![]() Foto: Wikipedia (openbare domein)
|
|
Sêgoed van Eitemal In 1981: “Die Kleurling is inherent deel van die Afrikaanse geestesgemeenskap. Hoe gouer ons dit besef en erken, hoe beter sal dit vir ons voortbestaan wees.” (Transvaler, 25 Junie 1981) “Ek praat liewer as om te skryf, want as ek skryf, word die gedagtes gedwing tot die tempo van skryf en ek skryf stadig. Ek hou daarvan om lank te broei oor ’n stuk werk. Terwyl ek aan ’n koeistal werk of ’n krip maak, dink ek oor my onderwerp en teken die hoofpunte aan. Wanneer ek daarmee klaar is, word die res betreklik gou binne die raamwerk van die skema gedoen.” (Ruiter, 4 Julie 1947) In 1947 oor die letterkundige kritiek: “Die uitgangspunt van ons letterkundige kritiek was in die verlede ’n groot mate verkeerd in die sin dat ons reine estetiek wou hê, wat onmoontlik is. Daardeur word die oorsaak agter verwaarloos, die filosofiese kontakte, en jy wil direk op die resultaat afstuur. Dit kan nie. Om te sê ’n ding is mooi of lelik, is absoluut futiel. As jy as letterkundige kritikus ’n gedig kan plaas in ’n lewensbeskouing, wat op sy beurt weer in die raamwerk van ’n groter lewensbeskouing staan, dan beteken dit iets. Kritiek moet kultuur-filosofies wees.” (Ruiter, 4 Julie 1947) Oor die kwessie van duisterheid in die poësie: “Is elke gedig, selfs die eenvoudigste, tog nie maar die geval dat die digter sy finale dinge oor die lewe wil sê nie? Gaan ek die digter benader sover ek van gelyke formaat as hy is, sal ek alles kan vat. Vir sover ek anders saamgestel is, sal ek net ’n deel kan vat. Vir sover ek geestelik sy mindere is, sal ek moet ingroei tot ’n volledige begrip, vir sover dit nie obscurity of expression is nie. ’n Deel van die mens se finale uitdrukking lê in die duisternis.” (Ruiter, 4 Julie 1947) “Die redenaarskuns en die digkuns haat mekaar soos alleen bloedverwante kan haat.” (SA Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis, Junie 2002) “Die vrou is die groot katalisator wat ons manlike instinkte, die grondstowwe van ons menswees, verander tot vonkelwyn van deug en skoonheid, maar self onveranderd bly.” (SA Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis, Junie 2002) In 1959: “Ons sal as volk en as individue altyd weer met liefde, miskien met nog groter liefde, na ons Wes-Europese verlede terugkeer ... Maar Wes-Europa is ons agterland, Afrika is ons voorland ... Dan sal ons nie meer ’n uitloper van die Nederlandse of Westerse kultuur wees nie, maar ’n nuwe Renaissance.” (SA Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis, Junie 2002) In 1954: “Ek dink ons poësie was nooit meer in-nasionaal as vandag nie. Daar het ’n tematiese verbreding plaasgevind: Ons digters skryf oor ’n wêreldwye verskeidenheid van onderwerpe ... maar hierdie verskeidenheid ... word as ’n krag ingesuig na die binnekern van ons volksprobleem en die probleem van ons Afrikaner-menslikheid. Die probleembelewing is nasionaal, die aanskouingsvorme is nasionaal, selfs die taal het nadergeskuif na die alledaagse spreektaal van die Afrikaner.” (SA Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis, Junie 2002) Uit Jaffie: ’n Eselromannetjie Oor die liefde: “Maar die liefde is meer as kennis en die lewe is meer as die dood. Dis die grootste woorde van al die woorde, Jaffie. Ek verstaan dit self nie mooi reg nie, maar oorle oom Gerson, daardie skrifgeleerde esel onder esels, het dit so uitgelê. Nee, Jaffie, die liefde is ’n bekommernis wat nooit slaap nie. Wanneer ons deur swaarkry die groot geduld geleer het wat hulle liefde noem. Dit kan enige tyd gebeur, miskien nog voor ek weer op my linkersy teruggerol het.” Oor slim wees: “Onthou dit, Jaffie, die groot dinge begin nooit by die slimmerige en die hoë mense nie; hulle word te vasgevat deur hul slimmigheid ... maar ’n klompie van die eenvoudige vaallyf-eseltjies wat baie swaargekry het, omdat hul base arm was, het die woorde opgevang in hul oorpype, en hul harte het dit geglo.” Oor ouderdom: “Hy’t vas teen sy oom Vaaltyn kom staan, want sy oom het vir hom so vreeslik eensaam gelyk. Ouderdom lyk vir hom maar na ’n soort siekte van die lewe en ’n soort eensaamheid, het hy swaar by homself gedink.” “Agtertoe kyk, is agtertoe verlang; en een wat agtertoe verlang, beur maar steekserig vorentoe.” (bron en datum onbekend) “Ons danige slimgeid maak van ons eenkantkykers; net die liefde kyk alkant en dwarsdeur ... Maar haat is nog gevaarliker as slimgeid; dit maak van ons skeelkykers.” (bron en datum onbekend) “Volksliedere is die grootste wêreldwandelaars.” (“Hiermee dui hy op volksliedere se aanpasbaarheid aan nuwe kulture” – Hennie Aucamp). (Die Burger, 23 Junie 1981) |
Gebore en getoë
Willem Jacobus du Plooy Erlank is op 22 Junie 1901 op die plaas Blinkklip, sewe kilometer buite Wolmaransstad in die destydse Wes-Transvaal (vandag Noordwes) gebore. Sy oupa aan moederskant was WAJ du Plooy, ’n bekende Wes-Transvaalse besproeiingsboer langs die Makwassiespruit. Eitemal se vader, Andries Gustav Erlank, was getroud met Du Plooy se dogter Margaretha.
Eitemal was die middelste kind met Willem, sy ouer broer, en ’n jonger suster. Skaars sewe maande ná sy geboorte is hulle plaashuis afgebrand (as deel van die verskroeide aarde-beleid van die Engelse tydens die Anglo-Boereoorlog). Sy ma en die twee seuns is eers na die konsentrasiekamp op Klerksdorp geneem. Hulle is egter later in oop trokke vervoer na die kamp by Pietermaritzburg, waar Eitemal amper gesterf het aan die gevreesde maagsiekte. Sy ma kon egter daarin slaag om vleisekstrak by ’n winkeltjie daar naby in die hande te kry en só het sy vir hom “onwettige sop” gemaak wat hom aan die lewe gehou het.
Na sy vader se terugkeer van die oorlog het hulle op die plaas Uitkyk, wat ook aan sy oupa aan moederskant behoort het, gaan woon. As plaasseun het hy reeds die bynaam Duke gekry, soos hy later deur meeste van sy vriende genoem is. Volgens Eddie Hamman, wat ook op Boys’ High in Potchefstroom was, was Eitemal by sy aankoms by die skool bekend as Didimus.
Sy vader het self in hierdie moeilike na-oorlogse tye die waarde van ’n goeie opvoeding besef en het ’n skooltjie op sy plaas opgerig en ’n onderwyseres – ’n mej Van Zyl van die “Somersetstrand” – laat kom om vir die kinders onderrig te gee, alles in Engels. Om die skooltjie se bestaansreg te regverdig, het Eitemal se pa minderbevoorregte kinders van die dorp af aangery na die skool. Van die kinders in die skool was die Joodse brilmaker op die dorp s’n. (Pieter Kapp: Die leeuhart van die lammetjie. SA Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis)
Hoewel Andries Erlank nie geleerdheid gehad het nie, het hy tog ’n aantal Engelse boeke in sy huis gehad, soos onder meer al 15 dele van The complete history of the world, al die werke van Thomas Macaulay, ’n Engelse geskiedskrywer, en nog ander boeke oor die geskiedenis, sowel as nommers van The Nationalist Review.
’n Mens sou verniet gesoek het na romans, digbundels, kinderboeke of ander ligte leesstof op Andries Erlank se boekrakke. Hy het dit vir sy kinders duidelik uitgespel dat hy niks belangstel in stories nie, maar “net in die waarheid”. Die jong Eitemal het egter iewers in die huis op ’n verwaarloosde uitgawe van Afrikaanse gedigte 1876-1906 (Paarlse Drukpers, 1906) afgekom wat hy gelees het en veral ingenome was met FW Reitz se gedig oor Louw Wepener.
Oor Eitemal se siening van die lewe op die plaas het Pieter Kapp as volg geskryf: “Die plaaslewe het ’n onuitwisbare indruk op die jong seun gemaak. Hy het saam met die kinders van die skool en die jong swart seuns op die plaas die veld en die plaaslewe deeglik verken en groot vreugde uit die ongekompliseerdheid van die lewe getrek, ten spyte van die bittere gevoelens tussen Bittereinders, Hensoppers en National Scouts, en tussen Afrikaners en Engelse. Daar was baie vreemdelinge in die omgewing wat Transvaal toe getrek het om die nuwe geleenthede wat Brittanje vir hulle in die vooruitsig gestel het, te benut. Baie stories en legendes is oor die oorlog vertel. Maar die harde werklikheid was dat oorlogshelde tot armes gereduseer was wat op die stoep van die Joodse handelaar Stern, die vader van Irma Stern, eiers en velle by die Skot Tommy Links vir kruideniersware moes verkwansel.”
Eers toe die CNO-skool op Wolmaransstad met die staatskool verenig is, is Eitemal na die nuwe laerskool. Sy pa was lid van die skoolkommissie. Omdat daar nie ’n hoërskool op Wolmaransstad was nie, het die twee Erlank-broers self tuis gestudeer, met die hulp van boeke wat hulle oral bekom het. Hulle het al hulle vakke vir die junior matriek in Engels voltooi. Eitemal het homself Latyn, wiskunde en skei-nat geleer.
Die uitslae van hierdie twee begaafde broers het die ore van Dr Adamson – in daardie tyd die superintendent van onderwys in die Transvaal – bereik en hy het aan hulle studiebeurse aangebied sodat hulle hul matrieksertifikaat kon verwerf. Daar was egter ’n voorwaarde aan verbonde – hulle sou na die Engelse seunskool op Potchefstroom, Boys’ High, moes gaan. Eitemal het as ’n jong “vaal, tengerige seun” saam met sy broer gegaan en het nie veel van ’n indruk gemaak op die ander “manne” in matriek nie. Hy het besluit om boks te gaan leer sodat hy homself kon laat geld. Hy was lief vir sport en was, soos hy self vertel het, “’n verwoede rugbyspeler” (aan SJ Pretorius in Ruiter van 4 Julie 1947). Dit het hom egter nie gekeer om aan die einde van die skooljaar sy matriek te voltooi met die hoogste punte nie.
