Woordmusiek: ’n resensie | Momentum Beleggings Aardklop 2023

  • 0

Met: Coenie de Villiers, Antoinette Kellermann, Jana Cilliers, Vinette Ebrahim, Mauritz Lotz
Teks: Coenie de Villiers

Dit was ’n meersterklas in storievertel.

Die verhoog is strak beklee met ’n klavier, ’n paar kitare en swart en wit foto’s van drie legendes: Antoinette Kellermann, Jana Cilliers en Vinette Ebrahim. Coenie de Villiers se Woordmusiek bied ’n meesterklas aan in die fynere kuns van woord-en-musiek.

Tydens Momentum Beleggings Aardklop 2023 skuif Coenie de Villiers agter ’n vleuelklavier in en lees uit sy lirieke voor: “om plek te maak vir almal wat gereeld om hom vergader, so tafel bring geliefdes wat aansit almal nader.” De Villiers noem hierdie vertoning die stilste show by Aardklop met geen rock & roll nie, maar net die fluister van woorde, en dit is ook so. Vir 60 minute lank roer niemand in die gehoor nie, gehipnotiseer deur dit wat op die verhoog ontvou. Die gehoor wat tyd maak vir hierdie musiekteater, vind almal aanklank in die vertelkuns en is, soos De Villiers sê, “storiediere”.

Woordmusiek se teks is deur Coenie de Villiers, wat al langer as 50 jaar in die bedryf werk, aanmekaargesit en is met die eerste luister daarvan duidelik vir musiek bestem. Die musiek reik uit na die woorde en die woorde reik uit na die musiek. Hierdie ensemble van wêreldklas kunstenaars is beslis nie een wat net “Chopsticks” kan speel en gediggies voorlees soos De Villiers spottend open nie. Aan Coenie se regterkant sit Mauritz Lotz agter die kitare, Suid-Afrika se mees opgeneemde musikant en Grammy-genomineerde. Op die verhoog sluit die dinamiese drie een-een by De Villiers aan.

Legendariese Antoinette Kellermann besin oor die liefde deur haar eie definisie daarvan met die gehoor te deel, en daarna deur die voorlees van De Villiers se teks. Hierdie eerste gedeelte van die teks vra: “Wat is die liefde?” Kellermann praat oor die slinksheid en geduldigheid van die liefde en die weerlose mense wat die liefde ervaar. Sy vra: “Sal ek weet as die liefde hom aanmeld?” Wanneer jy jou oë oor die gehoorlede laat glip, sien jy hoe sit verskeie lede met hulle oë toe om na die magic wat Kellermann en De Villiers maak, te luister. Dié twee lewer ook ’n teks oor die onlangse Covid-19-pandemie en die virus wat die mens klein gemaak het. Hulle besin oor die verlies van geliefdes in hierdie tydperk en die mens se eie geveg met die virus. Hierdie groep tekste ondersoek die oorblywende seer in die wêreld. Met die derde verhaal kom Kellermann se outomatiese toneelspel as deel van die verhaal wat sy vertel, volkome na vore. In hierdie gebed aan die dooies sit jy as gehoorlid terug en beleef ’n hoendervleis-mooi narratief. Die woorde val soos gedigte op die oor. Die laaste verhaal wat Kellermann en De Villiers vertel, is een van die Afrika-son en die verlange daarna deur verloopte Suid-Afrikaners. Van Londen tot Notre Dame word daar oor die “Vaderland vêr anderkant die see” nostalgies besin. Hierdie universeel-relevante gesprek oor die verlaat van jou geboorteplek en om oor ’n afstand jou geliefdes se grootword en groei te aanskou, gaan lê langs die ambivalente verlange en vooruitgang wat ons almal op een of ander manier beleef. De Villiers se teks vra: “Onthou jy daar waar jy vandaan kom?”

Die onberispelike Vinette Ebrahim vertel ook oor haar eie raakloop van Suid-Afrikaners in Europa en hoe, selfs daar, Afrikaans vir haar die mooiste taal bly. Haar eerste voorlesing is ’n reisgebed wat die gehoor deur die Karoo, Natal, Riversdal, die Vrystaat en die Weskus, tot anderkant die see begelei. Hierin vra die teks dat God ons sal bybly op ons reise deur die wêreld en openbaar “ek vrees mos nie die vreemde nie, ek vrees die eensaamheid”. Ebrahim lees dan ’n teks voor wat De Villiers ná die George Floyd-insident wat in Amerika plaasgevind het, geskryf het. In hierdie Engelse teks word die kwessie van rassegeweld op ’n ander kontinent én in Suid-Afrika aan die lig gebring. Hierdie aangrypende teks daag die gehoor ook uit om self oor die onkundigheid en gewelddadigheid van die mens te besin. Ebrahim vertel ook van die onlangse oorstromings in die Wes-Kaap en die respek wat ons almal teenoor die see moet betoon. Hierdie teks is op De Villiers se eie ervaring van ’n nabye familie se afsterwe gebaseer en word vanuit die perspektief van die see vertel. Die laaste verhaal gesels oor die “redder op ’n wit perd” waarvoor ons almal wag en dat hierdie redder eerder in ’n geroeste Corolla gaan opdaag. Ebrahim en De Villiers ontvang ’n applous vanaf die gehoor ná elk van hierdie wondermooi verhale.

Laastens sluit die talentvolle Jana Cilliers by De Villiers op die verhoog aan en lees ’n teks voor waarin alle ma’s universeel gekenmerk word deur die wiegeliedjies wat hulle vir hul kinders sing. Hierdie woordmusiek, wat in Afrikaans en Zulu voorgelees word, sus die gehoor soos ’n grootmens-wiegeliedjie. De Villiers en Cilliers bied ook ’n verhaal van ’n Dierekersfees aan die gehoor en herbesoek wat dit beteken om Kersfees te vier. Ter afsluiting word die hartverskeurende verhaal van ’n dorpie in Bosnië, Sarajewo, vertel. Hierdie verwoording van hongersnood, ’n regering se ystervuis en ’n tjellis word met ’n swaarder, meer intense klavierspel vergesel. Cilliers dryf die gehoor én haarself tot trane.

Hierdie vyf besondere vertellers bied ’n nostalgiese en fenomenale ondervinding aan oor die krag van woorde en om die ervaringe van mense wat anders maar tog dieselfde as jy is, te deel. Met hierdie musiekproduksie kan die teks nie as apart van die kunstenaars beskou word nie. Die kunstenaars, die woorde en die musiek is een.

Storievertelling is in hierdie ensemble se bloed. Wat anders is die kunste - die musiek, die teater, lirieke, poësie - as stories? Die Totius Gedenksaal is ’n volhuis en die gehoorlede beloon hierdie musiekteater met twee staande applouse en fluister musikaal aan mekaar: “Die kunste gaan aan.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top