Zulfah Otto-Sallies (1961–2016)

  • 0

Gebore en getoë

Zulfah Otto-Sallies is op 18 Mei 1961 in Port Elizabeth gebore, maar die gesin het in Zulfah se vyfde jaar na Kaapstad verhuis, waar hulle in die Bo-Kaap geaan bly het.

Haar vader, Moegammad Yusuf Otto, was ’n lid van die Kaapse Maleier-Koorraad en die Rangers-sangkoor en een van sy stokperdjies was om nuwe liedjies vir sy koor te bekom. Daar is elke jaar ’n koorkompetisie gehou en elke koor moes twee liedere hê om te sing: ’n massakoorlied en ’n solo. Vanaf Zulfah se dertiende jaar het haar pa haar aangesê om Afrikaanse woorde by bekende wysies te skryf en so het die twee saam baie pryse gewen. Sy het ook ID du Plessis se gedig "Mali die slaaf" getoonset vir een van die kompetisies waarvan ID du Plessis die beoordelaar was.

Hulle het na die Kaapse Vlakte getrek toe Zulfah 16 jaar oud was, maar sy het altyd naweke na die Bo-Kaap teruggekeer.

Aan Una Nieuwoudt (Sarie, 9 April 1997) het Otto-Sallies vertel dat haar liefde vir musiek direk van haar pa af kom en hy was ook die een wat haar die meeste aangemoedig het. "Hy het nie nee as ’n antwoord aanvaar nie en ek moes maar skryf, of ek nou lus was of nie. Hy's ’n regte slawedrywer en tot vandag toe nog my grootste kritikus. Hy sê nie sommer iets is goed nie – hy sal eerder sê dis nie sleg nie, máár ..."

Zulfah het onthou dat haar ma altyd vir hulle gesê het: "Onthou, ek het julle grootgemaak. Die mans wat julle kry, kry julle klaar groot." (Sarie, 6 Maart 2002)

Van haar ander sterk herinneringe aan die Bo-Kaap is dat dit reg was as die buurvrou jou roep en ’n goeie pak slae kon gee as jy iets gedoen het wat in haar oë nie reg was nie: "Sy het vir jou uitgekyk soos ’n eie ma. Dit was eintlik fantasties, al het ek dit gehaat toe ek grootgeword het. Dit bestaan nie meer nie, mense is te bang, hulle wil nie inmeng nie."

Sy het verder aan Suzette Truter in Sarie vertel dat hulle veral gedurende vakansies tot laatnag in die straat gespeel het, terwyl die grootmense op die stoepe sit en gesels het. "Vandag doen mense dit nog, maar elk in sy eie huis. Jy vra ook nie meer so maklik vir die tannie langsaan ’n koppie suiker of ’n teesakkie nie. Met ons vier huise in die straat gebeur dit nog, ons is almal familie, maar dit gebeur nie dwarsdeur die Bo-Kaap nie. Mense het hulle eie lewe."

Zulfah se ma was haar heldin. Sy was mal oor haar en het haar baie liefgehad, en ook gerespekteer. "She has been my teacher and my role model." (The Star, 9 Mei 2002)

Zulfah het haar laerskoolopleiding aan die Schotsche Kloof Primêr ontvang en in daardie jare het almal Afrikaans gepraat, terwyl die onderwysers vandag Engels met die kinders praat, al praat hulle Afrikaans in die huis.

Zulfah het in 1978 aan die Hoërskool Vista Senior Sekondêr in die Bo-Kaap gematrikuleer.

Verdere studie en werk

Ná matriek is Otto-Sallies na die Universiteit van Wes-Kaapland om in maatskaplike werk te gaan studeer.

Sy is getroud met Shahied Sallies van die Bo-Kaap en hulle het hulle weer daar gaan vestig. Hulle het drie kinders: Muneera, Moegammad Gasan en Moegammad Junaid. Haar man is ook kreatief – hy is ’n kameraman en skilder.

In 1994 is Zulfah Otto-Sallies as lid van die Suid-Afrikaanse Maleise Kultuurvereniging met ’n Kaapse kultuurgroep na Maleisië, waar hulle met ’n dansstuk aan ’n kunstefees deelgeneem het. Sy was nie net die direkteur van die stuk, wat oor slawehandel aan die Kaap gehandel het nie, maar ook die skrywer. Later is die groep ook na Indonesië.

