Word ook die Afrikaanse letterkunde in ’n digitale toekomsblik gedruk?

  • 1


Argiveringslaaie (bron: http://www.shropshiremusictrust.co.uk)

Abraham de Vries het 'n boekresensie op die internet gesoek. Hy het die volgende boodskap gekry: "Hierdie webskakel bestaan nie." Hier skryf Francois Verster, Naspers se argivaris, wat van al die data word.

Die wêreld van woorde, insluitend dus die brood-en-botter-produkte van skrywers en navorsers, word ingesuig in ’n reusestofsuier genaamd digitalisering, en niemand weet wat uiteindelik daarmee gaan gebeur nie.

Baie mense gee ook nie om nie – solank hulle kan geld maak.

Abraham de Vries het in Oktober vanjaar gevra: “Verdwyn die e-resensie in die digitale toekoms?”, na aanleiding van ’n resensie (van Hans du Plessis se Inboekeling deur Wium van Zyl) wat hy wou lees en toe vind hy slegs: “Hierdie webskakel bestaan nie meer nie.” De Vries sê: “[P]latforms het die onsalige manier om net weg te raak: berigte, foto’s, tekeninge, alles waaruit koerante bestaan.” Dan vra hy of dit kan gebeur dat sekere resensies net kan wegval, byvoorbeeld die negatiewes, terwyl die positiewes behou bly. So, gaan hy voort, kan e-sensors dan e-tekste laat verdwyn agter twee woorde: “Bestaan nie”?

Abraham de Vries (bron: LitNet)

 

Volgens De Vries bestaan ’n Orwelliaanse moontlikheid dat toeval sy lyf sensor kan hou – of is dit noodwendig toeval? – en hy wonder wie oor e-sensors gaan waghou. Hy insinueer dus twee moontlike scenario’s, naamlik dat digitale teks doelbewus afgevee kan word, of dat sommige tekste na willekeur weens tegniese gebreke uitgewis word. Nie “kán word nie”, maar “word”, want dit gebéúr; dis ’n skrikwekkende werklikheid en dis hier – dit lê nie iewers in die toekoms op loer nie.

Inderdaad. Die gedagte is onrusbarend. En wanneer die (nare?) droom van ’n lankvoorspelde papierlose wêreld bewaarheid word (ís dít ’n realistiese moontlikheid?), wanneer daar nie meer papierweergawes soos die vermelde resensie in Rapport is nie, wat gaan oorbly? Wanneer dit gebeur, sal die “geduld” van papier op wees, sal sensuur vingerpunt-maklik wees en sal die webmeesters die übermarionetmeesters word ...

LM Muntingh (bron: stellenboschwriters.com)

Onlangs het ek by ’n byeenkoms in Franschhoek een van my ou dosente raakgeloop. Prof Muntingh is ’n Ou-Testament-kenner en gou het die gesprek oor ou dokumente gegaan – ja, data vóór rekenaars. Lánk voor rekenaars, voor papier selfs. Die antieke mense van die Midde-Ooste het duisende jare gelede rekords gehou en daardie gebakte kleitablette is steeds leesbaar. “Nou,” vra Muntingh, “kan jy dit van enige elektroniese databron sê?”

Nogal níé – die meeste laserskywe (CD’s/CD ROMs) hou nie eens 20 jaar nie – wie van ons het nog nie die woorde “File corrupted” gesien nie? En erger: in ’n wêreld waar 10% van meer as 700 miljoen persoonlike rekenaars daagliks instort, en aangesien net 6% van ons daagliks rugsteuning (“backup”) doen, het amper die helfte van ons al data verloor, wat ons uit angs en desperaatheid laat gil het.

Teen hierdie agtergrond het LitNet my ’n paar vrae gevra: Wat is ’n argief? Hoe beskikbaar moet dit wees? En wat is my gevoel as betaalmure in die prentjie kom?

Vir my as argivaris (ek was eers staatsargivaris en is sedert 2007 Naspers se maatskappy-argivaris), wat alewig die bestaanswaarde, selfs waardigheid, van my beroep moet verduidelik en verdedig (gewoonlik aan mense sonder die belangstelling om lank genoeg te luister om die inherente waarde (nut) van ’n eeue oue menslike aktiwiteit te begryp) bied LitNet se vrae ’n rare geleentheid om “argiewe” binne ’n werklik relevante konteks voor te stel.

