Teater-onderhoude | Theatre Interviews

 
Die Bram Fischer-wals: "Ons praat óór Bram Fischer, nie námens hom nie."

In die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees se program word Die Bram Fischer-wals as volg beskryf: "Beroemd as die kommunis wat Madiba van die galg gered het, was Bram Fischer ook pa, provinsiale rugbyspeler, pianis, lief vir dans en die een helfte van ’n roerende Afrikaanse liefdesverhaal. Gebaseer op navorsing en gesprekke met Bram se medegevangenes Hugh Lewin en Denis Goldberg en sy jongste dogter, Ilse. Gedagtig aan Ilse se woorde dat haar pa se storie baie meer as net “snot-en-trane” is, word daar gekyk hoe Fischer se Afrikanerwortels sy politieke uitkyk en uiteindelik sy lot bepaal het. Met David Butler as Bram. Teks en regie: Harry Kalmer. ’n Vryfees-produksie ondersteun deur die Universiteit van die Vrystaat."

Harry Kalmer het enkele vrae van LitNet oor die toneelstuk beantwoord.

Wat het jou gemotiveer om juis nou ’n toneelstuk oor Bram Fischer te skep? Watter relevansie het sy nalatenskap nog in die moderne Suid-Afrika?

Ek kan onthou toe Bram ondergronds was en ook die foto's van sy arrestasie wat die koerante se voorblaaie vol was. Hy en sy vermommings het vir my as agt- of negejarige soos ’n James Bond-agtige figuur gelyk. In die 1980's toe ons in Londen gebly het, het ek sy toespraak voor hy gevonnis is, wat hy met ’n aanhaling van Paul Kruger afgesluit het, gelees en dit het jare lank by my gebly. (Ons gebruik dit in die toneelstuk.) Die keuses wat mense soos Fischer, Marius Schoon en Breyten gemaak het om tronk toe te gaan, het ook gewys dat mens teen apartheid en die Natte [Nasionale Party] kan wees en steeds Afrikaans kan wees.

Voor ons geopen het, het ek self gewonder of gehore by die storie gaan aanklank vind. Maar nou besef ek die ding waarby baie mense (selfs dié wat nie Fischer se politieke  uitkyk deel nie) aanklank vind, sy integriteit was, die tipe integriteit wat mense Madiba laat bewonder het. Bram het daai Afrikaanse "ordentlikheid" gehad wat so kenmerkend van sy geslag was. Die werkstitel van die teks was "Ordentlikheid".

Die toneelstuk is vir die eerste keer by die Vryfees in Bloemfontein opgevoer – ’n stad waarmee Fischer sterk bande gehad het. Was dit ’n doelbewuste besluit?

Ja, beslis. Sonder Adri Herbert, die Vryfees en die Universiteit van die Vrystaat het die toneelstuk dalk nooit die lig gesien nie. Ek het Adri,  die feesorganiseerder, van die teks vertel en sy het gesê hulle sal ons help. Nie net het die Fees van die geld wat nodig daarvoor was, verskaf nie, sy het ook die Universiteit van die Vrystaat betrokke gekry. Sonder hulle steun sou ek nooit die teks geskryf het of vervaardig het nie. Die feit dat hierdie instansies my ondersteun, het ook deure oopgemaak toe dit by onderhoude en verdere navorsing kom. Ek is bly die teks is daar opgevoer. Dit het op sekere tye regtig soos ’n “homecoming” gevoel. Wat baie mense vergeet het, is dat Bram ook in Bloemfontein dood is. 

Was daar mense in die gehoor wat bekend was met Fischer self? Wat was die reaksie van kennisse en familielede op die toneelstuk?

’n Vrou in Bloemfontein het vir David Butler, wat die rol van Fischer vertolk, gesê hy herinner haar aan Bram. Een van die Fischer-dogters se niggies was daar, maar sy het nie met ons kom praat nie. Hugh Lewin, Denis Goldberg (Bram se medegevangenes) en sy dogters Ilse (met wie ek oor haar pa gesels het) en Ruth het nog nie die stuk gesien nie. Die meeste produksies buite die Afrikaanse feeskringloop gaan seker in Engels wees – ek sal graag wil hê dat die mense wat hom goed geken het, dit in Afrikaans sien.

Hoe het jy te werk gegaan om die teks getrou te hou aan Fischer – nie net die verloop van sy lewe nie, maar ook sy geaardheid en maniërismes?

