Wouter
Jy maak elders die opmerking met verwysing na parawetenskappe en spiritualiteit: “Weereens ’n aanduiding daarvan dat kennis van die verskynsel bestaan apart vanaf ’n moontlike ontdekking daarvan soos ontdekking en ontleding geskied in wetenskap.”
Ontleed nou jou eie opmerking sorgvuldig. Kennis van ’n fenomeen bestaan, maar jy het dit daarteen dat toegang daartoe nie met die huidige sisteem van ontdekking en ontleding van die natuurwetenskappe moontlik is nie. Daarom maak jy die fenomeen af, in stede daarvan om te erken dat die wetenskap, wat deur sekularistiese en agnostiese wetenskaplikes beheers word, nie opgewasse is om die bestaande kennisveld te ontleed en bestudeer nie. Dit is darem nie aanvaarbare metodiek nie.
Jy behoort jou vooroordeel opsy te stoot en wetenskaplikes aan te moedig om hulle argaïese metodes te rekonstrueer sodat hulle van hulle onvermoëns ontslae kan raak.
Nou moet jy toegee dat die fout nie by die bewustheid van die fenomene lê nie, maar by die onvermoë van die huidige sisteem van natuurlike wetenskapsbeoefening.
Meer en meer universiteite in die buiteland besef die tekortkoming en is besig om fakulteite en leerstoele op die been te bring om die nodige te doen. So word religie alreeds as wetenskap erken. Jan Maarschalk vermeld ook van universiteite in Europa (Nederland) wat al die wetenskappe ondersoek.
Ek dink julle Suid-Afrikaanse agnostici het vasgeval in ’n negentiende-eeuse groef – met die natuurwetenskappe én die geesteswetenskappe.
’n Ander ateïs skrywe vir my dat hy nie getuienis van die werking van die Heilige Gees kan aanvaar nie, want hy kan die spoed van lig meet en sien die aarde is rond en wiskunde beoefen, maar hy kan nie só ’n tou vasbind aan die werking van die Heilige Gees nie, dws dit materieel bemeester, onderwerp en ontleed nie, daarom verwerp hy dit. Jou argument is maar dieselfde. Wat dit eintlik beteken, is dat julle verwerp wat julle nie weet nie, of (nog) nie toegerus is om te weet nie, al weet ander mense dit. Dit is ontsettend onwetenskaplik en eenogig, dink jy nie?
Hy kan ook nie ’n tou vasbind aan elektrisiteit nie … nou bestaan elektrisiteit nie!? Tog is daar al ’n manier gevind om elektrisiteit mee te bestudeer. Doen nou so met die ander energie, dié waarvan ons praat, naamlik spiritualiteit, ook.
Eers was die bewuswording van die bestaan van elektrisiteit (elektromagnetisme), daarna het die wetenskap daaromheen ontwikkel. Doen nou so met die res en hou op om die voor die hand liggende te ontken. Deur te bly wegskram, sal julle onkundig bly.
Groete,
Kobus de Klerk