Argief (bron: wikipedia)

 

Eerstens: Wat is argiewe? Die kort antwoord is: Dis níé die digitale spens wat in elke persoonlike rekenaar of selfoon ingebed lê nie. Ek sou sodanige versamelings data eerder “rekords” of “databanke” noem. Mense sien “Argief” op hulle skerms, ook by Outlook, maar ’n volwaardige argief bestaan uit oorspronklike dokumente – en dit kan wel ook elektroniese weergawes daarvan insluit as dit oorspronklik elektronies geskep is.

’n Voorbeeld is die Naspers-argief, wat nagenoeg vyf miljoen bladsye beslaan, beide in papierformaat en in die geskandeerde afbeeldings daarvan wat op ’n soekenjin genaamd Alchemy gestoor word. Met ander woorde, sedert die argief wat in 1915 begin is (toe De Burger ontstaan het), in 2008 geskandeer is en daarna op die soekenjin Alchemy soekbaar was, is daar dus byvoorbeeld die Akte van Oprigting en Statute (1915) in papierformaat, vakuumverpak en in ’n stoor gerak, asook die elektroniese, geskandeerde weergawe daarvan op Alchemy. Hierdie soekenjin word in twee plekke gestoor, nl by die maatskappy wat die skandering en fisiese berging behartig, en op die sentrale bediener van Naspers. Die maatskappy-argivaris is al persoon wat direkte toegang daartoe het, en is dus die “hekwagter”. Hy besluit ook wat geberg word en wat na “lêer 13” gaan – dis onmoontlik om álles te behou.

Die Nasionale Argief in Roelandstraat (bron: Flickr)

 

Die staatsargiewe, soos die Kaapstadse Bewaarplek in Roelandstraat, bewaar 45 km papierargiewe – wat foto’s, kaarte en derduisende korrespondensiestukke insluit. Hierdie argiewe was in etlike bewaarplekke gestoor, soos voorheen in die huidige Iziko-museum (beter bekend as die Slawelosie), die SA Nasionale Biblioteek in die Tuine en die kelders van die parlementsgeboue en die huidige Centre for the Book, wat oorspronklik die gebou van die SA Kollege (later Unisa, en ons oudste universiteit) was. Vanaf 1989 word dit op die perseel bewaar wat eens die Roelandstraat-gevangenis gehuisves het. En nou eers word die argiewe geskandeer om dit uiteindelik elektronies soekbaar en toeganklik te maak. Soekenjins is nuttige vindmiddels, maar laat ek dit weer duidelik stel: nié ideale bewaarmiddele nie. Ek hoop die besluitnemers by die Argiefdiens besef dit.

Die staatsargief het dus nog ver om te gaan op die pad van “digitale argivering”, en is nie tans ’n geskikte voorbeeld van hierdie (taamlik spekulatiewe) proses nie. Daarom het ek Naspers se argief as voorbeeld genoem, maar die oerbron van argiewe in enige land is staatsargiewe, as mens kyk na wat die woord argief werklik beteken. Nietemin, beide maatskappye en die staat behou steeds hulle belangrikste dokumente in papierformaat, al word dié entiteite verkieslik nie fisies hanteer wanneer navorsing gedoen word nie.

Dit is dan wat argief tradisioneel behels: wesenlik ’n groep dokumente soos dié van Malmesbury-munisipaliteit (in die staatsargief) of alles wat Naspers oor sy uitgewery Tafelberg besit, nl die Argief van Tafelberg.

Die gebou waar argiewe (“rekords” genoem totdat dit in voorraad geneem word) bewaar word, staan bekend as ’n “argiefbewaarplek”, al staan so ’n gebou in die volksmond bekend as “die Argief”. Maar nou, met die miljoene persoonlike rekenaars wat elkeen ’n sogenaamde argief het, ditto webwerwe/-blaaie, is die tradisionele terme besig om amper in onbruik te raak teenoor die populêre perspektief: die virtuele stoorplek as “argief”.

