Toe ek klein was, was zef nie cool nie. As my ma of pa gesê het iemand is zef, dan was dit gewoonlik omdat hy ’n mullet en snor gehad het en in ’n Cortina met gordyntjies gery het. Ek onthou hoe zef Bruce Beyers was in Agter elke man met sy jean jackets en broeke met gate in. Ek was altyd baie bang om zef te wees, want zef mense het uit die verkeerde kant van Pretoria gekom. En ek was mos ’n snob wat in die ooste gebly het en in Menlopark Hoërskool was. Vandag is ek ’n groot fan van zef. Zef beteken om te sê wat jy dink en dis OK as dit vloekwoorde en ’n paar Engelse woorde insluit. Dis om te wees wie jy is sonder om skaam te wees oor jou boetie wat in die tronk sit vir kabeldiefstal of jou ma wat van haar wyn hou op ’n Maandagoggend. Die interessante ding van zef is dat baie mense zef is maar dit nie weet nie. So daar is regte zef en wannabe zef.
Zef is een van daai oorspronklike Afrikaanse woorde – naai, bliksem, nippertjie, hartseer … wat lekker van die tong afrol. Dis kort, punchy en skep beelde van gepolitoerde chroom-bumpers, girls met groot tette en gefrizde hare. Ek dink dit het posgevat omdat baie jong Afrikaners ’n beweging gesoek het wat hulle trots laat voel oor Afrikaans wees en praat. Die zefbeweging laat jou voel asof jy deel is van ’n beweging. Dit laat jou tuis voel en trots Suid-Afrikaans.
Zef was daar gewees voor Die Antwoord en dit sal daar wees lank na Die Antwoord. In fact ek dink zef is Die Antwoord. Dinge soos zef-musiek of zef-kleredrag bestaan al lankal. Maar dis nie meer iets om oor skaam te wees nie. Zef mense het altyd die taal gemeng en selfs nuwe woorde geskep soos "my outoppie" en "my stukkie". Waar die zeffers gevloek het, het die res woorde soos "sherbert" en "flippen" gesê. So zef is nie net ’n musiek- of klere-ding nie maar ook ’n taal.
Zef voort!

