Agter elke man: Boer soek 'n vrou-deelnemers vertel

  • 1

 

Die sewende seisoen van Boer soek 'n vrou op kykNET het ten einde geloop en almal wonder wat nou gebeur.

Naomi Meyer het by twee van die vroulike deelnemers gaan aanklop. Helen vertel haar en Johan se storie en Carna, op haar beurt, haar en Gerrie s'n.

Waar het jy die eerste keer van Boer soek ’n vrou gehoor?

Helen: Ek het al bewus geword van Boer soek 'n vrou met die heel eerste reeks toe die mense begin praat het oor Selma en Tiekie.

Carna: Ek is beslis een van die grootste Boer soek ’n vrou-fans. Ek volg dit al van die begin af. Alhoewel ek nie veel van die eerste paar seisoene kan onthou nie, het ek dit nie gemis nie.

Dis een ding om te kyk, en ’n ander om deel te neem. Wat het jou laat besluit om in te skryf?

Helen: Daar het verskeie persone my oor die laaste drie jaar aangemoedig om in te skryf en ek het net altyd gesê: "Daar’s nie 'n manier nie!" Toe die video's die eerste keer gewys het, het my tannie my laat weet ek moet vir die boer van Sutherland skryf: “Hy is als wat jy wil hê en julle sal so mooi pas.” Ek het weer eens gesê nooit nie, maar my aandag is toe reeds geprikkel om te gaan loer. Mens droom mos jou hele lewe lank oor daardie spesiale iemand in jou lewe. Na ek sy video gekyk het, het daar so ’n klein vlammetjie van hoop begin brand en het ek net geweet ...

Carna: Ek het nog altyd vir my gesin gesê as ek 21 is en oud genoeg is om in te kan skryf, dan gaan ek ... 🙂 Maar goed het ek geweet dit help nie ek skryf in net om in te skryf en dit is nie vir die regte een nie! Een van my goeie vriendinne sê toe ek moet vir Gerrie skryf, want sy dink dit is die een, maar ek het bietjie getwyfel. Om 'n lang storie kort te maak, ek hoor toe dieselfde dag vir Gerrie praat op OFM en toe weet ek daai brief moet geskryf word!

Helen en Johan

Hoe het jy gevoel daardie heel eerste keer toe jy saam met al die ander vroue die boere ontmoet het?

Helen: Mens hoop daar is ietsie wat hy raaksien wat uitstaan en wat jou anders maak as die res. Mens probeer maar net om jouself te wees al knaag jou senuwees hoog!

Carna: Die eerste keer wat al 50 vrouens die top vyf boere in die Kaap ontmoet het, was ek bitter skaam. Toe ek buite die deur staan vir my 5-minute-afspraak, het ek gedink ek wil net huis toe gaan, maar toe besef ek dit is nou te laat ... Ek het gestres om vir Gerrie te ontmoet en dit dan nog op kamera ook.

Wat was die onderlinge gevoelens tussen die dames?

Helen: Ek dink elkeen hou die meeste van jou gedagtes en emosies vir jouself en deel net wat jy kan, maar dis amazing om te sien hoe ondersteunend die vrouens onder mekaar is. Daar is verskeie kere wat daar gerusgestel is, waar jy die ander een se klere of hare regmaak, om net ’n drukkie of high five te gee en ’n klomp grappies wat gedeel is!

Carna: Ek dink aan die begin was dit nogal moeilik, want jy kom op Kaapstad-lughawe en daar klim 50 vrouens in 'n bus en almal wil weet wie het vir watter boer geskryf. As mens eers die vrouens ontmoet, dan voel dit nie meer soos 'n kompetisie nie – ek dink mens besef dan dat al die vrouens wat daar is, al êrens in hulle lewens seer gekry het en al wat almal soek is liefde. Ek was verstom oor die pragtige ouer vrouens wat inskryf. Ek het ongelooflik goeie vriendinne gemaak deur die proses.

Watter boere staan vir jou uit en bly jou by?

