7de Laan geen reënboog nie
Is dit regtig so moeilik vir die draaiboekskrywers van
7de Laan om dié sepie in ’n reënboog-laan te verander waar gemengde verhoudings en huwelike aan die orde van die dag is?
Hierdie (ongelukkige) vraag kom onwillekeurig by my op as ek in gedagte hou dat die beeldskone Indiër-meisie Asha na ’n kort rukkie in die Laan dié sepie verlaat het.
Veral omdat sy met haar uitsonderlike skoonheid ongewone skilderagtigheid aan die (valerige) Laan verskaf het.
Dit kom nadat haar verhouding met Sanjay – wat ook intussen die Laan verlaat het om in die buiteland te gaan werk – nie lank gehou het nie.
Nou is daar geen Indiër in die Laan meer oor nie. Dié verskynsel herinner aan ’n tyd toe die apartheidsregering Indiërs uit die Vrystaat verjaag het.
Dit is asof die Laan die Vrystaat soos onder apartheid geword het, waar Indiërs voor 1994 nie welkom was nie. Iewers tussen 1910 en 1983 is ’n wet in die parlement aanvaar wat Indiërs uit die Vrystaat verbied het. Dié gemeenskap kon ook nie daar grond besit het nie.
Dat Asha en Sanjay in ’n verhouding in die Laan was, is glad ook nie toevallig nie.
Behalwe vir Felicity en Herman se aan-en-af “gemengde” huwelik, vind die Suid-Afrikaanse werklikheid van “gemengde” verhoudings en huwelike glad nie in die Laan neerslag nie.
As ek reg onthou was dit net Vince wat nog tot dusver met ’n wit meisie in ’n verhouding was. Daar was egter komplikasies omdat sy bang was om ’n bruin kêrel aan haar (wit) ouers voor te stel.
Die ou apartheidsmagverhoudings tussen wit en “nieblankes” word ook nog taamlik in die sepie in stand gehou.
So sal Maria altyd die skoonmaker wees en Aggie word altyd deur Paula geboelie en tot haar nie-amptelike persoonlike assistent gereduseer.
Gita bly die miesies van die Laan. Sy kom altyd met moord weg en word nooit uitgevang nie. Haar rol het so voorspelbaar geword dat as sy binnekort die Times gaan oorneem, dit my glad nie sal verbaas nie.
Die swart mense verdwyn ook een vir een uit die Laan. Waar is Mandla, Kabelo, Zinzi en Lilian?
Dit was nogal interessant wat Leon Schuster, bekende grapjas, wie se jongste rolprent, Mad Buddies, pas begin draai het, onlangs gesê het. Hy het gesê die rede hoekom sy movies so suksesvol is, is dat dit by alle Suid-Afrikaners aanklink vind. Hy doen dit deur te sorg dat akteurs van alle gemeenskappe in sy movies te sien is en dat die inhoud tot alle mense spreek.
Goed en wel, die Laan-draaiboekskrywers kan terugkap en sê hulle skryf vir ’n bepaalde gehoor. Miskien vir ’n hoofsaaklik wit Afrikaanse en nog boonop konserwatiewe gehoor? Wie anders as skrywers, joernaliste en redakteurs weet nie dat dit gevaarlik is om jou tradisionele kykers, lesers of luisteraars, te vervreem nie.
Die Suid-Afrikaanse landskap het egter na 1994 baie verander. Dit sal help as die draaiboekskrywers grense wil verskuif deur ook die (kleurryke) veranderinge in dié sepie in te skryf.