Die week in woorde
Vandag, terwyl ek eintlik baie beter dinge met my tyd kon (en moes) gedoen het, kom ek op ’n nuttige webwerf1 af wat jou in staat stel om kitspoësie te skryf deur enkele woorde op ’n aanlyn-vorm in te vul.
Binne 38,5 sekondes “skryf” ek die volgende meesterstuk:
I Am
I am almost 30 and sleepy
I wonder if there's any sweet stuff in the fridge
I hear helicopters
I see the future
I want cheese
I am almost 30 and sleepyI pretend I’m cool with this
I feel dizzy when I hear the helicopters
I touch my toes
I worry about almost everything
I cry about everything else
I am almost 30 and very sleepyI understand this is a problem
I say RABBITS!
I dream of a strange lake in a blue forest
I try to be sensible
I hope to stay completely sane
I am almost 30 and very very sleepy
Hoor ek iemand sê “Hertzogprys”? Nee? O, dit was seker net ’n hoes of iets. Kug-kug.
Nou ja, nadat ek (duidelik sonder veel nadenke) hierdie tydlose treffer geskep het, wonder ek toe wat ek in die “I am”-blokkie sou invul as ek dit ’n tweede keer probeer en bietjie harder daaroor nadink. En ek dink dadelik aan daai liedjie van Alanis Morissette2 waarin sy sing “I am a magnet for all kinds of deeper wonderment.” Ek wens ek kon sulke mooi goed kwytraak (“Ek is ’n liefdeslelie” of “Ek is ’n vuurhoutjie” ... Dalk “Ek is ’n herdershond” of “Ek is ’n mikrofoon”?), maar daar is eerlikwaar net één antwoord wat tans na die waarheid klink: Ek is ’n inboks. ’n Wandelende opgaarplek vir Dringende Korrespondensie. ’n Postmoderne posbus waarin spam-boodskappe oor penis-vergrotings en spesiale aanbiedings by Sjinese skoenfabrieke vergaar. Ek is ’n bergplek vir 10 miljoen kennisgewings van 336 verskillende sosiale netwerke. Ek gebruik tans 49% van my 10 GB stoorplek. Daar is 678 ongelese boodskappe wat my aandag vra ...
Ek gaan aanneem daar is mense wat met my kan identifiseer. Dalk is ons almal, in hierdie dae van hiperteks en virtuele woorde, gereduseer tot inbokse met asems.
Maar nou, omdat my spesifieke tipe inboks gehardwire is om alewig ’n goue randjie of ’n positiewe boodskappie te soek, is ek genoop om te vra of dit noodwendig so ’n slegte ding is om ’n inboks te wees.
Elke inboks het natuurlik sy oomblikke. Soos as iemand vir jou ’n mooi aanhaling van Neruda stuur waaroor jy kan nadink:
This is the poetry we are seeking, corroded, as if by acid, by the labours of man’s hand, pervaded by sweat and smoke, reeking of urine and of lilies soiled by diverse professions in and outside the law. A poetry as impure as a suit or a body, a poetry stained by food and shame, a poetry with wrinkles, observations, dreams, waking, prophecies, declarations of love and hatred, beasts, blows, idylls, manifestos, denials, doubts, affirmations, taxes … But we must not overlook melancholy, the sentimentalism of another age, the perfect impure fruit whose marvels have been cast aside by the mania for pedantry: moonlight, the swan at dusk, “my beloved”, are, beyond question, the elemental and essential matter of poetry. He who would flee from bad taste is riding for a fall.
Of as iemand anders hulle eie “Ek is”-oomblik so raak verwoord en dit beland in my inboks. Hy het ’n rugbesering opgedoen en ek verneem hoe dit gaan. Die antwoord: “Die ergste is darem agter die rug … ek bedoel die werwel. Ek is gekorset en dit hou my aan die gang. Met die beheer van die korset voel ek nou hoe moet dit wees om 'n sonnet te wees!”3
Buiten korrespondensie van slim mense, diep mense en snaakse mense wat soms per ongeluk in my inboks beland, is ek ook ingeteken op ’n verskeidenheid outomatiese e-posse wat my straaltjies lig en oomblikke van plesier verskaf. Te danke aan Dictionary.com4 se daaglikse e-posse weet ek wat nubilous, qualia en nary beteken. En sonder Poets.org5 se “poem-a-day”-e-pos sou ek seker nooit van David Trinidad geweet het nie. Sy gedig “Peyton Place: A Haiku Soap Opera” is tans heel boaan my jaloers-lysie.6 (O, ek kry ook weekliks LitNet se nuusbrief. En jy?7)
Een laaste positiewe opmerking oor die inboks-toestand: om ’n inboks te wees veronderstel oopte (“openness”) en dit is ’n eienskap waarby almal wat wil skryf, kan baat. Om jou oop te stel en als wat inkom in jou holtes te laat lê totdat jy gereed is om iets daaruit te maak wat geskik is vir die outbox – dis waarheen ek hoop ek op pad is8. En soos Noeleen van 3 Talk sou sê: Do join me.
Do try this at home.
Voel jy verveeld? Gefrustreerd? Kwaad of ongelukkig? Volg hierdie 7 maklike stappe. Jy sal nie noodwendig beter voel nie, maar ten minste gee dit jou iets om jou hande mee besig te hou.
- As jy self wil probeer om ’n meesterlike “I am”-gedig te skryf, volg hierdie skakel.
- Hier is die Alanis-liedjie waarna ek verwys. Dit was op die klankbaan van The Chronicles of Narnia.
- As jy wonder watter poëtiese vorm jou persoonlikheid die beste reflekteer, voltooi hierdie vraelys. My uitslag is terza rima.
- Teken hier in op Dictionary.com se woord-van-die-dag-e-pos.
- Hier is Trinidad se gedig op poets.org. En jy kan hier inteken op hulle “poem-a-day”-e-pos.
- Begin gerus self ook ’n jaloers-lysie. Ek onthou dat ek êrens gelees het dat die dinge waarop jy jaloers is, jou ’n goeie aanduiding sal gee van waarheen jy op pad behoort te wees.
- Jy kan hier inteken op LitNet se weeklikse nuusbrief. Dis verniet en vol dinge wat jou dalk sal interesseer, soos gedigte en rubrieke oor gedigte, onder andere.
- Dis ’n subtiele skimp. Wat ek eintlik wil sê is, genoeg e-posse gelees, tyd om ’n gedig te skryf. Sukkel jy? Keer terug na stap 1.
Groete tot volgende week.
Inboks Slippers
Gedigte op LitNet
Klik hier vir alle nuwe poësie op LitNet.