Hy het reeds as skoolseun op die plaas Engelse versies “aanmekaar getimmer”, maar het meer van ’n aanleg in wiskunde getoon. Kapp het geskryf: “Aanvanklik was Eitemal se hele denkwyse Engels en sy groot liefde was die Klassieke. Sy eerste Engelse gedigte was Swinburne-agtig, asook Engelse vertalings van koorsange uit Sophokles en Antigone en van die elegiese verse van die Latynse digters Horatius en Tibullus en die liefdesverse van Catullus. Die moontlikheid van Afrikaans as uitdrukkingsmiddel was nie deel van sy verwysingsraamwerk nie.”
Sy stryd vir die erkenning van Afrikaans en sy kultuurbesit het vroeg in sy lewe begin, het Eitemal aan Amanda Botha (Transvaler, 25 Junie 1981) vertel. “Ek was dertien, veertien toe ek my moeder konfronteer en vra waarom ons Engels in die huis moet praat as ons eintlik Afrikaanssprekend is en ek – my name dui dit duidelik aan – ’n boerseun is. Dit was 1914 en ons huistaal het Afrikaans geword. Die eerste wat ek weer Engels met my moeder gepraat het, was op haar sterfbed in 1935. In daardie hoogs emosionele oomblik het ons Engels gepraat.”
Hy het in 1917 aan Boys’ High op Potchefstroom gematrikuleer.
Verdere studie en werk
Ná skool is Eitemal na die Transvaal University College in Pretoria (vandag die Universiteit van Pretoria). Op daardie stadium (1918) moes BA-studente nog een natuurwetenskaplike vak neem. Hy was op skool so goed in wiskunde dat hy dit sterk oorweeg het om, soos sy broer, in die BSc-rigting te gaan studeer. Hy het ook die regte ernstig oorweeg.
Pieter Kapp skryf: “In die eerstejaar Chemieklas van 1918 was daar 77 Afrikaanse studente wat ’n versoek tot prof DF du Toit Malherbe gerig het dat hulle Chemie graag deur die medium Afrikaans wou inneem. Malherbe het hulle gesteun. Die Senaat het egter die versoek afgekeur, maar wel ingestem dat hulle die eksamen in Afrikaans mag aflê as hulle sou wou. Ná die klas het Malherbe aan Eitemal sy lys van Afrikaanse Chemieterme gegee om hulle te help in hulle voorbereiding. Van die 77 het net vyf wel in Afrikaans gaan skryf met behulp van die chemieboeke wat hulle uit Nederland bekom het. Die volgende jaar het Malherbe sy brosjure van Afrikaanse Chemieterme wat hy op eie koste laat druk het, aan Eitemal gegee.”
Die senior studente aan die TUC (later Universiteit van Pretoria) het aan Eitemal die bynaam Lammetjie gegee, omdat hy so vaal en broos gelyk het. Met die weglating van die een “m” en die “j” het hy die naam omgedraai en so op sy skuilnaam Eitemal uitgekom.
Op universiteit het Eitemal se talent as redenaar duidelik geblyk en het hy uitgeblink in die debatte. In 1919, toe hy tweedejaar was, het hy die Tielman Roos-prys as beste redenaar verwerf. Van sy teenstanders was Toon van den Heever en JRL van Bruggen. Sy onderwerp, “The present is the time for reconstruction, socially, politically and ethically”, het gespreek van sy moed en het ook getuig van sy belangstelling in kultureel-politieke sake.
Pieter Kapp het vertel dat sy rede gebaseer was op die standpunt: “[S]legs ’n nasie wat oor sy eie politieke toekoms kan beskik, [kan] ’n werklik duursame maatskaplike en sedelike orde uitbou vir homself. Eitemal het met ‘rasende woede’ die klassieke meesters van die redenaarskuns gaan bestudeer, veral die Philippi-toesprake van die Griekse meester Demosthenes en die hofpleidooie van die Latynse meester Cicero.”
In 1919 was daar ook die “vlaginsident” – ’n insident wat altyd met Eitemal in verband gebring sou word. Dit was net na die vredesonderhandelinge wat op die Eerste Wêreldoorlog gevolg het en Pretoria was opgetooi en gereed om generaals Louis Botha en Jan Smuts met groot fanfare terug te verwelkom. Die Union Jack het oral gewapper en, omdat daar so baie Afrikaanse studente aan die TUC was, was daar eers nie ’n Britse vlag voor die TUC nie. Daar was egter so heftige reaksie in die pers dat die rektor wel gereël het dat ’n vlag deur die brandweer aangebring word. In een van die kamers in Collegehuis het ’n groep Afrikaanse studente hierdie “vlaghysing” gade geslaan en begin bespiegel hoe die vlag van die redelike hoë paal verwyder kon word.
Eitemal het aan Hoofstad van 23 April 1980 vertel: “Terwyl hulle nog alle moontlikhede bespreek, het ek stil weggeglip. Die ‘Housemaster’ Grant het my elke aand met net gebruikmaking van my arms teen die regop ysterpyp van die badhokkie laat opklim tot teen die plafon, ‘to improve your punch’. Maar hierdie paal het ek met arms en bene gepak.
“Halfpad boontoe was ek uitgeput, want die paal het al hoe dunner geword en die wit kalklaag waarmee dit bedek was, het my hande laat gly. Maar toe ek ’n slag boontoe kyk en die vlag so gesellig sien speel in die wind, het my vermoeidheid verdwyn. Ek het vinnig verder geklim, die vlag afgeskeur en afgegly ondertoe. My eerste en enigste langbroek was natuurlik oor die muur.
“Die groepie in Dawie se kamer was verbaas toe ek die vlag tussen hulle gooi. Wat ek nog goed onthou, is dat generaal Van de Venter en John Quinn die vlag flenters geskeur het. Toe het ons die verskeurde vlag in die steenkoolhokkie by die agterdeur van die koshuis goed gedoop in paraffien en dit aan die brand gesteek. ’n Verskrompelde bolletjie doek en verf het oorgebly [...].
“Daardie Maandagmôre het Patterson die lesings gestop en die studente opgeroep na ’n vergadering in die Intersaal. Daar het hy ons toegespreek in die mees bewoë toespraak wat ek in jare gehoor het. Hy het onder meer gesê: ‘One night of racialistic hooliganism has destroyed what we have built up arduously in ten years’ time.’ Sy bewende stem, meer teleurstelling as haat, kan ek vandag nog hoor. Aan die end van sy toespraak, wat ons in tasbare stilte aangehoor het, het hy gevra dat die student wat verantwoordelik was vir die daad, voor elfuur by hom op kantoor moes rapporteer.
“Ons groepie wat van alles wis, is natuurlik dadelik na Dawie Malan se kamer vir beraadslaging. Daardie ‘one night of racialistic hooliganism’ het natuurlik bewys dat hulle van niks wis nie en veronderstel het dat dit in dié nag gebeur het. Die meerderheid het gevoel dat ons moet net stilbly en hulle laat stik. Maar ek het gevoel as dit ooit moes uitkom, dit sal lyk of ek te lafhartig was en my eie onbesonne daad in die steek wou laat.
“Voor elfuur was ek in prof Patterson se kantoor: ‘Prof Patterson, I have come to tell you I have pulled down the flag.’ Die verbasing en ontnugtering sal ek nooit vergeet nie: ‘Mr Erlank, you of all people in the world? Why? Why?’ My antwoord: ‘For three reasons, professor. In the first place, this University College is an educational institution and not a field for political speculation. In the second place, I am republican born, and to me that flag is a symbol of lost independence. In the third place, that flag was not hoisted in the ordinary way but tied to the top of the flagstaff, rope and all, by the Pretoria fire brigade. That was a challenge to every nationalist Afrikaner, and we have queer ways of accepting all challenges forced upon us, like for instance the challenge of the Anglo Boer War.’
“Vir een vlugtige oomblik het dit vir my gelyk of daar iets van ’n glimlag was agter sy dik brilglase. Hy het weggestap na die venster toe en seker ’n minuut of twee na buite gestaar. Toe hy terugdraai, het hy gesê: ‘The last of your reasons I can more or less understand. The first is not true. I would be the last person in the world to make this college a field for political speculation. You may go, Mr Erlank.’ By die deur het hy my ’n warm handdruk gegee, en sy oë was twee fokuskolletjies deur sy dik brilglase.”
Van die Engelse professore het aangedring daarop dat Eitemal geskors moet word, maar hy is slegs vir ’n maand ge-“rusticate”, wat beteken het dat hy geen lesings mag bygewoon het nie en nie op die kollegeterrein mag verskyn nie en sy beurs verbeur het.
Gedurende die maand van “rustifikasie” het studente van Sonop gereeld vir hom lesings gebring om af te skryf. Daar is ook ’n komitee gevorm om geld in te samel vir sy privaat losies en so ’n bietjie sakgeld vir sigarette.
Sy vader, ’n ondersteuner van Botha en Smuts, het sy seun in ’n brief aan die rektor skerp veroordeel: “[H]e allowed himself to be led into [sic] by a lot of irresponsible nationalists.”
Eitemal het sy vertelling aan die Hoofstad voortgesit: “Gedurende hierdie tyd het ek ’n brief van die nasionale Parlementslid van Pretoria-Suid ontvang waarin hy aangebied het om ’n volle beurs van die Universiteit van Stellenbosch aan my te gee indien ek gewillig was om daar verder te gaan studeer. Ek het beleefd bedank omdat ek nie, wat eenmaal begin was aan die TUC, in die steek wou laat nie. Maar dieselfde aand het ek van Brooklyn af gestap na die Uniegebou. Daar het ek op die terras oor Pretoria uitgekyk en gedroom oor die dag wanneer die TUC ’n volwaardige Afrikaanse universiteit sou wees, soos Wits ’n volwaardige Engelse universiteit was.”
Op skool het Eitemal nie eintlik iets geleer of geweet van die opkomende Afrikaanse letterkunde nie. As eerstejaarstudent het hy eendag twee senior studente, MSB Kritzinger en Danie Malan (later onderwyser aan Afrikaans Seuns Hoër), hoor praat oor Jan Celliers se “Die vlakte”. Hy het sy laaste sakgeld bymekaargeskraap en vir hom Die vlakte en ander gedigte gaan koop: “Dit was vir my ’n openbaring. Die Latynse digters Vergilius en Horatius en die Engelse digter, Milton, met wie ek in hierdie stadium gedweep het, het in my oë verbleek langs Jan Celliers.”
