Zanne Stapelberg en Kathleen Tagg speel met musiek en taal

  • 0

Zanne Stapelberg en Kathleen Tagg het hierdie keer 'n anderste soort haas uit die hoed gepluk met hulle jongste produksie, Spieël Speel. Dié kabaret is saamgestel uit verskeie Suid-Afrikaanse volksliedjies en gedigte. Kathy het gesorg vir die musiek, en 'n hoog swanger Zanne het nie vir 'n oomblik teruggehou of afgeskeep nie. Sy het aan die gehoor bewys dat haar veelsydigheid geen perke het nie en dat swangerskap beslis 'n goeie uitwerking op haar kreatiwiteit het.

In die konsertprogram lees ek Hennie Aucamp skryf: "Iets in die aard van 'n wonderwerk het plaasgevind". En ek sit maar liewers terug om die ervaring te geniet, want 'n leek soos ek wil liewers nie myself slim hou nie. Alhoewel ek min van crescendos, harmonieë en kabaret weet, het ek so 'n idee Hennie Aucamp was reg.

Hierdie keer het die twee musikante in hulle tuisland inspirasie gaan soek in stories, gedigte en boererate. Kathy, wat al 'n geruime tyd in New York woon, en Zanne het oudergewoonte 'n uitstekende vertoning so via Skype op die planke gebring. Mens sou nie kon raai dat hulle skaars saam kon oefen nie, want dié jare lange vriendinne is 'n dinamiese duo op die verhoog – die produksie is in alle opsigte iets wat myns insiens op die verhoë by groot feeste hoort.

Zanne skop die aand af met die bekende “Kinders, moenie met die water mors nie”. Ek dink: enige een met 'n halwe Afrikaanse haar op hul kop, gaan hierdie vertoning geniet.

Zanne het ook haar hand tot liriekskryf gewaag met “Marie-Louise de Lange (se Boererate”. Ek herken verskeie Afrikaanse digters en skrywers se werke soos die program verloop, maar die vertolking daarvan is vars en buite die boks. Deon Meyer het spesiaal vir die produksie 'n liedjie geskryf en dit is hartverskeurend mooi. Willem de Vries en Philip de Vos was ook daar om te hoor wat Zanne en Kathleen met hulle woorde reggekry het. Zanne se aanbieding van Philip de Vos se “Die haaie in die see”, “Hotnotsgot”, “Spinnekop, neem 'n stukkie son”en meerhet die gehoor gaande gehad. Antjie Krog, Les Javan en Hennie Aucamp se woorde is ook getoonset.

Die Spieël Speel-orkes spog ook met 'n paar groot name. Wie sou ook kon raai dat die vioolmeesteer Piet de Beer ook kan sing? Sy talente op die viool laat weereens my mond oophang. Nick Turner (kitaar en sang) het ook baie tot die vertoning gebied en Shaun Johannes se kontrabas het 'n lekker klank tot die nostalgiese kabaret-gevoel van Zanne en Kathy se flambojante speelsessie gevoeg. Frank Paco het agter die dromstel ingeskuif en die perkussie was ook goed.

Zanne het met die idee vir die musiekproduksie vorendag gekom, toe sy eendag op 'n koevert met 'n gedig in haar posbus afkom. Aucamp het dit vir haar geskryf en sy het daar en dan 'n wysie gehoor. Spieël Speel is hulle derde projek saam, waarvan die vorige, Soul of Fire ('n Spaanse produksie) uiters gewild, en op CD beskikbaar, is.

Zanne Stapelberg (links) en Kathleen Tagg (regs)

Daar was natuurlik ook verskeie kostuums op die verhoog, want geen Zanne Stapelberg-optrede is volmaak sonder drie of meer costume changes nie. Van engelvlerke tot krale en hoede en natuurlik 'n groot spieël. Die aandag aan fyn detail, nie net in hulle musikale oordrag nie, het my verstom. Daar was selfs 'n windpompie langs die dromstel en die musiekstaanders is versier met die bekende Mazzawattee-foto's. Skielik verlang ek vreeslik na my ma en ouma en wens hulle kon die aand met my deel, want dit is hulle wat by my 'n liefde vir musiek, volksliedjies en veral Philip de Vos se gedigte gekweek het.

Ongelukkig deel Zanne dat sy nou eers gaan rus en ma wees. Sy het meer as 80 optredes vanjaar ingeryg, maar Spieël Speel sal in 2014 weer terug op die planke wees. En ek sal beslis vir my ouma, ma, tannies, niggies en buurvrou kaartjies móét koop.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top