1976-2015: Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde?

  • 1

“Hath not a Jew hands, organs, dimensions, senses, affections, passions, fed with the same food, hurt with the same weapons, subject to the same diseases, healed by the same means, warmed and cooled by the same winter and summer as a Christian is: If you prick us, do we not bleed? If you tickle us, do we not laugh? If you poison us, do we not die? And if you wrong us, shall we not revenge? If we are like you in the rest, we will resemble you in that ... the villainy you teach me I will execute, and it shall go hard but I will better the instruction.”

Die beeld van Hector Petersen se lewelose liggaam, die absolute agony op die gesig van sy maatjie wie hom dra, sal altyd die oorheersende beeld wees van wat verkeerd gegaan het tydens die 1976-protes.

Kinders het protes aangeteken omdat hulle moedertaalonderrig wou ontvang. Hulle was koelbloediglik uitgewis in ’n tipiese vertoon van polisie oordadigheid.

Forward 38 jaar, na 6 Maart 2015. Daar is weer ’n protesaksie. Oor opvoeding. Hierdie keer is dit ’n protesoptog in ’n demokratiese bestel. Die onderdruktes van 1976 is nou aan bewind. Dieselfde kinders wat toe vir opvoeding in opstand gekom het, sit nou in die vergaderings wat beleidsbesluite neem. Drie honderd skoolkinders van Philippi protesteer by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement se kantore in Kaapstad. Hulle grief? Hulle het nie boeke en klaskamers nie. Die departement betwis nie dat dit wel so is nie. Maar wat is hulle reaksie? Nie ’n versekering dat hulle inderhaas aandag sal gee omdat ons kinders se opvoeding vir ons belangrik is nie. Nee, die polisie word ingeroep omdat die kinders nie die gebied voor die gebou ontruim sonder ’n antwoord nie. Hulle gooi nie klippe nie, hulle vernietig nie eiendom nie. Hulle sit. Mens sou verwag dat die reaksie anders sou wees, maar weer word die polisie ingeroep om ’n vreedsame protes op te breek. En weer is die polisie se reaksie, om stun grenades en rubberkoeëls onder die kinders in te skiet, totaal uit proporsie met die aanvanklike protes.

Hierdie slag is daar egter geen ikoniese beelde wat die wêreld ingestuur word nie. Was dit Vrydag die hoofnuusitem op elke radio- en TV-stasie? Was dit Saterdag op die voorblad van elke koerant? Nee en nee. Right to Know het Twitter en Facebook aan die brand gehad. Die departement se mediavrystelling het ek egter net op die Wes-Kaapse regering se webwerf gesien. Wat was op TV? ’n Direkte uitsending van ’n radiopersoonlikheid se begrafnis en die gepaardgaande oordadigheid in feesvieringe.

As die gepeupel kla, gee hulle koek.

Natuurlik veroordeel die departement nou die polisie se optrede, en belowe ’n ondersoek sal ingestel word om vas te stel of die polisie hulle magte oorskry het. Skynbaar is die ironie verlore op hulle. Die eerste violation van daai kinders se regte was nie toe die polisie op hulle losgebrand het nie. Dit was toe die departement, wat die taak opgelê was om te verseker dat hulle ’n opvoeding kry, hulle plig versaak het. Dit was toe die departement wat na hulle veiligheid moes omsien, besluit om gewapende polisie in te roep om die kinders te verwyder. Wat sê dit van ons as samelewing as ons ons kinders met geweld hanteer en geen haan daarna kraai nie?

Die gebrek aan empatie wat so tekenend geword het van hoedat regeringstrukture probleme probeer oplos, bekommer my. Daar is g’n bewustheid dat hulle werk met die mense wie se stemme hulle aan bewind geplaas het nie, eerder ’n arrogante gebal van vuiste en vertoon van spiere.

Shylock in Shakespeare se Merchant of Venice was nog altyd vir my die klassieke underdog. Hy word sy lewe lank verneder, van geleenthede ontneem en as ’n tweedeklasburger behandel omdat hy ’n Jood in ’n Christen-omgewing is. Die oomblik dat hy die geleentheid kry, besluit hy om wraak te neem op die eerste beste Christen. After all, ’n mens kan ook net soveel verduur voordat jy snap.

Dis nie moeilik om parallelle tussen Shylock se wêreld en apartheid-Suid-Afrika, byvoorbeeld, raak te sien nie. Maar wat gebeur as die underdog, die oorhand kry en beheer oorneem? Shylock se haastige, selfs gretige reaksie om te doen wat aan hom gedoen was, is skynbaar nie vreemd nie.

Ek kon nog nooit kleinkry hoedat iemand wat self onderdruk was en aan eie bas weet hoe dit voel om verneder te word op grond van kenmerke waaroor jy geen beheer het, kan omdraai en dieselfde aan ’n ander doen nie. Het empatie regtig so ’n kort raklewe? Vergeet ons so maklik hoe ons moes suffer? Watter ander verklaring kan ons daarvoor kry dat mense wat self lank onder apartheid gely het, dade van xenofobiese haat pleeg? Dis nie wit mense wat die foreigners verjaag en hulle winkels stroop nie. Kan dit regtig wees dat al wat ons van jare se onderdrukking geleer het, is hoe om dit beter te doen aan ander?

Die lesse is skynbaar ook op staatsvlak goed geleer. Begin joernaliste te veel krap en skandes oopvlek? Gebruik muilbandwetgewing om hulle regte in te perk. Het jy ’n politieke opponent wat lyk of hy die oorhand wil kry? Die staat se strafregtelike gesag is mos daar om hom by te kom. Is daar ’n politieke geskil in die parlement? Stuur die polisie om dit op te los. En wat van die joernaliste wat daar is om berig te lewer? Easy peasy. Onderdruk selfoonseine. Twitter is anyway for the birds. Die staatsmasjinerie is dan onder jou beheer, hoekom dit nie gebruik nie? Dis hoe die apartheidsregering dinge gedoen het. Dit lyk al hoe meer asof die demokratiese regering fyn dopgehou en goed notas geneem het, sodat hulle kan verbeter op die onderdrukking.

Dit word toenemend moeiliker om tussen die apartheidsregime en die demokratiese bestel te onderskei.

Orwell stel dit uitstekend in sy profetiese Animal Farm: “Twelve voices were shouting in anger, and they were all alike. No question now, what had happened to the pigs. The creatures outside looked from pig to man, and from man to pig, and from pig to man again: but already it was impossible to say which was which.”

  • 1

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Bettina Wyngaard sal makliker daarin slaag om simpatie te wek as sy Afrikaans met ontsag behandel en in 'n woordeboek die Afrikaanse woorde naslaan en gebruik pleks van die onnodige Engels in haar teks.

    Soos in die geval van Soweto in 1976 was die optog in Kaapstad in 2015 nie 'n spontane reaksie van kinders nie. Volwasse opstokers het hulle deel bygedra.

    Soos enige politieke stelsel was apartheid nie net sleg nie. Die uitlewing van swart mag in die nuwe Suid-Afrika is ingelyks nie net goed nie, soos Wyngaard blykbaar agtergekom het.

    Wat nodig is, is om te besin oor waarop mense werklik geregtig is. Deesdae is die neiging by sommige om te dink dat bloot omdat hulle is, hulle op allerhande dinge aanspraak kan maak sonder om enige poging aan te wend om 'n teenprestasie te lewer.

    Eintlik gee Wyngaard in haar teks bloot uiting aan haar gefrustreerde aktivisme.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top