Agnostici se pogings om God te ontleed
Agnostici maak soms die onsinnige en lasterlike bewering (uit onkunde en onbegrip) dat God die skepsel is van die mens verbeelding.
In die eerste plek blyk die onsinnigheid daaruit dat as dit só sou wees, sou die mens ’n god formeer wat die mens behaag en nie andersom nie. Dit sou ook ’n god wees wat geen rekenskap eis van die mens nie. Maar nou ja, só ’n bewering kan maar net van agnostici kom want hulle kan werklik nie emosioneel logies dink nie en omdat hulle juis die slagoffer is van ’n leuen (wat hulle laat twyfel in die bestaan van God), maak nóg ’n leuen (dat God die skepping is van die mens) dan mos vir hulle nie saak nie, want die ware God verg dat die mens Hóm behaag en verg juis verantwoording van Sy skepsels.
Verder meen sommige agnostici dat die mens God geskep het en kwansuis dieselfde kenmerke vertoon as die mens, naamlik die behoefte om aanbid te word, gesien in die mens se strewe na eer, mag, rykdom en roem. Maar wat die agnostikus wat só redeneer, uit die oog verloor, is juis die paradoksale konsekwensie van só ’n drogredenasie – God verbied juis dié dinge en verwag juis dat die mens net eer en aanbidding aan Hom toebring, as God. Indien God die skepsel van mense was, sou daardie god mos nie teen sy eie skeppers ageer nie – daardie god kan ook niks vermag nie. Weer eens maar ’n drogredenasie van agnostici wat in die eerste plek ’n probleem het om logies te dink.
Nóg so ’n verstommende drogredenasie wat van álle logika ontbloot is, is Angus se bespiegeling dat God vir die mens kwansuis ’n sogenaamde diaboliese slagyster vir die mens gestel het deur vir hulle te sê hulle mag nie gaan eet van die boom van kennis van goed en kwaad, nie. Duidelik verstaan Angus nie wat dié boom simboliseer nie, naamlik ’n verbod op deelname aan ongehoorsaamheid aan God, wat aanleiding sal gee tot deelname aan allerlei ander sondes, nie, maar ook begryp Angus, met dié onlogiese analogie (sy leuen), ook nie dat, as iemand vir ’n ander 'n slagyster stel, gaan hy mos nie die ander een waarsku oor presies waar die slagyster is, nie? Maar dít is een te veel vir dié dwaas se begripsvermoë en só sien ons maar net nóg ’n futiele, basislose en insiglose agnostikus om homself te dwing om nie in God te glo nie.
God dien nie Sy dienaars nie, maar andersom – die dienaars dien God en omdat God barmhartig en goedertieren is, is Hy die mens diensbaar met alles wat Hy aan die mens beskikbaar stel – die natuur en die wetenskap (nie die gedrogtelike onbewysbare ateïstiese deel van die wetenskap, nie).
Die Ou Testament en die aanskakeling van die Nuwe Testament daarby, is net eenvoudig een te veel vir die agnostikus. Hulle verstaan nie dat die bestrawwings wette van die Ou Testament vir gruwel sondes, juis deur Jesus Christus die HERE kom volbring is nie – want Hý het álle Ou-Testamentiese strawwe vir die gruwel sondes op Homself kom neem en het aan die kruis op Golgota die prys van die dood daarvoor betaal – sodat elkeen wie Hom aanneem, nie dieselfde lot sal tref nie, maar sal lewe. Maar diegene wat Hom verwerp, sál die straf van die dood smaak in die plek daarvoor bestem, dáár waar net ’n geween en gekners van tande en smart sal wees – Gehenna, die hel. Niks het dus verander nie, net God se Genadeverbond – die Messias – bied aan almal die geleentheid om die doodstraf te vermy. Dus, wanneer ons huisgodsdiens hou, leer ons graag van alles uit die Ou Testament en verduidelik ons graag hoe die HERE Jesus vir ons reeds kom instaan het – en kinders hóú daarvan!
Maar die pogings van die agnostici, juis in die futiliteit daarvan om God op onsinnige maar lasterlike wyse te probeer diskrediteer, is juis die aanduiding van daardie verterende psigose van selfbedrog waaraan hulle ly, wat gulsig is sodat dit elke dag gevoed moet word met leuens – talle daarvan.
Groete,
Kobus de Klerk