Tweedens, hoe beskikbaar of toeganklik moet argiewe wees? Noudat ons die verskil tussen tradisionele argiewe (papierdokumente) en die “elektroniese” begrip van argiewe (’n virtuele ruimte waar data byeengebring word om elektronies benut te word deur die klik van ’n knoppie, of twee, dalk via ’n toegangskode) verstaan, kan ons op toegang fokus. Soos genoem, het maatskappy-argivarisse alleentoegang tot hulle argiewe, om verstaanbare redes. Die staatsargief het ook ’n webwerf, en die publiek kan gratis toegang daartoe verkry, maar nie alle argiefgroepe in hulle bewaarplekke (daar is sowat ’n halfdosyn oor die land versprei) is geskandeer en in ’n databasis opgeneem nie, dus kan die publiek slegs verwysingsnommers op hul rekenaarskerms sien en moet hulle dan self fisies na die betrokke bewaarplek gaan om navorsing te doen in leeskamers daar. Daar kan hulle leiding van argivarisse (leeskamerbeamptes) ontvang.

Nie alle dokumente is egter toeganklik nie, hetsy omdat hulle nog nie verwerk (gesorteer, geboks, gerak en geïnventariseer) is nie, of omdat hulle om ene of ander rede “geslote” is: (nog) nie deur die publiek geraadpleeg mag word nie.

Kyk ’n mens na argiewe in virtuele ruimtes, byvoorbeeld Huisgenoot s’n op die tydskrif se webwerf, teenoor wat in Naspers se maatskappy-argief bewaar word, is dit duidelik dat die data oor Huisgenoot (’n bondige opsomming van Huisgenoot se geskiedenis) op die internet vrygestel is vir openbare gebruik – eintlik vir bemarkingsdoeleindes.

Toegang tot die dokumente (ware argief) van Huisgenoot, soos finansiële stukke, notules van vergaderings en personeelrekords, is nie toeganklik vir Jan en San Allemens nie – weer eens, om verstaanbare redes. Dog sekere inligting in sodanige argief (dokumentegroep) moet bewaar word volgens die bepalings van die Argiefwet, dieselfde wet wat op staatsargiewe van toepassing is. Oudits en hofsake is die vernaamste redes vir hierdie bepalings.

Veronderstel iemand (enigiemand) vra toegang tot (enige) dokumente? In die staatsargief se geval kan skriftelik toegang gevra word en die hoof van so ’n bewaarplek kan volgens sy/haar diskresie optree – ’n weerbarstige belastingbetaler selfs die deur wys, maar na die straat, nie na die brandkamers agter die leeskamer nie. Maatskappy-argivarisse behou hulself dieselfde reg voor. Die virtuele argiewe wat op die internet besigtig kan word, in enige konfigurasie (opsommings, artikels, ens), is vooraf “gekeur” en ’n proses van “sensuur” vind dus plaas: dit wat die webmeester as toeganklik beskou, mag gelees en selfs gekopieer word.


Die Long Room in Dublin, 'n biblioteek wat dien as naslaanargief (bron: http://www.cntraveller.com)

Die antwoord op die vraag: “Hoe beskikbaar moet argiewe wees?” (in hierdie geval bedoel as “Watter argiewe behoort toeganklik te wees?”) is dus nie ’n maklike of ooglopende een nie, want dit hang af van watter belange daar beskerm mag word. By staatsargiewe kan aangenome kinders se identiteit (geboorteregisters en -sertifikate) byvoorbeeld geheim gehou word). Maatskappy-argiewe weerspieël hoofsaaklik besluitneming van werknemers en direkteure, terwyl uitsprake in korrespondensie ook van sensitiewe aard mag wees. Dit wat op die internet verskyn, hetsy gratis toeganklik al dan nie, kan in dieselfde lig beskou word.