Zulfah en haar man het die maatskappy Bo-Kaap Produksies gestig om kultuur en betrokkenheid in die gemeenskap te bevorder. Sy was regisseur daar. Sy was ook ’n lid van die Suid-Afrikaanse Maleise Kulturele Vereniging.

Otto-Sallies was in haar hart ’n aktivis, het haar suster, Naahid Nakidien, gesê na haar vroeë dood in 2016, en is aangestel as direkteur van die Community Video Education Trust wat in Athlone in Kaapstad gebaseer was. Naahid was ook van mening dat die gemeenskap baie baat gevind het by die tyd wat Zulfah in Nederland spandeer het toe sy haar meestersgraad aldaar voltooi het: "Sy het teruggekom met ’n unieke perspektief en was haar tyd vooruit."

Zulfah was ook baie bekend as ‘n filmregisseur en het ’n groot impak gemaak op die filmbedryf en -gemeenskap in Kaapstad. Sy was ook ’n rolmodel vir jong filmmakers en het hulle geïnspireer en leiding aan hulle gegee aan die begin van hulle loopbane.

Suzette Truter (Sarie, 6 Maart 2002) wou by Zulfah weet hoe sy dit reggekry het om, in teenstelling met ander Moslemvroue, so in die openbare oog haar "ding te doen": "Na Diekie vannie Bo-Kaap het ek aanvanklik haatpos en telefoonoproepe gekry omdat ’n Maleiervrou mos nie sulke dinge aanpak nie. Veral die ouer generasie was moeilik. Ná Rosa het die gemeenskap al meer agter my begin staan. Maar daar sal seker altyd ’n handjievol mense wees wat afkeurend is.

"My man, Shahied, verstaan ’n bietjie van wat ek wil en moet doen. Toe ek in Amsterdam gaan studeer het, het hy sowat ses maande (met ’n onderbreking) na die kinders gekyk. Vir hom los ek nooit! Ek maak ook byna nooit kos nie; hy kook heerlik. Hy sê alles wat ek maak, is so gou en met so min geduld berei, en dis waar! Hy moes ook maar mettertyd aanpas; hy is nie van nature liberaal nie.

"Veral in ons gemeenskap is mense gekondisioneer: dís die vrou se rol, dís die man s’n. My skoonfamilie het seker eers gedink watse snaakse vrou het hy getrou? Dit het tyd geneem, maar die laaste paar jaar het ek die soort ondersteuning waaroor ek nooit kon droom nie."

Haar eerste kortverhaal, “A better life for moms”, word in 1995 gepubliseer, met haar eie Afrikaanse weergawe “’n Beter lewe vir Mams” wat dieselfde jaar in die versamelbundel Keerpunt opgeneem word. Kortverhale van haar is ook in Biltong en Barakat opgeneem.

Zulfah se eerste kortfilm was Raya, wat in 2000 vervaardig is. Dit het by die Apollo Filmfees in 2000 ’n toekenning ontvang en in 2002 is dit op DVD uitgegee saam met twee ander kortfilms uit Afrika in die Mama Africa-reeks.

Raya handel oor drie generasies wat moes leer om tred te hou met ’n gemeenskap waarin hulle lewe aan die verander bly. Die Bo-Kaapse gemeenskap bly aan die verander. Raya se wêreld, waar dwelms op elke straathoek beskikbaar is, is baie verskillend van haar ma s’n en dit handel ook oor kulturele wrewel en verwagtinge van die gemeenskap. In so ’n geslote gemeenskap waar almal alles van mekaar af weet, kan dit ook ‘n strop om die nek wees. Otto-Sallies het aan Betti Ellerson gesê: "Raya is a story I wanted to tell this way to also portray the relationship between mother and daughter and also showcase its complexities within a society of Bo-Kaap that is culturally strong."

Aan The Star (9 Mei 2002) het Zulfah vertel wat haar geïnspireer het om Raya te skryf: verhoudings tussen moeders en kinders intrigeer haar. "The notion that mothers are often abused by children, on an emotional level, raises questions for me. The unconditional love mothers have for their children, and understanding one another on a different level once the daughter is a mother. Raya is a metaphor for women who undergo change due to having a child."

