak. Hierdie afgode moes instaan vir wat hulle geweet het, die ware God voor bekend is en vandaar die deïteite-hoedanighede aan afgode toegeken, wat hulle van die ware Godheid, afgewentel het. Só is afgode gebou op onvolledige kennis basis van die ware God.
Alle religieë soos ons dit dus kan opspoor, het hul oorsprong in die ware Godsdiens, en nie andersom nie. Daarom, die afgode van dié antieke volke was pogings om die ware God daarmee te simboliseer, deur aan dié gode ware Goddelike hoedanighede gebaseer op kennis van vervloë dae, te probeer toeken. Vandáár die ware Goddelike kenmerke aan afgode, naamlik boetedoening en verantwoording van skepsels – wat ook aan Griekse afgode gekoppel word – kenmerke van die ware God en nié ’n skepping van die verbeelding nie – die afgod is mensemaaksel, maar die hoedanighede, basies van Goddelike oorsprong.
Groete,
Kobus de Klerk