Aangaande betaalmure: tans nog nie ’n algemene instelling nie – soos LitNet wat gratis toegang bied – maar sodra meer as 50% van webwerwe, blogs, ens “toegangsgelde” vra, sal dit waarskynlik vinnig die norm word. Die voordele is dat beter gehalte verwag kan word, dat die eienaars van sulke entiteite verantwoordbaar gehou behoort te word vir inhoudsekerheid (soos koerante aangekla kan word) en dat spesialiste hiermee ’n inkomste kan verdien, byvoorbeeld ondersoekende joernaliste, asook resensente en rubriekskrywers – dat die koring van die kaf geskei kan word. Want op die oomblik is daar gans te veel kaf, omdat enige aap met ’n wysvinger wat gewoonlik in sy neus grawe nou sy vuil of onnooslike mening aan die wye wêreld kan opdring.

’n Mens dink veral aan kletsgroepe: onkundige en haatsprakige strooi – ekskuus, kaf – laat sekerlik mense wat nie sodanige geraas kan verduur nie, onttrek. ’n Mens kan hoop dat die vlak van diskoers kan verbeter indien dit mense se sak raak. Ook omdat webeienaars en diesulkes nie haatspraak, vloekery en verdagmakery behoort te duld nie, anders kan hulle aanspreeklik gehou word.

Altans, dis wat mens hoop. Hoe dinge in hierdie vinnig-veranderende milieu sal ontwikkel, is steeds pure bespiegeling. Uiteindelik sal geld seker tog maar weer eens die hardste praat. Wanneer daar meer advertensies op webwerwe gelaai word, mag dit in sekere gevalle onnodig wees om toegangsgelde te vra – net soos koerante se pryse deur advertensie-inkomste laag gehou kan word, so ook digitale platforms. Of ten minste kan dit help.

Digitale argiewe (bron: wordsinspace.net)

 

Ten opsigte van argiewe, onkoste en hulle data-integriteit: Sanlam se uittredende argivaris, Verity Rossouw, stel dit so: “Elektroniese argiewe kan effektief aangepak en bedryf word maar dis nie goedkoop nie en daar is nie kortpaaie nie. Dis duur. Dit neem baie tyd [...]. Net daar loop ons in SA in onoorkomelike mure vas. Niemand wil geld daarop spandeer nie, niemand wil by die mense leer wat dit al reggekry het nie. Niemand wil ’n beleid opstel oor wat gebêre moet word en wat vernietig moet word nie.”

Hier verwys Verity veral na e-posse wat summier afgevee word – ’n groot bron van kommer by argivarisse, maar ook mense soos Hennie Aucamp het al hieroor vrae gevra: Wat word van korrespondensie noudat mense nie meer briewe op papier skryf nie? By die onlangse Franschhoekse Literêre Fees is ook gewonder oor hoe mense biografieë gaan skryf sonder papiernotas en dagboeke.

Verity voer aan dat mense wonderwerke verwag, soos dat dinge vanself moet regkom, wonderbaarlik op databasisse en webwerwe moet verskyn. En ek (en elke argivaris wat jy mog vra) stem saam – opgeleide argivarisse is meer nodig as ooit tevore, maar die staat se stiksiende optrede is een probleem: in die staatsdiens word beginners uit net een etniese groep gekies, mense wat gewoonlik nie in die beroep belangstel nie – hulle soek net na werksgeleenthede en dit skyn ’n maklike opsie te wees. Dan beweeg dié wat die werk kan baasraak, vinnig aan na die volgende geleentheid – die sogenaamde swaaideursituasie – terwyl argiefwerk juis swaar op ervaring en insig steun, en op akademiese opleiding – om relevansie en konteks te kan insien.

Verity sê verder: “Die gevolg is dat alles vernietig of alles gebêre word.” Sy verwys na die gebrek aan insig om verantwoordbaar en gebalanseerd op te tree; vanaf beleidmakers tot by die grondvlakuitvoerders. Argivarisse moet argiefstelsels ook verstaan, anders, meen sy, “kan bitter min gevind word”. So kan toeganklikheid dus ondermyn word, al bepaal die beleid dat die betrokke argiewe toeganklik mag wees. Soos die gesegde lui: “As jy ’n blaar wil wegsteek, gooi dit in ’n woud” – en as jy ’n dokument wil verloor, druk dit in enige boks in ’n argiefbewaarplek.

