Zeus van Wyngaardt en die skrikgodin deur Julio Agrella: ’n resensie

  • 2

http://www.proteaboekhuis.com/

Zeus van Wyngaardt en die skrikgodin
Julio Agrella

Protea Boekhuis
SKU: 9781485313731

Die Afrikaanse mark word deesdae amper-amper oorweldig deur die aanbod van spanningsromans. Soos in ander velde gaan dit egter in die boekbedryf ook oor vraag en aanbod. Solank die lesers aanhou lees, sal die skrywers aanhou skryf. Dit geld natuurlik andersom ook – solank skrywers aanhou skryf, sal lesers aanhou lees. Die een kan eenvoudig nie sonder die ander bestaan nie.

Intussen is daar egter ’n groep lesers wat swaarkry – dié wat nie kans sien vir nog bloed en derms (by wyse van spreke) in die wêreld van fiksie nie, want in ons Suid-Afrikaanse samelewing ervaar ons alreeds hopeloos te veel daarvan. Vir hulle werk die redenasie nie dat lesers aanhou spanningsromans lees omdat die skurk(e) gewoonlik aan die pen ry nie, terwyl ons weet dat dit in die werklikheid maar min gebeur. Hulle probeer egter graag nuwe spanningsromans, bloot as gevolg van FOMO (fear of missing out), veral wanneer die skrywer reeds vorige suksesvolle spanningsromans gepubliseer het. Hier en daar vind hulle dan ’n juweel wat ook vir húlle werk. Zeus van Wyngaardt en die skrikgodin is so ’n juweel. (Vlam deur Sidney Gilroy is nog een.)

Dit wil voorkom of dit gebeur omdat spanningskrywers deesdae die Suid-Afrikaanse werklikheid toenemend in ag neem (byvoorbeeld onwillige of korrupte polisielede, agterstallige forensiese ontledings, ensovoorts) wanneer hulle die plot laat ontvou, met die gevolg dat die misdaad nie so maklik opgelos word nie. Dit het selfs tot gevolg dat die misdaad nie noodwendig meer aan die einde van die boek opgelos is nie, dat al die drade nie perfek saamgetrek word nie. Hier kan Vlam weer genoem word, asook die onlangse Donkerdrif van Deon Meyer, waar die een hoofkarakter in ’n yslike dilemma gelaat word, om die minste te sê.

............
Vir die sensitiewe leser wat méér soek as ’n opgeloste moord, is hierdie verskynsel soos manna uit die hemel, want die knap skrywer vind nou ander maniere om sy lesers aan die omblaai te hou. Hy moet as’t ware ander gereedskap inspan om sy storie aan te dryf. (Die manlike vorm word bloot vir gemak gebruik – natuurlik kan ons vroulike skrywers presies dieselfde doen.)
............

Vir die sensitiewe leser wat méér soek as ’n opgeloste moord, is hierdie verskynsel soos manna uit die hemel, want die knap skrywer vind nou ander maniere om sy lesers aan die omblaai te hou. Hy moet as’t ware ander gereedskap inspan om sy storie aan te dryf. (Die manlike vorm word bloot vir gemak gebruik – natuurlik kan ons vroulike skrywers presies dieselfde doen.)

Twee stukke gereedskap tot die skrywer se beskikking is karakterisering en die uitbou van die milieu. Beide stukke gereedskap word in Zeus van Wyngaardt en die skrikgodin uitmuntend aangewend en maak dit vir hierdie uitsoekerige soort leser ’n wonderlike verrassing van ’n boek. (Dieselfde geld Vlam.)

Zeus van Wyngaardt verskil, behalwe vir sy pretensieuse naam, nie veel van baie ander knap speurders in die Afrikaanse boekewêreld nie. Hy is op ’n ietwat ruwe manier aantreklik en hy beskik oor al die vaardighede wat nodig is vir sy taak (of hy weet waar om hulp te vra, soos Zeus dikwels sy jong persoonlike assistent oor tegnologie raadpleeg). (Terloops, Tumi is ’n lieflike karakter wat hopelik in volgende Zeus-boeke meer uitgebou sal word. Asseblief, laat daar nog Zeus-boeke kom!) Zeus is oneervol (hoewel onskuldig) uit die polisie ontslaan, hy het hom alreeds onder sy vrou en kinders uitgedrink, hy is doodbang vir die l-woord en sukkel met die hantering van al sy opgekropte woede, al het hy ’n goeie hart.

