Zandra Bezuidenhout en die digkuns van vroue: ‘n knippie Lacan-sout met ‘n knypie Derrida-peper

  • 0
I
Die verskyning van ‘n studie waarin die feminisme of postfeminisme in die digkuns bespreek of onder die loep geneem word, is altyd ‘n belangrike gebeurtenis in ‘n oorwegend manlik-gedomineerde letterkunde. Hierom het ek Zandra Bezuidenhout se proefskrif Sosio-literêre perspektiewe op die eietydse digkuns van vroue in die Afrikaanse en Nederlandse taalgebiede (US, Maart 2005) uitgeneem. Bezuidenhout skryf gereeld kritiese kommentaar op ander digters, dikwels vanuit ‘n verouderde paradigma met die gebruik van die woord kunswerk en met ‘n belangrike analise van die gebruik van die talige dimensie in die digkuns. Sy lewer kommentaar op jong digters in By (Die Burger) en skryf resensies oor ander digters.
 
Die proefskrif, wat op sowel die Afrikaanse as die vroulike digkuns in die Lae Lande fokus, word hoofsaaklik gekenmerk deur ‘n historiese oorsig van vrouedigters, hul bydraes, edm. Sy maak oa analises van Krog en Stockenström met tersyde verwysings na ander vrouedigters in die Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse kanon.
Christien D’haen, Miriam van Hee, Anna Enquist en Anneke Brassinga se oeuvres word vir die leser ontsluit, vanuit ‘n historiese perspektief. Vir die leser wat nie bekend is met hierdie digters se werk nie, is daar nuttige inligting. Veral die afdeling oor Enquist was vir my ‘n relevante gedeelte.
 
 
II
Waar die studie egter in vele opsigte faal, is wanneer die skrywer, Bezuidenhout, verwys na teoretiese tekste. In die algemeen word teoretici sekondêr aangehaal, of ‘n belangrike teoretiese konsep – soos byvoorbeeld lisible/scriptible – word gebruik sonder enige teoretiese verduideliking of omskrywing. Roland Barthes is nie aanwesig in die bronnelys nie en in ‘n proefskrif sou ‘n mens ten minste ‘n verwysing na S/Z (1970/1974) verwag het. Roland Barthes, ‘n voorste kultuurkritikus en -teoretikus word egter nie betrek nie. Trouens, Barthes was van mening dat ‘n teks altyd ‘n sosiologiese en historiese dimensie bevat. Hy illustreer dit immers met die lesing van Balzac se Sarasineen sy analise begin met die woorde: "There are said to be certain Buddhists whose ascetic practices enable them to see a whole landscape in a bean” (p 3).
 
En slotte is sleutels, leer ‘n groot digter ons. In die opsomming of samevatting van die studie staan daar:
 
Die kuns en die wetenskap sluit mekaar dus nie uit nie; artefak en denke is tekenstelsels en wisselende perspektiewe wat mekaar in stand hou en oormekaar skuif om die menslike insig te vergroot. Die spoor van die gedig is ‘n indeks van die maker – dat sy daar was, hoe skerp sy gekyk en hoe diep sy op ‘n bepaalde moment getrap het om die landskap te verander. En daarvoor is spoorsnyers nodig (p 354).  
 
Hierdie kletserige slot dwing die leser tot spoorsnyer. (En waarom, terloops, is ‘n gedig ‘n indeks van die maker (of behoort dit te wees?)? ‘n Digter kan immers iets skryf waarin sy nie glo nie?)
 
En spoorsny is ‘n nuttige beeld vir presies wat die leser doen. ‘n Mens is besig met spoorsny. Deleuze se “plan of composition” word via Rajchman aangebied – so “après le déluge” sonder genoegsame teoretiese begronding.
 
Bezuidenhout wou ‘n korrektief op die teksgerigte benadering bring deur ‘n sosioliterêre benadering te volg. Alles goed en wel, maar haar teoretiese begronding laat dikwels veel te wense oor. Pierre Bourdieu en Marcia Eaton is die belangrikste aanstigters, met ‘n aanhaling of verwysing – meesal tweede- en derdehands – uit Lacan en wie ook al sig aanbied.
 