Daarom reken Verity dat “enigiets wat die moeite werd is om bewaar te word, by die bron/oorsprong op papier bewaar moet word. Daar is voorbeelde van papier wat al 1 000 jaar oud is. Wys my die sagteware wat maar vir twee dekades hul integriteit hou.” Sy raai skrywers aan om “self hulle skryfsels te hou en die resensies daaroor”. Sy sluit af: “Dan het hulle minstens iets tasbaars om aan die US se Dokumenteversameling te skenk.” Ek kan geen fout met haar mening vind nie. Liewer aan kundiges as aan diegene wat deesdae in instansies gaan werk net om ’n salaris te kry.

Charles Stofberg (bron: afrifiksie.com)

Charles Stofberg, maatskappy-argivaris van Telkom, dra by tot die gesprek: “Daar word bereken dat tot 90% van rekords wat vandag geskep word, in elektroniese formaat is. Tesame met die oorweldigende groei van elektroniese boodskappe – hier verwys ons na veral e-pos en kitsboodskappe (bv Twitter) – die bestuur en bedryf van elektroniese rekords het ’n kritieke besigheidsaangeleentheid geword. Hoe hierdie inligting bestuur word het verreikende besigheids-, regs- en tegnologiese gevolge. Uiteindelik maak dit nie saak watter medium gebruik word om die inligting te skep, te stoor of te verskaf nie, dit gaan hier om vas te stel of die inhoud van waarde vir die besigheid of maatskappy is en moet daarvolgens bestuur word.”

Ook hy beklemtoon: “Elektroniese rekordbestuur is nie die finale oplossing vir ’n instansie se rekords nie – dit moet steeds in samewerking met goeie rekordbeheerprogramme en argiefbeginsels bedryf word en voeg ook daarby ’n betroubare inligtingstegnologie infrastruktuur sodat data altyd weer gevind kan word.” Mary Minicka van die Kaapstadse Argiefbewaarplek beaam dat daar “aansienlike kommer is in die buiteland, veral in die erfeniswêreld, oor die relatiewe broosheid van digitale informasie. Hier is dit skaars ’n kwessie, weens die onkunde daaroor.” Ook, sê sy, sal rekenaarmaatskappye nie wil hê dat die koperspubliek ontmoedig word om deur die sogenaamde digitale revolusie meegesleur word nie. Sy beweer dat Suid-Afrikaners, ook op bestuursvlak, “in vervoering” is oor digitalisering.

Mary wys daarop dat plastiek baie vinnig tot niet gaan (sy noem dit die “plastieksiekte”), en dat plastiek gewoonlik betrokke is by digitale stooraksies, by sagte- en hardeware. Ironies, mens praat mos graag van die “ideale papierlose kantoor”, maar daar is baie meer persoonlike rekenaars en drukkers in aksie en baie meer papier word gebruik as tevore. Ironies is dit egter nie noodwendig iets vir papierliefhebbers om oor opgewonde te raak nie, want die stabiliteit van rekenaarink – veral in kleure – is onder verdenking. Daarom is daar nou ’n aanvraag na “argiefkwaliteit-ink”.

Sebastian Stent (bron: grubstreet.co.za)

Sebastian Stent, hoof van Naspers se digitale afdeling en een van min simpatieke rekenaarfundi’s, se antwoord op “Wat van die ’verwering’ van sagteware?” was: “Verskillende tipes verliese gebeur met die verloop van tyd en die enigste manier om dit te voorkom is om ’raided servers’ of ’n ’duplicated and distributed server array’ [RAID: “Redundant Array of Independent Disks (sien hieroor: www.datarecoverySA.co.za)] te implementeer. Dit verseker dat een weergawe van data met ’n ander weergawe vergelyk word en as bevind word dat een weergawe sy integriteit verloor het, vul die korrekte/gesonde weergawe die ander een aan deur verlore data terug te plaas [leemtes aan te vul].”

Sebastian dink ook dat “digitale argiewe” nog minderwaardig is aan fisiese berging: “Die swakste is DVD’s en CD’s. Die sterkpunt van ’cloud storage’ [digitale grootmaat-stoorplekke] is dat die stoorplek-eienaars soos Amazon nie toelaat dat hulle infrastruktuur verouderd raak nie.”