............
Die Zeus-karakter het egter drie eienskappe wat hom uniek maak. Eerstens vertel hy sy storie in die eerstepersoon, wat sy karakter onmiddellik sentraal in die storie stel, pleks van die ondersoek na ’n misdaad. Tweedens laat sy goeie hart hom (dikwels gratis) dienste vir sy hartsmense of ander afvlerkkarakters lewer waardeur hy homself in gevaar stel. Derdens het hy die gawe van selfinsig ontvang, wat effektief aangetoon kan word deur die eerstepersooninvalshoek.
...............

Die Zeus-karakter het egter drie eienskappe wat hom uniek maak. Eerstens vertel hy sy storie in die eerstepersoon, wat sy karakter onmiddellik sentraal in die storie stel, pleks van die ondersoek na ’n misdaad. Tweedens laat sy goeie hart hom (dikwels gratis) dienste vir sy hartsmense of ander afvlerkkarakters lewer waardeur hy homself in gevaar stel. Derdens het hy die gawe van selfinsig ontvang, wat effektief aangetoon kan word deur die eerstepersooninvalshoek.

Sy hartsmense is nie meer sy gewese vrou en kinders nie, want vir hulle het hy alreeds verloor, maar die mense rondom hom in die middedorp van Springs, waar hy sy emosionele tuiste gevind het. “Ek hou van Atif en Rifah. Niemand doen so iets aan iemand van wie ek hou nie” (bl. 185).

Die twee hoofondersoeke in hierdie boek val albei in bogenoemde kategorie. Wanneer sy bure (untouchables uit Bangladesj wat nie geweet het in SA is daar karakters wat op ’n ander manier untouchable is nie – diegene wat hulself as bo die wet verhewe beskou) se dogter verdwyn, hou Zeus aan met grawe lank ná die gebeurtenis sy tragiese einde bereik het. Hoewel die platgeslaande Elsie reeds van haar abusive man geskei is en deur terapie (gratis deur Zeus gereël) besig is om weer mens te word, hou hy aan met delf in haar eks se lewe.

Dis met hierdie gekrap waar Zeus die voete-van-klei-weergawe van die grootste god in die Griekse mitologie, die skrikgodin Medusa, in die persoon van courtisane Wildene du Bois ontmoet. Doodbang soos hy is vir die l-woord, raak hy halsoorkop verlief, al word hy herhaaldelik teen haar gewaarsku. “Dalk moet jy harsings hê wat geskud kan word voordat jy harsingskudding kan opdoen” (bl. 255).

Zeus het egter die selfinsig waaroor die meeste mans vermoedelik nie beskik nie. Hy sien wat gebeur, hy sien hoe sy verliefdheid gou-gou omsit in ’n volbloedverslawing, hy sien die dwaasheid van elke stap wat hy neem in die proses waar Wildene vir hom “Marie” en uiteindelik “Maria die heilige” word. (Dat die liefdestonele so pragtig – en ook kostelik – deur ’n manlike skrywer geteken kan word, is ’n ekstra vreugde in die lees van die boek.)

.............
Zeus het egter die selfinsig waaroor die meeste mans vermoedelik nie beskik nie. Hy sien wat gebeur, hy sien hoe sy verliefdheid gou-gou omsit in ’n volbloedverslawing, hy sien die dwaasheid van elke stap wat hy neem in die proses waar Wildene vir hom “Marie” en uiteindelik “Maria die heilige” word. (Dat die liefdestonele so pragtig – en ook kostelik – deur ’n manlike skrywer geteken kan word, is ’n ekstra vreugde in die lees van die boek.)
..................

Die manier waarop hy homself telkens in die derdepersoon aanspreek, verleen humor aan die ernstige verhaal, want hy kyk met skerp ironie na homself en die keuses wat hy maak. “Ja, right,” sê hy dikwels vir homself ná ’n stukkie insig – en kies dan willens en wetens die dwase pad. “Zeus, beskermer van die vertraptes en verneuktes. Jy moet jou kop laat lees. Wat gaan jy doen? In Zonkizizwe indonner met ’n weermag en die ou vang? Maar soos gewoonlik laat ek nie sulke detailtjies in my pad staan nie” (bl 185).

Zeus die denker besin dikwels oor diep vrae soos die kwessie van vrye besluite, van vrye keuses. “Hoe kan só iets bestaan as elke besluit wat jy neem, geanker is in jou huidige omstandighede, beïnvloed is deur jou verlede wat tog klaar vasgelê is?”