Wat bedoel die outeur Bezuidenhout met die volgende:
Ek het my nie uitsluitlik op die feministiese literatuurkritiek beroep om as teoretiese riglyn te dien nie, aangesien dit die interpretasiekader sou verskraal (p 337).
 
Sy wou ook die literatuursosiologie, kultuurfilosofie, vroue- of genderstudies en kultuurstudies betrek.
 
‘n Geval waar die ondersoek na vroueskrywers onbewustelik neerkom op ‘n vermindering van die feministiese literatuurkritiek wat deur Luce Iragaray, Jane Gallop, Marjorie Garber, Barbara Johnson verruim is deur die versoening van psigoanalise met sosiologiese en/of kultuurkritiek.
 
Daar word kursories na Cixous en Kristeva gekyk (jouissance en chora word oppervlakkig gesprinkel).
 
Die ideologiese netwerke waarbinne gelees word, is volgens Bezuidenhout die tweede feministiese golf (waarvan ons klaaglik min verneem), postmoderne denke (en sy “waarhede” – sic!), die sekularisasie van die samelewing en die seksuele bevryding in die algemeen. Waarskynlik het Bezuidenhout te veel digters gekies, sodat sy dikwels oppervlakkig kaats oor die ontwikkeling in ‘n oeuvre en selde diepgaande analises maak. Boonop het sy nie ‘n genoegsame greep op teorie nie, gooi sy terme rond sonder om die werklike implikasie van die historiese oorsprong van oa jouissance en chora te begryp. Dit is terme wat deur Barthes en Kristeva gebruik word, onder andere, maar elkeen pas dit uniek toe vanuit ‘n psigoanalitiese perspektief.
 
Wat van Lacan begryp word, is teleurstellend en beskamend min:
 
Die betekenaar het in hierdie opsig inderdaad ‘n belangriker waarde verwerf as die betekende, omdat laasgenoemde as verglydend of vloeibaar beskou word, soos Lacan (in Mitchell & Rose 1982: 43) dit in terme van die semiotiek beskryf wanneer hy De Saussure se skematiese aanduiding van die verhouding tussen die twee entiteite omkeer (p 340).
 
Lacan word, in ‘n proefskrif, nota bene, tweedehands en vlak aangehaal. (Terloops, Lacan se vermindering van vrouekritici sou nuttig te pas gekom het in hierdie studie. Hoe hy vroulike psigoanaliste verban het uit sy kritiese sfeer, verregaande stellings oor vrou-wees gemaak het, en so meer. Die volledige Luce Iragaray kom hierteen in opstand. Ons ken immers almal die stelling: “Die verskil tussen my en ‘n vrou is dat ek weet, en sy nie ...”)
 
Hierna word daar sommer na Derrida gespring na die “dissemination of meanings” sodat die leser al hoe meer voel asof sy ‘n allegaartjie eet in ‘n outydse kafee en ‘n bietjie Lacan-sout en Derrida-peper so nou en dan proe.
 
Die dialektiek tussen teks en konteks interesseer alle lesers van vrouepoësie en vanselfsprekend verander vroue die denkklimaat. Krog, onder andere, het die siening van ouma-wees nou onlangs met Verweerskrif dramaties herskryf. Dit is weliswaar ná die proefskrif gepubliseer, maar die besprekings van Kleur kom nooit alleen nie kom nie genoegsaam by die weefsel van die teks uit nie. Gaan kyk maar hoe Barthes in S/Z ‘n teks uitmekaar haal en die lexias vir die leser aandui. Tog is daar selde by Bezuidenhout ‘n genoegsame analise van die grensverskuiwings wat plaasgevind het by die digters wat sy aanhaal.
 
 
III
Reeds in die probleemstelling word daar met ‘n foutiewe invalshoek begin, waar daar verwys word na feministiese en postmodernistiese denke.
 
Wát?
 
Daar ís nie soos iets nie. Daar is verskillende feminismes en die postmoderne beleef ook verskillende avatare en representasies wat van mekaar verskil. Trouens, wat hier te lande aangebied word as pomo-denke is dikwels maar net metarefleksie en mis oa die verregaande toepassings van Baudrillard, om maar een denker uit te sonder. (Terloops, ‘n verhandeling is nie dieselfde as ‘n proefskrif nie – p 2.)
 