Voordat Eitemal in 1931 met sy nagraadse studie in Afrikaans by Wits onder CM van den Heever begin het, was hy ’n geesdriftige leser van JFE Celliers, Totius, Leipoldt, Eugène Marais, Jochem van Bruggen en Leon Maré. Hy het sy waardering en geesdrif vir hierdie “eenvoudige” Afrikaanse werke verdedig met die woorde wat die Italiaanse patriot Mazzini aan sy nasionaliste gesê het toe hulle biegstoele en kerkbanke van die onnasionale Roomse Kerk wou vernietig: “Onthou by daardie biegstoele en banke het julle vaders gebieg en gebid.”
Na sy studie het Eitemal in 1921 aan die Hoërskool Wolmaransstad begin onderwys gee. En dit was gedurende hierdie tyd dat hy sy eerste gedig geskryf het wat in Huisgenoot geplaas is. Pieter Kapp het vertel dat die gedig gehandel het oor ’n maagd in ’n harem: “Imker Hoogenhout se kommentaar toe hy die gedig afkeur, was eenvoudig: daar kan nie ’n maagd in ’n harem wees nie. Ds van der Horst het van sy teleurstelling oor die afkeuring van sy eerste poging te hore gekom en op huisbesoek vir Eitemal die raad gegee om met poësie soos met varkvleis om te gaan – laat hom lank in die pekel lê voor jy hom opdis.”
Aan die beginjare van die Administrateursbeker in rugby in die destydse Transvaal het Eitemal die eerste rugbyspan van die Hoërskool Wolmaransstad tot in twee eindstryde afgerig. Die span het in 1921 en 1924 naelskraap (0–3) onderskeidelik teen Pretoria Boys’ High en die Hoër Jongenskool Pretoria verloor.
Vanaf 1921 tot 1928 het hy volksdiens as onderwyser in Wolmaransstad gelewer en as redenaar by talle volksfeeste. Uit hierdie tyd dateer die kinderverhaal Stafie en Santie in Kabouterland (1927), waarvan DJ Opperman gesê het dat dit “uit kultuurnood” (Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Desember 1984) gebore was. In 1928 het ’n digbundeltjie, Weerklankies, verskyn wat Gerrit Dekker in sy Afrikaanse literatuurgeskiedenis in die verbygaan bestempel het as een “met geringe waarde”.
Ná Wolmaransstad het Eitemal in 1929 na die stad verhuis, waar hy gaan onderwys gee het aan die Hoërskool Helpmekaar in Johannesburg. Hy het JRL van Bruggen opgevolg. In 1929 het die Transvaalse Onderwysvereniging (TO) Eitemal genader met die versoek om Jochem van Bruggen se opvolger as hoofredakteur van die Christelike Skoolblad te word. Pieter Kapp het geskryf dat hierdie skuif ’n belangrike invloed gehad het op sy toekomstige loopbaan. Nie net het hy aktief betrokke geraak by TO-sake nie, maar hy het ook die fyner punte van georganiseerde optrede leer ken en vanselfsprekend ook betrokke geraak by taalsake.
In die Transvaal was daar gedurende hierdie dae drie onderwysverenigings, naamlik die TO, wat die gebruik van Afrikaans nagestreef het, die TMO (Transvaalse Middelbare Onderwysvereniging), wat neutraal wou wees as dit by taalkwessies gekom het en die TTA (Transvaal Teachers’ Association), wat ’n voorstander van die gebruik van Engels was. As dit egter by die alledaagse dinge gekom het, was die TO Engels. Eitemal het dus baie gou met die TMO en TTA gebots oor moedertaalonderwys.
Eitemal moes op ’n gereelde grondslag besoeke aan TO-takke bring en hulle toespreek en sy welsprekendheid het aan hom groot aansien verleen, het Pieter Kapp geskryf: “Een man wat hy gedurende hierdie tydperk leer ken het, was ’n entoesiastiese onderwyser, LJ Erasmus. Erasmus het sekretaris van die TO geword en het ’n belangrike invloed op Eitemal se lewe uitgeoefen. Dit is deur hom dat Eitemal by talle aktiwiteite betrokke geraak het, waarskynlik ook by die Afrikaner Broederbond. Sy idealisme en onverskrokkenheid en sy skerp intellek en werkywer sou Eitemal goed laat inpas het by die driftige aksies van die 1930’s.”
Eitemal se volgende digbundel het in 1931 onder die titel Phaeton en ander gedigte verskyn. In ’n artikel in Die Huisgenoot (12 Januarie 1934) het CM van den Heever dit beskryf as ’n “stouter sprong”. Twee gedigte uit hierdie bundel is later opgeneem in DJ Opperman se Groot verseboek, naamlik “Drinklied” en “Die begrafenis”. In haar artikel oor Eitemal beskryf Leona Venter in Tydskrif vir Geesteswetenskappe (Desember 1984) “Die begrafenis” só: “Laasgenoemde met die dramatiese trefkrag van berekende patroonverbreking na ’n reeks woordelose stukke kommentaar van verteenwoordigende figure: die woordelose verslaenheid van die eggenoot.”
Eitemal het in 1935 saam met sy vrou, Hester (Hettie) Cornelia Visser van Hanover in die Noord-Kaap, met wie hy op 17 Desember 1931 getroud is, na Amsterdam in Nederland vertrek om sy studie voort te sit aan die Gemeentelijke Universiteit. Die egpaar het een seun, Willem, gehad. Hettie was in 1981 op 72-jarige ouderdom nog baie aktief en het steeds spraak- en dramaklasse vir skoolkinders gegee.
1935 was ook die publikasiejaar van sy eerste drama, En hadde de liefde niet.
Oor En hadde de liefde niet het die Afrikaanse Skrywerskring van Johannesburg geskryf: “Dit was werklikwaar verblydend om na die tydperk van vrugteloosheid op die gebied van die Afrikaanse drama, hierdie werk onder oë te hê, omdat dit ’n probeerslag is om die drama uit die gelyktes van vermaaklike toneelspel op te voer na die diepere belewing van menslike hartstogte. Want ons wil tog, soos Ermatinger dit mooi uitdruk, dat die sterke spanninge wat ons in die drama verwag, deur die natuur van die digter bepaal word. Ons wil dat dit deurwerk in stof en vorm. Dit veral, dat in die stof die dramatiese natuur van die digter die sterke idee-polariteit vind wat hy, deurdat dit deur hom belewe word, diepgevoelde veraanskouliking laat verkry.”
Die leser of gehoor leer in En hadde de liefde niet vir Eugéne Bartman, ’n weeskind, ken. Hy werk hom op tot hy prokureur, maar word so obsessief om mag in die hande te kry, dat hy nie net sy volk uitverkoop nie, maar ook sy vriend Wylbach in die rug steek en sy vrou se liefde verwerp. Die hooffiguur in die drama is, na die mening van die resensent van die Afrikaanse Skrywerskring, Bartman se vrou Cillie. Hoewel die lyn van haar optrede sterker uitgebeeld word na die einde toe, was die resensent egter nie tevrede met die einde nie.
Die resensent het sy bespreking afgesluit: “Die skrywer is ’n meester van met dinamiese krag lewende dialoog [te skep] en dis ook verblydend om die verwyding van die plaas-lewens-uitkyk te voel, die ernstige psigologiese indringing, die ruimte van blik en die verfyndheid by die behandeling self. Op dramaties-tegniese gebied het die skrywer hom baie moeite getroos om die stuk opvoerbaar te maak, my beswaar is net teen te veel tonele.
“Dis die skrywer se eersteling op hierdie gebied, ’n eersteling wat getuig dat ons hier ’n persoon het wat die dinamiek deur konflik uit nature kan aanvoel, en ons groter werk van hom in die toekoms kan laat verwag.”
Tydens die egpaar se verblyf in Amsterdam het Hettie kursusse aan die Koninklike Toneelskool gevolg en dit sou later ’n belangrike invloed uitoefen op Eitemal se aktiewe bevordering van die teater in Suid-Afrika.
Die Erlanks was gelukkig in die opsig dat hulle die oorlogstoestande in Europa reg gelees het. Hulle kon toe voor die oorlog uitgebreek het na Suid-Afrika terugkeer. Ongelukkig kon Eitemal nie sy doktorale studie in Nederland voltooi nie. Hy het darem toe in 1939 sy DLitt aan die Universiteit van Pretoria met sy proefskrif, Slauerhoff en het zoeken naar nieuwe vormbeginselen in de na-oorlogse poëzie van Nederland, ontvang.
Kort na sy terugkeer uit Nederland in 1939 word hy aangestel as dosent aan die Normaalkollege in Pretoria, waar hy vir 11 jaar gewerk het. Terwyl hy in Pretoria gewerk het, het hy op ’n plasie naby Lyttelton gewoon, waar hy met beeste geboer het.
Na sy terugkeer uit Nederland in 1939 is Eitemal tot die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verkies. (Hy is reeds in 1935 tot lid van die Akademie verkies.) Hy sou meermale in kommissies dien wat oor die toekenning van letterkundige pryse aanbevelings aan die Akademieraad moes maak.
Eitemal se onafhanklike karaktertrekke het meermale daartoe gelei dat hy betrokke geraak het by omstrede sake in die Akademie. So was hy baie ongelukkig met die Smuts-regering se aanstelling van ’n letterkundige eerder as ’n taalkundige as redakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal – PC Schoonees is destyds as ’n letterkundige beskou eerder as ’n taalkundige. Die meeste van die raadslede van die Akademie wou hulle medewerking aan die Woordeboek staak, maar, saam met LW Hiemstra, was Eitemal instrumenteel in die siening dat al een wat sou skade ly as hulle volhou met hulle dreigement, is Afrikaans.
Eitemal was ook gedurende die oorlogsjare in die middel van gebeure in Suid-Afrika. Geoff Cronjé was gebiedsgeneraal van die Ossewabrandwag (OB) en hy het vir Eitemal as lid van die Stormjaers gewerf. Hy was aanvanklik baie entoesiasties oor sy lidmaatskap en hy was die aand van sy instelling selfs gewapen met pistool – reg vir die gewapende stryd. Daar is egter min bekend oor sy werksaamhede as lid van die OB. Pieter Kapp het gesê dat die breuk tussen die OB en die Nasionale Party beslis ’n invloed op Eitemal sou gehad het, aangesien hy sy hele lewe lank ’n ondersteuner van die Nasionale Party was.