Vir afwisseling dink Zeus ook diep oor vlakker vrae. “Jare gelede is daar gepraat van ’n foonsnol. Wat ’n vreemde woord! Minder direk as sekswerker, minder dreigend as telefoon-prostituut. Dis seker deesdae ’n selfoonsnol” (bl 258).

Zeus se skerp kyk na homself, sy motiverings en sy dade bring ’n ligtheid in die verhaal waarsonder dit redelik donker sou gewees het. Natuurlik is dit ook sy manier om homself teen seerkry te beskerm – in intieme oomblikke keer hy persoonlike vrae met skerp, maar niksseggende antwoorde van hom af weg. Natuurlik frustreer hy die persoon wat die vrae vra (dikwels die skrikgodin in haar skrikwekkendheid en haar weerloosheid) mateloos daardeur.

Springs se middedorp met sy kleurryke inwoners en deurgangers, asook die gebied daar rondom, word so netjies uitgebou dat dit werklik ’n bykomende karakter in die verhaal word. Só word die storie stewig in die Suid-Afrikaanse werklikheid geanker. Die spesifieke datums waarop die aksies afspeel, asook die verwysings na die werklike kriekettoernooi van daardie tyd, plaas die boek verder stewig in die huidige Suid-Afrikaanse tydgees. Daarby bring die teenwoordigheid en dikwels afwesigheid van Willeweeskat vir Zeus, wat goed weet hy is nie die oppergod nie, nog nader aan sy eie menslikheid.

Die eerste Zeus-boek (Zeus van Wyngaardt en die godin van die jag) het by hierdie leser verbygegaan weens die ongewone en onbekende naam van die skrywer, die titel wat min weggee oor die karakter van die boek, asook die donker omslag wat nie veel sin maak voor jy die boek gelees het nie. Dit was ’n fout wat spoedig reggestel sal word. Julio Agrella skryf pragtige Afrikaans, die pretensieuse naam van die hoofkarakter en die onbekendheid van die term “skrikgodin” pas perfek by die verhaal in en die voorblad kom met duidelike leidrade, waarop die oplettende leser net moet ag slaan.

............
Zeus van Wyngaardt en die skrikgodin is ’n bielie van ’n boek wat ’n bielie van ’n leemte in ’n leser se lewe gaan laat as Zeus nie toegelaat word om sy binnewêreld te betree nie. Zeus is nie ’n karakter wat ’n mens lig sal vergeet nie.
...............

Zeus van Wyngaardt en die skrikgodin is ’n bielie van ’n boek wat ’n bielie van ’n leemte in ’n leser se lewe gaan laat as Zeus nie toegelaat word om sy binnewêreld te betree nie. Zeus is nie ’n karakter wat ’n mens lig sal vergeet nie. Kom ons vertrou die skrywer kan hom ten spyte van sy waaghalsige besluite nog baie lank aan die lewe hou sodat die leser nog ’n lang pad saam met hom kan stap.

  • 2

Kommentaar

  • Julio Agrella

    Dankie Alta.
    Ek waardeer jou gawe woorde en ondersteuning.
    Hopelik is daar nog 'n paar Zeus-verhale opgesluit in my twee-vinger-tikkende-skootrekenaar.

  • Die Zeus-boeke is ’n plesier om te lees – boeiend, spitsvondig en met ’n prikkelende mengsel van filosofiese insigte en sardoniese kommentaar.

    Die agtergrond is die grinterige realisme van Springs – ’n dorp wat ’n bloeitydperk beleef het in die 1940’s tot 1960’s en tans, soos talle ander dorpe, ’n verwaarloosde middestad het. Springs bevat ’n bewonderenswaardige aantal Art Deco-geboue en die kantoor van Zeus van Wyngaard is dan ook heel toepaslik in ’n Art Deco-gebou in die middestad. Die omgewing word akkuraat geskets en die name van strate, winkelsentrums, woonbuurte en selfs die hoërskool reflekteer die werklikheid.

    Zeus is ’n boeiende karakter, gebrei deur die lewe se wisselvallighede, maar ook menslik en sensitief. Sy assistent Tumi is ’n kostelike karakter wat telkens vir Zeus oor struikelblokke met sy ondersoeke help.

    Julio Agrella bied met die Zeus van Wyngaard-boeke ’n uitstekende en waardevolle toevoeging tot die kontemporêre Afrikaanse speurverhaal-genre. Dit word hoogs aanbeveel vir ’n genotvolle leeservaring.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top