Ek dink die grootse gevaar van so ’n projek is dat dit soos ’n geskiedenisles kan klink. Die meeste van my keuses is deur die vereistes van teater eerder as "historisiteit"  gemotiveer. Al die feite is na die beste van my wete korrek en waar moontlik het ons Bram se eie woorde gebruik, maar ons was deurgaans daarvan bewus dat ons ook ’n verantwoordelikheid teenoor die gehoor het. Bram was 66 of 67 toe hy dood is – ’n mens kan net sóveel van ’n lewe vertel. Ons het geensins probeer om hom fisiek na te boots nie. Mense kon byvoorbeeld nie onthou watter een van Bram se bene hom ná ’n tennisbesering effens mank laat loop het nie en ons het besluit om dit nie te gebruik nie. Ek moet egter erken dat David se ooreenkoms met Bram ’n motivering was om hom te vra om die rol te speel. En dan natuurlik die feit dat hy ewe gemaklik op die verhoog in Afrikaans en Engels is.  

In ’n artikel wat onlangs in Rapport verskyn het, het jy geskryf jy het jou al vantevore gewend het tot die geskiedenis vir materiaal vir produksies, soos byvoorbeeld met Piet Joubert & The Boer War Show en Frida Kahlo’s Eyes. Wat is dit omtrent historiese gebeurtenisse en figure wat jou inspireer om verhoogstukke daaroor te skryf?

In die geval van die Boere in St Louis was die feit dat Afrikaanse historici destyds (1984) so hard probeer het om hulle uit die geskiedenis te skryf ’n groot aantrekkingskrag. Die materiaal was ook wonderlik – soos die bande tussen die Boere-krygsgevangenes op Bermuda en die Amerikaanse anargiste. Die Boere het ’n aanbod van de anargiste om hulle per  boot te kom red, van die hand gewys. Die anargiste het toe ’n skip vol muile wat vir die Engelse magte in Suid-Afrika bestem was, uit die water geblaas in New Orleans-hawe met ’n spul dinamiet.

Frida Kahlo se aantrekkingkrag was die feit dat wit voorstedelike vrouens en studente so met haar op loop gegaan het in die vroeë 1990’s. Ek wou die spot daarmee dryf en my vroue-pelle wat so Kahlo-befok geraak het destyds, terg. In Bram wou ek probeer om ’n storie oor integriteit te vertel.

Jy noem ook in dié artikel dat die meeste biograwe betreklik min insig oor Fischer gehad het. Hoe het jy dit besef en watter rol het gesprekke met familielede en kennisse van Fischer hierin gespeel?

Die Afrikaanse aspek van Fischer was vir hulle ’n geslote boek – die feit dat hulle nie Afrikaans nie goed (of glad nie) verstaan het nie, het hulle interpretasies beïnvloed. Alle interpretasies is wel subjektief, maar ek voel dat hulle iets belangrik van Bram misgekyk het. Iets wat nou deur Hannes Haasbroek se ‘n Seun soos Bram reggestel is. Mens kan nie oor Bram skryf sonder om sy Afrikanerbande te respekteer nie. In my geval was dit aanvanklik net so maklik om Bram se Marxisme mis te kyk of ligtelik af te maak – en die besef dat ek besig was om met sy kommunisme te doen wat ander met sy  Afrikaansheid gedoen het, het my benadering tot die materiaal verander. Bram was ’n kommunis en hy was ’n Afrikaner – en dit het soveel dinge beïnvloed. Natuurlik het ander goed ook – soos sy liefde vir sy vrou Mollie en vir sy kinders en vir dans en musiek. 

David Butler vertolk die rol van Fischer in die toneelstuk. In hoe ’n mate is daar navorsing gedoen en gerepeteer om sy vertolking so "eg" moontlik te maak – met ander woorde, dat hy die ware jakob weerspieël?

Ons het besluit om net die geskrewe woord as riglyn te gebruik. David wou nie eers na beeldmateriaal kyk nie. Vroeg in die repetisie het hy gesê: “Ek kan nie Bram Fischer wees nie. Ek is ’n akteur wat Bram speel." Dit was ook ’n sleutel vir my as ’n regisseur – ons praat óór Bram Fischer, nie námens hom nie. Ek dink dit werk.

In heelwat kringe onder Afrikaners is "kommunis" en "kommunisme" steeds vloekwoorde. Het jy van die begin af verwagtinge gehad oor hoe die stuk ontvang sou word deur gehore by byvoorbeeld die Vryfees? Hoe het dié verwagtinge en/of vooruitsigte verander sedert jy aan die stuk begin werk het tot waar dit nou staan?

Ek was senuweeagtig. Maar die Afrikaners het altyd die grootste respek vir Bram gehad. Daardie respek leef voort. Hy was ’n man van integriteit. Iets waarna alle Suid-Afrikaners deesdae in hulle politici smag.

Wat sou jy graag wou hê moet gehoorlede saam met hulle wegneem ná die kykervaring?

Ek hoop hulle dink dit is goeie teater en dat dit hulle vir ’n paar sekondes bietjie anders na die wêreld laat kyk. Vir meer kan geen kunstenaar vra nie.

- Klik hier vir die volledige Aardklop-program.

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address