WOW en Son ken beurse toe aan skoolkoerante

  • 0

Foto: Dorothea van Zyl (Woordfees- en WOW-direkteur), Julian Smith (vise-rektor: Gemeenskapsinteraksie, US), Mandy-Jade Petrus van New Orleans Sekondêr in die Paarl, Sandra-Lee Vaaltyn van Eersterivier Sekondêr in Eersterivier, Byron Ruiters van Luckhoff Höerskool op Stellenbosch, Elrico Adams van Gordon Höerskool in die Strand, en Margo Breda van Schoonspruit Sekondêr op Malmesbury, Mark Herman, hoofbestuurder van Son en Die Burger, en Edwin Lombard, assistent-redakteur van Son en redakteur: Son op Sondag.

Die US Woordfees se Woorde Open Wêrelde (WOW) Projek en Son het op 28 November pryse en beurse oorhandig aan leerders van WOW-skole. Dié glansgeleentheid op L’Avenir buite Stellenbosch was die hoogtepunt van ’n jaarlange samewerking tussen Son en die WOW Projek.

Beurse vir voorgraadse studies aan die US en pryse ter waarde van R15 000 is toegeken aan leerders van skole wat deur die loop van die jaar deelgeneem het aan Son en WOW se skoolkoerantprojek. Leerders se vaardighede in skryf, fotografie en onderhoudvoering is tydens dié reeks werkswinkels ontwikkel.

Pryse is toegeken aan die volgende leerders in die onderskeie kategorieë: Tiffany Abels van New Orleans Sekondêr (beste berig), Melissa Moses van Luckhoff Sekondêr (beste inleidende paragraaf), Jaydene Florence van Kylemore Sekondêr (gemaklikste skryfstyl), Cady Balie (Schoonspruit Sekondêr (beste fotografie) en Allison Sandy van Proteus Sekondêr (storie van die jaar).

Proteus Sekondêr in Atlantis het weggestap met die toekenning vir die beste skoolkoerant in 2012. Die redaksie van Die Tekkie het skootrekenaars en kameras van Son ontvang. Volgens Christa Prinsloo, inhoudsredakteur van Son, het die wen-redaksie groot ontwikkeling getoon in hul skryfstyl. “Hulle kon duidelik onderskei tussen stelwerk-styl en wanneer hulle ’n berig moes skryf.”

Die Son-beurse is toegeken aan Byron Ruiters (Luckhoff Sekondêr), Sandra-Lee Vaaltyn (Eersterivier Sekondêr), Margo Breda (Schoonspruit Sekondêr), Elrico Adams (Gordon Hoërskool) en Mandy-Jade Petrus (New Orleans Sekondêr). Dié gelukkige leerders van WOW-skole gaan volgende jaar kursusse in joernalistiek volg aan die Universiteit van Stellenbosch.

Beurse is oorhandig deur prof. Julian Smith, vise-rektor: Gemeenskapsinteraksie aan die US, en mnr. Mark Herman, hoofbestuurder: Son en Die Burger. Volgens Herman wil Son ’n bydrae lewer om positiewe rolmodelle te vestig in ons gemeenskappe.

In 2013 word die werksaamhede van dié projek voortgesit en uitgebrei na meer skole. Die eerste ontmoeting van deelnemende skole vind plaas op Saterdag 9 Maart tydens die jaarlikse WOW Fees in die Van der Stel-saal op Stellenbosch.

Die voormalige 7de Laan-akteur Zane Meas was seremoniemeester tydens die geleentheid.


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top