Woordfees-onderhoud: Cari Coetzee gesels met digter Andries Samuel

  • 0

Tydens die Woordfees tree jy in gesprek met Joan Hambidge oor jou debuut-digbundel  wanpraktyk wat in 2011 verskyn. Sien jy uit daarna om oor jou skryfwerk en skryfprosesse te praat, of is die kreatiewe impuls eerder vir jou iets wat “agter toe deure” gebeur en privaat behoort te bly?

kreatiwiteit is een van die mees fassinerende prosesse in die lewe - veral dit wat die kreatiewe proses dryf by verskillende mense. ek het nie ’n probleem om daaroor te praat nie, maar ek sien nie daarna uit nie. ek voel ’n mens se werk moet klaar dit sê wat gesê moet word, en my beroep het soveel shoptalk en doellose pratery dat ek praat oor werk gewoonlik vermy.

Jy is ’n argitek van beroep en daar is ’n paar tegniese boutekeninge en -krabbels in jou bundel. Is jy visueel ingestel? Sien jy die wêreld anders deur die oë van ’n argitek as deur die oë van ’n digter, of is daar ooreenkomste?

ek kyk met dieselfde oë ongeag wat ek doen. ek sou sê ek is visueel ingestel in die sin dat ek daarvan hou om te kyk, nie noodwendig omdat ek grafies wil of kan weergee nie. digters en argitekte het wel dít gemeen: dat al twee sekere oomblikke moet kan vasvang wat hulle uit ’n gegewe konteks van gewaar word. daardie sintuig is wat nodig is om mense iets te laat ervaar - hetsy in ’n plek gemaak uit woorde of uit stene.

Met ’n ma soos Antjie Krog en ’n ouma soos Dot Serfontein was dit seker besonder uitdagend om jou eie digterspaadjie oop te trap. Hoe het hierdie verhouding jou eie kreatiewe loopbaan beïnvloed, en voel jy dat daar meer druk op jou is om aan ander se vooropgestelde verwagtinge te voldoen?

ja, ek dink ek het dit vir ’n lang tyd vermy. nie dat argitektuur ’n skuiling is nie - dis ’n uiters uitdagende beroep en om mooi dinge te bou kom al ’n lang pad in my familie. ek het eers aangeneem dit sal te moeilik wees: die druk wat ek voel gaan oor dit wat ek by my ma en ouma geleer het. ek was onder geen illusies oor hoe moeilik dit is om noemenswaardig goed te skryf en hoe wispelturig mens se werk veroordeel word nie. oor wat reg is en hoekom dit reg is. hoe baie mens moet lees, hoe baie mens moet snoei en oorskryf, hoe baie mens moet ingestel lewe op hierdie manier van jouself uitdruk. die opofferinge, die onregte en die vasbyt. dis nie moontlik om te sê of dit meer druk is of in vergelyking met wie anders nie. dit het lank gevat om te besef die druk kom eintlik van myself af, maar sedertdien kan ek daarmee saamwerk. dit kan nie anders nie.

In die gedig “enkele tegniese besonderhede oor water” word geskryf oor die onafwendbaarheid van water, oor water se onverskrokke vermoë om geboue binne te dring - die pogings tot waterdigting ten spyt. Is skryf vir jou so ’n onafwendbare proses? ’n Manier om verlies te hanteer?

ja, skryf is onafwendbaar vir my. of miskien eerder die kyk na dinge en die wentelwerkinge oor wat ek sien en van bewus word. miskien is skryf ook ’n tipe newe-effek hiervan, om weer te gee wat ek sien, maar dat ek moet skryf is seker. al het ek eers vir lank nie ’n plan daarmee gehad nie. in daardie sin is die punt dat ek begin skryf het as ’n terapie, belangrik, omdat dit my weer op ’n manier in my lewe aan die gang gekry het - om iets terug te kry van myself. maar eindelik het dit meer geword as net dit, want die onafwendbaarheid daarvan het ingeskop.

