Woordfees-onderhoud: Steyn du Toit in gesprek met Slenterfees-organiseerder Alette de Beer

  • 0

Wat presies is die Neethlingshof Slenterfees en hoe pas dit by die Woordfees in?

Die Neethlingshof Slenterfees is ’n kunstefees in ’n mikrokosmos – dit bied voorsmake, oomblikke en proesels van allerlei kunsvorme, kunstenaars, persoonlikhede, smake en uitsigte. Lucille Kirsten, die skakelbeampte van Neethlingshof, het ons (DPK) in 2010 genader om die Slenterfees as ’n onafhanklike fees te reël. Ons het saam met die Woordfees se bestuur gekonkel en almal was dit eens dat die Slenterfees so reg in die Woordfees se kraal sal pas. Die US Woordfees en Neethlingshof is vennote in die fees, met DPK as produksiespan.

Dit is die tweede jaar wat die Slenterfees aangebied word. Wat het julle geleer uit verlede jaar se fees waarop julle hierdie jaar wil verbeter?

Die gaste en kunstenaars by die eerste Slenterfees was baie entoesiasties en betrokke - met komplimente asook voorstelle. Die konsep is verfyn, en die verbeteringe lyk so: 

  • Kaartjies is ’n volle R90 goedkoper.
  • Gaste kan meer op hul eie tyd "slenter", waar hul verlede jaar in groepe verdeel is en ’n spesifieke roete moes volg.
  • Verlede jaar was die ete en wynproe op ’n spesifieke tyd en plek. Vanjaar is daar wyne en verversings dwarsdeur die slenterroete versprei, sodat niemand iewers droëbek hoef vas te haak nie.
  • Daar is ’n spannetjie jong en vrolike wynjoernaliste, onder wie Edo Heyns en Samarie Smith, wat die Slenterfees gaan meemaak om hul wynkennis en staaltjies met die gaste te deel.

Wat maak Neethlingshof Landgoed so ’n ideale venue vir die fees?

Benewens hul heerlike wyne is Neethlingshof ’n pragplaas met heelwat elemente om ’n sintuiglike fees te inspireer, soos enkel-oorsprong-heuning, fonteine en damme, groot koeltebome, reusetuine, ’n uitmuntende uitsig, natuurlike fynbos, groen wingerde, historiese geboue, en ’n kreatiewe en vernuftige span personeellede wat te vinde is vir kreatiewe idees. 

Vertel bietjie meer van die "groen" tema?

Die Woordfees se oorkoepelende tema is Groen. Die Slenterfees haak op verskeie maniere hierby aan. Braai is ’n groen kosmaakmetode – Jan Braai gaan die gaste hieroor wysmaak, gegeur met Jack Parow se kwintige persoonlikheid en Parow-sous. Dave Pepler is ’n ekofoendi en die aanbieder van kykNET se Groen (kykNET is ook mediavennoot vir die fees). Die Botanical Artists Society of South Africa se onderwerpmateriaal is lewende plante. BOS is nog ’n feesvennoot met ’n groen visie (en BOS Ice Tea is ’n heerlike produk). Neethlingshof is een van min plase wat by die biodiversiteit-en-wyn-inisiatief ingeskakel is en die natuurlike fauna en flora deur groen boerderymetodes beskerm.

Watter musikante tree hierdie jaar op?

Die hooftrekpleister is ’n skemerkonsert met Romanz en die Gugulethu Tenore, wat ingesluit is in die kaartjieprys. Die immergewilde Jack Parow tree op, maar hy gaan nie noodwendig sing of rap nie ... mense sal moet kom kyk om te sien. Dan is die gewilde Trekker & Trekklavier-item van verlede jaar terug op aanvraag, met André Labuschagne en André van Vuuren wat die trekklaviere beman. 

Waarna kan kunsliefhebbers uitsien?

’n Uitstalling van die Botanical Artists Society of South Africa se Wes-Kaap-tak. Dis ’n sonderlinge geleentheid, want om ’n groep van hierdie bekwame kunstenaars se werk saam te sien, moet ’n mens gewoonlik wag vir die tweejaarlikse Kirstenbosch Biënnale. Dié gaan waarskynlik eers in 2014 weer plaasvind! Die uitstalling gaan vanaf 2 tot 18 Maart hang, so gaan maak gerus later ’n draai as jy nie die Slenterfees kan bywoon nie.

Watter vermaak bied julle vir kinders aan?

Die gewilde leesreeks Bazoo gaan heeldag daar wees, met boeresporte en kinderspeletjies. Daar is ook lekker kosstalletjies en ’n hele plaas om te verken, soos kindervermaak in die ou dae! Ouers kan gerus hul kinders saambring – kinders onder 12 kom sommer verniet in ook.
 
En diegene wat graag die natuur en diere in die omgewing wil besigtig?

Daar is niemand beter om dit mee saam te doen as die groen ikoon Dave Pepler nie! Maar as jy op jou eie tyd wil wandel, die plaas is aan jou voete om te verken. Bring sonskerm, ’n hoed, gemaklike skoene en dalk selfs ’n verkyker. 

Waar kan kaartjies gekoop word, en wat sluit elke kaartjie in?

By enige Computicket-toonbank. Kaartjies sluit toegang in na die Slenterfees, die piekniekkonsert met Romanz en die Gugulethu Tenore, en ’n wynproe met koshappies. Daar is ’n wyntoonbank en kosstalletjies om ekstra holtes te vul. 

Daar is ook die opsie om net die piekniekkonsert te kom kyk – daar is meer kaartjies beskikbaar as vir die Slenterfees, wat kleiner en meer eksklusief is. 

Neethlingshof Slenterfees In samewerking met kykNET en BOS Ice Tea 

’n Interaktiewe vars kunstefees-in-die-kleine met iets vir almal – fynproewers, wynliefhebbers, buitemense en gesinne. Na verlede jaar se sukses doen ons vanjaar die groen ding en fokus op biodiversiteit, met ? ander formaat: slenterfeesgangers kuier op hul eie tyd en loer in by enige of alles van die volgende – en by nog ? paar verrassings:

–     braaipraatjies met Jan Braai – en dalk maak Jack Parow en sy braaisous ook ’n draai
–     voëlkyksessie saam met Groen-aanbieder Dave Pepler
–     voorlesing van groen gedigte deur Bibi Slippers, LitNet se poësieredakteur
–     die gewilde trekkerrit met trekklavierklanke
–     groepsuitstalling van die Botaniese Kunsvereniging van Suid-Afrika
–     wynproe, met groen geregte
–      kinderspeletjies met Bazoo die bergskilpad
–    skemerkonsert met Romanz & Die Gugulethu Tenore*

*Die Slenterfees sluit ’n wynproe en peuselhappies in, asook toegang na die skemerkonsert met Romanz en die Gugulethu Tenore. Sien kykNET Piekniekkonserte se program onder vir meer besonderhede.

4 Maart 12:00 | Neethlingshof | 300min | R160 (kinders O/12 Gratis)

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top