Vir Zulfah was dit wonderlik om saam met ander vroue te verkeer en die verfilming van Raya was ook haar eerste geleentheid om in 35 mm te skiet. Sy het aan Laetitia Pople (Beeld, 17 Mei 2002) gesê dat die Mama Africa-projek gehelp het om ’n meer positiewe beeld van Afrika aan die wyer wêreld te toon. "Ons het meer hier as olifante, leeus, armoede en hongersnood. Daar is iets rou en polsends aan ’n Afrika-produk wat jy nie in Europese of Amerikaanse produkte kry nie. Ek dink Mama Africa help om die kontinent in vele van sy fasette te wys."

In 2004 het Zulfah ’n dokumentêre film gemaak met die titel Through the eyes of my daughter waarin sy haar eie dogter, Muneera, gedurende die maak van die film herontdek het, asook sekere aspekte van haarself.

Vir Zulfah was hierdie film ’n fenomenale ondervinding. Dit het vir ’n jaar lank gefokus op haar en haar dogter se wêreld. Muneera was toe 15 en het later haar graad in die maak van films verwerf en sou die regisseur van die film Diekie vannie Bo-Kaap wees. "Through the eyes of my daughter gave us the foundation to work together and that to me as a mother is a great honour as today we still are able to work together. Sometimes it is really hard and complex but both of us know the professionalism required to deliver a quality product and hence we are able to put emotions aside, get our hands dirty and do the job" (aan Betti Ellerson).

Haar eerste vollengtefilm, Don't touch, is in 2006 uitgegee en fokus op familie, generasiegapings en Moslem-identiteite, asook op die jeug van Suid-Afrika. Die film vertel die verhaal van die sestienjarige Layla wat ontdek dat haar vader ooreenkomstig die Moslemwette ’n tweede vrou getrou het. Sy voel dat haar vader haar bedrieg het en sy begin vir die eerste keer vrae oor die onbeperkte magte van die vader vra.

Zulfah het aan Ellerson vertel dat sy baie belangstel in die tema van die generasiegaping en generasieverskille omdat ’n mens met elke generasie meer en meer verloor van wie en wat jy is. "What society perceives as technological advancement is also the regression of moral and cultural values with each generation thinking they are more advanced than the older generation. Perhaps we can simplify this with an example of the current generation that is magnificent with technology but unable to read, let alone spell properly. So the older generation may not have been the best of readers but they were effective and useful citizens that were in the service of humanity. I have strong views on today’s society that is technologically savvy but so individualistic that they become almost useless citizens of a society. They serve only their own needs and not that of the greater society. It is here that I feel culture plays a big role that keeps one as a contributor to society, that builds the character of individuals. Don’t Touch looks at the modern teenager in Bo-Kaap that is confronted with living in the new South Africa with many cultural diversities and exposures. This is played off against the cultural background of Bo-Kaap."

Hoewel sy van kleins af geweet het sy wou skryf, was dit eers in 1990 dat sy iets daadwerklik daaraan gedoen het. Haar skoonsuster, Loetfia Sallies, wat in daardie stadium nog op skool was, het haar gevra om vir haar en haar skoolmaats te help met ’n skoolprojek vir Vista Senior Sekondêre Skool in die Bo-Kaap. Zulfah het toe vorendag gekom met die musiekblyspel Diekie vannie Bo-Kaap. Sy het alles gedoen – die storie geskryf, sowel as die musiek en die woorde. Die leerlinge het dit opgevoer en Zulfah was ook die regisseur. Die eerste opvoerings in Mei 1992 is in die Schotsche Kloof- gemeenskapsentrum gehou.

Die produksie was so ’n groot sukses dat nog opvoerings gevolg het in die Wes-Kaap en in die Boland. Om alles te kroon, is dit ook vir twee weke in die Baxter-teater in Kaapstad opgevoer en is van daar na die kunstefeeste op Grahamstad en Oudtshoorn.

Oor die musiekblyspel soos dit in die Baxter-teater opgevoer is, skryf Emile Joubert (Die Burger, 29 Oktober 1992) dat Zulfah Otto-Sallies se stuk uit die hart uit kom. "Dit probeer nie om enigiets meer te wees as om ’n moderne lewenspatroon van ’n sterk en kleurryke kultuur uit te beeld nie. Die bietjie prekerigheid en drama wat daar is, is menslik."