Daar word uit te veel tekste aangehaal – soos daar onder meer beweer word dat Luce Iragary eweneens betrek sal word (p 22), maar indien hierdie denker toegepas was – selfs in ‘n mindere mate – sou die uitslag anders gelyk het. Die studie word ‘n hutspot van teorie wat swak of half verstaan is, en ‘n grondige analise van ‘n teoretikus wat binne ‘n kultuurraamwerk geplaas sou word, sou veel beter gewees het. Wanneer daar oa na De Beauvoir se seminale studie verwys word, is die oorsprongdatum nie daar nie, maar slegs ‘n latere datum!
 
Meer nog mis ‘n mens in hierdie studie die implikasies wat “reading as a woman” het op “writing as a woman”, en vice versa.
 
In welke mate is ‘n feministiese teoretikus/digter steeds (onbewustelik) afhanklik van die goedkeuring van die manlike of fallogosentriese kanon?
 
‘n Klomp onverteerde teorie word uitgestal sonder om dit werklik te integreer in die denke en toepassing. Die analises is hierom vanselfsprekend en enige leser sou by dieselfde uitslag kon uitkom.
 
Onder andere weet ons dat die teks Jonker is haar geboorte-sterftedatum volgens Johan van Wyk in navolging van kultuurteoretiese denkers waaroor Bezuidenhout so hoog opgee. Op dieselfde wyse is die teks-Eugène N Marais waarskynlik beïnvloed deur al die mites rondom die digter, sodat ‘n “skoon” lesing onmoontlik is. Gaan kyk na die mites rondom “Winternag” en hoe hierdie gedig steeds ‘n impak het op jonger digters en die Afrikaanse digterlike diskoers.
 
Die teks Krog is die persoonlike-politieke. Die een dimensie speel in op die ander, verruim en verander dit.
 
Oor die vroueliggaam word daar in navolging van die Franse feministe beweer dat dit die lokus van subjektiwiteit en fokus word. Dit is helaas ook van Anne Sexton geskryf – vide The complete poems of Anne Sexton (Houghton Mifflin Company, New York, 1981). En hierom die fel kritiek op haar en die versugting dat sy liefs haar gedigte “tussen aanhalingstekens” moes plaas, omdat dit té intiem was vir vele manlike lesers.
 
Dis ‘n besonder lang studie (amper 400 bladsye indien ‘n mens die bibliografie insluit) sonder fokus. Trouens, dit laat die indruk van ‘n eerste weergawe en dikwels is die teorie nie genoegsaam met die praktyk geïntegreer nie.
 
Wanneer sy D’haen se “Psychomania” analiseer, verwys sy na die “intertekstuele gesprek” (outydse term) met Michelangelo, en Eybers se “Pietà” word sydelings betrek. Die volmaakte geluk tussen moeder en kind, ja. Op ‘n eerste vlak wel. Die titel roep egter om ‘n meer psigoanalitiese lesing wat Bezuidenhout eenvoudig verbygaan. Trouens, Kristeva en haar siening van poëtiese taal en die inbeweeg in die chora en die bloedskendige sou hier van waarde kon wees (p 219). Desire in language – met die belangrike subtitel "A Semiotic Approach to Literature and Art"(Columbia University, New York, 1980), waarin die transformasie en grense van taal beskryf word, bly ‘n baken in literatuurteorie. Die teks as produksie, as permutasie, as afwesige-aanwesigheid (p 36). Oftewel “the utterance as ideologeme” aktiveer ‘n kultuur- en sosiologiese perspektief.
 
 
IV
Daar word glo weggeskram van die kompilasie en eerder ‘n deurtastende ondersoek beoog (p 27); hierom is daar net op enkele figure gefokus. Die punt is: daar is steeds op té veel gefokus en die studie is ‘n oprakeling en aframmeling van feite en oorsigte van digters se publikasies, pryse, edm.
 
Dit spreek vanself dat hierdie studie ‘n halfgebakte indruk laat. Dalk met te veel sout in die sop? Dit plaas ‘n vraagteken langs die relevansie van die kritiese uitsprake wat Bezuidenhout op ‘n skoolvossige manier nie skroom om te maak oor ander digters nie. ‘n Groot kritikus is sy beslis nie.
 
‘n Teoretikus nog minder, want haar kennis van moderne teorie is bedenklik.

 

 
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top