
Die finale ronde van WOW se Nasionale Spelfees word Saterdag 18 Oktober in Stellenbosch aangebied. Leerders van Graad 1 tot 10 uit agt provinsies by die Universiteit van Stellenbosch bymekaarkom om hul klank- en spelvaardighede te meet. Elke graad het tussen 20 en 25 deelnemers.
Meer as 600 skole het in 43 streeks- en provinsiale kompetisies meegeding om hul plekke in die eindronde te verseker.
Grade 1 en 2 klank die woorde terwyl die res van die grade die woorde spel. Sowat 60 persent van die woorde kom van ’n voorgeskrewe lys terwyl die res onbekend is.
Volgens Fiona van Kerwel, projekbestuurder van WOW, is die doel om Afrikaans as taal te bevorder en leerders te leer om van vroeg af ’n belangstelling in die taal te hê. Sy sê korrekte spelling help met effektiewe geskrewe kommunikasie. Die formaat van die kompetisie maak spelling ook pret.
Saartjie Botha, bestuurder van USWoordfees 2015, sê die Wes-Kaapse provinsiale uitdunne was “een van die opwindenste gebeurtenisse wat ek nog bygewoon het. Die spanning in die saal – veral tussen die ouers – was elektries. ’n Mens raak heeltemal ingetrek by die gebeure en jy wil nie hê enige van die kinders moet ’n fout maak nie.”
Die wenners kry elk ’n kontantprys, ’n trofee en ‘n boekprys van NB Uitgewers. Die top drie deelnemers per graad kry elk ’n balkie en medalje. Al die deelnemers sal sertifikate ontvang.
Van Kerwel sê die eerste spelfees is in 2008 gehou met slegs twee skole wat deelgeneem het. Vanjaar is daar deelnemers uit elke provinsie buiten KwaZulu-Natal, wat volgende jaar betrek sal word.
WOW (’n akroniem vir Woorde Open Wêrelde) is ’n inisiatief van die US Woordfees.
Grade 1 tot 3 moet by die Wilckocks-gebou in Ryneveldstraat byeenkom. Graad 4-leerders ontmoet by die Geologie-gebou terwyl die res almal by die Lettere-gebou byeenkom. Alle deelnemers, ouers en belangstellendes moet om 09:30 by die onderskeie lokale aanmeld. Die prysuitdeling word om 12:30 by die Wilcocks-gebou gehou.
Bywoning van die fees is gratis. Vir navrae kontak vir Fiona van Kerwel by 072 117 3483 of Shireen Crotz by 083 237 7059.