Kapp het verder geskryf: “Hy was geen ondersteuner van die gesagstaat nie, maar wel van ’n volksnasionalisme wat ’n sosiale verantwoordelikheid teenoor die arm werkersklasse aanvaar. Die volkslewe was vir hom ’n selfstandige entiteit, ’n lewende organisme wat groei as hy beskerm en versorg word of verlep as hy aan te sterk vyandige magte soos die Joodse uitbuitende kapitalisme blootgestel word.”
Nie net was Eitemal vlot in Duits nie, maar hy was ook ’n groot bewonderaar van die Duitse letterkunde en die musiek. Generaal Smuts se beleid om almal wat simpatie met die Duitsers gehad het, te laat interneer, het ook vir Eitemal geraak. Op die jaarvergadering van die Afrikaanse Kultuurvereniging op 11 September 1942 het Eitemal glo gesê: “Die toekoms van die volk hang van die vroue van Suid-Afrika af. Daarom moet hulle nie in militêre kampe geplaas word vir die gerief van ge-uniformde immoraliteit nie.” Hy is net daar gearresteer.
Nadat ’n joernalis van Die Volkstem, wat die Verenigde Party ondersteun het, ’n berig geplaas het wat beweer het dat Eitemal noodregulasies oortree het nadat hy inkriminerende goed oor soldate gesê het, is Eitemal na die redakteur om beswaar te maak en hom te oortuig dat hy nie die woorde gebruik het nie. Terwyl die redakteur Eitemal se weergawe geglo het, kon hy nie dit publiseer nie, aangesien hy gearresteer is en vir ’n maand in die Sentrale Gevangenisin Pretoria aangehou is – aanvanklik in eensame isolasie met net rys en water en later saam met die ander gevangenes.
Advokaat Oswald Pirow was Eitemal se advokaat in die hofsaak. Gerrit Bon, ’n professor in musiek aan die NKP, asook verslaggewers van Die Volkstem het teen hom getuig. Vir die magistraat was daar egter nie genoeg bewyse teen Eitemal nie en hy is vrygelaat. Hy het aan Hettie, sy vrou, uit die tronk gesê: “Eendag sal die renegate wêreld en sy wyf weet: Die Afrikaner idealis wat hierdie opvoedingskursus [dit is tronkstraf] deurgemaak het, kom sterker, vormvaster, en meer gelouterd uit die ellende. Ek bedoel die idealis, nie die persoon wat uit skoolseunagtige bravado of uit ’n sug na avontuur, ’n paar ruite stukkend gooi nie.”
Aan die einde van 1949 is Eitemal as professor in Afrikaans aangestel aan die Universiteit Stellenbosch – ’n posisie wat hy beklee het tot sy aftrede in 1966.
Voordat hy egter die pos aanvaar het, het hy ’n onaangename ervaring gehad. In November 1949 het Eitemal ’n brief van WEG Louw ontvang. Dié het ook belanggestel in die Stellenbosse pos. In bogenoemde brief het Louw Eitemal afgeraai om die pos as professor in Nederlandse letterkunde te aanvaar. Hoewel WEG Louw en Eitemal ná hulle tyd saam in Nederland in die 1930’s vriende geword het en saamgewerk het aan twee digbundels wat die “nood van die nasie” sou verbeeld, het Louw probleme gehad met die “retorika” in Eitemal se gedigte en was hy ook nie ’n geesgenoot soos sy broer NP van Wyk Louw nie. WEG Louw het dan ook in ’n brief, gedateer 7 Julie 1936, aan sy broer geskryf: “[Eitemal] is ’n gawe kêrel, maar geen digter in ons sin van die woord nie. Hy is by beurte naïef-Romanties en koele verstandsmens, en daarby iemand wat nog nie naastenby ons norm-idee gehad het nie.”
Ook die Senaat was dit nie eens oor wie in die pos aangestel moet word nie. JPJ van Rensburg (van die Departement Grieks) het voorgestel dat die pos na WEG Louw moes gaan, maar die Afrikaans-departement was teen die voorstel en wou Eitemal hê.
Die Afrikaans-en-Nederlands-departement aan die Universiteit van Stellenbosch was in daardie tyd bekend as ’n “moeilike” departement. Op letterkundige gebied is weinig werk gelewer en daar was ’n duidelike gevoel van spanning. Eitemal en FEJ Malherbe se verhouding was maar kil. Eitemal het aanvaar hy sou die Afrikaanse letterkunde, wat voorheen deur EC Pienaar behartig is, oorneem. Maar Malherbe het sy senioriteit laat geld en die Afrikaanse letterkunde self behartig. Kapp het geskryf: “Oor die werkverdeling het ’n groot twis ontstaan wat tot verskeie fakulteits- en selfs Senaatskommissies gelei het. Erlank het soos ’n leeu geveg om ook ’n aandeel in die onderrig van Afrikaanse letterkunde te probeer kry.”
JC Kannemeyer het in sy biografie, DJ Opperman (p 312), geskryf dat Eitemal “selektief” te werk gegaan het met die Nederlandse letterkunde en net sekere tydperke daarvan behandel het. (Blykbaar was dit in daardie tyd ’n redelik algemene “verskynsel” op Stellenbosch – volgens Kapp.)
Eitemal het met die opleiding van voornemende skrywers begin voordat DJ Opperman later sy bekende Letterkundige Laboratorium gevestig het. Hy het deur hulle werk gegaan, hulle raad gegee en hulle aangemoedig om voort te gaan met hulle skryfwerk. Vir hom het dit egter meer gegaan oor die filosofie van die verse as oor die struktuur daarvan. Hy het hulle dus nie eintlik van praktiese raad voorsien nie, maar die raad wat hy gegee het, was gratis. Hennie Aucamp (Die Burger, 22 Junie 1981) het vertel dat hy en Abraham de Vries in hulle studentejare die voorreg van sy opleiding gehad het en Aucamp het verder geskryf: “Is Braam se verhaal, ‘Skoenmaker, diepe water’, dalk ’n huldeblyk aan ’n liriek van Eitemal, ‘Skoenmaker stillewater’?”
In 1953 is die “eselromannetjie” Jaffie gepubliseer. Eitemal het self gesê: “‘Jaffie is my poging om my eie styl te suiwer van retoriese-effek-bejag, poëtiese mooidoenery, en ander elemente wat veel van my vroeëre werk ontsier. Jaffie verteenwoordig vir my meer van my totale lewenswerk as enige ander deel daarvan. Miskien het selfs die gestorwe redenaar suiwerder herleef in die ekstatiese veldprediker, Oom Valentyn.’” (Pieter Kapp se artikel oor Eitemal in Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis)
Leona Venter het in Tydskrif vir Geesteswetenskappe geskryf: “Die voorwoord dui aan dat Jaffie die koppeling is van eie jeugherinnerings en godsdienstige belewings rondom twee eseltjies as sentrale figure, ingegee deur Middeleeuse Bybelprente. In hierdie opset kommunikeer oom Vaaltyn, die ouer esel uit die Wes-Transvaalse plaaswêreld, die Christusverhaal liefdevol aan sy nefie Jaffie en kry die ‘jeugherinneringe’ effektiewe afstand.”
Jaffie is met groot geesdrif ontvang. In Ons Eie Boek (jg 20, nr 2) het Rob Antonissen geskryf dat die Middeleeuse realisme nie histories is nie; “die feitelikheid ondergaan ’n transformasie deur die inwerking van mistiek-religieuse, psigologiese of leerstellige faktore. Dit is in die gees van dáárdie soort realisme dat Eitemal sy ‘eselromannetjie’ Jaffie geskryf het: met ‘gedeeltelike verontagsaming van die realiteit om eerder ’n naïef beleefde idee te beklemtoon’ (voorwoord van Jaffie). Liefhebbers van Gallico se verhale sal hulle hier in ’n verwante sfeer tuisvoel, maar hulle sal in Jaffie ook ’n veel ryker-geskakeerde en, ondanks die ‘Middeleeuse’ werkwyse, deur en deur Afrikaanse kunswerk vind. [...]
“In ’n Afrikaans sonder enige sofistikasie, ’n Afrikaans wat fyn en eg en lewend is in elke vesel, het Eitemal aan ons prosa-literatuur eindelik weer iets nuuts, iets heeltemal nuuts en iets buitengewoons moois gegee.”
Ernst van Heerden het in Tydskrif vir Letterkunde van Maart 1954 geskryf dat hoewel Eitemal Jaffie slegs ’n “eselromannetjie” noem, “dit ’n reeks kontemplatiewe sketse is waarin twee vlakke deureenspeel: die Wes-Transvaalse plaaswêreld van sy jeug en ’n naïewe en uiters bekoorlike herbelewing van die Christusverhaal en -omgewing soos dit sober en argeloos deur een eseltjie aan ’n ander vertel word.
“Die skrywer se probleem was om ’n sintese tussen hierdie spanningsvlakke teweeg te bring en om die tipiese en lokale kenmerke van sy jeugomgewing organies te laat vergroei met daardie ander, meer eksotiese wêreld, sonder dat die leser van die paradoks bewus word. Daarin het hy myns insiens uitnemend geslaag. [...]
“Die boek het ’n etiese waarde wat des te dieper tref daar dit geen opsigtelike didaktiek is nie, maar ’n warme eerbied vir die skone en goeie in die lewe. Die Boeredeugde van eenvoud, bedagsaamheid, hoflikheid, eerbied teenoor die vrou, praktiese godsdienssin en naasteliefde kom telkens op die voorgrond en word met ’n voorbeeld uit die ervaringswêreld van die Boerseun belig. [...]
“Die taal waarin hierdie verhaal vertel word, is ryk en geskakeerd en verdien meer ruimte as wat hier tot my beskikking is. [...] Na jare het ons weer ’n werk, waarin wat onvervals en eenvoudig, mooi en goed in ons Afrikanerlewe is, duidelik spreek en dit op ’n heel besondere en oorspronklike wyse. [...] Ek reken dat Jaffie en oom Vaaltyn diep spore in die Afrikaanse prosa getrap het.”
S Ign Mocke was die resensent vir Helikon (Maart 1954) en vir hom was Jaffie een van die hoogtepunte in die jonger Afrikaanse prosa van daardie tyd, “omdat die Afrikaanse taal daar lenig en rekbaar word soos ’n goedgebreide osriem; omdat die atmosfeer van die Wes-Transvaal met meesterlike insig verower word; en omdat die donkie hier, uiteindelik, tot sy reg kom in ons literatuur. As prosa, as stylkunswerk, is Jaffie beslis van die beste wat ons het.”
