"Woorde" deur Erika Barnard

  • 0

Woorde

woorde is ook wonde
dit bloei in verskillende tonge
smeek op bedelborde
en skree op slagvelde Mamma
in al die tale
woorde bid agter geskulpte hande
en dit skroei in skimpe en venyn:
moet tog nie my woorde versmaai
of weggooi nie;  eendag is jy óók oud
dan word dit jóú woorde

en so gee een woord berig deur na ’n ander –

woorde het wortels en abba mekaar
soos steggies
woorde is die pienk spookasem
van politici se retoriek
en  alarm uit die afgronde
van kele vol angs –
woorde omarm:  ek is lief vir jou
en dit troos oumense,
lees in Grootdrukbybels die fynskrif
van sterwe
en so gee een woord berig deur na ’n ander –

woorde kies self ’n digter
en woorde verinnig in stilte;
stilte drup soos kerswas
en seël die woorde tot ’n digter

·       Woorde is ook wonde – met apologie aan Breyten  (“Die huis van die dowe”, 1967)

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top