Otto-Sallies en haar span se uitbeelding van hulle alledaagse lewe gee die siel aan die stuk, en die spelers, wat amateurs is, speel met "ongekunstelde oorgawe". Hoewel dit ’n tydjie neem om aan die rouheid van die toneelspel gewoond te raak, dra dit by tot die egtheid van die stuk. "Lewe soos dié hoort op die verhoog."

Ander produksies, soos Koesister Mentality, Echoes from the ghettos, Rosa en Rainbow and the Moon Princess, volg op Diekie, en almal word by die Victoria & Alfred-teater in die Kaapse Waterfront opgevoer.

Zulfah het aan Una Nieuwoudt in Sarie van 9 April 1997 vertel: "Louise Steyn van Tafelberg-uitgewers het een van die opvoerings gesien en my agterna gevra of ek dit nie wil oorweeg om die storie in boekvorm uit te gee nie. Dit het maar gesukkel, want ek het nie die kennis gehad om van een medium na ’n ander oor te skakel nie. Só onkundig was ek dat ek sommer die teaterteks net wou ingee!"

Dit was egter iets wat Zulfah voor ’n groot uitdaging te staan laat kom het. En hoewel dit party dae baie swaar gegaan het, het sy wel daarin geslaag om die boek te voltooi. Sy het aan Nieuwoudt vertel: "Ek voel eintlik baie sentimenteel oor dié boek, want vandat ons Diekie die heel eerste keer opgevoer het, het dit deur baie groeifases gegaan. Dis amper asof die boek vir my ’n persoonlike keerpunt was."

Voordat Zulfah Diekie geskryf het, was haar eerste ondervinding met skryf die liedjies wat sy vir haar pa geskryf het. En dan het sy en haar suster ook ’n paar tonele vir die Afrikaans-onderwyser aan die Vista Senior Sekondêre Skool, Sadick Ogier, geskryf.

Haar belangstelling in maatskaplike werk was die basis vir die skepping van Diekie. Zulfah het aan Gawie Botma (Die Burger, 24 Oktober 1992) vertel dat die storie van Diekie in enige huis kan gebeur. "Daar is baie humor in, maar ook iets van die realiteit: van dwelms, ouer-tiener-konfrontasie, 'young love' en die verantwoordelikheid wat ’n mens vir jou besluite moet neem."

Louise Steyn het na Zulfah se afsterwe in 2016 geskryf dat sy met "haar fyn oor vir dialoog en haar instinktiewe aanvoeling vir die drama inherent in situasies, nie gesukkel het om die verhaal van Ice en Diekie se jong liefde net so lewendig en aangrypend vanuit die prosabladsye te laat opklink as vanaf die verhoog nie."

Thomas van der Walt som die verhaal Diekie vannie Bo-Kaap in Drielande(n)punt, Desember 1998 op: "Dit is ’n verhaal van die Bo-Kaap waar vriend en vyand saamstaan wanneer die groot geluk of die groot droefnis een van sy mense tref – soos die verteller van die boek dit stel. Dit is ’n liefdesverhaal van Diekie en Ice, twee jongmense wie glo dat daar nog nie vantevore ’n liefde soos hulle s’n was nie. Dit is ook die verhaal van die ander inwoners van die Bo-Kaap: Rocky, Jakes, Miles, Videokop, Giemba en 'al die boys oppie hoek', die bendes 'The Young Ones' en die 'Charmers' – ’n mens kan byna sê die Bo-Kaap se eie moderne Romeo en Juliet-verhaal. Aktuele temas soos konflik tussen ouers en kinders, tienerswangerskap en dwelmmisbruik word aangeraak."

Vir Marina le Roux (Die Burger, 30 April 1997) is die gebruik van Kaapse Afrikaans in die dialoog ’n positiewe én ’n negatiewe eienskap. "Enersyds verleen die dialoog ’n besondere egtheid aan die storie, maar andersyds vertraag dit tog die onmiddellike kommunikasie tussen teks en leser. Want Kaapse Afrikaans moet liefs gehóór word, moet gesíng word. (...) Enkele besware tersyde: Diekie vannie Bo-Kaap is fris en sprankelend, ’n unieke toevoeging tot jeugliteratuur, een wat nie misgeloop moet word nie."

