Wittgenstein-siklus

  • 0

Wittgenstein-siklus

I

in die kloostertuin praat wittgenstein
in ’n privaat taal met sy plante

bespeur hy in die rye plantjies
’n logiese patroon soos in die stelsin

so het ek die vuurstoker gegooi na popper
wys hy met ’n stok vir die ab

en met sy vingers om die onkruid
rangskik hy sy gedagtes oor die liefde

II
Frances Skinner

vir jou geliefde is die inpas van pitjies in ’n plant
of die enjin van ’n motorkar vir my
soos ’n wiskundige formule wat moet klop
vir my is die lesingsaal en vir jou lief
die ewige notules en agendas
van nul en gener waarde
sien eerder die primêre priemgetal
of die absoluutheid van die nul
in die draai van die wiener riesenrad
in wie se skaduwee jy die weense knape
sjarmeer met jou logiese aanslag op hul lywe

III
David Pinsent

oor gletsers op soek na geisers ek en jy
na die ritme van die poolwind oor die sneeu luister ek en jy
of die spasie tussen die naels van die ysbeer meet ons
maar toe my vliegtuig warm soos ’n vlam
die spikkeltjie van ’n bom aantrek soos ’n mot
was dit net ek wat hoor
hoe roggel die enjin ’n gesneuwelde se stuiptrekkings
sy rookborrels soos bo die tuinvullis wat jy verbrand
in jou voorstedelike tuintjie met sy meetkundige uitleg

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top