Agnostici se pogings om God te ontleed

  • 7

Agnostici maak soms die onsinnige en lasterlike bewering (uit onkunde en onbegrip) dat God die skepsel is van die mens verbeelding.

In die eerste plek blyk die onsinnigheid daaruit dat as dit só sou wees, sou die mens ’n god formeer wat die mens behaag en nie andersom nie. Dit sou ook ’n god wees wat geen rekenskap eis van die mens nie. Maar nou ja, só ’n bewering kan maar net van agnostici kom want hulle kan werklik nie emosioneel logies dink nie en omdat hulle juis die slagoffer is van ’n leuen (wat hulle laat twyfel in die bestaan van God), maak nóg ’n leuen (dat God die skepping is van die mens) dan mos vir hulle nie saak nie, want die ware God verg dat die mens Hóm behaag en verg juis verantwoording van Sy skepsels.

Verder meen sommige agnostici dat die mens God geskep het en kwansuis dieselfde kenmerke vertoon as die mens, naamlik die behoefte om aanbid te word, gesien in die mens se strewe na eer, mag, rykdom en roem. Maar wat die agnostikus wat só redeneer, uit die oog verloor, is juis die paradoksale konsekwensie van só ’n drogredenasie – God verbied juis dié dinge en verwag juis dat die mens net eer en aanbidding aan Hom toebring, as God. Indien God die skepsel van mense was, sou daardie god mos nie teen sy eie skeppers ageer nie – daardie god kan ook niks vermag nie. Weer eens maar ’n drogredenasie van agnostici wat in die eerste plek ’n probleem het om logies te dink.

Nóg so ’n verstommende drogredenasie wat van álle logika ontbloot is, is Angus se bespiegeling dat God vir die mens kwansuis ’n sogenaamde diaboliese slagyster vir die mens gestel het deur vir hulle te sê hulle mag nie gaan eet van die boom van kennis van goed en kwaad, nie. Duidelik verstaan Angus nie wat dié boom simboliseer nie, naamlik ’n verbod op deelname aan ongehoorsaamheid aan God, wat aanleiding sal gee tot deelname aan allerlei ander sondes, nie, maar ook begryp Angus, met dié onlogiese analogie (sy leuen), ook nie dat, as iemand vir ’n ander 'n slagyster stel, gaan hy mos nie die ander een waarsku oor presies waar die slagyster is, nie? Maar dít is een te veel vir dié dwaas se begripsvermoë en só sien ons maar net nóg ’n futiele, basislose en insiglose agnostikus om homself te dwing om nie in God te glo nie.

God dien nie Sy dienaars nie, maar andersom – die dienaars dien God en omdat God barmhartig en goedertieren is, is Hy die mens diensbaar met alles wat Hy aan die mens beskikbaar stel – die natuur en die wetenskap (nie die gedrogtelike onbewysbare ateïstiese deel van die wetenskap, nie).

Die Ou Testament en die aanskakeling van die Nuwe Testament daarby, is net eenvoudig een te veel vir die agnostikus. Hulle verstaan nie dat die bestrawwings wette van die Ou Testament vir gruwel sondes, juis deur Jesus Christus die HERE kom volbring is nie – want Hý het álle Ou-Testamentiese strawwe vir die gruwel sondes op Homself kom neem en het aan die kruis op Golgota die prys van die dood daarvoor betaal – sodat elkeen wie Hom aanneem, nie dieselfde lot sal tref nie, maar sal lewe. Maar diegene wat Hom verwerp, sál die straf van die dood smaak in die plek daarvoor bestem, dáár waar net ’n geween en gekners van tande en smart sal wees – Gehenna, die hel. Niks het dus verander nie, net God se Genadeverbond – die Messias – bied aan almal die geleentheid om die doodstraf te vermy. Dus, wanneer ons huisgodsdiens hou, leer ons graag van alles uit die Ou Testament en verduidelik ons graag hoe die HERE Jesus vir ons reeds kom instaan het – en kinders hóú daarvan!

Maar die pogings van die agnostici, juis in die futiliteit daarvan om God op onsinnige maar lasterlike wyse te probeer diskrediteer, is juis die aanduiding van daardie verterende psigose van selfbedrog waaraan hulle ly, wat gulsig is sodat dit elke dag gevoed moet word met leuens – talle daarvan.

Groete,
Kobus de Klerk

  • 7

Kommentaar

  • Ek is seker jy sal met my saamstem dat die Griekse gode saam met Zeus op die berg Olimpus die skepping van die menslike verbeelding was. Hierdie gode was besonder wreed teenoor die mens en  het rekenskap van hom geverg. Indien dit te voorspoedig met iemand gegaan het, het hulle hom swaar gestraf. Jou toets vir ’n mens-geskape god hou dus nie water nie. Jou beskuldiging van "onsinnigheid" en dat ek nie "emosioneel logies dink" nie is uiters onvanpas.

    Die dae van Gould se bewering dat die Godsdiens hom besig hou met "the rock of ages" en die wetenskap met "the age of rocks" is verby. Die wetenskap ondersoek nou gode en religie. Ondersoeke en toetse op die menslike brein het bewys dat religie die skepping is van die menslike verbeelding. Jou beskuldiging van lasterlikheid is dus ook netso onvanpas.

  • O, ek verstaan nie wat die simboliek van die boom is nie? Wat 'n lekker grap! Dit lyk my die pennie begin byjou so stadigaan val: vergelyking, beeld, metafoor, simbool en mite is semanties met mekaar verbind. Een van die dae stem jy met my saam dat die storie van die pratende slang in die Bybel 'n fabel is.

