Wolkstaar

  • 2

Op die naat van ons rûe het ons op somersdae
uitgestrek op ’n grasperk wolke dopgehou,
ons verwonder aan hoe vinnig die lug verander
hoe ’n wolk wat lyk na uitrafel uit die blou
niet skielik momentum kry en uit begin te bol:
’n skip met wind vol in die seile. Sou verbeelding
oorhand kry, soveel meer as hasie of ’n hond,
eerder leviatan dan, goddelike speelding
met trekke van ’n krokodil, ’n bek wat Job sê
rook blaas – daarvan het ons min gesien – of
ook ’n voller behemot met rondings soos
’n seekoei, ’n olifant selfs wat wit uitpof,
slurp en al. Jare later staar ek steeds die lug in,
ruggelings hande onder die kop, bene gesprei
pen, papier vergete, soos Bruegel se bleek
sekretaris in sy Luilekkerland-skildery. Gly
die son agter ’n wolk in, wil ek my verbeel
dit is ’n skadupoot, boorling van Ethiopië glo,
wat self onder sy enkele voet, soos ’n parasol,
skuiling vind; kry ’n chimera mitologies bó
die horison wat kurf gestalte in die voorlyf
van ’n leeu, stert kwispelend die kop van ’n slang
en tussenin ’n bok met vuur in die buik; blý
Wolkekoekoeland vertroostend oor my hang.

 

Lees al die Mondig-gedigte hier:

Mondig

 

 

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top