"Without the option"

  • 0

Foto: Canva.com

Die karakters in hierdie verhaal is fiktief. Die name wat gebruik word is ook fiksioneel en verwys nie na 'n lewende mens nie.

Op ’n dag, in my vorige jeug, kom ek van die werk af. Ek ry deur die skoolhek, erg stadig. Dis totaal teen my karakter in, want gewoonlik vlieg ek laerig deur die hek omdat my maag my ernstig aanspoor: “Knorrrrrr, rrrrrrrrrry nou, ek het urrrrrrre laas iets substansieels gehad! Rrrrrrrrry!”

“Ja, Pens. Deksels, hier’s nog baie kinders in die straat. Ek moet eers wag dat die straat skoon word. As ek vinniger ry, ry ek een van die pesti … agge bloedjies raak!”

“Ja maarrrrrr, anderrrrrr dae vlieg jy hierrrrr uit! Knorrrrrrr!”

“Pens, ek kan mos bestuur!” sê ek heeltemal dwars en onlogies. “Sjarrap nou. Ek bestuuur. A, daar’s die straat nou skoon.”

Ek kruie by die hek uit. Die volgende oomblik hoor ek whap! teen my kar se voorkant. ’n Hoe nou weer noem my pa daardie gedeelte van die kar? (’n Mens mag “kar” sê; die HAT sê so.)

Ek stop dadelik. Selfs Pens se snater is skielik tjoepstil.

Reg voor my kar, in die straat, lê ’n kleinerige skraal dogtertjie. Sy lê botstil. Ek herken haar nie. Ek dink nie sy kry by my klas nie, maar as ek so na die klein lyfie kyk, skat ek haar in graad 8.

“Suster Soesêra,” praat ek met myself, “vandag is hier groter as groot sports. Wat nou?”

Ek kyk om my rond, maar daar is geen sterfling, niemand wat leef of sweef, soos oorle’ ouma altyd gesê het, vir wie ek raad kan vra nie. Ek gaan na die dogtertjie toe wat steeds bewegingloos lê. Toe ek by haar kom, sien ek dat haar oë bottoe is.

Ek wend my tot die enigste ding wat dié tyd van die dag met my praat: “Pens, wat maak ek nou? Sê nou die meisiekind is dood? Dan sluit hulle my roeriewaar toe. Ennne … hulle gooi sommer die sleutel weg! Wat dink jy sal my vonnis wees? Strafbare manslag of moord? En laasgenoemde dalk nog without the option soos Bertie Wooster altyd sê.”

Maar Pens, die dekselse verraaier, is nou tjoepstil.

Wel, Soesêra, besluit ek dapper, jy sal iets moet doen, hoewel ek eintlik lus het om in die dun lug te verdamp.

“Meisiekind!” sê ek hard en skud die dogtertjie ’n paar keer flink aan haar skouers heen en weer. Sy maak oë oop.  

“Eina!” protesteer sy, “Juffrou maak my verd* seer!” en sy sê ’n woord wat ek nie gedink het deel van ’n dogtertjie van haar ouderdom se woordeskat uitmaak nie. Miskien het sy te veel seunsmaats. Maar aan die ander kant, vandag se meisiekinders is self baie kreatief as dit by hulle woordeskat kom.

“Dankie tog!” sug ek in my binneste, “jy’s nie dood nie!”

“Het jy seergekry?” vra ek simpatiek.

“Ja. Baie. Juffrou moet my hospitaal toe vat.”

“Maar hoekom het jy voor my kar ingehardloop? Jy het my mos sien aangery kom.”

“Juffrou, daai een seunskind het so ’n lelike mombakkies opgesit en my daarmee gejaag. Ek het my alie afgeskrik! Juffrou móét my hospitaal toe vat,” sê sy nou tranerig. “Ek het vrek seergekry!”

“Nou kom klim in die kar sodat ons kan ry.”

“Ek kan nie loop nie!” sê sy huilerig.

“Ag jitte,” sê ek tandeknersend vir my innerlikste binneste, “moet ek die kind nou so wrintiewaar nog dra ook!”

Êrens vandaan stuur Iemand vir my die krag, want sowaar, ek kry die meisiekind (steeds Jane Incognito) opgetel en in my kar gestop. ’n Bietjie hardhandig, maar darem.