Hennie Aucamp vertel in 2005 in Die Burger: “Ek was ’n kind aan huis van prof WJ du P Erlank en sy sjarmante vrou Hettie, en toe die nuus in 1957 deurkom dat prof Erlank – beter bekend as Eitemal – die Hertzogprys vir Jaffie gewen het, het ek op my fiets gespring om hom te gaan gelukwens. Terwyl snoepgoed en koffie bedien word, is daar ’n oproep.
“Jammer, het ’n noodlotstem aangekondig, daar was ’n vergissing, die prys gaan aan Elise Muller vir Die Vrou op die Skuit.
“Met groot waardigheid het Eitemal gesê: ‘Elise het die pryse nodiger as ek.’”
Nadat Dirk Richard die Afrikaanse Letterkundige Vereniging se prys vir jonger prosa die eerste keer in 1958 verower het, het die Vereniging sy prys van £75 vir jonger prosa in 1959 aan Eitemal toegeken, hoofsaaklik op krag van Jaffie, maar ook met inagneming van sy besondere verdienstes as digter en dramaturg. In sy karakteristiek van Eitemal en sy werk het die keurkomitee van die Vereniging gesê: “Jaffie is sonder twyfel voorbestem om klassiek te word in Afrikaans. Dit is werk met hoë stylverdienste en dit getuig van groot vormkrag. Die eenvoudige gegewens wat ’n legendariese opset het, word omskep tot ’n groot gedagte wat met ryke verbeelding en intuïsie uitgeboetseer word. Die Afrikaanse styltaal bereik ’n hoë peil in hierdie werk met sy wonderlik-plastiese uitbeeldings. Hier is sonder twyfel ’n prosakunstenaar van buitengewone allooi aan die woord. Eitemal se digwerk en drama is treffend vanweë sy sterk eties-dramatiese aanleg en sy vermoë om ’n stuk ontroerende lewe met sterk en vaste lyne weer te gee.” (Vaderland, 29 Mei 1959)
In 1956 het Eitemal vir die Nasionale Toneelorganisasie die drama So praat die ou rivier geskryf, as uitvloeisel daarvan om Hebbel se Maria Magdalena te vertaal. Die skrywer noem dit ’n “familiedrama” wat hom in Duitsland in ongeveer die middel van die 19de eeu afspeel, wanneer die gildestelsel moet plek maak vir kapitalisme.
“Dat dit egter slegs agtergrond sonder meer is, blyk uit die feit dat die opvattinge van die draer van die gilde-moraal net sowel dié van ’n konserwatiewe Afrikaanse boer kon gewees het of dié van Hans-die-Skipper. Die dramaturg sou onder dié omstandighede goed gedoen het om die verwysings na die tydgees nog verder te verminder en die botsings suiwer menslik te sien,” skryf Ernst Lindenberg in Die Huisgenoot van 7 Mei 1956.
“Meester Anton Hegelmann, waardig, sterk maar konserwatief en ten spyte van sy warm menslikheid geneig om absolutisties te wees wat betref moraal, word deur die harde werklikheid uiteindelik gedwing tot ’n kompromis met die lewe – nadat hy deur die dood van sy vrou, deur ’n gemeende en ’n werklike skande oor die familienaam, en die selfmoord van sy geliefde dogter geleer het om die taal van ‘die ou rivier’ te verstaan. [...]
“Die drama is geskryf in versvorm, maar só slap is die versvorm dat ’n mens dwarsdeur die gevoel het dat dit slegs ’n verdeling is in naasteby ewe lang reëls. Wat die skrywer bedoel met ‘die metriese spanninge van die spreektaal’ is vir my onduidelik – in ieder geval merk ek geen metriese skemas in die drama nie. [...] So praat die ou rivier is nog nie die goeie drama waarop ons so lank gewag het nie.”
In 1958 het die bundel verhale en ’n prosaskets onder die titel Skaduwees teen die muur verskyn.
Eitemal was ook ’n vertaler by uitnemendheid. Hy het Shakespeare se Macbeth in 1965 vertaal vir die Stellenbosse Shakespeare-herdenking. Hiervoor het hy die Akademieprys vir Vertaalde Werk vir 1966 ontvang.
Sy vertaling van Goethe se Faust was in opdrag van die Universiteit Stellenbosch vir die opening van die HB Thom-teater op 7 Oktober 1966. Daarvoor is hy weer eens in 1969 bekroon met die Akademieprys vir Vertaalde Werke.
Hy het Hamlet van Shakespeare in 1973 in opdrag van Sukovs van Bloemfontein vertaal en dit is op 15 Februarie 1973 vir die eerste keer in Bloemfontein opgevoer. Ander Shakespeare-vertalings, naamlik Midsomernagdroom (1974) en Die wintersprokie (1975), het gevolg.
André P Brink (Die Burger, 3 Desember 1973) was egter nie só beïndruk met Eitemal se vertaling van Shakespeare se Hamletnie. Hy het sy resensie afgesluit: “Ons het al verskeie Hamlet-vertalings in Afrikaans. Om te sê dat Eitemal s’n waarskynlik die beste is, sê ongelukkig nog maar min. Dit gee weinig blyke van Shakespeare se poëtiese dramagestalte, en óók min van vuur en vindingrykheid van Afrikaans as taal waarin mens graag die man van Avon sou wou hoor praat.”
Naas Jaffie is dit juis deur sy vertaalwerk dat Eitemal ’n belangrike en blywende bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer het.
Vanaf 1967 tot 1971 het hy as kulturele attaché by die Suid-Afrikaanse Ambassade in Den Haag in Nederland gedien. Met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1971 het hy gesê dat hy as gevolg van die Nederlandse teenkanting teen Suid-Afrika se apartheidsbeleid van daardie jare, nie een openbare lesing aan enige universiteit gelewer het nie. Hy het egter wel met kleiner groepe in gesprek getree.
Sy enkele groot taak terwyl hy in Nederland was, was om kontak met Nederlanders op die gebied van die kunste en die wetenskap te bevorder. Pieter Kapp het geskryf: “Hy het goeie kontakte met individuele professore en skrywers gehad, maar was versigtig om nie ’n verkeerde stap te doen tussen die twee organisasies wat nouer kontak met Suid-Afrika bevorder het nie, naamlik die Nederlands Zuid-Afrikaansche Vereniging en die Nederlands Zuid-Afrikaansche Werkgemeenskap.”
Daar was een netelige geval wat Eitemal, volgens Pieter Kapp, met omsigtigheid moes hanteer. Dit was om die Reina Prinsen Geerligsprys vir 1968 aan Breyten Breytenbach te oorhandig. Gedurende daardie jare was Breytenbach persona non grata in Suid-Afrika vanweë sy skerp kritiek teen die Suid-Afrikaanse regering. Die Prinsen Geerligsprys is ingestel ter gedagtenis aan die jong Reina Prinsen Geerligs, wat lid van die Nederlandse versetgroep CS-6 was en op 21-jarige leeftyd deur die Duitse besettingsmagte gefusilleer is. Prinsen Geerligs het Eitemal gevra om uit te vind wat die Suid-Afrikaanse regering se houding sou wees oor die toekenning. Eitemal het haar die versekering gegee dat daar nie probleme sou wees nie en dat hyself die plegtigheid sou bywoon.
Maar Breyten Breytenbach het in daardie tyd ’n kunsuitstalling in Nederland gehou en met die opening het hy hom sterk uitgespreek teen Suid-Afrika. Vrij Nederland het ’n onderhoud met Breytenbach gedoen waartydens hy gesê het: “Europa het vir Suid-Afrika ’n mite geword. Suid-Afrikaanse vryheidsvegters se harte is nodig om oorplantings te doen”, en dit was veral die laaste uitspraak wat wyd reaksie uitgelok het. Eitemal het dus nie die prystoekenning aan Breytenbach bygewoon nie.
In 1981 het Perskor Eitemal se verwerking van die Middelnederlandse Van den Vos Reynaerde, getiteld Reinaard die jakkals: ’n Afrikaanse diere-epos, gepubliseer. Fragmente van hierdie “vertaling” het reeds in Verse vir Opperman (1974) en Tydskrif vir Letterkunde van Mei 1979 verskyn.
PH Roodt het in sy bespreking van Reinaard die jakkals (Hoofstad, 7 September 1981) daarop gewys dat Eitemal in sy inleiding tot die epos die klem plaas op die letterkundige verlies van die moderne Nederlandse vers- en prosavertalings. Roodt het voortgegaan: “Dat Eitemal besluit het om oor te gaan tot ‘eie skepping’ nadat ’n poging tot ‘verwerking’ hom nie bevredig het nie, is ’n wins vir die Afrikaanse letterkunde (en vir diegene wat nie die oorspronklike kan lees nie). In die inleiding gebruik hy verwerking en vertaling as sinonieme terme, terwyl ek onder verwerking ‘omwerking’ en ‘uitbreiding’ verstaan. En dit is waarmee die leser in Reinaard te doen het: ’n verwerking en herdigting van, en uitbreiding op, die Middelnederlandse verhaal.
“Eitemal se Reinaard was vir my ’n heerlike leeservaring, iets waarvoor ek met liefde die lees van ’n twintigtal debuutbundels van die vorige paar jaar sou prysgee. Dit is ’n móét vir almal wat in die letterkunde belangstel.”
Daniel Hugo (Vaderland, 24 September 1981) het hierdie “Afrikaanse Vos” as die grootste plesierigheid van 1981 op letterkundige gebied beskryf. “Dit is ’n virtuose herskepping van die Middeleeuse verhaalgegewe en Eitemal het daarin geslaag om dit te verafrikaans met ’n heerlike eie boersheid sonder om die Middeleeusheid van die verhaal prys te gee.
“Eitemal brei plek-plek die satire op Staat en Kerk van die Middeleeuse wêreld uit tot ’n vermaaklike gespot met die Suid-Afrikaanse werklikheid van apartheid, ontug, polisiestaat-verwyte, oproerige politieke vergaderings, verkramptes, mynkampongs, sensorrade, nasionaliste en progressiewes, Van der Merwes en Koekemoers, heldedagvierings, vryheidsvegters, ensovoorts, ensovoorts. [...]
“Die boek se veelseggende sub-titel, ‘’n Afrikaanse diere-epos’, erken [...] onder meer Afrikaans se besitreg op die Middeleeuse verhaal. Tegelykertyd wys dit ook op die Afrika-heid van die verwerking – vandaar die ‘opdrag’ voorin die boek van ‘Outa Klaas’ wat kleintyd wolf-en-jakkalsstories vertel het.