    Natuurlik plant ons almal bome en waarsku ander om nie die vrugte daarvan te pluk nie. Die boere doen dit met hulle oeste, die ma doen dit met haar koekieblik. En dan is sy verbaas as dit die volgende dag leeg is.
     
    Ek wonder nou wie eintlik ly aan "daardie verterende psigose van selfbedrog"?
  • Chris Dippenaar

    Kobus, ek dink jy het hulp nodig. Ek vra dat jy hierdie 'link' volg en die program aflaai en met ’n oop gemoed daarna luister. Miskien, net miskien sien jy en verstaan jy hoekom jou geprekery altyd op dowe ore sal val. Net miskien kan jy die respek begin toon aan ander se oortuigings wat jy verwag ander moet toon aan joune.

  • Kobus de Klerk

    Chris,

    Dankie vir jou link. Dit blyk maar weer die ou probleem te wees - die gebrek aan spiritualiteit en Spirituele intelligensie, vandaar die wanbegrippe en onbegrip. Julle gebrek hieraan is die oorsaak van julle onrealistiese en abnormale gevoel van "hollow consolations of faith".

    Hoe arrogant om te reken ek het die hulp nodig! Terwyl julle die mense is wat soos drank- en dwelmverslaafdes in ontkenning lewe en self enige hulp weier omdat julle kwansuis geen hulp benodig nie (welwetende dit is snert) en dan vir ander verwys om hulp te gaan soek in 'n kroeg en in Hillbrow se dwelmhole!

    Jou aanname dat my 'geprekery' op dowe val, is pure wensdenkery - dit is nie eens in jou geval waar  nie, wat nog te sê talle ander wat werklik besin en verootmoedig. As my 'prekery' selfs vir jou net op dowe ore sou val, sou jy nie so verbete probeer het om my te alle koste verkeerd te bewys nie - maar wat ek sê en skrywe, sink wel deeglik by jou in, en jy veg verbete daarteen – moet my nie verder probeer flous nie. Jy is ervare daarin om jouself te flous, nie vir my nie.

    Kobus

  • Kobus de Klerk

    Angus,

    Jou bewering "Ondersoeke en toetse op die menslike brein het bewys dat religie die skepping is van die menslike verbeelding"...

    Jy lieg.  Plaas gerus die skakels sodat die inligting nagegaan kan word. By voorbaat weet mens dat as jy 'n ding lees en dit in jou eie woorde moet weergee, dan moet dit geverifieer word, want dit is bog.

    Kobus de Klerk.

  • Hello Gilgamesh,   

     
     (‘n laat reaksie)   
     
     
    Daar is begrip vir jou beskuldigings gemaak teen Kobus maar dan beperk ek my kritiek en ondersteuning net tot die aanbieding van Kobus se bespreking oor Pew en die ontleding wat daaruit volg dat die Christendom 335 miljoen mense sterk is in Sjina, aangesien Pew se verslag baie duidelik is oor die metodiek gevolg en die bevindinge wat redelik daarvan kan afgelei kan word. Dit is ongelukkig dat daar nie net met dit kon volstaan word nie.   
     
     Vergelyk dit ook met wat Angus onlangs hier aangevoer het, naamlik, “Mohammed eens op ’n tyd ’n kardinaal Schmalfuss in die Roomse kerk was” en as Mohammed herverskyn het, terwyl sy briewe oor fables, mites weer uitstekend was.   
     
     Terwyl die oorgrote meerderheid van wat Cornelius Henn al hier publiseer het met ‘n sak sout gelees moet word en daar wanvoorstellings sonder end is en Henn nie eers ‘n enkele vraag van Dirk D direk kon antwoord nie.   
     
     Comestor, Jan Rap, as teenpool van ongelowige en gelowige is nog voorbeelde van deelnemers wat met diep sekerheid vele onwaarhede al hier publiseer het.   My eie oortredinge in die verband word oorgelaat aan my kritici.   
     
     Daar is dus iets baie menslik aan die gang hier en die aard daarvan moet ondersoek word.   In ‘n vorige brief het ek verwys na die werk van Mercier en Sperber http://www.dan.sperber.fr/wp-content/uploads/2009/10/MercierSperberWhydohumansreason.pdf wat aanvoer dat argumentering word gedryf deur “bevestigings vooroordeel” en dat die doelwit van die argument nie as ‘n doelwit het om jouself te toets nie maar juis om bewyse te selekteer wat ‘n reeds geformuleerde argument te staaf. Daar word dus met die end in sig begin en terugwaarts gewerk.   
     
    Nog ‘n aspek is wat genoem word die "Dunning-Kruger Effect", wat onkunde, selfbedrog en ontkenning afbaken in die verwysingsraamwerk:   
     
     “There is so much knowledge and expertise that lies outside everybody’s personal cognitive event horizon. People can be clueless in a million different ways, even though they are largely trying to get things right in an honest way. Deficits in knowledge, or in information the world is giving them, just leads people toward false beliefs and holes in their expertise”.   
     
     Met dit as konteks hoe gaan die deelnemers hulself toets en die nodige argumente formuleer, voor daar hoegenaamd in gesprek getree word.   
     
     Net soos jy in jou brief seker is van jou argumente en ek in myne met hierdie brief sal Kobus en ander deelnemers presies dieselfde aanvoer.   
     
     Hoe word daardie uitdaging die hoof gebied?   
     
     Baie dankie  
     
     Wouter
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top