Dit bring ons by die laaste punt – dit waarmee hierdie skryfstuk begin het – naamlik: Wat word van daardie “weggeraapte” webwerwe en die data wat hulle bevat? ’n Oudkollega van my by die Kaapstadse Argiefbewaarplek, Mpho Ngoepe, sê dat terwyl die internet toegang tot argiewe vir ’n wyer gehoor bied, daar gevare en nadele vir skrywers, uitgewers en lesers is. Hy noem dat uitgewers darem dmv die lisensie-ooreenkoms kan bepaal dat inhoud nie summier oor die internet versprei mag word nie. Oor die verdwyning van webwerwe sê hy: “Die staking van ’n webwerf kan gebeur omdat ’n domein gederegistreer word, dalk omdat ’n instansie waaraan dit gekoppel is, gevou het, of omdat fooie nie betaal is aan die webwerf-eienaar nie – dan word dit afgehaal. Mpho sê die betrokke data raak dan verlore indien die webwerfhuurder dit nie (virtueel of andersins) in ’n argief bewaar het nie. Onkoste is dikwels die probleem.

Mpho Ngoepe (bron: informationscienceunisa.blogspot.com)

Soek ’n mens op die internet inligting oor webwerfverdwynings, vind jy kommentaar soos die volgende: daar is baie redes hoekom webwerwe toegemaak word – dit mag wees dat so ’n webwerf doelbewus gesluit is omdat die inhoud as beledigend/lasterlik beskou word, of dalk was die webwerf betrokke by onwettige praktyke en het iemand kapsie gemaak daarteen. In so ’n geval is dit egter nie sommer net vir toemaak nie – daar moet geldige redes aanvoer word. (Meer kan hieroor gelees word by http://www.ehow.com/how_6371602_website-shut-down.html.)

Wat verdwene resensies betref, sê Sebastian dat nog by www.koerantargiewe.media24.com gekyk kan word. In die geval van die genoemde resensie van Inboekeling: kliek op die koerantargieweskakel, gaan na Rapport se afdeling, tik die boektitel in, en siedaar. Dis darem nog daar.

Om saam te vat: die kumulatiewe effek van die snelgroeiende rekenaarwêreld laat veel te wense oor, veel in die stof agter, terwyl die meeste rekenaarmense min omgee daarvoor: hulle dwing heeltyd vorentoe, vinniger, vinniger ... skud hulle koppe, trek hulle skouers op, spoeg ’n paar clichés uit – en onderskat soos gewoonlik die intelligensie van die gebruiker. Dit dwing die gebruiker om hom-/haarself te bemagtig deur self inligting oor die bedryf in te win en self voorsorgmaatreëls te tref.

As die gebruiker egter te lui is om op hoogte te kom van die veranderende situasie en om daarby aan te pas, is dit soos Schwarzenegger se karakter in Terminator II gesê het: “Hasta la vista, baby.” Hier praat ons nie van ’n blye weersiens nie, maar van ’n herhalende nagmerrie: elke verbruiker moet sorg vir rugsteuning; en as jy nie elke dan en wan na die volgende program of sisteem wil migreer nie, DDDU: Druk. Die. Data. Uit.

Papierlose kantoor ... my mal ant Tillie se massiewe geblomde bloemer! En as jy nie saamstem nie, “Byte me, Bro.”

*

Bronne waar meer oor die gevare aangaande digitale argiewe (en resensies), en moontlike voorkomingsmaatreëls gelees kan word, is:

http://www.digitalpreservation.gov (insake die VSA se Library of Congress)

www.openforum.com/the-truth-about-cyber-threats-1

http://blogs.getty.edu/iris/preventing-digital-decay

*

Gaan kyk ook na https://archive.org insake allerlei inligting wat op die internet geberg word.

Aangaande beskerming van informasie is www.webroot.com ook nuttig (sien byvoorbeeld “auto file backup”).

Oor herwinning van verlore data, sien www.datarecoverySA.co.za

  • 1

Kommentaar

  • So diktasies is digitaal en gerekenariseerd? Dit beteken wat jy tik in woordvorm soos verslae word op rekenaar geberg. Nie waar nie? Niks van grafieke nie ne?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top