“Dit is opvallend hoedat hierdie Suid-Afrikaanse dierestories op ’n natuurlike wyse by die oorspronklike ingewerk word. Dit is nie net ’n bewys van Eitemal se uitsonderlike vakmanskap nie, maar dui ook op die diepliggende verwantskap tussen die twee wêrelde wat soveel eeue uit mekaar lê.”
Hugo sluit sy bespreking af: “Reinaard die jakkals is sekerlik een van die beste vertalings/verwerkings in Afrikaans en dat Eitemal, die lammetjie, hiermee ’n leeuetaak verrig het.”
In 1981 het die FAK Eitemal vereer vir sy lewenslange toewyding aan die Afrikaanse volkslied. Gawie Cillié, voorsitter van die FAK op daardie stadium, het Eitemal gehuldig as die enigste oorlewende lid van die driemanskap wat verantwoordelik was vir die eerste verskyning in 1940 van die bekende FAK-sangbundel. Die bundel het in 1931 “ontkiem” deur ’n lesing wat Eitemal in Kaapstad gehou het tydens die tweede kongres van die FAK. Die lesing was getiteld “Kulturele betekenis van die volkslied”.
“Die FAK kon niemand anders kry wat dit wou waag om in dié vroeë dae oor die kulturele betekenis van Afrikaanse volksliedere te praat nie, en ek moes maar toestem!” het Eitemal vertel. “Ek het die lesing vier dae na my troue met Hester Visser gehou en in dié vier dae mag sy nie ’n woord met my gepraat het nie. Vandag nog vergoed sy vir daardie vier dae van swye.” (Die Burger, 17 Junie 1981)
Ná die kongres in 1931 is Eitemal deur Hugo Gutsche genader met die voorstel dat hulle saam ’n bundel van Afrikaanse volksliedere saamstel. Hulle het vier jaar lank daaraan gewerk, totdat die FAK in 1935 voorgestel het dat die bundel in oorleg met hom uitgegee word. Stephen Eyssen het in hierdie stadium die laaste lid van die driemanskap geword, terwyl Eitemal in Nederland was vir sy studies.
Hennie Aucamp het in Die Burger van 22 en 23 Junie 1981 met Eitemal se 80ste verjaardag só geskryf oor Eitemal se liedjies: “Daar was één van sy periferale letterkundige bedrywighede waaraan hy groot plesier moes gehad het: sy liedjies, wat uiteindelik in die FAK-sangbundel opgeneem is. Die spontaneïteit van talle lirieke getuig van dié vreugde:
As ek moeg word vir die lewe in die stad
Lok my die wandelpad
en
Goud en silwer het ek lief
met hul kartelrandjies.
“Dis miskien die allergrootste kompliment aan Eitemal dat skoolkinders waarskynlik glad nie weet wie hierdie woorde geskryf het nie,” het Aucamp verder geskryf. “Vir hulle was die woorde altyd daar, onvervreembaar deel van die lied wat hulle sing, en hiermee word Mark Twain se bondige opsomming van die volkslied bevestig: ‘a song that nobody ever wrote’.”
Eitemal moes as voorsitter van die Johannesburgse Kunsvereniging (1928 tot 1935) dikwels sangkompetisies vir solo- en koorsang reël. Geskikte musiek moes uit nood vertaal word, en hiermee het hy sy leerskool as liriekskrywer deurloop.
Die referaat wat hy in 1931 voor die FAK gelewer het, was, volgens Hennie Aucamp, ’n credo wat Eitemal se hele filosofie binne die volkslewe uiteengesit het (Die Burger, 23 Junie 1981): “Hy het op een plek gepraat van ‘’n [r]itmies-melodiese vertolking van daardie volk se innerlikste wese’. Daarom het hy hom heftig verset teen ‘vreemde aangewaaide sentimentaliteit’ en teen die ‘oorryp produkte van ’n oorryp, dekadente beskawingslewe’.”
Dit is egter ironies, het Aucamp gemeen, dat so baie van die liedere wat later in die FAK-sangbundel opgeneem is, vertalings is, meestal uit Duits: daarmee saam ook die meerderheid van Eitemal se lirieke. Maar, het Aucamp geskryf, dat daar eerder gepraat moet word van “herskeppings” of “herdigtings” as “vertalings”.
Aucamp het voortgegaan: “Die verafrikaansings van ‘Sarie Marais’, ‘Die brug op ons plaas’, ‘Wanneer kom ons troudag, Gertjie?’en ander volksliedjies is vir hom aanneemlik, want ‘selfs as ingeburgerde volksliedere is hulle frisser, gesonder, lewenskragtiger as sommige van die goedkoop ballademusiek ... vandag’. [...]
“Sommige van Eitemal se lirieke het egter verouder, veral party van sy nasionale oproepe wat ver verwyderd van vandag se politiek is, en talle van die liefdesliedjies is vir die eietydse smaak te onskuldig en simplisties. Ons het sedert 1931 ’n stadskultuur ontwikkel, sodat die volgende reël uit sy referaat van 1931 net nie meer opgaan nie: ‘Die liefde is nog ’n uiting van somerwarme lewensvolheid, die beminde is ’n fris, gesonde Boerenooi, wat jy met ’n spogperd moet benader voor die huwelik, en met ’n rooiwielwa en ’n rooi span osse moet wegneem na die huwelik’.
“Die verse waarin Eitemal op sy boertigste is, toon ’n baie sterker oorlewingsvermoë; lirieke waarin sy ruie boerehumor, soos in sy Wes-Transvaalse verhale in Skaduwees teen die muur, oorbodige lering weer. Die slotstrofe van ‘Die kreukels in haar rok’ is ’n voorbeeld:
Ek ken ’n Boerenooi
Met wange glad te rooi
Doedeldidado, doedeldidado!
En oog wat nie meer jok
En kreukels in haar rok.
Doedeldidado, doedeldidado! [...]
“Van Eitemal, ons eerste professionele liriekskrywer, kan vakkundig nog baie geleer word: sy vers sing, want hy is musikaal; sy vers praat vlot, want hy is ’n woordmens en ’n redenaar.
“Wie weet gaan hy, met daardie dualisme in sy natuur waarna Opperman so spitsvondig verwys, hom nog in sy eie woorde, besondig aan ‘liefdesleuentaal op ’n sofa’. Op stuk van sake is Eitemal een van ons vroegste beoefenaars van kabaretliedjies, maar ook van haikoes, of soos hy hulle genoem het: ‘Sommer-so-tjies’.”
En dan sluit Aucamp sy artikel af met een van die haikoes:
Afgevalle bloesem styg
Fladderend na die moedertwyg –
A! ’n skoenlapper!
Eitemal se breë kultuurbemoeienis in sy leeftyd blyk uit die talle terreine waarop hy pionierswerk en volgehoue “onderhoudsdiens” gelewer het. Hy was nie alleen stigterlid van die FAK in 1929 nie, maar ook medewerker aan die FAK-Volksangbundel, waarin hy talle verwerkte en oorspronklike liedjies (en liedere soos “Die lied van jong Suid-Afrika”) nagelaat het. Hy was stigterlid van die Handhawersbond en die Voortrekkerbeweging, die ATKV en die Mynwerkersbond; lid van die NTO-komitee en die Skrywerskring; kampvegter vir die stigting van die streekrade vir die kunste; voorsitter van die Johannesburgse Kunsvereniging. In ’n huldigingsrede in 1966 in Stellenbosch het DJ Opperman erkenning gegee aan Eitemal as spreker en stryder.
As openbare spreker was Eitemal in sy leeftyd baie in aanvraag. Nadat hy in 1920 sy eerste Geloftedagrede gehou het, het hy, feitlik onafgebroke, behalwe wanneer hy in die buiteland was, ’n volksrede of twee per jaar gelewer, tot sy aftrede. Hennie Aucamp, wat by hom klas gehad het, het in 1981 geskryf dat dit vir Eitemal baie moeilik moes gewees het, want hy was in werklikheid ’n teruggetrokke en gespanne mens. Tog het hy hom diensbaar gestel. Van sy toesprake wat hy later gelewer het, was dié in 1949 met die inwyding van die Voortrekkermuseum in Pretoria. Daar is ook sy redes by die 25ste verjaardag van die FAK en die Langenhoven- en Hertzog-gedenklesings wat hy voor die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gelewer het.
Nadat die Cronjé-verslag in 1957 verskyn het, het Eitemal, soos ook baie ander skrywers en letterkundiges, betrokke geraak by die kwessie van beheer oor publikasies. Geoff Cronjé is aangestel as voorsitter van ’n kommissie van ondersoek na ongewenste publikasies wat deur die Goewerneur-Generaal, op aanbeveling van die minister van buitelandse sake, aangestel is. Eitemal was, saam met vele ander, nie net bekommerd oor die uitwerking van die toepassing van beheer op ernstige letterkunde en rolprente nie, maar ook omdat daar geen letterkundiges in die Cronjé-kommissie gedien het nie. Die instelling van ’n Publikasieraad en Appèlraad is deur die kommissie aanbeveel. Daarna het Huisgenoot vir Gerrit Dekker, FCI Bosman en Eitemal as letterkundiges en vir WA de Klerk en Ernst van Heerden as skrywers om hulle kommentaar genader. Hulle het saamgestem met NP van Wyk Louw wat vroeër gewaarsku het teen die instelling van só ’n sensuurstelsel. Maar daar is voortgegaan en in 1963 is die Wet op Publikasies aangeneem.
Eitemal het homself teen drie punte in die wet uitgespreek: die algehele afwesigheid van enige erkenning van die vorminhoud en die karakter van die kunswerk; dat die openbare reaksie as standaard gebruik word; en die wanbegrip van wat pornografie is, soos dit in die wet vervat is.
Pieter Kapp het geskryf dat op toneelgebied het Eitemal en sy vrou beide ’n leidende rol gespeel. Hy was van die begin af betrokke by die totstandkoming van die Nasionale Toneelorganisasie (NTO) en kort na sy aankoms op Stellenbosch is hy tot die Raad van die NTO benoem. Hy was ’n vurige kampvegter vir die amateur- en professionele toneel en het dit vir hom as ideaal gestel om ’n toneelskool en ’n teater op Stellenbosch tot stand te bring, om streekstoneelgroepe in Bellville en Stellenbosch te vestig en om die kleurlingtoneel stewig uit te bou.