Op pad huis toe begin ek solank aan my verdediging werk, maar op die ou einde besluit ek Lord Ickenham se raad aan die jongmense is die beste: “stout denial”.

“U Edele, ek weet van niks. Toe ek weer sien, toe lê die meisiekind … agge, die dogtertjie in die middel van die straat, reg voor my kar.” Dit sal ten minste die waarheid wees. “Ek ken haar van g’n Adam óf Eva of enigiets tussenin af nie. Nog nooit voor vandag gesien nie. Nie met ’n halwe oog nie, U Edele.” Dit sal óók die waarheid wees. Die meisiekind kry mos nie by my klas nie en ons skool is groot. “En U Edele, as u-hulle die saak nou Kaapstad toe wil verwys om watter rede julle nou nie regter Van Zijl se werk goed genoeg vind nie …”

Teen hierdie tyd het ek die huis bereik. Toe ek stop, kom die heer de huises dadelik uitgestap.

“Waar bly jy, Saartjie? Dis al drieuur!” Dan sien hy die kind raak. “En dié?”

Ek vertel vir hom die storie, maar as ek simpatie of goedkeuring of lofprysing of enige positiewe reaksie verwag het, word ek vadems diep teleurgestel.

“Besef jy wat jy gedoen het?” baklei hy in dieselfde stem met my wat hy met ’n balhorige student praat.

Reusefout aan sy kant!

“Ja! Ek het ’n kind wat erg seergekry het, huis toe gebring sodat jy my kan help om haar hospitaal toe te vat. Sy sê sy het baie seergekry! Ek het dit mos al vir jou gesê, verd*!” leen ek so ’n woordjie wat ek by die dogtertjie geleer het.

“’n Mens mag nie ’n ongelukstoneel verlaat nie!” baklei hy verder.

“Ha!” dink ek, dik die diekens in, “en dis nou die vent wat voor die kansel, in die teenwoordigheid van die dominee én heelparty getuies belowe het om my in elke dikkedensie by te staan!”

“Kyk hier ou pêl, la’ ek en jy mekaar vandag nou móói verstaan. Indien dit nou so sou wees dat jy nog nooit enige faux pas begaan het nie, het die saak héél anders gelyk. Maar nou is dit nie so nie. Onthou jy nog daai keer toe jy jou buurman se lekker geelperskes gesteel het? Jy weet, toe ons nog op Plek-van-die-Vrugbare-Grond gebly het, en hy jou op heter daad betrap het en …

“Ja, toe nou maar. Laat ons ons liewer by vandag se kroesis bepaal.”

Hy sê altyd “kroesis” (uit pure senuagtigheid) as hy weet hy het ’n bepaalde geveg verloor.

“Kyk Skatliefie,” flikflooi hy nou in hoogste versnelling, “ons sal die polisie moet bel, want ons sal die dogtertjie se ouers in elk geval in kennis moet stel. Hulle kan vir ons groot moeilikheid veroorsaak as hulle uitvind ons het die polisie nie in kennis gestel nie. Die dogtertjie kan vir hulle vertel jy het haar omgery en sy het erg seergekry en dat ons niks daaraan gedoen het nie.”

“Maar ek het donners stadig gery!” begin ek my eie kreatiewe woordeskat uitbrei.

“Knorrrr. Ek’s donnerrrs hongerrrr!” dons Pens vir die eerste keer in ’n lang ruk ontydig tussenin. Boonop is hy ’n vinnige leerder.

“Saartjie, kalm nou. Al wat die polisie teen jou kan hou, is dat jy die kind van die ongelukstoneel verwyder het. ’n Mens mag dit nie doen nie. Vertel net presies vir hulle wat gebeur het. Ek is seker die polisieman sal jou kant van die saak insien. Die kind het gekla dat sy baie seergekry het en gevra het dat jy haar hospitaal toe moet neem. Vra vir haar of ons nie haar ouers kan laat weet nie. Terwyl jy ’n telefoonnommer by haar probeer uitvind, sal ek solank die polisie skakel.” 