Helen: Vir my het Johan van die begin af uitgestaan en hy is my gunstelingpersoon op die oomblik! Hy is vir seker my hart se punt ... Dit was lekker gewees om saam met die ander boere te kuier, maar soveel lekkerder om aan my boer se sy te wees.

Carna: Ek was mal oor die ander vier boere gewees wat saam ons by die vakansie was en dit is moeilik om 'n gunsteling te hê. Alec is 'n gentleman en het vir my soos 'n pa gevoel. Kevin was vir my hoofseun, want met hom kon ek praat. Johan voel soos 'n ouer broer, hy kyk dat almal reg is, en lag. En dan ou Alla, hy is my en Gerrie se groot vriend. Ons drie het baie goed saam gedoen.

Wou jy nog altyd romanties betrokke wees by ’n boer en op ’n plaas bly?

Helen: Ek was nog altyd 'n boeremeisie in hart en siel en my grootste droom is om op 'n plaas te bly en 'n bydrae te kan lewer in die boerdery. Ek dink jy as 'n vrou kan 'n groot verskil maak in 'n boer se lewe.

Carna: Van kleins af wou ek graag met 'n boer trou en op 'n plaas bly.


Carna en Gerrie

Wat was vir jou die lekkerste aspekte van die reeks?

Helen: Die lekkerste is wanneer hy jou gekies het en jou naam gesê het. Dis so 'n groot skok, omdat ek nooit kon dink hy sal my kies nie. Hy was 'n toe boek wat jy nie kan lees nie, maar mens hoop dat aan die einde van die boek is daar 'n liefdesverhaal. Sodra die werklikheid ingesink het, sien jy nie altyd die kameras raak nie. Al wat ek gesien het, is vir hom en hoe lekker dit was om hom beter te leer ken en dinge saam te doen, soos met ons vakansieweek.

Carna: Die lekkerste aspek van die reeks was beslis agter die skerms. Die tye tussen die verfilming sorg altyd vir grappies en dit is eintlik die tyd wat ek vir Gerrie die meeste leer ken het. Mens raak baie geheg aan die kameraspan; hulle voel vir my soos familie.

Wat was die moeilikste?

Helen: Die moeilikste is die gedeelte op die plaas en deur dit als moet mens jou hart oopmaak en deel en hoe weet mens wat is genoeg woorde en dade? Mens is bang om oop te maak, want jou hart beskerm homself teen seerkry.

Carna: Een van die moeilikste dinge in die reeks vir my was om jou gevoelens op kamera uit te druk sonder om te veel te wys. Dit sal baie maklik gewees het as mens ingeskryf het net om op TV te wees, maar ek wou myself so ver moontlik beskerm teen seerkry. Mens deel jou "journey" met die kykers, maar mens wil nie jou hele lewe en seerkry aan vreemdelinge vertel nie.

Enigiets wat jy van jouself wil verklap wat jy nie op die televisie gesê het nie?

Helen: Nee, niks nie, sekere geheime word net nooit verklap nie ...

Carna: Iets wat min mense van my weet, is dat ek nogals verstrooid is – as my kop nie aan my lyf vas was nie, sou ek hom êrens vergeet het en ek is 'n Plain Jane. My ma en Gerrie raas so af en toe as ek kaalvoet wil dorp toe gaan.

En waar is jy nou – en is jy gelukkig daar waar jy is?

Helen: Ek is op die oomblik by my ouers en my hart is dolgelukkig.

Carna: Op die oomblik is ek by Gerrie op die plaas. Ek het nooit gedink dat ek ooit so gelukkig in my lewe sal wees nie. En vandag besef ek dat daar regtig 'n plan met 'n mens se lewe is. Soms maak mens die verkeerde keuses, maar dit is orraait, want ons is almal net mense en dit laat jou besef wat jy regtig in die lewe wil hê. Omdat ek weet wat ek vandag weet, sal ek almal aanraai om 'n kans te waag en daai brief te skryf.

Foto's verskaf

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top