In 1962 is besluit om streeksrade vir die kunste in te stel. As oorgangsmaatreël is Tussentydse Toneelrade ingestel en Eitemal was voorsitter van die Kaapse een. As sulks het hy gepoog om vaste kontrakte vir spelers, asook vir tegnici te verseker, vir beter subsidies vir so ’n groot provinsie soos Kaapland en om ’n eie “teaterhuisie” in Kaapstad te vestig. Ook was die feit dat die teater toeganklik moes wees vir alle volkslae vir hom baie belangrik, asook goeie opleiding vir almal betrokke by die teater, en dat meer inheemse stukke op die planke gebring moes word. Hy het ook sterk gevoel oor die behoud van amateurtoneel.
Sekerlik is sy grootste bydrae op toneelgebied die aandeel wat hy gehad het aan die vestiging in 1961 van ’n onafhanklike Departement van Drama aan die Universiteit Stellenbosch en die inrigting van die HB Thom-teater op Stellenbosch in 1966. Die teater is dan ook heeltemal tereg ingewy met die aanbieding van Eitemal se vertaling van Goethe se Faust wat die US-professor van Duits, GPJ Trümpelmann, as ’n uitstekende vertaling bestempel het. Hy het ook dramas vir die departement vertaal wat nie gepubliseer is nie. Fred Engelen het Eitemal die geestelike vader van die departement genoem. As huldeblyk het die departement voor sy vertrek na Nederland, op 19 Mei 1967 die première van sy vertaling van Macbeth aangebied.
Eitemal het ook ’n groot rol gespeel in die koms van Fred Engelen en sy aktrise-vrou, Tine Balder, na Stellenbosch. In 1962 het die US vir Engelen ’n pos aangebied en hy het ses maande gevra om daaroor te dink. Die Belgiese regering het intussen aan hom ’n teenaanbod gemaak. Volgens hierdie aanbod sou hy beheer gehad het oor die Belgiese toneel en televisie. Eitemal het toe met Engelen oorleg gepleeg en Engelen het die Stellenbosse aanbod aanvaar. Die Belgiese koerante het baie ontsteld berig gelewer, omdat hulle beste regisseur en aktrise die land sou verlaat.
Eitemal het Nederland in 1972 verlaat. Hy is daarna benoem as een van die letterkundiges op die Kaapse paneel van die Publikasieraad. Hy het die posisie tot in 1984 beklee. In 1977 het Anna M Louw, TT Cloete en Merwe Scholtz uit die Publikasieraad bedank. Eitemal het hulle beskou as “toegewyde nasionaal voelende en hoogs intelligente letterkundiges [sonder wie] ons publikasiebeheer seer seker minder goed sou wees”, en hy het dit as ’n groot terugslag vir gebalanseerde beheer in belang van ’n vrye letterkunde beskou.
Eitemal was ook glad nie ten gunste van die verbod op André P Brink se Kennis van die aand nie. Hy het sterk daaroor gevoel dat dit nie verbied moes word nie, want dit sou “daaraan ’n status veel hoër as sy letterkundige verdienste gee,” het Kapp geskryf. “Dit was ’n werk van ernstige letterkundige aard en nie vir die breë publiek bedoel nie. Net so was hy teen die verbod op Magersfontein, o Magersfontein van Etienne Leroux. Hy het dit as ’n grootse werk beskou en as ’n Afrikaanse satiriese roman van wêreldgehalte.”
Kapp het ook verder geskryf dat Eitemal die beheer van publikasies gesien het as ’n manier om dinge wat in swak smaak is, ongewens te verklaar, om dan die bron daaragter – die sogenaamde geelpers – aan bande te lê. Eitemal het ook gesê: “As letterkundige – en die letterkunde is baie na aan die godsdiens – het ek geleer om my eie standaarde te stel vir wat skoon en mooi is, maar tegelykertyd skerp te luister na moontlikhede wat besig is om te groei in die skoot van ’n jonger toekoms. Sommige van dié dinge – en nou dink ek veral aan jonger poësie en jonger kunswerke – is vir my so lelik en vormloos soos ’n foetus in die baarmoeder. Maar my beskeidenheid en my eerbied vir die lewe wat besig is om te word, het my altyd weerhou van voorbarige veroordeling, veral as ’n belangrike deel van my medeletterkundiges en volksgenote dit reeds aanvaar as ’n nuwe vergestalting van wat mooi en goed is.” (SA Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis, Junie 2002)
Kapp skryf dat Eitemal se bewondering vir die intellektuele reikwydte en die waagmoedige lewensverkenning van die Sestigers hom hierdie versugting laat uitspreek het: “Dit sal die gelukkigste dag van my lewe wees wanneer ’n Christelike skrywer van Brink se formaat, met sy talent en sy belesenheid, die blanke en die bruin Suid-Afrikaners in hulle naakte menslikheid teenoor mekaar stel, naak, ontdoen van alle politieke maatskaplike of kleur vooroordele. Miskien sal hierdie, in baie opsigte bevooroordeelde en irriterende werk van Brink [Kennis van die aand] juis die spoorslag wees tot so ’n skepping. Ons menswees is medemens wees. Ons Afrikaanse menslikheid kan alleen verdiep, verryk word deur diep in te kyk in die siel van ons bruin medemens – sy vernedering, sy frustrasie, sy wanhoop, wat hy soms noodgedwonge met vaaljapie verdryf.”
Sy volgehoue produktiwiteit tot in sy tagtigerjare beseël weer MER se woorde dat ’n mens se beste werkjare tussen 45 en 70 lê; en soos beide van hulle se lewens getoon het, kan dit klaarblyklik ook verder strek.
Op 24 Junie 1984, twee dae na sy verjaardag, is Eitemal weens longversaking in sy huis op Stellenbosch oorlede. Hy het sy vrou, Hettie, sy seun Willem (in daardie stadium ’n radioloog in Port Elizabeth) en drie kleinkinders agtergelaat. Sy roudiens is op 26 Junie uit die NG Kerk Welgelegen in Dalsig op Stellenbosch deur dr DJ Hattingh waargeneem.
Huldeblyke
- Kerneels Breytenbach, (destyds) joernalis by Die Burger: “WJ du P Erlank het ’n besonderse bydrae tot die Afrikaanse letterkunde en kultuurlewe gemaak. Hy het ’n groot hoop vuur aan die brand gesteek met sy werk en geskrifte, sê Opperman, en vir daardie vuur staan die Afrikaner diep in die skuld by Eitemal. Dié verering, en danksegging, sal nog lank geldig bly.” (Die Burger, 26 Junie 1984)
- DJ Hattingh, predikant wat sy begrafnisdiens waargeneem het: “Eitemal het die baie talente wat hy gehad het met só baie mense gedeel. Hy het nie net om ’n bestaansreg vir die Afrikaanse taal gestry nie. Hy het die moeilike jare van die depressie beleef en hy en sy vrou het hulself aan ’n opheffingstaak onder die Afrikanervolk gewy. In dié tydperk het hy as een van die merkwaardigste en uitmuntendste redenaars van sy tyd na vore getree.” (Die Burger, 27 Junie 1984)
- Ludwig Visser, koerantman en vertaler: “Wanneer hy Van Staring tot Gorter in die klas oopgeslaan het, het dit ’n belewenis geword. Hy het gehelp dat ons Afrikaanssprekendes ’n al hoe beter insig kry in waar ons eintlik met ons taal vandaan kom, waar die mooi dinge wat ons vandag in ons taal het, oorspronklik hul wortels gehad het. Prof Erlank was altyd in die klas die netjiese, uiters gesofistikeerde man, vir wie die skoonheid van die Nederlandse digkuns nie net iets was wat op papier gevind is nie, maar wat weerklank gevind het in sy hele persoonlikheid. Ons taal het ’n groot gees verloor.” (Die Burger, 26 Junie 1984)
- Die Republikein-hoofartikel: “Dit is veral as skrywer wat Eitemal ’n baie bekende en beminde figuur was. Sy boek Jaffie was in verskeie huise dié boek waaroor gepraat is. In óns wêreld juis vanweë die feit dat ’n donkie as ’n heel karaktervolle gedierte beskou word! Dankie vir Jaffie. En dankie vir die ander bydraes.” (Die Republikein, 26 Junie 1984)
- DJ Opperman: In ’n huldigingstoespraak in 1966: “Eitemal was ’n mens met opvallende teenstrydighede in sy werksaamhede en toesprake. Aan die een kant is hy die plattelander, is hy konserwatief, verbete Afrikaans-nasionaal, ’n Transvaler, het hy ’n gevoel vir die Bantoe, is hy die daadmens; aan die ander kant is hy stedeling, liberaal, Kapenaar, het hy ’n gevoel vir die Engelsman en Bruinmens, is hy die dromer en die digter.” (Die Burger, 26 Junie 1984)
- Pieter Kapp: “Eitemal was ’n mens van sy tyd en die produk van sy vorming. Hy het die wel en wee van sy mense as konsentrasiekampkind en seun uit die opregte eenvoud van die Wes-Transvaalse plattelandse leefwyse intens beleef. Daarom was hy solidêr met hulle en wou hy die begaafdheid van sy intellek en die bevoorregting van sy geleerdheid gebruik om aan hulle ’n visie van hoop en reg te gee in hul hunkering na ’n eie geesteskulturele ruimte en persoonlikheid. Vir hom was die mooi van die lewe dit wat in elke volk en kultuur eg en oorspronklik was.