In ’n gesprek met Louis Esterhuizen van Versindaba (30 Januarie 2011) noem jy dat jy aanvanklik jou gedigte by Off-the-Wall-poësievoorlesings in Observatory voorgelees het. Tree jy steeds daar op? En beïnvloed hierdie hardop lees van jou gedigte die styl daarvan, met ander woorde dat daar selfs ’n groter klem op klank en ritme val? Ek dink hier aan ’n gedig soos “blues in yk” wat ’n energieke vaart kry as dit hardop gelees word:

en
                  dip dip dip dip
              my bokkie lê tjoepstil, dip dip
                  die lente is aan die kom, dip dip dip dip
              my bokkie lê  tjoepstil, dip dip dip
                  ja, die lente is aan die kom, dip dip dip dip
              maar wanneer die lente om in die kaap, de-dip
              is dit die suidoosterwind wat blom, hidele didele didele dip dam
                 dam dip

ek is uitgenooi om weer daar te lees die 14de maart. maar ek was vir ’n lang ruk nie daar nie. naas al my leeswerk in afrikaanse poësie was hierdie voorlees aan die begin die mees vormgewende invloed op my skryfwerk. ek is geneig om baie serebraal te werk te gaan en om voor te lees het my gedwing om meer konkreet met my gedigte te werk. om ’n gedig hardop te lees en bewus te kan word van wat jy sê is baie belangrik. dis wanneer jy ander invloede kan begin afskud en letterlik jou eie stem begin hoor. jy kan begin vra: soos wie klink ek?

Jy het vir ’n ruk in Israel gewoon, en gaan nog gereeld soontoe om vir jou dogtertjie Anouk te kuier. Hoe het jou verblyf in hierdie land waar lyke “tussen deurkosyne” opstapel en waar ’n lewe gespaar word wanneer ’n bus verpas word, in die gedig “all god’s children took their toll”, jou anders na jou eie land laat kyk?

dit het my laat besef hoe ver ons al hier gekom het. wat ook al mens se opinie is oor die vergelykbaarheid van lande en hulle politieke probleme, is die feit dat daar in suid-afrika ’n keuse gemaak is om te probeer saamleef en sekere opofferinge te maak, deurslaggewend. dapperheid gaan nie net oor wat jou soldate kan doen nie, maar ook oor wat jou gewone landsburgers van oortuig is. dis vreeslik om in ’n plek te bly waar die oortuiging van die meerderheid is dat katastrofe jou enige oomblik toekom.

Op jou blog getiteld “houtwerk” dig jy in Afrikaans én Engels. Skryf jy eers in een taal en vertaal dan later die gedig, of meld die gedig in ’n spesifieke taal by jou aan? Voel jy ewe tuis in albei tale om jouself kreatief uit te druk?

ek lees baie in engels en my werk as argitek geskied hoofsaaklik deur medium van engels. ek kry maklik idees of gewaarwordinge wat in engels verwoord is. maar ek probeer hoofsaaklik in afrikaans skryf, omdat dit die taal is waarin my sintuie werk. ek voel tuis genoeg in engels, maar na die produksie van wanpraktyk is dit duidelik dat my engels glad nie op dieselfde standaard as my afrikaans is nie. dan het ek ook te veel engelse bemindes gehad wat natuurlik moes verstaan wat ek sê, en ek hou daarvan om mense wat nie afrikaans verstaan nie, te kan insluit in wat ek lees by off-the-wall. daarom is daar baie parallelle weergawes van wat ek skryf in al twee tale, maar ek sal dit nie sommer vertalings noem nie.

ek hoor hulle sê
postnasale drup is nes binnetoe huil
nou ja, die huil is verby
maar die beegee-gepyp hoog in my kop in
“ah ah ah ah stayin’ alive stayin’ alive”
soos iets wat ek gedroom het

skielik –
ek’t my juigte teruggekry in muizenberg
waar die mure oker ruik
in die son op ’n stoep teen die blou
’n deel van my onbekende self
het my daar kom ontmoet
en ek’t my toe aan die dode vertrou

Hierdie treffende slotreëls kom voor in die gedig “voor skielik”, waarin Bono melding kry (“nou klink bono alleen en neil young sing sonder my”). Gaan jy na die U2-konsert by Kaapstad se Groenpunt-stadion kyk? Is jy ’n fan?

ja, ek is ’n fan, maar ek gaan nie die konsert bywoon nie. dit het niks te doen met bono se opmerkings oor die sing van versetliedere nie. ek verkies eerder hulle vroeë werk – rattle ’n hum is my gunsteling met die snitte “van diemen’s land” (juis oor ’n digter wat ’n ierse politieke gevangene was) en “love rescue me” (met die hulp van bob dylan) aangrypend. die afgelope dekade kry ek net die gevoel hulle probeer te hard. dit tel waarskynlik teen hulle dat hulle nou al vir so lank aan die gang is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top