Vir Hans Ester in Zuid-Afrika (Junie 1997) is Diekie vannie Bo-Kaap belangrik omdat dit wys dat daar in die Afrikaanse letterkunde ’n tradisie van groei is. Hierdie groei konformeer nie aan die "kentheoritische twijfels en intertekstuele capriolen van het Postmodernisme" nie, maar ’n groei waarbinne daar ’n storie vertel word wat ’n etiese doel het.

Gedurende Junie 2016 het Zulfah Otto-Sallies ’n beroerte gehad, en op 8 Julie 2016 is sy aan komplikasies van die beroerte oorlede. Sy laat haar man, drie kinders en vier broers en susters agter.

Huldeblyke

  • Louise Steyn: "Jy hoef nie baie lank met haar te gesels het om agter te kom hoe diep ingebed in haar gemeenskap sy was nie. Ek onthou ook hoe graag en maklik sy gelag het. Sy was lid van ’n uitgebreide familie en dit was vanselfsprekend dat sy haar pa se werk sou voortsit." (Die Burger, 19 Julie 2016)
  • Nadine Cloete: "I was immensely saddened by the news of Zulfah’s passing. She may no longer be with us in a physical sense, but I stand proud that I experienced someone like her. I feel one of the biggest lessons she leaves us all with is to pass on our talents and to up-skill others. My thoughts and prayers are still with her husband and three children." (Tydskrif vir Letterkunde, 2016)
  • Paulette Fortuin skryf op haar blog: "Zulfah’s practice of 'only' telling the stories of 'her culture and where she grew up' touch me very much for through her lens the old ways of the Bo-Kaap were recorded and introduced to a younger generation. (Tydskrif vir Letterkunde, 2016)
  • Die filmmaker Oliver Hermanus, regisseur van Shirley Adams, Skoonheid en The Endless River, skryf as volg oor die rol wat Zulfah gespeel het in sy lewe: "I was 14 years old, dying to have a movie camera and make my own films but unable to afford one. My mother saw an ad for a Women’s Film Festival being held at the Artscape in Cape Town. She took me and I saw my first Zulfah Otto-Sallies film. I was so nervous but went over and spoke to her afterwards, asking if I could hang out with her or watch her work or do anything just to be near filmmaking. She let me come to her house in Bo-Kaap and visit her on the set of her next work. She introduced me to her writing partner who agreed for me to visit him every Thursday for an hour after school. I went straight home and started writing my first feature, Shirley Adams. She lit the spark for me." (Tydskrif vir Letterkunde, 2016)
  • Naahid, Nakidien, Zulfah se suster: "Zulfah was full of life. She always had something bright to say. She loved writing poetry and could turn anything into a poem. She contributed so much to the community and especially to teenagers. Through her, many young people realised their full potential." (http://www.vocfm.co.za/prominent-ct-filmmaker-passes-away)
  • Munier Parker, founder of Ex-Con Films: "Otto-Sallies left a very big hole in the hearts of many filmmakers with her passing. She was responsible for starting the careers of many filmmakers and not just filmmakers, the careers of many people in theatre and production as well. (http://www.vocfm.co.za/filmmakers-pay-tribute-to-zulfah-otto-sallies)
  • Jackie Lourens, a friend: "She was an activist who stood up for women and her community. She was a strong character who wasn't scared to speak out on subjects and matters she felt passionate about. But with that was a lovely personality. She was loved by most people. I think she put the Muslim woman on the map. All the stigma's, [sic] Zulfah showed you could still be very much a woman with as storing culture and beliefs and you can still be part of the bigger community." http://africanwomenincinema.blogspot.co.za/2016/07/zulfah-otto-sallies-1961-2016-acclaimed.html

Publikasies

Publikasie

Diekie vannie Bo-Kaap

Publikasiedatum

  • 1997
  • 2001
  • 2007 (3 herdrukke)
  • 2009 (2 herdrukke)
  • 2010
  • 2011
  • 2012 (2 herdrukke)
  • 2013
  • 2015
  • 2016

ISBN

062403545X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 Artikels oor Zulfah Otto-Sallies beskikbaar op die internet:

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top