Woordfees-onderhoud: Deon Lotz gesels oor Agterplaas

  • 0

Deon Lotz is by 2012 se Woordfees te sien in Agterplaas. Die gevierde dramaturg Charles Fourie se veelbesproke stuk vertel die verhaal van ’n arm Afrikaanse gesin wat hard baklei om die mas op te kom.

Dit is nou al ’n rukkie dat Agterplaas op Suid-Afrikaanse verhoë te sien is. Wat is dit wat die stuk so gewild maak?

Hierdie produksie bied die gehoor ’n kykie na wat ongelukkig ’n werklikheid geword het in Suid-Afrika: armoede! ’n Goeie teks wat beide humor en diepe, rou emosie bevat. ’n Onderwerp van wit plakkers waarvan ons net lees, maar nie self ervaar of altyd raaksien nie, word hier blootgelê en ek dink dit raak mense! Agterplaas het ses KykNET Fiësta-benoemings ontvang.

Deon Lotz

Julle is nou ook op pad Woordfees toe met die produksie. Is dit enigsins nog nodig om die stuk voor elke speelvak weer te repeteer?

Ja beslis, elke verhoog, in hierdie geval oop ruimte, is anders en bied nuwe uitdagings, lawaai, afstande om in te beweeg. Ritme is baie belangrik vir enige teaterstuk om suksesvol te wees, so ons doen gewoonlik ’n "word-run" net om die dialoog en ritme te verskerp, dan ’n deurloop om onsself vertroud te maak met die omgewing en die plasing van ons kostuums en rekwisiete.

Vir diegene wat nog nie vertroud met Agterplaas is nie: jy’t wel al iets gesê, maar verduidelik nog so ’n bietjie waaroor dit gaan?

’n Arm wit familie wat in ’n karavaanpark bly en hulle daaglikse uitdagings en ellende waarmee hulle sukkel. Pa se drankprobleem wat weer opvlam, Ma se probeer "droog" bly, Sussie se gesukkel om ’n werk te kry, aangesien sy wit is en ook nie skool klaargemaak het nie, Boetie wat nog op skool is en dinge probeer bymekaar hou. Twee ander karakters, Antie Klets, aan wie die karavaanpark behoort, en Moolies, wat "werk" aanbied aan die kinders.’n Stukkie realiteit wat jy ervaar en ’n moet-sien.

Vertel ons bietjie meer oor jou rol?

Pa Frans trek met sy familie na die karavaanpark as heenkome nadat hy al die geld uitgesuip het. Hy probeer ook om ’n skoon lewe te lei. Geen meer drank nie, hy moet geld verdien om vir hulle te sorg, maar hy verval weer gou in ou gewoontes. Hy vind geestelike vernuwing en vestig sy hoop op die Lotto en die kerk.

Dink jy met armoede wat al hoe meer begin toeneem, gaan hierdie toneelstuk al hoe meer belangrik word?

Ons sien ’n nuwe soort "politieke teater" – een wat oor die kleurgrens heen dinge soos armoede aanspreek. Daar is ’n geneigdheid om te dink dit kan nie met ons gebeur nie of dis nie ons probleem nie, maar wit en swart plakkerskampe is ’n realiteit en moet aangespreek word. Die toneelstuk maak mense bewus van die feit dat arm mense nie kies om arm te wees nie. Omstandighede soos werkloosheid en drank- of dwelmmisbruik kan veroorsaak dat enige persoon in so ’n situasie kan beland.

’n Toneel uit Agterplaas

Wat is Helpende Hand se betrokkenheid?

Die skrywer en regisseur Charles Fourie het aan Helpende Hand die geleentheid gebied om die publiek bewus te maak van hulle behoeftes en werk onder veral armblankes. Hulle het uitstallings gehou by ons optredes tydens die feeste.

Waarheen neem julle Agterplaas na die Woordfees?

Ek is nog nie bewus van verdere speelvakke nie, maar ek is seker dit sal weer opgevoer word, aangesien dit so ’n belangrike vraagstuk aanspreek.

Waarmee is jy tans besig waarin ons jou sal kan sien in die nabye toekoms?

Sjoe, tans besig om die verfilm aan ’n TV-reeks, Vloeksteen. Skiet ook aan die film Verraaiers (begin in April). Werk aan nog ’n film, Black South Easter. Dan is daar moontlik nog drie teaterstukke en nog ’n film wat wag.

Ondersteun die Dramafees by die US Woordfees  

Agterplaas
’n US Woordfees Absa KKNK ko-produksie. Aangebied deur Kaap Teater-ensemble. Teks en regie: Charles Fourie. Met Deon Lotz, Deidré Wolhuter en Esther von Waltsleben.
Die gevierde dramaturg Charles Fourie se veelbesproke stuk vertel die verhaal van ’narm Afrikaanse gesin wat hard baklei om die mas op te kom. Oor hierdie trefferstuk skryf Laetitia Pople in Die Burger: ‘Agterplaas verdien om op elke verhoog in Suid-Afrika gesien te word.’ Mense wat die stuk gesien het, beskryf dit as een van hul roerendste dog vermaaklikste toneelervarings ooit.
5 Maart 18:30 & 20:30 | 6 Maart 18:30 & 20:30 | PJ Olivier Kunssentrum | 70min | R90 | Geen O/14 (T)

Keer terug na die program-indeksblad.  

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top