
Foto: Canva.com
wit soos walvismae
wit soos walvismae
swem wolke verby
deur die uitspansel
se akwamaryn
stertklappend
spuit hulle water
die hele hemel vol
al is dit nog vroegdag
stig die son oral brand
stook ywerig die hoogoond
hier benede gaan dit
’n snikhete dag wees
terwyl die walviswolke
woelig kattemaai
anderkant
die lug se breekwater
in die wye baai
van opaalblou
en neusoptrekkerig
amper meerderwaardig
laggend
op ons neerkyk


Kommentaar
Ons het dit beleef en bewonder. Dankie, dus. So diep en waar.
De Swyger vang iets vas van die dualisme van die lewe: hoe die son 'n speelruimte skep vir die wolke, maar die aarde verskroei. Hoe sommiges die harde kant van die lewe soos 'n brander ry, terwyl ander verspoel.
'n Opwindende nuwe stem in Afrikaans. Ons hou jou dop, Willem de Swyger.
Ek sal nie weer na wolke kan kyk in dieselfde lig nie! Ongelooflik, Willem!
Wat 'n prentjie word geskets om weereens herinner te word om die natuur te waardeer. Wat 'n gawe om deur sulke kunstenaarsoë die wêreld te aanskou en op so 'n talentvolle wyse weer te gee.
Die vergelyking tussen walvismae en wolke is treffend. Die gedig is uitstekend!
Dit is pragtig geskryf. Afrikaans is 'n mooi taal en hierdie gedig onderstreep dit net weereens. Wel gedaan.
Baie dankie vir al die mooi en opbouende kommentaar; dankie ook vir die ondersteuning. Ek waardeer dit, soos my oupa altyd gesê het, van ganser hart. Ek is ook opreg dankbaar teenoor LitNet wat die ruimte skep vir nuwe stemme soos myne.
Ons sien en beleef die hele natuurtoneel in goeie taal uitgebeeld. Baie geluk.
Altyd ‘n voorreg om een van jou gedigte te lees. Lieflik.
Dit was n voorreg om van die gedigte te kon lees. Die woordspeling is ongelooflik. Ek kon my so inleef en soms het dit gevoel hierdie is op my van toepassing. Hou aan om te woeker met hierdie wonderlike taal van ons. So sal dit behoue bly.
Dit laat my wil saam speel! Werklik so mooi, uit die hart geskryf!
Dankie, meester. Pragtig vasvevang.
Willem jy het ‘n ware talent om God se skepping in woorde vas te vat.
Wat 'n voorreg om die mooi geldig te lees. Uitstekende taal.
Pragtig, so mooi en kleurvol omskryf!
Jy speel so mooi met woorde, Willem.
Baie sonderling en treffend, Willem. 'n Uitstaande gedig.
Awesome, Willem!
Ek stem saam met Ben Cronje. Ou Zeus het darem geweet hoe om met die wolk, Nephele, te toor.