Woordfees 2013: Albert Maritz gesels oor vanjaar se fees en al die jare in die bedryf

  • 0

Die bekroonde Albert Maritz, in 2012 Fleur de Cap se wenner vir beste regie, bring vanjaar drie kraakvars produksies na die Stellenbosch Woordfees. Dié drie uiteenlopende produksies is Deksels deur Leon Kruger, Stander deur Charles J Fourie en Die Koggelaar deur Pieter Fourie. Emma Kotze voer met hom ’n gesprek oor die opwinding en uitdagings van die kunste.

Albert, wat maak jou opgewonde oor vanjaar se Woordfees?

Woordfees het vanjaar baie stukke en baie goeie stukke commission. Ek sien uit na vernuwende werk, soos tekste van Leon Kruger, en besoeke aan ou classics. Woordfees vat ook hande met geselskappe soos The Mechanicals, wat in Kaapstad op eie stoom wondere verrig.

Hoe kry ’n regisseur dit reg om drie nuwe produksies op een fees te behartig?

Daar is mense wat meer hanteer. Dis tot dusver nie so moeilik nie. Ek is gewoond om self te vervaardig en die regie te behartig. So het ’n mens jou hande vol, en is jy nie net betrokke nie, maar verantwoordelik vir amper elke dingetjie. Hierdie keer het ek vervaardigingsvennote by elke produksie. Dis wonderlik.

Hoe voel dit om vanjaar die rol van akteur vir regisseur te verruil in jou produksie van Stander – ’n produksie waarin jy tien jaar gelede self die hoofkarakter vertolk het?

Ek sê mos gereeld dis ’n wonderlike voorreg om rolle wat ek self sou kon speel, te laat in die hande van die talle spelers wat die werk baie beter as ek self kan doen. Waldemar Schultz is briljant.

Is daar ’n uitgesoekte groep akteurs waarmee jy verkies om te werk, of hoe behartig jy jou rolverdeling?

Enige speler wat lief is vir die werk, en dit respekteer, is ’n potensiële speler. Ek lees ’n teks oor en oor en probeer die stemme en kwaliteite wat ek “hoor” en raaklees, vereenselwig met akteurs van wie ek weet. Gereeld hou ek oudisies indien ek nie iemand kan raakdink na aanleiding van die lees van die teks nie. ’n Geselskap soos The Mechanicals het ’n kerngroep akteurs waaruit die regisseur kies.

Wat is die relevansie van hierdie drie uiteenlopende produksies in hedendaagse Suid-Afrika? (Of het kuns hoofsaaklik ’n vermaaklikheidverpligting, eerder as die verantwoordelikheid om ’n sekere "boodskap" oor te dra?)

Kuns het ’n vermaaklikheidsverpligting. Leon het al heelwat geskryf vir TV, maar is hoogs onderskat vir die verhoog. Deksels kan hom dalk net neersit tussen van ons klein klassieke tekste. En my twee akteurs is “hand-picked”.

Stander is reeds ’n klassieke teks. Die teks is absoluut briljant op alle vlakke. En Waldemar is net die man om die status gestand te doen.

Die Koggelaar is ’n pryswenner-teks. Belangriker as die prys is dat dit uit ons mees opgevoerde dramaturg se pen kom – Pieter Fourie. Die teks is gewaagd, en spog met ’n ster-rolverdeling.

Wat is die grootste uitdaging vir teatermakers/regisseurs/akteurs in Suid-Afrika en meer spesifiek in Afrikaans?

Ek kan net namens myself praat. Ek sit met gereed produksies van ons mees vermaaklike en klassieke stukke. Hulle is bewese suksesse. Luister hier. Binne twee weke kan ek jou enige van die volgende aanbied – om net ’n paar te noem:

’n Seder val in Waterkloof
Die Van Aardes van Grootoor                    
Mooi Maria
Die rebellie van Lafras Verwey
Die koggelaar
Taraboemdery (gee my 2 weke)
Faan se trein (gee my 4 weke)
Faan se stasie (gee my 4 weke)

Blootstelling wat daarmee saamgaan, vir iemand wat die risiko wegvat en die basiese koste dek, is vir so iemand, of vir so ’n instansie, groot. So borge en adverteerders kry groot blootstelling vir relatief min geld. As ek ’n belegger kan opspoor om die geld te belê, speel die stukke almal nou-nou. Einde verlede jaar het ons Die Van Aardes van Grootoor aangebied, en ons doen binnekort dieselfde met van die res op die lysie. Maar wie gaan bietjie geld bysit om dit makliker te maak en ’n beter kans op sukses (bemarking) te gee?

Albert Maritz ontvang ’n ATKV-Veertjie saam met Neil  Sandilands vir sy werk as mede-vervaardiger / regisseur van “Impresario” - oor legendes in die Suid-Afrikaanse radio-, TV-,  film- en teaterbedryf. Hier is ’n YouTube-uittreksel:

Deksels
2 Maart 00:15, 20:30 | 4 Maart 22:30 | 6 Maart 22:30 | Klein Libertas Teater | 75min | R90| OB 0/17 N

Stander
6 Maart 18:00 | 8 Maart 11:00 | 9 Maart 10:00 | Fismer | 75min | R85 | Geen 0/14

Die koggelaar
7 Maart 18:00 | 9 Maart 14:30 | 10 Maart 20:30 | HS Stellenbosch | 100min | R100 | OB 0/16 ND

Klik hier vir volledige inligting oor Woordfees 2013.

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top