“Geesdrif vir die mooie en die goeie was wat hom aangegryp het. Sy lirieke het verouderd geraak, sy oproepe het enigsins bombasties voorgekom en sy aanslag was dikwels te simplisties en onskuldig, heeltemal te idealisties vir die werklikhede van magsverhoudinge in die samelewing. Maar hy het geglo dat ware lewensdrif daarin geleë is dat jy altyd geesdriftig moet wees oor dit waaraan jy glo. Eitemal verteenwoordig ’n historiese verskynsel waarsonder jy die geskiedenis van die Afrikaner nie kan verstaan nie: die intellektueles wat ’n besondere element verteenwoordig in die ontwikkeling van die Afrikaanse nasionale bewussyn omdat hulle die Afrikaner gehelp het om weer in homself te glo. Eitemal sou stellig die huidige totale individualisering van die Afrikaner moeilik kon begryp of aanvaar het. Hy wou nie op die afvalhope van die Afrikaner se lewe en denke na menslikheid en menslike ervaring gaan soek nie. Dit sou hom in ’n ernstige depressie gedompel het. Hy was ’n mens vir die sonkant van die lewe, wat dikwels beteken het dat hy van die koms van die skemering en die nag nie wou weet nie. As hy geweet dat die nagwaak voorlê, sou hy na die ewige son gaan soek het .” (Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis, Junie 2002)
- Die Vaderland-hoofartikel: “Eitemal, soos WJ du P Erlank bekend was, sal nie onthou word as ’n literêre reus nie. Maar hy sal wel onthou word as die skrywer van eenvoudige gediggies wat op hul dag ’n grootse bydrae gelewer het om Afrikaans as skryf- en kultuurtaal te vestig. As dit nie was vir die manne wat onder begin het nie, sou latere skrywers en digters ook nie die hoë vrugte van Afrikaans kon bygekom het nie.” (Die Vaderland, 26 Junie 1984)
Publikasies:
|
Publikasie |
Stafie en Santjie in Kabouterland; saam met Imker |
|
Publikasiedatum |
1927 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Maskew Miller |
|
Literêre vorm |
Kinderboek |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Weerklankies |
|
Publikasiedatum |
1928 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Phaeton en ander gedigte |
|
Publikasiedatum |
1931 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Lus en lewe: liedere vir studente, oud-studente en ander vrolike mense. Saam met Hugo Gutsche. |
|
Publikasiedatum |
1932 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Musiek |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
En hadde de liefde niet ... |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Drama |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die patroon van ons volkskarakter |
|
Publikasiedatum |
1952 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Johannesburg: FAK |
|
Literêre vorm |
Kultuurgeskiedenis |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Jaffie: ’n eselromannetjie |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Balkema |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
1959-wenner van Afrikaanse Letterkundevereniging-prys |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
So praat die ou rivier |
|
Publikasiedatum |
1956 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk |
|
Literêre vorm |
Drama |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Skaduwees teen die muur |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
|
Literêre vorm |
Kortkuns |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Reinaard die jakkals: ’n Afrikaanse diere-epos |
|
Publikasiedatum |
1981 |
|
ISBN |
0628019467 (hb) |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Vertalings deur Eitemal
- Goethe, Johann Wolfgang von: Faust I. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk, 1966 (Akademieprys vir Vertaalde Werk 1969)
-
- DOMI: “Faust”. Eikestadnuus, 23 September 1966
-
- Hoeck, Jozef, van: Voorlopige vonnis. Johannesburg: Dalro, 1969
- Schiller, Friedrich von: Don Carlos. Johannesburg: Dalro, 1969
- Shakespeare, William:
-
- Hamlet. Kaapstad: Tafelberg, 1973 [ISBN 0624004406 (hb)]
-
- Brink, André P: Eitemal se “Hamlet” is vlot maar ongeïnspireer. Die Burger, 2 Desember 1973)
-
- Die wintersprokie. Kaapstad: Tafelberg, 1975 [ISBN 0624006263 (hb)]
- Macbeth. Kaapstad: Human & Rousseau, 1965 (Akademieprys vir Vertaalde Werk 1966)
- Midsomernagdroom. Kaapstad: Human & Rousseau, 1974 [ISBN 0798104341 (hb)]
- Hamlet. Kaapstad: Tafelberg, 1973 [ISBN 0624004406 (hb)]
-
Artikels oor en deur Eitemal
- Akademieprys vir vertaalde werk (drama) 1969 toegeken aan prof Dr WJ du P Erlank (Eitemal): huldigingswoorde deur TT Cloete. Jaarboek van die SA Akademie, 1969
- Aucamp, Hennie:
-
- Eitemal, ons vroegste professionele liedteksskrywer
- Eitemal – ’n woordmens en ’n redenaar: ons eerste professionele liriekskrywer. Die Burger, 23 Junie 1981
- W du P Erlank vandag tagtig jaar oud. Die Burger, 22 Junie 1981
-
- Biografies. Transvaler, 21 Desember 1949
- Botha, Amanda:
-
- Eitemal se pen is nog nie droog nie. Transvaler, 25 Junie 1981
- Vader van FAK-bundel is vandag 80. Transvaler, 22 Junie 1981
-
- Cultureel attaché. Zuid-Afrika, Junie/Julie 1967
- Die vlag-episode sal Duke Erlank ewig met Tuks verbind. Hoofstad, 23 April 1980
- Dr WJ du P Erlank aangekla. Volkstem, 16–18 Oktober 1942
- Dr WJ du P Erlank beskuldig van ondermyning. Transvaler, 17; 29 Oktober 1942
- [Dr WJ du P Erlank] vandag in hof. Vaderland, 16–18 Oktober 1942
- Eitemal (Wikipedia)
- Eitemal (Stellenbosch Writers)
- Eitemal boikot verering van Breytenbach. Beeld, 27 November 1968
- Eitemal: Die begrafenis [gedig]. Afrikaans.us, 11 Oktober 2023
- Eitemal: Die donkiewa [gedig]. Ink, 20 Mei 2016
- Eitemal, digter en dramaturg vereer [bron en datum onbekend]
- Eitemal gaan kollege se viering bywoon. Hoofstad, 1 Mei 1975
- Eitemal: Gedigte. Lezenswaard
- Eitemal herdenk. Kaapse Bibliotekaris, September/Oktober 2001
- Eitemal het 1e rugbyspan afgerig. Transvaler, 24 April 1981
- Eitemal, ’n man so jonk van gees. Vaderland, 2 Junie 1979
- Eitemal na reünie van Kollege-huis. Vaderland, 2 Mei 1975
- Eitemal verjaar op Oude Libertas. Vaderland, 22 Junie 1981
- Eitemal vertel van orrelfondsveiling met kinkel. Die Burger, 24 Julie 2009
- Erlank, WJ du P:
-
- Die letterkundige skoonheid van die Bybel. Ons Eie Boek, 1954
- Die publikasiewet. Huisgenoot, 26 April 1963
- Enkele aspekte van Ibsen se dramatiek. Standpunte, Januarie 1947
- Erepenning vir toneelkuns, 1965 [Robert Mohr]. Jaarboek van die Suid-Afrikaanse Akademie, 1966
- Erepenning vir toneelkuns, 1967 [James Norval]. Jaarboek van die Suid-Afrikaanse Akademie, 1968
- Leipoldt, die mens en digter. Ruiter, 9 Mei 1947
- Prof NA Donkersloot. Ons Eie Boek, Junie 1948
- Rede gelewer tydens die algemene vergadering van die Nederlands Zuidafrikaanse Vereniging. Zuid-Afrika [datum onbekend]
- Totius. Tydskrif vir Wetenskap en Kuns, Oktober 1953
- Wat skort aan ons prosa? Huisgenoot, 28 November 1952
-
- Esterhuizen, Zerelda: Eitemal. Weet, 21 Januarie 2016
- FAK vereer Eitemal in Eikestad. Die Burger, 17 Junie 1981
- Fourie, Petronel: Eitemal (1901–1984). FAK
- Gaum, FM: Erlank, Willem Jakobus du Plooy (Eitemal). Kerkbode, 2025
- Hugo, Daniel: Eitemal, die eerste haikoe-digter in Afrikaans. Maroela Media, 6 Junie 2024
- Kapp, Pieter: Die leeuhart van die lammetjie: die kulturele bydrae van WJ du P Erlank (Eitemal) 1901-1984. SA Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis, Junie 2002
- Le Roux, Marietjie:
-
- Eitemal ... 80 jaar se diens aan Afrikaans. Vaderland, 3 Julie 1981
- Hy het ons véél meer as Jaffie gegee. Hoofstad, 20 Julie 1980
-
- Lückhoff, Braam: Eitemal raps leraars oor leuens oorsee [bron en datum onbekend]
- Opperman, AJ: Die digter Eitemal is vandag 124 jaar gelede gebore... Facebook, 22 Junie 2025
- “Praat meer met Nederland”. Volksblad, 27 November 1970
- Pretorius, SJ: Eitemal gesels oor koeie, voëltjies, digters en die kritiek. Ruiter, 4 Julie 1947
- Smith, Charles:
-
- Eitemal lewer groot bydrae tot opheffing van Afrikaner. Volksblad, 17 Augustus 2001
- Eitemal se geboorte 100 jaar gelede word in Rosestad herdenk. Die Burger, 11 Augustus 2001
- Van Bruggen, JRL: Kennismaking met die digter. Transvaler, 21 Januarie 1938
- Van Rooy, CA: Akademieprys vir vertaalde werk, 1966. Jaarboek van die SA Akademie, 1966
- Vandag in die ou dae. Beeld, 22 Junie 1984
- Verskerp debat met Nederland – Erlank. Die Burger, 27 November 1970
-
Artikels rondom Eitemal se afsterwe
- Bekende Eitemal in Kaap oorlede. Transvaler, 25 Junie 1984
- Breytenbach, Kerneels:
-
- Eitemal, ’n daadmens. Die Burger, 26 Junie 1984
- Eitemal deel van almal. Volksblad, 29 Junie 1982
-
- Death of Matie writer. The Cape Times, 26 Junie 1984
- Dood was vir Eitemal soos “lank wegbly”. Die Burger, 27 Junie 1984
- Eitemal †. Vaderland, 26 Junie 1984
- Eitemal [hoofartikel]. Die Republikein, 26 Junie 1984
- Eitemal in Eikestad oorlede. Die Burger, 25 Junie 1984
- Eitemal is onverwags oorlede. Volksblad, 25 Junie 1984
- Eitemal na kort siekbed oorlede. Vaderland, 25 Junie 1984
- Eitemal oorlede. Suid-Afrikaanse Oorsig, 29 Junie 1984
- Eitemal se vrou erf alles. Die Burger, 13 Julie 1984
- Eitemal sterf 2 dae ná tagtigste verjaardag. Oosterlig, 25 Junie 1984
- In memoriam. Matieland, 2(84)
- Prof WJ du P Erlank dies at Stellenbosch. Eastern Province Herald, 26 Junie 1984
- SA author dies. The Citizen, 26 Junie 1984
- Venter, Leona: “Is iemand dood? En wie was ... hy?”. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Desember 1984
- Visser, Ludwig: Eitemal [se afsterwe]. Die Burger, 26 Junie 1984
- Writer dies. Daily Dispatch, 26 Junie 1984
Eitemal se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2011-09-06 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bronne
- Kapp, Pieter. 2002. Die leeuhart van die lammetjie: die kulturele bydrae van WJ Du P Erlank 1901–1984. Suid-Afrikaanse tydskrif vir Kultuurgeskiedenis 16(1) Junie
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


