"You can't go home again" – Mylne se Huis toe imponeer as satiriese kragtoer

  • 2

 

Huis toe is die Afrikaanse vertaling en verwerking van die Nobelpryswenner Harold Pinter se meesterwerk The Homecoming (1964). Dié produksie is as première by 2012 se Clover Aardklop Nasionale Kunstefees benoem vir die AngloGold Ashanti Fyngoud-prys en die Clover Soveel Beter-prys. Die regisseur, Henry Mylne, het weggestap met die OFM-prys vir beste regisseur. In die regisseursnota word die drama beskryf as gelaai met dramatiese afwagting en bytende, skerp, swart komedie. Dit fokus op ’n wrede en psigologiese kompetisie tussen die karakters, deurweek met seksuele spanning, emosionele impotensie, Oedipus-begeertes, eensaamheid en isolasie, skyn en werklikheid – wat eskaleer tot ’n ontstellende wedywering van die morele en sosiale orde van familieverhoudinge en ’n huwelik.

Deon Coetzee speel die rol van Max, die vader van drie seuns: Teddy, Lenny en Joey. Sy oortuigende spel getuig van ’n treffende illustrasie van ’n grootpraterige, bombastiese man wat desperaat probeer vashou aan sy patriargie, maar deurgaans subtiel ondermyn word deur sy familielede, veral deur Lenny (Neels van Jaarsveld) en sy skoondogter, Ruth (Amalia Uys). Alhoewel Max aanvanklik mag voorkom as ’n “leë blik”-karakter, is dit die kontras tussen sy gewelddadige aard en sy weerloosheid en drang na aanvaarding wat daaragter skuil wat die denkende teaterganger sal bybly.

Deon Coetzee is benoem vir die Clover Soveel Beter-prys vir beste akteur, maar dit is Amalia Uys, in die rol van Ruth, wat die gehoor meesleur, verbaas en verbyster laat. Haar besonder afgeronde en konsekwente spel getuig van die bemeestering van haar rol se betekenisnuanses, wat deur haar skynbare afwesigheid van emosie en popagtige gesigsuitdrukkings en bewegings geïnsinueer word.

’n Komplekse magspel word deurgaans deur kontraste beklemtoon en onderbeklemtoon. Lenny staan teenoor sy pa, Max, in ’n magspel binne die familiedinamika, terwyl die veelseggende, seksuele spanning tussen Lenny en Ruth tásbaar aangevoel kan word.

Die wedywering rondom mag lewer satiries kommentaar op morele waardes binne die gesin, familie en samelewing; die objektivering en bevryding van die vrou; seksuele verhoudings en prostitusie; en die ondermyning van tradisionele patriargale oorheersing. Die teks dui op die dekonstruksie van die familie binne ’n postmoderne bestel. Meer nog: die gehoor sien die afspeel van die dekonstruksie van die dramateks self, want onderliggend aan die dialoog lê die meesterlike spel, donker humor, stemtoon en intonasie, beweging, die beweginglose, emosionele uitbarstings teenoor afgestomptheid, en die dreigende spanning tussen karakters wat betekenisontginning uitwaaierend aan die gang sit.

Die teks getuig van ’n linguistiese betekenisspel, maar onder die regie van Henry Mylne en die gesoute spel van Coetzee, Van Jaarsveld, Uys en Armand Aucamp (Teddy) bereik Huis toe nuwe hoogtes. Werner Coetser (Joey) en Johan Engelbrecht (Sam) se rolvertolking kom egter middelmatig voor in ’n produksie van uitsonderlike toneelspel, teks en regie.

Mylne slaag daarin om The Homecoming vanaf ’n 1960’s-Londen te verplaas na ’n Suid-Afrika van die 1960’s, maar ook ’n kontemporêre Suid-Afrika waarin die produksie nog net so relevant is. Hugo Taljaard se vertaling en transponering van die Engelse teks behou Pinter se fyn aanvoeling vir die satire en die idee dat onderdrukte psiges en dit wat ongesproke en onderliggend is, dikwels die diepste kan tref.

Taljaard se vertaling van The Homecoming as Huis toe, en nie die verwagte Tuiskoms nie, voeg verdere simboliek toe aan Pinter se reeds ironiese titel. Die titel sinspeel op die huwelikspaar, Teddy en Ruth, se terugkeer na Teddy se huis en hulle geboorteland, maar die verhoogspel spreek van die onvermoë om ooit werklik tuis te kan kom. Ruth se tuiskoms binne die gesin word uitgebeeld in ’n treffende slottoneel wat die gehoor ademloos laat toekyk.

Sy onttroon Max as patriargale figuur en neem sy stoel letterlik en figuurlik in, terwyl hy desperaat sy begeerte uitspreek om raakgesien te word. Sy word ook nou die vrouefiguur binne die gesin, alhoewel haar huis in Amerika moederloos gelaat word. Teddy se terugkeer na Amerika simboliseer die universele mens se onvermoë om ooit werklik op aarde te kan tuiskom, maar slegs in die voortdurende proses van “op pad huis toe” vasgevang is. Soos Thomas Wolfe gesê het: “You can’t go home again.”

  • 2

Kommentaar

  • amanda lamprecht

    Pinter word nie beoordeel volgens postmodernisme en dekonstruksie nie maar aan die hand van Pinter self. Al gehoor van "Pinteresque?" Wat kwalifiseer jou om resensies te skryf?

  • amanda lamprecht

    Selfs jou opskrif dui op onkundigheid. Indien jy dink dit is 'n 'satire' sit jy die pot mis as wat kan kom. In die regisseursnota (met 'n a) word dit duidelik omskryf as by uitstek 'swart komedie.' Jy ignoreer dit en etiekeer dit na willekeur.

    The purpose of black comedy is to make light of serious and often taboo subject matter, and some comedians use it as a tool for exploring vulgar issues, thus provoking discomfort and serious thought as well as amusement in their audience. Popular themes of the genre include murder, suicide, depression, abuse, mutilation, war, barbarism, drug abuse, terminal illness, domestic violence, sexual violence, paedophilia, insanity, nightmare, disease, racism, homophobia, sexism, disability (both physical and mental), chauvinism, corruption, and crime. Black humor in literature, drama, and film, is grotesque or morbid humor used to express the absurdity, insensitivity, paradox, and cruelty of the modern world. Ordinary characters or situations are usually exaggerated far beyond the limits of normal satire or irony.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top