Toe die polisiemannetjie opdaag is die jong konstabeltjie allesbehalwe begrypend en tegemoetkomend. Hy staar hom blind teen die feit dat ek die kind huis toe gebring het en dus die ongelukstoneel verlaat het. Wat hom betref, is dit ’n ontsettende wetsoortreding waarvoor hy my kan arresteer en as ek hom so aankyk, sien ek sommer hy is in ’n arrestasiebui. 

Dit is sover ’n uitmergelende dag, die junior klasse het gekyk om hoeveel hoeke en draaie hulle my gedurende elke periode kon teister – en nou nog die affêre met Jane Incognito. Tussenin grom en brom Pens ook om nog die kersie op die troukoek te sit, om ’n uidrukking by die ou maer dosentjie op universiteit te steel.

“Kyk hier jou klein bl …” wil-wil ek kreatief raak.

“Saartjie!” waarsku my nou minder deemoedige eggenoot. “Hy gaan jou arresteer!”

“Kyk hier, konstabel,” sê ek effens kalmer.

Ek kry uit ’n onverwagse oord hulp.

“Oom Sterk Polisieman,” sê Janet Böckie uit die bloute, “weet oom hoe goed was juffrou vandag vir my?” Sy vertel die hele storie vir die kwaai konstabeltjie wat hom verbeel hy is eintlik ’n generaal. “En omie weet, sy het my allenig in haar kar ingetel, en ek is blerrie swaar, hoor!”

Miskien het die polisieman self ’n dogtertjie by die huis, want hy besluit hy sal my liewer nie arresteer nie. Hy sê net ons moet die kind se ouers in kennis stel van die gebeure, ons adres vir hulle gee en wag tot hulle by ons huis arriveer. Daarna moet hulle self besluit wat hulle met hulle kind wil doen.

Die volgende dag het ek skaars my klasdeur oopgesluit en ingegaan toe nóg ’n wildvreemde kind skielik langs my kom staan.

“Juffrou,” sê die seun, “ek weet wie het gister daai meisiekind met die mombakkies gejaag. Ek ken nie sy naam nie, maar ek weet in watter klas hy is. As juffrou vir my ’n klaslys gee, sal ek sy naam herken.”

“Kind, sê tog net vir my wat jou naam is. Ek is al so moeg om met julle onbekende kinders deurmekaar te wees.”

“Derrick, juffrou. Derrick van Deventer. Ek sit mos heelagter in juffrou se klas.”

“Ag natuurlik, ja. Dis ook dié dat jy die verskil tussen ‘herken’ en ‘erken’ ken!”

Ek neem Derrick personeelkamer toe waar ’n reuserak met hokkies staan waar die hele skool se klaslyste klas-vir-klas gerangskik staan. Derrick het so ’n bietjie rondgesoek en toe die regte klaslys gekry. 

“Hier’s hy, juffrou. Maarten Dreyer. Dis daai outjie wat so lief is om mombakkiese te koop en al die meisies daarmee te jaag. Juffrou sien, hy kan nie ’n meisie kry nie. Hulle hou nie van hom nie. Dis oorlat hy naweke sy vingernaels rooi paint. Nou sê hulle hy’s nes ’n meisiekind. Nou kry hy dam aandag van hulle as hy hulle skrikmaak. Lat hom seker manlik en belangrik voel!” lê Derrick vir my met ’n psigologiese kennis uit wat ek nie van ’n kind in graad 9 verwag het nie.

Een van die senior onderwyseresse het die Dreyer-knaap later (in my teenwoordigheid) teen sluitingstyd voor stok gekry en hom goed die leviete, en al die ander -iete waaraan sy kon dink, voorgelees.

“En as Marizel nou seergekry het, en daar is mediese koste aan verbonde, sal jý dit betaal! Verstaan ons mekaar?”

“Ja, juffrou.” Dreyertjie was nou nie meer so dapper nie.

“O, dan is die dogtertjie van gister se naam Marizel,” dink ek in my enigheid toe ek teen skilpadspoed by die hek uitry.

“Knorrrrr, rrrrry nou, ek is hongerrrrrr.”

“Pens, hou jou bek! Jy’t gesien wat gister gebeur het toe ek net ’n titseltjie vinniger gery het! As dit wéér moet gebeur, sluit hulle my toe. Ek sê jou. Without the option!”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top