Yes, really! A life deur Kate Turkington: ’n resensie

  • 0

Yes, really! A life
Kate Turkington
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624083672

Die boek belowe ’n vertelling van ’n lewe. Jy, die leser, vra dan natuurlik: Wat maak hierdie lewe dan so uitsonderlik dat 283 bladsye daaraan gewy word?

Jy het nie rekening gehou met Kate Turkington nie. So word jy, heel sappig, ingelei in ’n toneel van twee dogtertjies wat in 1942 van hulle ouers geskei word om uit die dreigende bombardering van Londen na die platteland uit te wyk. Maar hulle word gou met hul ouers herenig. Als goed.

Maar wanneer jy die boek toeslaan, is jy ’n ander leser. Verslae, uitgemergel.

Turkington is onthutsend eerlik, maar sy vertel haar storie soos enige goeie rillerskrywer sou. Hier en daar ’n leidraad dat dinge kan ontrafel, maar tussenin is dit ’n vreugderit van beskrywings, inligting, stoutighede, pret.

Op 83 skryf sy haar derde boek – hierdie ene. Saam met haar (sy is ’n baie gewilde reisjoernalis) besoek jy onmoontlike plekke op aarde; saam met haar raak jy amper sentimenteel geheg aan haar honde.

Sy het ’n byna maniese energie. Op 80 klim sy die steil, ontoeganklike Torres del Paine in Patagonië; jy beleef saam met haar die ongelooflike gesig van die reuseseeskilpad wat land toe sukkel om ’n nes met haar yslike vinne in die sand te skop vir haar ver oor die honderd eiers – en dan weer haar twee meter lang liggaam terugsleep na die see.

Kate is Engels gebore, word uitermate geheg aan Ierland én Afrika. Sy is ’n akademikus (Engelse letterkunde) wat in Afrika aan vele projekte deelneem. Uiteindelik word sy ’n Johannesburger. Sy word weer aangekeer vir radiowerk en vir 17 jaar lei sy die Believe it or not-geselsprogram op die lug. Hier voer sy onderhoude met mense soos Richard Dawkins en die groot Anglikaanse kerkman Terry Waite wat vir vier jaar self in aanhouding was weens sy bemiddeling vir aangehoudenes in vyandige lande. Sy het met Tutsi-oorlewendes na die Rwanda-slagting gesels, asook met die vroue van die verstarde Hutteriete-sekte in Montana, VSA.

Sy doen televisieprogramme oor haar vele reise. Oomblikke in die Tibettaanse pieke word so realisties vertel dat jy, die leser, self rillings kry. Sy gaan soek die Noorderligte en kry ander verbysterende tonele.

Sy was twee keer getroud, het vier kinders, nege kleinkinders.

Sy het kortstondige affairs. Sy is bo alles doodeerlik. Verstandig. Mense vertel maklik hul lewenstories vir haar.

In haar middel-sewentigs tref die lewe háár. Amper verlam van skok oor die verskriklike werklikheid wat haar toe tref, kry sy berading, word sy byna manies-onmoontlik met tye.

Dan besin sy. Sy skryf: “I knew for certain what my role in life was. It was to love and be loved. It was to be strong and to give strength.” Haar ma het immers altyd gesê: “You never know what happens behind closed doors.”

Yes, really! is nie ’n troosboek nie. Dis eerder ’n aansteeklik opwindende avontuur tussen skrywer en leser. Wanneer “the end of the world” haar tref, sluk ook die leser van verstomming.

Turkington móés hierdie boek skryf. Vir haarself en ook vir haar lesers.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top